US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg oor Medusa

  • 0

Medusa
Rudie van Rensburg
ISBN: 9780795801839
NB-Uitgewers

Rudie van Rensburg vertel vir Naomi Meyer van sy jongste boek, Medusa, wat ook vanjaar by die US Woordfees in ’n boekgesprek bespreek word.

Rudie, baie geluk met die verskyning van Medusa. Ek moet jou sê: hierdie boek van jou het my geraak en plek-plek my hart gebreek. Hoeveel van hierdie storie is waar?

Baie dankie, Naomi! Ongelukkig is die boek grootliks op die waarheid geskoei. 

Aspekte hiervan moet eenvoudig waar wees; dit klink onheilspellend moontlik dat hierdie soort dinge bestaan. Ek sien in die bedankingsgedeeltes hiervan dit was ook vir jou donker om hieroor te skryf. Hoe het die verhaal jou pad gekruis?

Verskeie koerantberigte oor kindermolestering het my op die verhaal laat besluit. Ek het egter nie toe besef waarvoor ek my inlaat nie. Toe ek navorsing oor pedofilie begin doen, het dit my onkant betrap en my omtrent uit my gemaksone geruk. Buiten vir die ontstellende navorsingsgegewens, was ek ook bang dat ek die grense van fatsoenlikheid met so ’n verhaal gaan oorskry. Ek het dit selfs in ’n stadium ernstig oorweeg om nie voort te gaan met hierdie onderwerp as tema nie. Maar  persoonlike gesprekke met Stella Potgieter, een van die land se voorste kenners op die gebied van pedofilie, en Celeste de Vaal, wat ’n kenner van mensehandel en “rape homicides” (kinderverkragting) is, het my finaal aangespoor om voort te gaan. Uit my gesprekke met hulle het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat die omvang van die misdryf in Suid-Afrika baie onderskat word. So ook die gevare waaraan kinders blootgestel word op die internet (onder meer op Facebook). Met letterlik miljoene mense wat onder vals Facebook-profiele opereer, is kinders sagte teikens vir pedofiele, allerlei soorte molesteerders en mensehandelaars. En ja, ’n groot deel van die storie is gegrond op ware gevallestudies wat ek onder meer in doktor Potgieter se doktorale proefskrif oor pedofilie raakgeloop het en toe gebruik het om ’n sekere karakter in die boek se gedrags- en denkpatrone geloofwaardig te beskryf.

Hoe gemaak as mens so betrokke raak by die karakters wat mens skep? Wat het jou laat aanhou (al weet jy almal se uitkoms is nie ewe gunstig nie)?

Dit is nogal ’n “intieme” proses. Jy leef elke dag saam met die karakters in jou kop. Dit is veral moeilik as jy effe verknog raak aan sekeres, maar weet daar wag ’n ongelukkige einde op hulle. In Pirana het een karakter so diep in my hart gekruip dat ek sy lewe in die boek "'gespaar"' het, wat aanvanklik nie die plan was nie. Maar ongelukkkig is dit soms in belang van ’n misdaadverhaal dat jy "wrede besluite" moet neem. Die lesers sal maar self moet lees om te sien of dit in Medusa die geval is.

Fynkam jy die koerante vir stories en storielyne of hoe vind jy van alles uit?

Ek is ’n fanatiese koerantleser, wat in elke brokkie ’n moontlike storie soek. Talle van my boeke het juis ontstaan as gevolg van koerantberigte of tydskrifartikels (Slagyster, Judaskus, Pirana, Ys en nou Medusa). Die storielyne kry gewoonlik eers gestalte wanneer ek begin skryf.

’n Boek per jaar, sien ek. Dis darem ’n kragtoer! Was dit ’n doelbewuste doelstelling toe jy begin het om ernstig misdaadromans te skryf?

Ja, ek wou altyd minstens een boek ’n jaar skryf. Ek handhaaf daagliks ’n gedissiplineerde skryfroetine en die afgelope twee jaar het ek harder as ooit gewerk  om vanjaar ’n tweede boek (in September) te laat verskyn. Dit is ook ’n spanningsroman, maar dié keer is Kassie Kasselman nie die hoofkarakter nie. ’n Sekere karakter in my debuutboek, Slagyster, spook al jare lank by my. Van die begin af het ek geweet hy het die potensiaal om ’n sterk hoofkarakter te maak en die September-boek handel oor hom. Daar sal egter volgende jaar weer ’n Kassie-boek verskyn.

En dit lees so vloeiend, jy word wyd bekroon. Word dit vir jou makliker?

Die skryfproses word beslis makliker. Dit help natuurlik ook dat ek ’n joernalistieke agtergrond het. Die basiese skryfboustene is in daardie omgewing gelê. En ek weet darem teen die tyd hoe om die slaggate te vermy waarin ek as debuutskrywer getrap het. Terselfdertyd moet ek ook erkenning gee aan my vaardige redigeerder, Suzette Kotzé-Myburgh, vir haar bydrae.

En kom die idees so vinnig by jou op? Maak jy gedurig aantekeninge oor nuwe stories al is jy nog besig met die een verhaal? Skryf jy sommer die volgende dag al, nadat die manuskrip weggestuur is, aan ’n nuwe verhaal?

Ek dink stories kom vinnig by my op omdat ek heeltyd op die uitkyk daarvoor is.  As ek dit nie in koerante of niefiksie-boeke kry nie, delf ek maar diep in my eie kop vir idees. Laasgenoemde gebeur gewoonlik as ek saans in die bed klim. Ek maak nie regtig aantekeninge nie. Wanneer ek aan ’n manuskrip begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verhaal gaan verloop. Buiten vir die navorsing wat klaar gedoen is, is my voorafbeplanning gering. Ek vermy fyn beplande raamwerke, want ek glo dit beperk my denkproses. Gedurende die skryfproses loop elke storielyn maar sy eie verrassende draaie, wat ’n mens in die beginstadium nooit voorsien het nie. As ek halfpad met ’n manuskrip is, het ek gewoonlik nie ’n idee hoe die verhaal gaan eindig nie. Vir my is dit juis die lekkerste deel van skryf om na daardie eindpunt toe te werk. Wanneer ek klaar is met ’n manuskrip, is dit vir my baie moeilik om stil te sit. Teen daardie tyd het ek al ’n groot deel van die navorsing vir ’n volgende boek afgehandel, wat ek saans doen om nie met my oggendskryfwerk in te meng nie. Ek vat gewoonlik ’n breek van ’n week of twee voordat ek ’n nuwe manuskrip aanpak, maar in Desembermaande gun ek myself ’n effe langer rustyd.  

Was die Griekse mite van Medusa ’n inspirasie? Op watter wyses, indien wel?

Ek sou nie sê daardie mite het as ’n inspirasie gedien nie. Maar die beeld uit my jeugjare van die lelike en onheilspellende vrou met die spul krioelende slange op haar kop, het perfek ingepas by die verhaal en veral die antagonis wat ek geskep het.

Is dit vir jou lekkerder om boeke te skryf as om koerantman te wees, of versekeringsman? Het jy toe ook maar geskryf, destyds, of het jy nie teruggekeer na ou manuskripte in die laai nie, maar vars en nuut begin skryf toe jy klaar is by die verskeringsmaatskappy?

Ek kan onteenseglik sê dat om boeke te skryf verreweg die lekkerste werk is wat ek nog gedoen het. Trouens, dit voel glad nie soos werk nie omdat ek die proses so geweldig geniet. Ek het ná my tyd as joernalis bly skryf en het vir verskeie koerante en ander publikasies rubrieke onder skuilname geskryf. In die tyd het ek ook die drama, Die begrafnis, geskryf. Ek het wel eenkeer ’n halfhartige poging aangewend om ’n boek te skryf, maar my tyd was eenvoudig te beperk om my volle aandag daaraan te gee. Ná my versekeringsdae het ek vars begin met my debuutboek se manuskrip.

Wat doen jy as jy tyd kry vir iets anders as skryf? Vertel ons van jou seëlversameling (as ek Kassie se stokperdjie as voorbeeld kan gebruik)?

Ek was in ’n stadium ’n ywerige gholfspeler, maar my onkonvensionele swaai was nie bevorderlik vir my lang rug nie. Ek en my vrou, Líze, hou baie van die teater. Ons ander groot bederf is om in Desember in Hermanus uit te span, waar ek van skryf en stories vergeet en nie eens my skootrekenaar heen saamneem nie. Ek is ook ’n groot sportliefhebber en kyk gereeld krieket, rugby en gholf op TV. En vanjaar het ek besluit om meer tyd in te ruim om te skilder, ’n passie wat ek die afgelope ses, sewe jaar gruwelik afgeskeep het.

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top