
Fotobron van albei prente: Pixabay
Hordes troeteldiertjies van dwarsoor die wêreld het oornag in die COVID-19-pandemie se spervuur beland. Fopnuus en aanvanklike vrees dat diere mense kan besmet, het veroorsaak dat talle vierpotiges oornag aan hul eie lot oorgelaat is.
Diereskuilings is skielik oorval met groot getalle losloperinnames en daar is bevind dat talle plaaslike en internasionale sentrums nou uit hul nate bars.
Hartseer verskynsel
Die hartseer verskynsel word verder aangevuur deur ’n verswakte ekonomie en in baie gevalle kan mense net nie meer Worsie en Sokkies se onderhoud bekostig nie. Luidens die Britse poniekoerant The Sun word minstens twee troeteldiertjies per uur by skuilings hier afgelaai en namate die COVID-19-sterftesyfer klim, neem die getalle toe.
Die Burger berig
Die Burger berig op 20 Maart dat daar binne 24 uur 24 katte en 16 honde by die dierewelsynsorganisasie Animal Welfare Helderberg in Gordonsbaai afgelaai is.
Julia Evans, woordvoerder en algemene bestuurder van die onderneming, sê namate werkloosheid toeneem, verdubbel die getal innames by die organisasie daagliks.
“Troeteldiere word nou hoofsaaklik by ons afgelaai weens die eienaars se gebrek aan fondse. Baie gesinne verloor alles en ondanks die feit dat ons hulp verleen met voedingskemas, kom eienaars net nie die mas op nie. Kortom, dis ’n hartverskeurende situasie,” sê sy.
Phoenix Animal Care and Treatment Centre
Neeri Naidoo, stigter van Phoenix Animal Care and Treatment Centre in Durban, sê die uitbreek van COVID-19 het grootskaalse struikelblokke vir troeteldiereienaars in haar omgewing meegebring.
“Sedert Maart vanjaar is ons organisasie oorval met hawelose diere. Voor die inperking het ons voorsiening gemaak om 80 loslopers te versorg, maar die syfers het intussen geklim na nagenoeg 196 en die getal nuwe aankomelinge neem daagliks toe,” sê sy.
Kenners lewer kommentaar
Kenners meen daar is nie gronde vir troeteldiereienaars om nou paniekbevange te raak nie.
Peter Oberem, besturende direkteur van AfriVet, sê honde en katte is nie die dryfveer agter die COVID-19-pandemie in mense nie.
“COVID-19 versprei grotendeels van mens tot mens. Die virus kan wel deur ’n geïnfekteerde persoon na diere se pels oorloop en soos op enige ander oppervlakte daar vaskleef vir ’n onbepaalde tyd. Daar word ook nou gerapporteer dat katte die virus kan opdoen, maar meer navorsing is nodig. Navorsing in dié verband het reeds plaaslik afgeskop.
“AfriVet werk tans saam met Abdalla Latif van die Universiteit van KwaZulu-Natal en ’n Koreaanse maatskappy om die moontlike rol van katte en honde in die epidemiologie van die siekte te identifiseer.”
Positiewe uitwerking van troeteldiere
Troeteldiere kan inteendeel ’n positiewe uitwerking op eienaars en huisgesinne tydens die heersende pandemie hê, beklemtoon kenners.
Jan du Preez, veterinêre spesialis en medeskrywer van Dieresiektes en die mens – Soönoses, sê die emosionele, sosiale en fisiese bydraes en voordele van troetel- en geselskapdiere is onontbeerlik vir mense.
“Opnames wat gedoen is voor en nadat ’n gesin ’n troeteldier gekry het, wys dat ’n gesin gelukkiger is nadat die dier tot die gesin toegevoeg is,” sê hy.
“Troetel- en geselskapdiere dien enersyds as voorwerpe vir spanningontlading en andersyds as skakel met die natuur. Hulle het ’n belangrike invloed op hoe mense oor hulself en die lewe voel en tree met buitengewone talent soos onderwysers en genesers op.
“Hulle bevorder ontspanning, verminder alledaagse stres en kan daartoe bydra dat mense meer ontspanne is. Mense se gemoedstoestand verbeter en hulle verlaag die gevoel van eensaamheid en isolasie omrede hulle kameraadskap bied.
“Daar is iets om voor te sorg en om te gee. Baie ouer mense sal jou vertel dat sy troeteldier die rede is waarom hy leef. Mense pas makliker aan na erge siektes en die dood van naasbestaandes, en kinders praat baie keer met hul troeteldiere indien ’n vriend of familielid gesterf het.
“Bedroefde volwassenes wat nie ’n nabye bron van ondersteuning het nie, voel ook minder depressief indien hulle troeteldiere besit.”
Cindy Billson, ’n maatskaplike werker en eksterne aualiteit honneursvlakmentor, sê sy werk daagliks telefonies met hordes angstige en depressiewe kliënte wat nie die COVID-19-situasie kan hanteer nie. Sy bevestig dat troeteldiere waardevolle bystand kan lewer in die uitdagende tydgleuf en sonder twyfel ’n postiewe bydrae kan lewer om die situasie draagliker te maak.
“Ek is in die posisie om gereeld ’n oor te wees vir ander wat veral nou sukkel om fisies, psigies en emosioneel te kan funksioneer. Die woorde ‘ek is eensaam, angstig en voel bedruk’ kom algemeen voor in die gesprekke wat ek voer wat normaalweg laataande en in die vroeë oggendure plaasvind.
“Tydens die grendelperiode is die troeteldiere om ons die bronne wat kan bydra tot die emosionele welstand van mense. Troeteldiere kan daartoe bydra dat mense kalmeer en veiliger voel, en kan stresvolle situasies ligter maak. Hulle verlaag die gevoel van eensaamheid en isolasie omdat hulle kameraadskap bied.
“Die band tussen mens en dier kan daartoe bydra dat mense ‘grounded’ is. Die alledaagse taak om hulle te voer en aandag aan hulle te skenk is iets wat konstant gebly het in ’n tydperk van groot verandering.
“In terapie word diere dikwels gebruik om selfwaarde, kommunikasie en sosialisering in diverse situasies te herstel en emosies te stabiliseer. Dis gesond om met jou kat, hond en papegaai te gesels.
“Ek beveel aan dat mense in hierdie tydgleuf met hul hond moet gaan stap om normaliteit te skep. En as jy nie hond het nie, beveel ek aan dat jy die buurman se hond vir die terapeutiese uitstappie leen.”

