Kopskoot: Onderhoud met Rudie van Rensburg

  • 0

Titel: Kopskoot
Outeur: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800771

Koop Kopskoot by Kalahari.com


Rudie van Rensburg se tweede spanningsroman, Kopskoot, het onlangs verskyn. Hy vertel vir Jonathan Amid van sy skryfloopbaan, wat met 'n groot knal afgeskop het.

Rudie, baie geluk met die publikasie van Kopskoot. Dis ’n fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring. Maar kom ons begin by die begin. Jy skryf dalk nou misdaadfiksie, maar jy was al werksaam by Sanlam, vir baie jare betrokke by die joernalistiek, en jy skilder ook. Wat het jou laat besluit om na al die jare te begin boeke skryf? Het jy toevallig in die riller-genre begin skryf, of was dit ’n doelbewuste en deurdagte besluit? Was daar ’n aha-oomblik toe jy oombliklik geweet het: ek is ’n skrywer, in murg en been?

Baie dankie vir die mooi woorde oor Kopskoot! Ek dink ek was maar altyd ’n closet-skrywer. As joernalis, en selfs in my tyd by Sanlam, het ek gereeld bydraes vir verskeie publikasies gelewer. Maar in my agterkop het ek altyd geweet ek gaan my hand nog aan ’n boek waag. Toe ek ’n toneelstuk (onder ’n skuilnaam) geskryf het en dié stuk behaal redelike sukses, het ek geweet ’n boek is die volgende stap. Omdat ek nog altyd versot was op misdaadfiksie, was dit ’n maklike besluit om iets in dié genre te skryf. Ek ken ook my beperkinge en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie.

Rudie van Rensburg
Jonathan Amid
Kopskoot is 'n spanningsroman wat ook die kunste betrek. (Bron: Gel brushstrokes)

Alhoewel Deon Meyer met reg beskou word as die vader van die (moderne) speurverhaal in Afrikaans, het skrywers soos C Louis Leipoldt al in die 1920’s ’n vorm van speurverhale geskryf. Het die klassieke meesters soos Poe en Christie, of die hard-boiled ysters soos Hammett en Chandler, jou sterk beïnvloed?

Ek het eers as student in die sewentigs ’n smaak vir misdaadfiksie ontwikkel toe ek my eerste Alistair MacLean gelees het. Daarna het Frederick Forsyth, Ed McBain (skuilnaam van Evan Hunter), David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith gevolg. Forsyth was destyds my gunsteling-spanningskrywer, maar ek dink nie een het my regtig beïnvloed nie. Die genre as sodanig was my dryfveer.

Lees jy gereeld misdaadfiksie, en as dit wel die geval is, wie is jou gunstelingskrywers in die genre, en hoekom? Is daar enige tekste wat jy as “klassiek” beskou in die genre?

Ek is verslaaf aan die Skandinawiese skrywer Jo Nesbo, en verslind sy boeke sodra dit die rakke tref. Stieg Larsson se drie boeke het my geweldig beïndruk (en kan as klassieke misdaadromans beskou word), terwyl sommige van Henning Mankell se stories ook lekker lees. Ondanks die feit dat Skandinawië seker die wêrelddeel met van die laagste misdaadkoerse is, beskik hul skrywers oor die vermoë om misdaadfiksie op ’n unieke, geloofwaardige en besonderse manier op te dis. Die Engelse skrywer Robert Harris se verhale is ook fassinerend, hoewel nie almal in die kategorie van misdaadfiksie val nie. Deesdae lees ek moeilik aan Amerikaanse misdaadskrywers. Voor ek Slagyster geskryf het, het ek na baie jare weer verskeie Amerikaners beproef, maar die voorspelbare resepmatigheid van die meeste van dié kontinent se speurverhale het my teleurgestel. Dalk lees ek net die verkeerde Amerikaners se boeke!

Wanneer het jou voete begin jeuk om jou stempel op die genre af te druk? Lees jy plaaslike misdaadskrywers soos Meyer, Karin Brynard, Chris Karsten en so meer? Hoekom is die genre besig om by die dag in gewildheid toe te neem? Het dit iets met die “normalisering” (soos Deon Meyer dit noem) van ons kunste te doen?

Ek het al die boeke van Meyer, Karsten en Brynard gelees. Hulle staan nie ’n tree terug vir die beste internasionale misdaadskrywers nie. Trouens, ek dink al drie sou ’n plek onder my top tien misdaadskrywers losslaan. Veral Deon en Chris het as inspirasie vir my gedien om my eie stempeltjie te probeer afdruk. Wat die gewildheid van die genre betref, het ek ’n teorie: Afrikaanssprekendes lees nie skielik nou meer misdaadfiksie as in die verlede nie, maar hulle lees ook nou toenemend Afrikáánse misdaadfiksie. Voor Deon se eerste boeke verskyn het, was daar in die genre nie werklik iets wat Afrikaanssprekendes opgewonde gemaak het nie. Spanningliefhebbers het Engelse misdaadfiksie gelees. Maar sy boeke het lesers regop laat sit: hier was uiteindelik nou ’n Afrikaanse skrywer wat met die bestes kon meeding. In daardie opsig het Deon die land omgeploeg vir ander Afrikaanse misdaadskrywers om hul saad te saai. En om nou die vrugte daarvan te kan pluk.

Slagyster het veral indruk gemaak weens die ongelooflike tapisserie van stories wat stadig maar seker inmekaar gevleg word. Daarbenewens was daar oorgenoeg aksie, pittige dialoog, ’n besonder sterk aanvoeling vir ruimte en die fantastiese karakterisering van onder andere inspekteur Kassie Kasselman. Het die baie positiewe reaksie op Slagyster jou enigsins verbaas of onkant betrap? Wat was vir jou die lekkerste kompliment van ’n passievolle leser af?

As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg te twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. En ek waardeer werklik elke kompliment van elke enkele mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker.

Slagyster het met insig omgegaan met morele kwessies, soos korrupsie, en verskeie sosiopolitieke vraagstukke, soos die oliekrisis en ontvoerings in die Niger-delta. Hoe gepas is die genre om morele en politieke vraagstukke te bestudeer en te probeer beantwoord? Wat is die grootste struikelblokke om moontlik in die genre te oorkom, en watter moontlikhede bied die plaaslike weergawe in terme van storie en aktuele kwessies?

Die misdaadroman is sekerlik ook ’n geskikte platform om morele en politieke kwessies aan te spreek. Solank die stert net nie die hond begin swaai nie. Wanneer ’n morele of politieke kwessie te ver gevoer word, begin die storie daaronder ly. Dit bly immers populêre fiksie. Maar dit is ook so dat ’n misdaadroman soms die spieël is van hoe sake in ’n land daar uitsien, wat ek met Nigerië in Slagyster probeer doen het. Ek het dié land egter net as doek gebruik om my storie op te skilder. My plan was nooit om té veel van die doek onder die verf te laat uitsteek nie. Ek beskou die insluiting van sulke kwessies ook nie as ’n voorvereiste vir ’n suksesvolle misdaadroman nie.

Ek moet vra oor die inspirasie vir Kassie Kasselman. Hy is nie net ’n bepaalde tipe antiheld nie, maar hy word gereeld in Slagyster onderskat. Is dit nog in Kopskoot die geval? Wat was die grootste uitdaging en genot met die skryf van Kopskoot?

Ek wou wegbeweeg van die tradisionele macho held in speurromans. Dit is maar hoe die nerd-agtige Kassie gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En, soos jy tereg opmerk, hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê. In Kopskoot word sy vermoë ook onderskat, dié keer deur sy bevelvoerders in die polisiediens. Om Kassie as hoofkarakter te hê, het my in Kopskoot die grootste skryfgenot verskaf. Soms voel dit vir my asof Kassie homself skryf! Moontlik onderskat ék hom ook.

Wat is die grootste verskille tussen Slagyster en Kopskoot? Waarom het jy besluit om die verskillende wêrelde van die polisie, die kunste, die joernalistiek en die tragedie van die Grensoorlog met mekaar te vervleg?

Waar ek in Slagyster geweldig baie navorsing moes doen om geloofwaardig te kon skryf oor omgewings wat vir my aanvanklik ook onbekend was, was die wêrelde in Kopskoot goed bekend aan my. Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek het by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het.

Jou skryfwerk is beslis visueel ingestel, alhoewel jy nooit met mooiskrywery besig is nie. Beskryf in soveel besonderhede moontlik vir ons die skryfproses? Is jy een van die gelukkiges wat elke dag voor die rekenaar kan inskuif en skryf? Of is dit ’n meer moeisame, langsamer proses? Het jou vrou baie geduld met jou?

Wat die visuele skryfwerk betref: my skilderwerk voed in daardie opsig my skryfwerk. Ek dink altyd visueel en probeer om die prentjie dan in woorde om te skakel. Ek beplan nie te veel voor ek ’n boek aanpak nie. Ek het wel ’n paar vae riglyne in my kop. Soos ’n mens skryf, slaan die boek soms sy eie, verrassende rigting in. Ek is gelukkig in die opsig dat my skryfwerk redelik moeiteloos geskied. Ek het ’n vaste roetine waar ek vroegoggend agter my rekenaar gaan sit en begin skryf. Soms gaan dit natuurlik moeiliker as ander tye, maar ek broei nie te lank nie. Ek skaaf eers aan elke hoofstuk voordat ek die volgende een aanpak. En omdat ek in ’n rumoerige redaksiekantoor leer dink het, hinder geluide my nie. Trouens, ek verkies dit om in die TV-kamer te sit met die TV-stel aan. ’n Doodstil omgewing sal my die piep gee. My vrou het beslis baie geduld met my rigiede roetine en ondersteun my geweldig baie. Ek toets ook soms dele in die verhaal by haar waaroor ek onseker is. Haar raad is gewoonlik in die kol.

Bepaal jou karakters jou storie, of werk dit andersom? In watter sin groei Kassie in Kopskoot, en waar is sy grootste uitdagings te vinde?

My storie bepaal gewoonlik die karakters. Ek skep eers die omgewing, dan die karakter. Kassie is dalk minder “verskonend” in Kopskoot as Slagyster. Hy toon beslis ’n wil van sy eie. In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar.

Is daar enige aaklige clichés wat jy probeer om teen elke prys in jou skryfwerk te vermy? Geniet jy dit om lesers aan die raai te hou?

Ek het in Slagyster ’n paar aaklige clichés gebruik, maar dit in Kopskoot vermy nadat ek attent daarop gemaak is. Só leer mens maar algaande. Ek geniet dit om die leser aan die raai te hou. ’n Verrassing is tog ’n baie belangrike element in die genre. Jy mag die leser egter nooit mislei om daardie doel te bereik nie. Die verrassing moet altyd geloofwaardig wees.

Beide jou romans is uiters spanningsvol, alhoewel die ontknopings van albei ’n mens met vele stof tot nadenke laat. Dit lei tot die volgende vraag: Tot watter mate gaan jou romans oor die leeservaring self, en tot watter mate poog jy om lesers te kry om hulle wêreldbeskouing onder die loep te neem? Sir Philip Sidney sou jou dalk net so trakteer het: “Is it your purpose to inform or to delight?”

Dit gaan vir my beslis eerstens oor die leeservaring. As jy die leser nie geïnteresseerd hou in jou verhaal nie, gaan die ontknoping ook geen impak hê nie. My primêre doel is dus om eerder te “delight” as te “inform”. Die “vele stof tot nadenke” is ’n lekker bonus.

’n Laaste vraag: Hoe word daar op jou pakkende eenwoord-titels besluit? Het jy al ’n volgende titel in gedagte?

Slagyster was ’n maklike keuse waarop ek vooraf besluit het. Met Kopskoot het dit moeiliker gegaan. Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en Spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. My derde manuskrip is reeds voltooi, hoewel dit nog skaafwerk nodig het. Die eenwoord-titel is reeds daar, maar ek sal dit nie graag nou al wil noem nie.

Weer eens baie dankie vir die gesels, Rudie. Ek is seker lesers kan nie wag om te sien wat volgende met die geliefde Kassie Kasselman gaan gebeur nie.

Baie dankie vir die geleentheid, Jonathan!

Lees ook 'n resensie van Kopskoot.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top