The ultimate cat guide: ’n onderhoud met Yolanda Wessels

  • 2

Titel: The ultimate cat guide
Outeur: Yolanda Wessels 
Uitgewer: Hasepad
ISBN: 9798654416209

Hierdie boek bevat feite waaroor min kateienaars beskik. Die boek is in drie dele gedeel met illustrasies en foto’s. Weet jy hoekom jou kat se ore plat is of hoekom die punt van sy stert wikkel? 

Yolanda Wessels praat met Naomi Meyer oor Yolanda se boek, The ultimate cat guide.

Yolanda, jy het ’n boek oor katte geskryf. Van wanneer af hou jy al van katte en vertel my van jou vroegste herinneringe met katte?

Solank as wat ek kan onthou was daar ’n kat aan my sy. My eerste katte wat ek kan onthou was ’n wit katjie genaamd Jackie en ’n gemmer een genaamd Noela. Hulle is vernoem na ’n kinderprogram oor twee beertjies. Daar was selde tye in my lewe dat hier nie ’n spinnende kameraad was nie, ek kan nie sonder hulle nie! Dié katjies, veral Jackie, is gereeld deur die uwe aangetrek en gedwee in ’n popstootwaentjie rondgestoot. Jare later het ek weer ’n wit kat gekry vir my seuntjie en dié outjie was net so lief om in die kinders se stootwaentjie rondgestoot te word, so dalk is dit ’n witkat-ding!

Katte, sê party mense, doen net hulle eie ding en is nie lojaal nie. Stem jy saam? Hou jy van hierdie eienskap of nie?

Elke kat is uniek, met hul eie besonderse eienskappe, voorkeure, afkeure, liefdes en geliefkoosde snoephappies. (Van my katte is mal oor chips, ander oor kaas, ander weer oor koek en elkeen kom wanneer hulle hul geliefde snoephappie hoor of ruik.) Dit beteken dat ’n mens jou kat dus baie goed ken om al dié feite te weet. Omdat hul eie persoonlikhede het, is sommige meer op hul eie en ander weer jou skaduwee. Dit hang ’n bietjie af hoeveel aandag jy aan hul gee kleintyd, maar sommige se persoonlikhede is bloot van so ’n aard dat hulle hul eie spasie meer verkies as dié van hul slaaf. (Onthou, ons is hul slawe, nie hul base nie!) Die grootste verskil tussen honde en katte (en ja, daar is báie) is dat katte meer op hul eie is. Dus, nie minder lojaal nie, net nie sulke erge volgelinge soos honde nie. Ek persoonlik verkies dié eienskap, want dit is wat hulle ook rustiger kamerade maak (wat baie help as ek stilte benodig wanneer ek skryf, maar tog ’n asempie by my wil hê). Dit kan maklik gesien word as nie lojaliteit hê nie, maar dit hang weereens af van jou verhouding met jou kat en wat jy verkies.

Vertel my van ’n paar van jou katte in jou lewe.  

Ek wens katte kon so oud soos mense raak en altyd net veilig tuis wees, maar dis ongelukkig nie die realiteit nie. Ons woon op die platteland en ons katte het toegang na buite. My eerste groot katliefde was Peanut, ’n swart kat. Hy het by my geslaap en was regtig ’n spesiale maat. Saam met hom was Oscar, ’n klein swart katjie wat ons sien verbystrompel het tydens ’n vakansie in Knysna. Ek het hom natuurlik opgetel en dadelik na die veearts geneem. Hy het bosluiskoors gehad en ná behandeling terug op ons tuisdorp, Bredasdorp, deur ons jarelange veearts, het hy ongelukkig al te veel skade aan sy lewer en ander organe gehad en is hy op 29 Mei 2003 op 6 maande oorlede.

Daarna het ons ons huis gedeel met Maya, ’n pragtige wollerige gemmerkat; Nemo en Eddie, twee swart katjies wat ons langs die pad opgetel het; Pippa, wat ek gered het by die veearts en gesond gedokter het; Wiki, ’n wit kat wat ons by die DBV aangeneem het; Lady Jemma, ’n Siamees en my eerste rasegte kat; Bella en Max (aangeneem by die DBV); Shae, ’n Chinchilla en my tweede rasegte kat; Oliver; Blue (aangeneem by die DBV) en Prinses Nika, ’n Siamees. Van hulle is oorlede agv motorongelukke, genetiese hartversaking, meningitis, deur ’n hond gebyt en genetiese nierversaking. Tans het ons 7 katte naamlik Pippa, Shae, Oliver, Blue, Nika, en Mitsy en Maggie, my man se twee katte wat by ons aangesluit het na ons onlangse troue.

En nou hierdie boek. Hulle sê mos, skryf oor iets waarvan jy weet of waarvan jy hou. Waaroor handel hierdie boek?

Katte – ’n Handleiding vir verantwoordelike kateienaars is in 2013 in Suid-Afrika deur Naledi vrygestel. My begeerte was wel daar om ’n Engelse, wêreldwye boek vir katliefhebbers vry te stel. Ek is versot op katte en soveel boeke wêreldwyd handel slegs oor rasse en mense is geneig om te dink ’n kat is net ’n kat, ’n selfsugtige selfversorgende eenkantdier. Dit is so ironies, want hulle is van die allerbeste kamerade wat daar is! Hierdie boek gaan oor alles, juis omdat daar weinig ten volle samevattende boeke oor katte is – die geskiedenis van die kat (hoe sy van jagter tot troeteldier gevorder het), alles wat jy moontlik benodig en moet weet wanneer jy ’n katouer word – van inentings, sterilisasie, ideale tuin, voor- en nadele van binne- en buitekatte, voeding, dieët, versorging van baba- en seniorkatte. Die laaste gedeelte handel oor die algemeenste katsiektes en is ’n opsomming van simptome, diagnose en behandeling. Dit vervang geensins die besoek aan ’n veearts nie, maar is in samewerking met veeartse opgestel, ter inligting.

Hoe het jy navorsing gedoen?

Ek het in 2003 stelselmatig begin, maar veral ná oorsese reise waar dit opvallend was dat daar nie veel boeke oor die A-Z van katte in boekwinkels en biblioteke beskikbaar was nie, het dié vonkie ’n vlam geword en my aangevuur om al hoe meer navorsing te doen, inligting te bekom en verskeie kenners te kontak om presiese feite te verkry. Ek het ongelooflik baie gelees, vrae gevra en met die ondervinding van my eie katte, was dit makliker om baie van die kwessies volledig en realisties aan te spreek.

Waar is die boek in tans beskikbaar?

Dit kan as e-boek vir Kindle by www.amazon.com afgelaai word, of kan as gedrukte sagtebandboek bestel word. Besoek gerus ook www.hasepad.com vir meer inligting.

Wie is jou ideale leser en vir wie kan die boek iets beteken?

Enige ware katliefhebber. Dit is prakties om oor en oor as handleiding te gebruik. Veral die mediese afdeling is nuttig, want daar is mos maar van tyd tot tyd siekte of dalk iets waaroor jy wonder en gou wil naslaan.

  • Foto’s: Yolanda Wessels
  • 2

Kommentaar

  • Naomi en Yolanda, ek het julle onderhoud geniet en waardeer. Hulett, my kat, ook. Baie dankie. Dit is die boek wat ek woord vir woord gelees het voordat ek en die prinses drie jaar gelede by die diereherberg hier in Worcester ontmoet het.
    Katmense is spesiaal, net soos die verhewe wesens vir wie hulle dien en behaag.

  • Riana v.d Walt

    Goeiemôre

    Ek wil graag uitvind wat kan ek doen met my kat Spanner. Hy is gister deur my pitbull gebyt maar darem nie stukkend nie. Sy been is seergemaak en hy bly lê. As ek aan hom vat, kla hy baie en trap my hand weg, of hy wil my byt. Kan julle vir my raad gee, asb.?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top