Die regte van diere in deeltitelskemas (en die verskil tussen katte en honde)

  • 9

Prent: PublicDomainPictures, https://pixabay.com/illustrations/dog-paw-print-pet-cat-walk-313357/

.........
Lank, lank gelede, waarskynlik teen die einde van die Steentydperk, het die hondespesie vergader om te beraadslaag hoe hulle vorentoe sou oorleef. En hulle het eenparig besluit om by mense aan te sluit. Om die mens se beste vriend te word. Dié besluit het dan nie net honde se rangorde evolusionêr versterk nie; dit het ook van hulle die slimste spesie op die planeet gemaak.
...........

Lank, lank gelede, waarskynlik teen die einde van die Steentydperk, het die hondespesie vergader om te beraadslaag hoe hulle vorentoe sou oorleef. En hulle het eenparig besluit om by mense aan te sluit. Om die mens se beste vriend te word. Dié besluit het dan nie net honde se rangorde evolusionêr versterk nie; dit het ook van hulle die slimste spesie op die planeet gemaak.

Honde is ruimtevaarders. Die eerste wese in die buitenste ruim wat om die aarde gewentel het, was die Sowjet-hond Laika, wat in 1957 in Sputnik 2 haar sending onderneem het. Laat dit vir ’n oomblik insink: Die eerste aardling in die buitenste ruim was ’n hond; nié ’n muis of ’n sjimpansee nie; ook nie Yuri Gagarin, Elon Musk, Bill Gates, Mark Shuttleworth of Jeff Bezos nie – ’n hond het die ruimtewedloop tussen die spesies van die vyftigerjare gewen.

Nadat honde besluit het om die mens se personifikasie van vriendskap en lojaliteit te word, het hulle lewens vinnig verbeter. In ’n huislike omgewing word ’n hond nie sommer aangeval deur vyande of deur elemente geteister nie; hulle hoef ook nie te jag nie. Honde se status as omnivore het verseker dat hulle toegang tot menskos sowel as duur hondekos het (vergelyk gerus die pryse van die duurste hondekos met dié van voedsel vir mense, en jy sien presies hoe belangrik die hondespesie is). Honde eet – en dis die tragiese waarheid – beter as die meeste arm Suid-Afrikaners. Honde het toegang tot mediese fondse en veeartse wat hulle kwale behandel. Dieresielkundiges verwerf selfs grade in hierdie studieveld soos dit aangebied word aan universiteite in die VK en Australië – as jou woef te veel blaf of jou meubels opvreet, is dit dalk tyd om ’n shrink te gaan spreek. Honde oornag in hondehotelle waar hulle verblyf so sag en menslik moontlik ingerig word. Maar tuis, as dit koud is, klim hulle in humans se beddens en slaap dan knus teen elektriese komberse of voor verwarmers … is dit nie honde-genius nie?

En in dieselfde asem: Honde dra truie en daar bestaan selfs klerereekse vir Yorkshire-terriërs, kompleet met skoentjies, handsakkies en hoedjies. Honde wat die arbeidsmag wil betree, kan loopbane volg in die polisie, weermag of sekuriteitsbedryf en selfs in oorloë gaan veg. Hulle kan voorts as konsultante optree vir soek- en spoorsnygeselskappe. Die mens se beste vriend kan Covid en dwelms uitsnuffel of as metaterapeute kwalifiseer en as gidshonde, terapiehonde en verpleërs werk – omdat hulle humans se inperkings en nood so goed begryp.

.........
Honde is sosiale wesens per excellence; wanneer daar ’n aardbewing op pad is en ander diere voor die aardtrillings uit vlug, waak honde by hulle eienaars. Tot die bitter einde toe. Ja, selfs huiskatte slaan op die vlug. Want hulle is die wildste van die mak diere en die makste van die wilde diere. Soos die fabel lui, het ook katte lank gelede vergader en tot presies dieselfde gevolgtrekking as honde gekom, naamlik om by die menslike spesie aan te sluit. Waar honde se sosiale vaardighede en liefde vir humans hulle posisie verseker het, het katte staat gemaak op hulle goddelike herkoms.
............

Honde is sosiale wesens per excellence; wanneer daar ’n aardbewing op pad is en ander diere voor die aardtrillings uit vlug, waak honde by hulle eienaars. Tot die bitter einde toe. Ja, selfs huiskatte slaan op die vlug. Want hulle is die wildste van die mak diere en die makste van die wilde diere. Soos die fabel lui, het ook katte lank gelede vergader en tot presies dieselfde gevolgtrekking as honde gekom, naamlik om by die menslike spesie aan te sluit. Waar honde se sosiale vaardighede en liefde vir humans hulle posisie verseker het, het katte staat gemaak op hulle goddelike herkoms. Die Egiptenare en die godin Bastet het katte se esoteriese reputasie verewig. Die meeste huiskatte is arrogante introverte. Om die waarheid te sê (en nou trap ek katvoet, want ek is ook ’n katliefhebber), katte is totaal self-absorbing. Enige liefde of toenadering teenoor hulle humans word as ’n wonderwerk beskou, al staan kiets en skuur en miaau teen die yskas vir tuna. Katte is narsiste.

Die historiese rolle van katte en honde verskil egter hemelsbreed. Op die skilderye van die ou meesters sal daar iewers ’n lui hond rondlê as deel van ’n kuiergeselskap se intieme kameraderie. Katte moes teen geweldige weerstand inbeur om hulle gemaksugtige bestaan in huishoudings te verower. Katte en bygeloof – en gevolglike vrees – is sinoniem. Gedurende die Middeleeue het Rooms-Katolieke priesters katte voor die voet gedood, omdat die siele van hekse en katte kwansuis as die keersy van ’n muntstuk beskou is. ’n Wyfiekat en haar kroos is summier lewend gebrand. Tog, ten spyte van hulle tragiese geskiedenis het katte geseëvier en dieselfde voorregte as honde, hulle huisgenote, begin geniet. Ek sien gereeld hoe huiskatte muise “jag”, maar dis bloot ’n ligte geknibbel voordat die prooi weer langtand uitgespuug word. Hierdie bedorwe katte se pogings tot jag is bloot dekoratief, amper soos mense wat skyfskiet of catch-and-release-visvang beoefen. Katte jag muise, en honde maak, op hul beurt, weer jag op katte … en dis hiér waar dinge begin skeefloop. Maar meer hieroor later.

Troetelhonde werk nie baie hard nie; hulle sekuriteitsaksies (of die skyn daartoe), soos om ’n erf te bewaak en by die hek te blaf (of te lê en slaap) word ryklik deur hulle humans beloon. O, en wanneer die honde nog addisionele truuks kan doen, is die humans ekstaties van trots en verhoog hulle die honde se byvoordele, soos die mildelike ontvang van snacks as beloning vir oubaas se honne. Verstommend: Honde het hulle eie biltongreekse (gedroogde beeslewerbiltong, urggg). Hulle gaan haarsalon toe en hulle humans kies watter gestileerde modes hulle moet dra, byvoorbeeld ’n summer cut. En voor ek vergeet: Honde het hulle eie monargieë – my ma se Yorkie het ’n Kusa-bloedlyn met ’n geslagsregister langer as ’n Franse Hugenoot s'n.

Waar honde letterlik en figuurlik op ’n tight leash gehou word, geniet katte die alomteenwoordige status van hulle goddelike herkoms. Katte mag rondloop waar en soos hulle wil, want hulle is … wel ... katte. Hulle humans kyk bewonderend toe hoe hulle op dakke, in bome en op mure kerjakker. Tog, met die evolusionêre wedloop om huishoudelike oorlewing kry mens die idee dat honde voorgetrek word. Neem byvoorbeeld die uitdrukking “top dog”. Of die pejoratiewe verwysings na katte, soos die woord “katterig” of “haar naels inslaan”. Ongelukkig leef ons in die woke zeitgeist met ’n oordrewe en teergevoelige klem op menseregte, en mens kan verstaan dat hierdie beskouings ook op die regte van honde en katte oorgedra word. Ja: dat hulle steeds “soos hond en kat baklei” is méér as net ’n idiomatiese waarheid, want die demokratiese speelveld tussen die twee huisbewoners is allesbehalwe gelyk. As ’n kat sy human krap, word dit afgemaak as niks, al sit die persoon met bloedhale ... Dis ’n soort salwing, ’n erkenning van ’n goddelike entiteit. Maar wanneer ’n hond iemand aanval, word hy geskiet, ’n wrede ritueel wat herinner aan ’n vuurpeleton. Op ’n hartseer noot: Daar woed hewige regsaksies oor bystand- of genadedood en die regte van mense om verlos te word van hulle lyding – keuses wat hierdie terminaal siekes nie goedsmoeds kan uitoefen nie. Troeteldiere, daarenteen, se lyding word bloot getermineer.

Die lof van die Canine kan helaas nie genoeg besing word nie. Honde doen sport – dink aan hondewedrenne. En hulle is koeriers – veral golden retrievers blink uit in die aandra van items soos koerante, ens. ’n Hond kan skoolgaan en gradueer om ’n beter-afgeronde woef te word, tot groot trots van sy humans. En honde is akteurs wat hoofrolle speel in Hollywood-films soos Lassie of Beethoven en onthou word as legendes van die rooi tapyt. Selfs trekarbeid in die ys is nie te veel gevra van huskies nie. Ja, honde is ook talentvolle skaapwagters en oefen gesag uit oor ánder diere – plaasbrakke is nogal veelsydig in hierdie verband. Wanneer die troetelhond van ’n bekende sterf, dan stroom die huldeblyke van dwarsoor die wêreld in. Toe die Koningin se een corgi oorlede is, het die mensdom in medelye getreur, al het hulle die hondjie nooit geken nie. Die Koningin se corgi’s beklee hogere status, want volgens protokol mag niemand aan die Koningin, as simbool van die Troon, raak nie – ’n ongebreidelde voorreg wat slegs haar hondekroos geniet. Die corgi’s buig nie voor die Troon nie.

En so kan ’n mens aangaan.

Die boeliegedrag van beheerliggame, huiseienaarsverenigings en trustees teenoor die inwoners van deeltitelkomplekse is alombekend. Die toepassing van gedragsreëls ten opsigte van troeteldiere is dikwels drakonies, en prokureurs wat in diereregte spesialiseer, waarsku gereeld hierteen. Want o wee, as die body corporate eers op jou vierpotige vriend se spoor is, voorspel dit net moeilikheid. Só ’n beheerliggaam se interpretasie van troeteldiere se gedragsreëls is meesal onderduims, onlogies en bevooroordeeld. Soos die volgende verhaal van Shadow getuig …

Ek is nie ’n goeie burokraat nie. Gooi dan nog klaende huurders, ’n oorywerige opsigter en ’n spul beuselagtigheid en kleinserigheid in die konkoksie, en jy het ’n toksiese scenario. Want die hare waai behoorlik as die burgery van honde en katte mekaar takel. Orwell se bekende slagspreuk: “All animals are equal, but some animals are more equal than others” was nog nooit so waar as juis nou nie.

My skoonsuster woon ’n paar huise van ons af op ’n groot landgoed in Somerset-Wes. Sy en haar geesgenoot, ’n opgeleide terapiehond met die naam Shadow (labrador-kruis; reun), het onlangs hier ingetrek. En hét die hond fancy papiere en getuigskrifte uit Amerika van al die hospitale waar hy werksaam was ... tot by die Johns Hopkins Hospital in Maryland. Ek moet dalk eers noem dat Shadow die bes gedissiplineerde hond is wat ek nog gesien het – hy het nog nooit ’n poot verkeerd gesit nie; gryp nie kos uit jou hand nie, en stamp nie kuiergaste onderstebo nie. Hy het zero aggressie. Ek wens meer mense het die maniere en bedagsaamheid van hierdie terapiehond gehad. Daar is net een probleempie (aldus die body corporate), en dit is Shadow se grootte. En hy is nie klein nie.

...........
’n Maand gelede het ’n dame met ’n keffer my skoonsuster en Shadow (aan ’n leiriem) by die leefstylsentrum gewaar, en die keffertjie het berserk geraak van vrees. ’n Yslike vloermoer gegooi. Shadow, daarenteen, het op sy agterstewe gaan sit, soos dit ook maar die geval met ’n moeilike pasiënt is en met sy kop op sy voorpote bly lê in die hoop dat die klein brat bedaar.
............

’n Maand gelede het ’n dame met ’n keffer my skoonsuster en Shadow (aan ’n leiriem) by die leefstylsentrum gewaar, en die keffertjie het berserk geraak van vrees. ’n Yslike vloermoer gegooi. Shadow, daarenteen, het op sy agterstewe gaan sit, soos dit ook maar die geval met ’n moeilike pasiënt is en met sy kop op sy voorpote bly lê in die hoop dat die klein brat bedaar. Maar die een wat die meeste aanstoot geneem het, was die kefferhondjie se eienaar – ’n baie bedonnerde (en waarskynlik neurotiese) dame. Let maar op: Dis altyd die vrouens met die keffertjies wat stir. Die dames wat katte aanhou, is stiller, meer bedees. (Maar hulle loer weer ander mense deur hulle gordyne af. Helaas ’n storie vir ’n ánder dag.)

Die dame het die saak nie daar gelaat nie; terstond die gedragsreëls in die hande gekry en ’n reël ontdek wat sê jou hond mag nie hoër as 30 cm wees nie – en Shadow staan 67 cm hoog op sy wollerige toonkussings. Die klagtelyn na die body corporate het begin gons. Vreemd genoeg mag jy, aldus die gedragsreëls, soveel honde aanhou as wat jy wil of voor kan sorg – net solank die honde nie hoër as 30 cm vierpoothoog staan nie. Die gedrag van die hond tel geen punte nie. Dus, as jy ses keffertjies aanhou – geen probleem nie; net nie één gróót hond nie. (Die reël is so absurd en drakonies, ek het gewonder of hulle ’n probleem sou hê as ek ’n worshond van 180 cm aanhou, of is dit net hoogte wat tel?)

Kyk, ek ken vir Shadow persoonlik en kan getuig hy is ’n regte sonstraaltjie. Die tante met die seergemaakte ego het aangehou en meedoënloos al wat klagtelyn is, opgevolg. Uiteindelik het die saak by die body corporate gedraai, en dáár is nou vir jou ’n spul burokrate wat hulle verbeel hulle het baie mag. Tussen pennelekkery en pedanterie en ingevolge Reël 42 Klousule 3.2.4 van Regulasie A het my skoonsuster en Shadow toe voor die paneel verskyn. En Shadow is gemeet, en te hoog bevind. (Ongelooflik om te dink daar’s mense wat nie eens ’n liniaal se lengte met die oog kan skat nie.)

Nou, my skoonsuster het haar reg op verweer uitgeoefen en onmiddellik aangevoer dat Shadow ’n terapiehond is en dat baie inwoners baat vind by sy teenwoordigheid. Sy het ook sy getuigskrifte en opleidingsdokumente (uit Amerika) gewys. Maar die paneel wou nie byt nie. Hulle soek iets meer, um, plaaslik? Van toepassing hiér? Dalk ietsie eenvoudiger en meer konkreet, sou ek raai? Hoe dit ook al sy, ek en my geliefde, Mellet, jaag toe polisie toe en lê beëdigde verklarings af: Hý is ’n hartlyer en Shadow is ook sy terapiehond – en ék ly aan ’n rits kondisies wat beteken dat ek kronies gekalmeer moet word en Shadow vorm deel van hierdie lewensnoodsaaklike psigoterapie.

Intussen het ek begin skryf aan my betoog (Aanhangsel A3 Bylaag C) waarin ek ’n compelling argument uitmaak oor die diskriminasie teen terapiehonde op grond van hulle grootte. (Tussen my en jou, liewe leser, terwyl almal in die land so diskriminasiebewus is: Ek beywer my vir die regte van gidshonde & kie.) Diskrimineer jy teen terapiehonde, diskrimineer jy indirek teen gestremde en siek mense. En ek skryf vurig, soos ’n jong advokaat met sy eerste appèl. Daar is net een ding wat my aandag aflei: Oral waar ek kyk, sien ek honde hoër as 30 cm, die hele landgoed vol.

Na die klagtes oor sy grootte het die body corporate besluit dat Shadow moet gaan vir ’n Suid-Afrikaanse eksamen vir terapiehonde. Na die maan met die eksamens wat hy in die VSA geslaag het … So gesê, so gedaan. Ek dink in alle eerlikheid hulle het die toets baie moeilik gemaak – hiperaktiewe kinders op hom losgelaat, asook katte; en enige denkbare ding om hom te tart of te ontstig, soos om sambrele oop en toe te flap of iets te gooi.

En steeds het hy nie ’n poot verkeerd gesit nie, maar seker by homself gedink, wat ’n klomp simpel humans. Vir dissipline het hy 100% gekry. Trouens, hy het so goed gevaar in die eksamen dat hy nou op ’n waglys vir kankerlyers is – spesifiek hiérdie pasiënte, want so ’n terapiehond moet besonder stil en rustig wees en byvoorbeeld nie aan die persoon stamp nie, want baie verduur hewige pyn. Binnekort kry hy sy SA-baadjie (sy graadsertifikaat). Die tante met die keffer is nou stil en ons stap nou sonder inwoners se kleinlikheid en besware. Wettig. Ek en my skoonsuster se hond. Van underdog tot top dog.

Die beheerliggaam se implisiete dreigement om vir Shadow die trekpas te gee oor sy grootte, laat my steeds warm onder die kraag. Maar laat ek ter wille van objektiwiteit duiwelsadvokaat speel. Ek het al in deeltitelskemas gewoon waar honde blatant voorgetrek word en daar ’n inkwisisie teen katte verklaar is. In een so ‘n kompleks in Moreletapark, Pretoria, het ’n pasaangestelde opsigter besluit sy verklaar oorlog teen katte en dat dit ewe skielik teen die gedragsreëls is om ‘n kat te hê. Die inwoners het ’n week tyd gehad om van hulle kietsies ontslae te raak, of die DBV sou hulle kom verwyder. Nee; hierdie opsigter was buite orde en haar optrede onwettig. Dalk het die katte wat op hitte was, snags met hulle “whaaoo-whaaoo-whaaoo” op haar senuwees gewerk, ek weet nie. Dit was egter in die einste kompleks waar ’n spul honde wat dag en nag geblaf en geblaf en gebláháf het, ’n veel groter stoornis veroorsaak het. Dáárvoor was die opsigter egter horende doof. Sien: Hier is ’n nuwe soort apartheid aan die ontstaan, en dit is die wedywering tussen die onderskeie hond- en kateienaars om regte (en bevoorregting) binne deeltitelskemas. Raadpleeg ’n mens die web, dan bevestig ’n legio regsartikels presies hóéveel konflik die aanhou van diere kan veroorsaak. Vergewis jou van jou troeteldiere se regte. Ja; die volgende hoofstuk in die fabel van ons vierpotige huisvriende het aangebreek: litigasie. En wie weet, dalk is konstitusionele regte volgende in die visier.

 

 

 

  • 9

Kommentaar

  • Terence Thiele

    Ons is twee ou mense (70 en 75) wat nou na 'n ouetehuis trek na 'n lang proses, die waglys, ens.
    Ons is nou laat weet dat ons ons 12 jarige Chihuahua moet uitsit, want honde word nie toe gelaat nie. Ons ken baie ou mense en almal het 'n hondjie wat al baie jare lank saam met hulle is. Ons Xena is stil en rustig, slaap in die bed saam met ons, baie skoon en word gereeld gebad. Hoe nou?

  • Gewoonlik wil ek net baklei met materiaal op LitNet. Dié artikel het my totaal ontwapen. Uitstekend geskryf: of jy nou met die inhoud saamstem of nie (ek is egter 'n honde én katfan).

  • Vir dekades deel ek 'n denkpatroon dat bejaarde sorgsentrums en dierewelsynsinstansies moet hande vat. Gee die DBV's vir ouetehuise. So sal vereensaamde oumensies iets hê om voor lief te wees en die weggooidiere van 'n samelewing die liefde en sorg kry wat hul verdien. Dis nie 'n aanklag na enige kant teen bestaande sorg waar ook al nie, maar hoe jy kan verwag dat bejaardes vir wie die skuif alreeds geweldig traumaties is, nog moet afstand doen van hul troeteldiere ook gaan enige verstand te bowe. In my jong dae het ek wyn ingesmokkel vir 'n bejaarde in 'n sorgsentrum omdat hulle nie drank in hul kamers mag aangehou of mag drink nie. Die enigste uitkoms uit die spiraal van eensaamheid en totale ontheemding was 'n onskuldige sopie. Die rasionaal van so 'n reël ontgaan my totaal net soos die rasionaal dat 'n 88-jarige met emfiseem moet ophou rook my ontgaan. Ons het baie om voor verantwoording te doen ten opsigte van die ouer segment van ons bevolking. Oor ons sosiale afskaling, ons betrokkenheid en ons apatie teenoor ons bejaardes wat ons in hul senior jare meer nodig het as in enige ander tyd van hul lewens.

  • Baklei!! Soos in me Bennet se weergawe. Kry veeartsverklaring wat sê hond is gesond, stil en goed geleer. Kry verklaring van sielkundige wat julle deel van die storie vertel. Miskien kan hond selfs in ouetehuis vreugde aan 'n paar inwoners bring (soos Shadow). Wys daarop dat hond aandie einde van haar leeftyd is en in elk geval nie meer baie jare sal leef nie. Sterkte. Hoop julle kom reg.

  • Melodie Labuschaigne

    Wat 'n fantastiese stuk! As regsgeleerde voel ek skoon moerig as ek lees van die eiegeregtige body corporates. Uitstekend gedoen, Nini!

  • Honde word ook dikwels gebruik om te help met opruimwerk na ete en met die pre-wash van skottelgoed.
    En nog 'n ding: honde is selfs al saam met sendelinge vereer in die kama sutra. Ek is onseker waarom sendelinge die lys gehaal het.
    Ek moet sê katte kan met reg suur wees oor die manier waarop honde hulleself opgewerk het in die voedselketting. Katte was regtig oortuig dat die mens se beheptheid en aanbidding van 'n godheid hulle sou verhef, daarom dat hulle so graag van dakke af op ons neerkyk. Ongelukkig het dit toe nie gewerk nie. Die mensdom is heeltemal te afvallig daarvoor.

  • Sonder om 'n mooi storie te bewimpel:

    "The first animals to reach space were fruit flies that the United States launched aboard captured German rockets in 1947. The first mammal to reach space was a rhesus monkey named Albert II, who flew two years later.

    Both these missions were suborbital, as were all animal flights for about a decade. The first animal to orbit Earth was Laika, a dog launched by the Soviet Union in 1957 who died in orbit. The first animals to orbit Earth and land safely were the host of animals on the Soviet Sputnik 5 mission in 1960, led by dogs Strelka and Belka."

    https://www.space.com/animals-in-space

    So, hond se kind was die eerste om te wentel om die aarde.

  • Rina Cascione

    My siamese kat, sy Hoogheid Ruffi, het van 'n muur deur 'n bo-venstertjie op my kombuiskas kom sit en afkyk op my - bewus van sy koninklike afkoms. Dankie Nini, 'n heerlike rubriek om te lees!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top