Katte, ’n hupstoot vir jou gesondheid

  • 4

https://pixabay.com/photos/cat-young-animal-kitten-gray-cat-2083492/

’n Kat is nie net ’n kameraad nie, maar hou vele gesondheidsvoordele in.

Ongeveer twee miljoen jaar gelede, toe mense die waarde van verskillende tipes diere ontdek het, het katte oor groot dele van die aarde versprei. Die Egiptenaars in Antieke Egipte het voedsel in skure opgegaar wat muise gelok het en hulle op húl beurt weer katte. Waarskynlik het die algehele temming van die kat as huistroeteldier ongeveer 4 000 jaar gelede plaasgevind.

Katte bied kameraadskap, vriendskap en gesondheidsvoordele op fisieke, emosionele en geestelike vlak. Daar is bevind dat ’n troeteldier 78% van die tyd die een sal wees wat ’n gesinslid verwelkom aan die einde van ’n dag, nie die eggenoot nie. Daar is ook heelwat bewyse dat hulle baie voordele inhou vir ons gesondheid. Daarom is dit sekerlik nie ’n verrassing dat katte vandag beskou word as volwaardige gesinslede en tans die gewildste troeteldier ter wêreld is nie.   

..............
Daar is bevind dat ’n troeteldier 78% van die tyd die een sal wees wat ’n gesinslid verwelkom aan die einde van ’n dag, nie die eggenoot nie. Daar is ook heelwat bewyse dat hulle baie voordele inhou vir ons gesondheid.
.............                                   

Katte bied verskeie voordele, soos om knaagdiere in en om die huis onder beheer te hou, onvoorwaardelike liefde te verskaf, gesinslewe te verryk en verantwoordelikheid van die eienaar te vereis, iets wat dikwels aan die eienaars ’n sin vir die lewe gee. Omdat troeteldiere ’n vasgestelde roetine en heelwat werk vereis (honde natuurlik meer as katte), help hierdie sin van verantwoordelikheid veral individue soos bejaardes, wat dalk nie enige aktiwiteite het deur die loop van die dag nie. Troeteldiereienaars het ’n hoër kans op oorlewing ná ernstige siekte as gevolg van die behoefte om na hul diere om te sien. Dit gee hul rede om te herstel en te leef. Eensaamheid neem af by troeteldiereienaars en help om depressie teen te werk.

https://pixabay.com/photos/cat-pet-licking-animal-tabby-cat-323262/

Navorsing toon dat mense dit verkies om met diere eerder as mense te praat, omdat dit met minder stres gepaardgaan. Die meeste stresvolle of traumatiese situasies kan verlig word wanneer diere betrokke is. Troeteldiere voorsien in ons behoefte aan onvoorwaardelike liefde en aandag, anders as mense, wat dikwels negatiewe emosies na ’n verhouding bring. Ook anders as mense vereis diere nie enige spraak om mee te kommunikeer nie. Om ’n spelerige, gelukkige troeteldier dop te hou het ’n heerlike, ontspannende effek. Dit is ook ’n vorm van oefening, of dit kan jou bui verbeter as jy met die katjie speel, met ’n hondjie te gaan stap, of perdry. Dus kan jy dalk ook op ’n prettige manier van ’n paar oortollige kilogramme ontslae raak. Dit bou ook sosiale bande wanneer jy in die park gaan stap, of na dierewinkels, die dierekliniek of opleidingsklasse gaan en nuwe mense ontmoet.  

...........
Kinders wat grootword saam met diere, is meer sosiale volwassenes en het beter kommunikasievaardighede, omdat dit die verhouding bou tussen gesinslede en vriende, en hulle oor die algemeen ’n beter immuniteitstelsel het as gevolg van die blootstelling aan allergene.
.............                                 

Kinders wat grootword saam met diere, is meer sosiale volwassenes en het beter kommunikasievaardighede, omdat dit die verhouding bou tussen gesinslede en vriende, en hulle oor die algemeen ’n beter immuniteitstelsel het as gevolg van die blootstelling aan allergene. Hul mag dus minder geneig wees tot allergieë, ekseem en asma. ’n Troeteldier kan hulle besig hou en troos as hul hartseer is. Om met ’n troeteldier te speel verhoog vlakke van serotonien en dopamien in die liggaam, wat ’n mens kalmeer en laat ontspan. Kinders leer verantwoordelikheid en empatie aan, is emosioneel meer gebalanseerd, en is geneig om ’n sterk selfbeeld te ontwikkel.

Gesondheidsvoordele vir kateienaars, deur studies bevestig, sluit in:

  • Laer cholesterolvlakke
  • Verlaagde bloeddruk
  • Verminderde stres
  • Bevegting van angstigheid en depressie
  • Skraler moontlikheid om aan kardiovaskulêre siektes of ’n hartaanval te sterf
  • Werk depressie teen, omdat jy ’n gevoel van tevredenheid ervaar
  • Katte help jou om gesonder en moontlik langer te leef
  • Diere word geassosieer met beter fisieke en sielkundige gesondheid, en dit beteken ’n afname in doktersbesoeke en in eensaamheid.

https://pixabay.com/photos/cat-flower-kitten-stone-pet-2536662/

In ’n 10 jaar lange studie gelei deur Adnan I Qureshi, uitvoerende hoof aan die Universiteit van Minnesota se Zeenat Qureshi Beroerte Navorsingsentrum, blyk dit dat om ’n dier te streel, stres- en cholesterolvlakke verlaag. Die gerusstellende klank van hul spin verlaag jou bloeddruk, verminder stres of laat ’n vinniger herstel van stres en angstigheid toe, verminder die kans op ’n hartaanval met byna 30% en help om ’n positiewe uitkyk te bevorder deur gevoelens van angs, depressie en eensaamheid te onderdruk.

https://pixabay.com/photos/kitten-cat-pet-feline-animal-fur-4611189/

Diere word dikwels gebruik vir terapie (Animal Assisted Therapy, of AAT). Die doel is om ’n pasiënt se sosiale, emosionele en waarnemingsvermoë te verbeter. Diere wat algemeen gebruik word in terapie, sluit in honde, katte, perde, voëls en hase. Selfs soldate in oorlogsgeteisterde gebiede kan voordeel trek deur  rondloperdiere te versorg. Die versorging van ’n dier help die soldaat om sy gedagtes af te lei, die situasie beter te hanteer en positief te bly. Suné Scholtz, ’n opvoedkundige sielkundige, sê: “Verskillende diere kan gebruik word in diergeassisteerde aktiwiteite en terapie. Ek gebruik meestal my hondjie, maar katte kan suksesvol op verskillende wyses gebruik word.”

Veral tydens die Covid-inperkings het baie mense uitgereik na hul diere of diere gaan aanneem by die Dierebeskermingsvereniging vir kameraadskap. Daar is soveel vreugde, en nou ook daadwerklike bewyse dat katte jou gesondheid bevoordeel.

Met spesiale dank aan Adnan I Qureshi.

Bronne

www.hepper.com/health-benefits-of-having-a-cat

https://blog.theanimalrescuesite.greatergood.com

www.forbes.com/advisor/pet-insurance/pet-ownership-statistics

Yolanda Wessels. Katte – ’n handleiding vir verantwoordelike kateienaars in Suid-Afrika

Yolanda Wessels. The ultimate cat guide.

  • Yolanda Wessels is die skrywer van The ultimate cat guide, wat in 2013 verskyn het.

Lees ook:

Dierepraters: ’n onderhoud met Daniah de Villiers en Hettie Richter

Troeteldiere in COVID-19-spervuur: fopnuus en vrees

Sy naam was Bennie

Vra die veearts: Dit lyk of iets in ons troetelhen se keel vassit

Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep

The ultimate cat guide: ’n onderhoud met Yolanda Wessels

 

  • 4

Kommentaar

  • Alvida van Zyl

    Baie interessant en my vier katte het my gehelp tydens my herstel van longontsteking. Toe ek uit die hospitaal tuis kom, was hul almal op my bed met hul liefdevolle aandag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top