Medusa
Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801839
Rudie van Rensburg het die afgelope paar jaar sterk opgang gemaak met sy misdaadrillers. Hy ryg die boeke uit en is baie gewild onder ’n groot groep lesers. Verkragting, ontvoering, mensehandel, kubermisdaad en pedofilie het deel van die samelewing geword (wie sal Gert van Rooyen vergeet?) en is die skrywer se hooftema in Medusa.
Die riller begin in die wêreld van Lelike Lila Liebenberg, ’n meisie met ’n bedenklike kinderlewe. Sy is nie mooi nie en baie ongewild op skool, waar haar toebroodjies gereeld gesteel word voordat sy met mening en geweld terugveg.
Die skoolgebeure is die motivering vir die verdere verloop van Lelike Lila se lewe. Sy dien as gedwonge jong seksslaaf, ontvang ’n ryk erfporsie, en verander in ’n pedofielbaas met ’n veilige, afgesonderde hawe waarheen kindertjies en vroue ontvoer word, en selfs vermoor word, vir die plesier van ryk en vooraanstaande sakemanne en die grootste sadis denkbaar.
Die lyn tussen fantasie, toeval en geloofwaardigheid – een van die belangrikste toetse vir ’n oortuigende riller – word ongelukkig in Lila se kinderjare erg oortree. Dit gebeur ook wanneer Boon Boonzaaier vroeg sy toetrede in die verhaal maak en dinge net te maklik in sy skoot val.
Boon kom uit ’n weeshuis en voer ’n bedelaarsbestaan in Kaapstad. Hy staan een aand nat, koud en bedremmeld onder ’n winkelafdak en volg ’n TV-program met onderskrifte, en ’n plan wat sy hele lewe kan verander skiet hom te binne. Die plan lei darem tot ’n slim en oortuigende wisselwerking tussen karakters en vorm ’n groot deel van die riller.
Hierdie deel van die riller word puik afgewissel met die ander gebeure en karakters in die bordeel en die manier waarop hulle die regte kinders en moeders soontoe lok. Facebook – en die maklike manier waarop mense vriendskapsversoeke aanvaar – speel ’n groot rol in die identifisering en werwing van die gewenste mense en hulle word die teiken van die ontvoerders.
Lila beweeg vir die res van die storie na die agtergrond en bly enduit daar. Festus is haar grootste dienskneg en die wreedste en mees brutale sadis denkbaar, soos die bebloede gebreekte bottelkoppe onder sy bed getuig. Hy het ’n houvas op sy broer, Zach, wat gedurig onder druk verkeer om ook volwasse vroue vir sy gebruik aan te keer. Zach is ses jaar betrokke en het al gesien hoe van die ou ervarenes verdwyn – waarnatoe, weet hy nie.
Die dialoog is deurgaans oortuigend en word ook in die karakters se denkpatrone weergegee wanneer ’n ontsnappeling die hoogste prys betaal. en verkool word.
"Die bitch het gesê daai moet ’n les vi' almal wies. Hie' kan jy nie escape nie. Want besides die electrical fencing check die camera die muur ok yt."
As pluspunt: die skrywer bly weg van te veel eksplisiete besonderhede sonder om lesers te laat raai wat in die mensehandelsindikaat gebeur en sonder dat spanning ingeboet word.
Johnny January is ’n sindikaatkarakter en sy rol is dié van die morele kompas of gewete. Hy is ’n taai straatkind en bied aan die jong slagoffers vertroosting en dui ook die pad van die minste weerstand vir hulle aan.
Speurder Kassie Kasselman en sy assistent, Rooi, kry in Medusa ook meer werk as in Van Rensburg se ander rillers. Die ophopende onopgeloste misdade vreet soos ’n kanker aan hom en hy begin twyfel of hy nog in die regte beroep is. Daar heers ook spanning tussen die vertakkings van sy eenheid. Verskillende maniere van dink en doen en mense wat die wette gehoorsaam of oortree, dra tot sy probleme by.
In ’n besonder sterk ontknoping met verrassende wendings wen die speurders die stryd teen misdaad en geweld met hul volharding wanneer hulle die deurslaggewende ontdekkings maak en die ontbrekende dele van die legkaart op ’n knap wyse aanmekaar sit.
En vir Boon Boonzaaier wag daar ook ’n aaklige en uiters verrassende ontdekking en aanpassing in sy nuwe wêreld as “Simon Echardt”.
Lees ook
US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg oor Medusa