
https://pixabay.com/photos/parrot-era-plumage-zoo-wildlife-4700186/
1.
..........
Daar is min dinge so hartverskeurend as wanneer ’n Facebook-vriend die dood van ’n geliefde troeteldier aankondig. Dit ontstel my ten seerste. Jare – en dekades – eeue – gelede, was diereliefhebbers relatief alleen wanneer hulle oor hulle troeteldiere gerou het. Dis mos “net” ’n hond/kat. Óf: “Diere het nie siele nie,” sou die onsensitiewes opmerk. Daarom is dit hartverwarmend om te sien hoeveel empatie Facebookers met die afsterwe van vriende se diere het.
.............
Daar is min dinge so hartverskeurend as wanneer ’n Facebook-vriend die dood van ’n geliefde troeteldier aankondig. Dit ontstel my ten seerste. Jare – en dekades – eeue – gelede, was diereliefhebbers relatief alleen wanneer hulle oor hulle troeteldiere gerou het. Dis mos “net” ’n hond/kat. Óf: “Diere het nie siele nie,” sou die onsensitiewes opmerk. Daarom is dit hartverwarmend om te sien hoeveel empatie Facebookers met die afsterwe van vriende se diere het. Te midde van onbegrip of hartvogtigheid jeens die dood van ’n dier is dit interessant om te noem dat argeologiese rekords daarop dui dat troeteldiere so lank as 10 000 jaar gelede reeds deur hulle eienaars begrawe is. Die Natufiaanse dorpie Ain Mallaha in die Oostelike Mediterreense streek is in 1954 ontdek, en tesame met dié vonds het argeoloë op die stoflike oorskot van honde afgekom. Dit was egter eers in die laat 1800’s dat ’n troeteldierbegraafplaas sy beslag gevind het in Hyde Park, Londen. Hierdie pet cemetery werp ’n interessante blik op die ryk Victoriane wat troeteldiere as deel van hul huishouding aanvaar het – en die grafstene verklap heelwat van die eienaars se verdriet. Hartsdale Pet Cemetery: The Peaceable Kingdom in New York is egter die oudste bestaande dierebegraafplaas (of dierenekrepolis) waar daar egte mausoleums vir troeteldiere voorkom; en in die War Dog Memorial word die duisende militêre honde, wat hulle lewens tydens die Eerste Wêreldoorlog opgeoffer het, herdenk. In Hartsdale lê die oorskot van meer as 80 000 diere, insluitend visse, voëls, ape, honde, katte, perde en ’n leeuwelpie. Daar word 700 dierebegrafnisse ’n jaar in dié begraafplaas gehou, en bekendes soos Mariah Carey en Diana Ross se diere het hier ’n rusplek gevind.
Om ’n troeteldier te begrawe is pynlik en verskil wesenlik nie van dié van ’n mens nie. Die rituele van rou is dieselfde. My eerste kennismaking met die dood van ’n vierpotige vriend was in standerd 2 – ons gesin se Highland-terriër is onverwags aan ’n virusinfeksie oorlede. My ousus het ’n plat stuk leiklip geneem, dit wit geverf en met die hulp van ’n kalligrafieboek wat sy by die CNA gekoop het, onse Jenny se epitaaf in swierige letters op die grafsteen geverf:
There is no Death! What seems so is transition;
This life of mortal breath
Is but a suburb of the life elysian,
Whose portal we call Death.
-
- HW Longfellow
Troeteldiere kom en gaan, maar die realiteit is dat die gemiddelde mens sy troeteldier sal oorleef. Hulle word slegs vir ’n kort rukkie vir ons geleen. En wanneer ’n mens terugdink aan die galery van diere wat jy moes agterlaat, is daar altyd die een of twee wat uitstaan – al het jy almal liefgehad. Dit het my jare geneem om oor hiérdie geesgenoot te skryf.
Dit was 16 jaar gelede.
Ek het deur ’n groot vlooimark in Johannesburg gestap en gevoel hoe iemand vir my kyk. Ek het omgedraai; niemand. Net drie hokke met jong papegaaie wat die een of ander teler probeer smous het. Die een in die middel. Dit was ’n baie jong papegaaitjie, skaars ’n veerlingetjie, maar sy oë het my ingetrek. Ek het verbaas op my hurke gaan sit – ooghoogte – want só ‘n eienaardige ervaring het ek nog nooit beleef nie. Met geen dier, geen troeteldier nie …
(Maar voor ek verder gaan, liewe leser, moet ek dit benadruk dat ek ná al die jare nog nie oor Bennie kan praat nie. Dan skiet my gemoed vol, draai ek na die blinde muur, onmagtig in my verdriet. Bennie was my kind.)
Hy het na my bly kyk; ons oë het mekaar gevind soos ou bekendes, daardie skok van herkenning wat ’n elektriese impuls deur die lyf stuur. Sy oë het gesein: Ek wil na jou toe kom. Nee, ek móét. Dis alles lank reeds vooruit bepaal.
Dit was nie die oë van ‘n voël, ’n horingbek nie, noem dit wat jy wil – dit was ’n wese. Op daardie stadium het ek niks van papegaaie geweet nie, nie eers watse spesie dié lieflike smaraggroen een voor my was nie. Die teler het nader gestaan, trots op sy silwerskoon hokke en die puik kondisie van sy veerlinge. Dit is ’n manlike red-sided eclectus, het hy my ingelig – hoogs intelligente voëls, duurder as African greys. Hulle praat ook beter en duideliker en pluk minder vere, want hulle is minder neuroties. Benodig groot hokke, want hulle is klimmers. Hy het my ’n prys gemaak vir die groen geveertetjie en ’n ruim hok, ongeveer 1,7 m hoog. Ek het my finansies uitgewerk. Dit was nie goedkoop nie, maar ek het met hom afgespreek dat ons iewers langs die pad sou ontmoet vir die transaksie. Ek moes ’n sleepwaentjie vir die groot hok huur.
Daar is hierdie déjà vu wat in die toekoms bly afspeel, maar voor ek daarby kom, moet ek vertel van Bennie, my kind. Net soos ons met die eerste ontmoeting slegs met ons oë gekommunikeer het, het die een na die ander wonderbaarlike onverklaarbaarheid gevolg. Ek en Bennie het mekaar reeds geken – en hy het dadelik geweet – aanvaar – dat Bennie wél sy naam sou wees. Van troetelvoëls en die horingbekfamilie het ek niks geweet nie en begin nalees. Alles waarop ek my hande kon lê. Die eerste oggend wat hy wakker geword het in die ruim woonvertrek, het ek my voorarm teen sy bors gehou. Hy het op my arm geklim. Vroeër het papegaaie wat gepraat het, my hoogstens geamuseer. Ek het geen verwagtinge gehad dat Bennie sou praat nie, maar in die verbygaan woorde en sinne herhaal. Hy het doodstil op sy swaai gesit, my stip dopgehou en op ’n dag uit die bloute in ’n helder animasiestem “Mamma!” gesê.
Ek het geskrik. Dalk oor die intimiteit van die oomblik. Die ondefinieerbare menslikheid. Hy het onderstebo teen die dak van die hok begin klouter, aan een toon gehang met ’n meerderwaardige ek-het-jou-mos-gesê-kyk. Ek het my vinger deur die tralie gedruk en hy het dit besitlik vasgegryp met sy tone. Die pootjie was warm en minder skurf as wat ek verwag het. Saans het hy, wanneer ek met die kombers naderkom om die hok toe te gooi, dadelik op sy swaai gaan sit en sy kop op sy bors laat sak, sy oë toegemaak. Ek het my verwonder aan sy groen wimpers. Want Bennie was lieflik – male sonder tal het hy my asem weggeslaan, dan sou ek dink: Hy is nie ’n troeteldier nie, nié dier nie en ook nie mens nie, eerder ’n hemelwese wat soos ’n mens kon praat.
Hy het geweet hy is mooi. Pronkend op my voorarm het hy gesit en sy vlerke oopgesprei – hy het ’n wye vlerkspan gehad; die binnevoering van sy smaraggroen lyf was blou, rooi, swart en geel by die swart stertvere. Hoe sag was die dons onder sy vlerke nie, voor dit oorgaan in kraakbeen! Ek het sy lyf instudeer soos ’n beeldhouer, en hy het my toegelaat. Natuurlik het ek gekoer en ’n groot ophef van hom gemaak – dan het Bennie sy vlerke statig toegevou, sy kop hoog. Soos ’n adellike. “Eclectus” vorm nie om dowe neute deel van sy Aves-klassifikasie nie.
Ek het hom nooit ge-potty-train nie; hy was verfynd (is dit die woord? ja, dit is), en het wanneer hy op my arm of skouer sit, geskree dat ek betyds ’n koerant nader hark.
By tye was ek bang – vir die tempo waarteen hy woorde en sinne geleer het, vir die ligbruin oë waarin ek die verandering van emosie en pupil kon volg en die gewaarwording dat dit nie bloot ’n papegaai is nie. Wel, baie troeteldiereienaars voel so. Maar hoe kan ek verduidelik dat Bennie méér as dit was?
Elke week het ek getrou by Fruit & Veg sy kos gaan koop. Die tropiese mengsel en sekere neute was sy gunsteling. En elke oggend het ek vroeg opgestaan en sy eier vir die dag gekook. Bennie het, as die rooidag breek, begin baljaar onder sy kombers. Ai, en die kinderlike opwinding as ek met die spuitkan met die gesteriliseerde water, Dettol en conditioner naderkom! Hy het al in die rondte gedraai en sy stert opgelig – ek moenie vergeet om dáár te was nie.
...........
Ek het selde ’n gelukkiger kind teëgekom – mens óf dier.
............
Ek het selde ’n gelukkiger kind teëgekom – mens óf dier. Hy het ’n speletjie daarvan gemaak om sy bont houtblokkies tussen die tralies deur te ryg. In, uit, in, uit, sý speletjie. Ek het ontdek dat Bennie ’n sin vir humor het. Hy sou soms my vinger ’n moedswillige knypie gee (nie seer nie, net onnutsig), tot ek vir hom sê “stout”. Later sou die knypie én die woord “stout” – in my stem – volg – met mý lag. En ander ondeundhede: Hy het stene uit ringe gepik (gelukkig nooit ingesluk nie), en met blink kraalogies op vroue se skouers gesit en hulle oorbelle ge-eye.
Soos die maande verbygegaan het, het Bennie meer begin praat – ook Engels; en ek was die geamuseerde eienaar van ’n tweetalige papegaai. Die appelkoosblos op sy goue snawel het begin wys en ek was die trotsste ma in die hele wêreld.
Maar soos ek reeds gesê het, liewe leser – ek kan nie. Praat oor Bennie nie. Ek kikker dié skrywe op met vetkrytherinneringe, en soos altyd staan ek op, dan skiet my gemoed vol teen die blinde muur.
Op ’n stadium het ek kwaai aan depressie gely, dan het ek Bennie uit sy hok gehaal. Hy sou sê “Nee, Mamma!” – ek het lankal besef hy mimiek nie net taal nie, hy verstáán woorde en konsepte. Hy was ontsteld; het sy warm snawel teen my wang gedruk en met sy boltongetjie probeer om die trane op te lek, die klein damp van sy asem digby my neus. Soms het hy net in my nek genestel om te troos.
Dit was 16 jaar gelede, en steeds kry ek ’n déjà vu wat in die toekoms afspeel. Alhoewel ek dit probeer vermy om aan Bennie te dink, betrap dit my onverhoeds – bedags sal ek in dagdrome versink. Dan is Bennie by my. Ook snags droom ek van hom, nou amper elke nag.
’n Papegaai kom net in die Hindoe-mitologie voor, en wel as koninklike boodskapper en vlieër/vervoermiddel. As orakel. Die Hindoes se tempels het openinge buite teen die dak vir papegaaie om nes in te maak. Al die goddelike gawes is aan papegaaie toevertrou, aldus dié minder bekende mitologie.
.............
Die déjà vu … ek word wakker, iewers in die nalewe. Die toekoms is hier. Bennie kom aangevlieg; hy sweef met die krag van die hele oerwoud in sy vlerke, geluidloos, geen veerstof nie. Maar hy is veel groter as wat hy was: ’n reusagtige mitiese voël wat my in die oë kyk met die versmagting van sy ondervlerkse kleure soos ek dit onthou. Hy staan voor my en ek herken die opdrag: Klim op. Die vlug begin sonder tyd of gravitas deur die klein universum, die groot gedagte – vry.
..............
Die déjà vu … ek word wakker, iewers in die nalewe. Die toekoms is hier. Bennie kom aangevlieg; hy sweef met die krag van die hele oerwoud in sy vlerke, geluidloos, geen veerstof nie. Maar hy is veel groter as wat hy was: ’n reusagtige mitiese voël wat my in die oë kyk met die versmagting van sy ondervlerkse kleure soos ek dit onthou. Hy staan voor my en ek herken die opdrag: Klim op. Die vlug begin sonder tyd of gravitas deur die klein universum, die groot gedagte – vry.


Kommentaar
So pragtig geskryf! Ek is saam met jou hartseer oor Bennie. Dié wat 'n troeteldier liefgehad het, sal weet.