Hans steek die Rubicon oor: ’n filmresensie

  • 0
Hans steek die Rubicon oor is gegrond op die topverkoperroman en gewilde radiodrama deur Rudie van Rensburg. Dis ’n aksie-avontuur oor die hardkoppige 90-jarige Hans wat deur sy vervreemde dogter Karla (wat in die buiteland woon) in ’n ouetehuis gestop word. Hans skop egter kliphard daarteen en lei ’n ouetehuisopstand teen die drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder. Dis ’n komedie vir die hele gesin oor oudword op jou eie voorwaardes.

Vir aanhangers van die boek

Die filmweergawe laat jul geliefde Hans tot sy reg kom. Alhoewel die draaiboek hier en daar afwyk van die oorspronklike teks, vang dit Hans se ondeundheid en sy vegtersgees vas. Daar is humor, daar is patos, en vrek baie hart en siel.

Vir (nuwe) kykers

Moenie huiwer om hierdie film te gaan kyk nie. Ek sou dit nie klassifiseer as ligte vermaak nie, maar wel as ’n film met ’n ligte aanslag. Dit is nie oppervlakkig of laf soos baie ander Afrikaanse vermaak nie. Jy gaan lag vir Hans se sêgoed en streke; jy gaan gril vir Van Dussen se bittere haat; en jy gaan jammer voel vir Vasie wat net duiwe as vriende het en Baby se familie wat nie by haar kom kuier nie. Jy gaan egter uitstap met ’n groot glimlag op jou bakkies. Hans is wat die Engelse ’n feel-good movie noem.

Vir die rolprentmaakspan

Die herfskleurskakerings met tinte van oranje of bruin laat mens voel asof jy deur ’n ou familiefotoalbum blaai. Die bekendheid daarvan stel jou op jou gemak, en trek jou in Hans se wêreld in. Maar belangriker, saam met die musiek/dialoog/regie lei dit tot the suspension of disbelief. Jy weet die regisseur verlang van jou om vir ongeveer 140 minute jou realiteit agter te laat en in Hans se realiteit te glo. Dit is vet pret.

Die gebruik van die verdeelde-skerm-tegniek (waar die skerm in twee, soms meer dele opgedeel word) is uiters effektief in die tonele waar Hans en sy trawante besig is om moeilikheid te maak. Dit gee vir die kyker almal se perspektiewe gelyktydig, want daar is baie aan’t gebeur en jy kan nie iets misloop nie. Saam met Lingenfelder se ondeunde musiek verleen dit aan die tonele boonop ’n film noir-gevoel. Asof Hans en kie as privaatspeurders gehuur kan word om ’n misterieuse moord op te los. Dit laat my vreemd genoeg dink aan die uiters interessante, maar vreeslik gewelddadige reeks JETT, nou op Showmax te sien.

........
Mens kan sê die stelinkleding/stilering/beligting maak van Huis Carpe Diem ’n karakter op sy eis. Kom ons vat Van Dussen se kantoor as voorbeeld van ’n Wes Anderson-ontmoet-Afrikana-benadering.
........

Mens kan sê die stelinkleding/stilering/beligting maak van Huis Carpe Diem ’n karakter op sy eis. Kom ons vat Van Dussen se kantoor as voorbeeld van ’n Wes Anderson-ontmoet-Afrikana-benadering. Kyk na die geloofwaardige uniform, die gehawendheid van die boeke in die foto’s hier onder. Vergelyk die turkoois van die uniform, die reëlboek, die lêers agter haar. Die simmetrie van die lampe is perfeksie. Om nie eens te praat van die twee “drolletjies” as deel van haar haarstyl nie. Daaroor kan verhandelinge geskryf word.

Kyk na die muur van manne, die landskap bo Groot Meneer se kop, sy posisie in die middel van die skerm en die muur. Daar is ander besonderhede, soos beheervraat Carla wie se hemde toegeknoop is tot onder haar ken, Baby se gehekelde doilies oor haar loopraam se handvatsels, die outydse draadloos, en dan Vasie se kleurvolle hemde. Die gawe siel probeer sy bestaan opkikker met kleur en patroon.

Charl-Johan, weens sy alternatiewe repertoire dalk nie die eerste keuse vir ’n komedie nie, kap dit flou met die oorspronklike klankbaan. Mens kan sien, of eerder hoor, die regisseur het hom die vryheid gegee om te speel. (Speel sommer die voorprent terwyl jy hier lees en hoor hoe weef Lingenfelder verskillende wêrelde saam.) Hy leun sterk op die konsertina/trekklavier, wat verweef is in die Afrikaanse musiekgeskiedenis. Dié instrumente is met tye melankolies, maar ander tye stuitig. Saam met die vrolike perkussie, blykbaar potte en panne uit die maestro se kombuis, verleen dit ’n Pink Panther / Hercule Poirot / film noir-element aan die film. Maar met ’n paar bekende “treffers”, plaaslik en internasionaal, hier en daar ingewerk. Lafenis vir die siel.

........
Jare lange ervaring en opgeboude kennis word opsy geskuif oor ’n oom nie ’n slimfoon kan werk nie, of ’n tannie gehoorapparate nodig het. Ons ontneem hulle van hul waarde, maar beroof onsself van ’n kans om te leer. Ons het werk om te doen.
........

Wat die akteurs betref, is daar nie ’n vrot appel in die mandjie nie. Kyk maar net na die rolverdeling. Twee spelers staan wel uit – een is te verwagte, die ander is ’n behaaglike verrassing. Alhoewel mens bloot aanneem Nicola Hanekom gaan jou hare terugblaas, kry sy dit reg om in Hans jou verwagtinge te oortref. Sy verslind die kamera. Die verrassing is JP Moller as die Koning van Verkleinwoorde, Esmeraldus.

Oud word op ons eie voorwaardes” is Hans en kie se slagspreuk. Hulle word onderskat, weggesluit en soos kinders behandel. Jare lange ervaring en opgeboude kennis word opsy geskuif oor ’n oom nie ’n slimfoon kan werk nie, of ’n tannie gehoorapparate nodig het. Ons ontneem hulle van hul waarde, maar beroof onsself van ’n kans om te leer. Ons het werk om te doen.

  • Foto’s verskaf

Lees ook:

Toyota US Woordfeesprogram 2023

Persverklaring: SA-legendes te sien in die fliekweergawe van Hans steek die Rubicon oor

Hans steek die Rubicon oor: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top