Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg

  • 0

Foto van Rudie van Rensburg: Izak de Vries

Hans steek die Rubicon oor
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801471

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders – wat hy die Verenigde Nasies noem omdat hulle die hele aardbol vol woon – maneuvreer hom vanuit hul oorsese huise in Huis Madeliefie in. Hy wil nie gaan nie; die inbraak by sy huis ’n maand gelede het minder indruk op hom gemaak, want hy het dwarsdeur die gedoente geslaap. Hy verstaan nie hoekom hulle so oorreageer nie.

In sy kop is hy nie oud genoeg om sy huis prys te gee en in ’n klein kamertjie te gaan woon nie. Sy planne om die ouetehuistrek uit te stel en dan, wanneer hy nie meer kan weghardloop nie, ander huisvesting te soek, word kort-kort in die wiele gery deur die drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers, Namibiese reise wat sy spaargeld opvreet en vet sports soos Hans kliphard teen die prikkels skop.

Hy maak tog – teen sy sin – vriende in die ouetehuis en saam beplan hulle ’n ouetehuisopstand teen die matrone en haar skoothondjie. Die vrou was voorheen by ’n tronk en haar reëls herinner aan haar vorige pos en die oumensies is nie meer daarvoor te vinde nie.

Die omslag beskryf die boek as ’n “hoogs komiese roman oor oudword op eie terme”. Kerneels Breytenbach skryf op die voorblad dis “loslit-humor op sy heel beste”.

Rudie van Rensburg kan met woorde werk; sy opleiding as joernalis en skrywer met verskeie boeke op sy kerfstok verseker dit en ek glo hierdie boek was vir ’n proefleser ’n vreugde – nie alleen is die taal keurig nie, maar hy gebruik spreekwoorde en uitdrukkings wat so lekker op ’n uitgehongerde Afrikaanse oor val. Hy verval nie soos baie ander Afrikaanse skrywers in die slaggat om die taal hip te wil maak en sêgoed te wil indwing wat in elk geval nie by oumense pas nie.

Die karakters praat soos my 88-jarige pa. Ja, daardie sêgoed wat jy soms hoor en twee treë terugstap en vra: “Hoe nou?” want jy kan nie glo wat hy nou kwytgeraak het in ou Afrikaans nie. Dis Afrikaans waarvoor ek so lief geword het en wat vandag só min gehoor word.

Die vergelykings van Hans se rugbydae vir die Hamiltons en hoe sy planne dekades later net so haarfyn soos hul destydse wedstrydplanne uitgewerk word – dié keer met vroue in looprame as spanspelers – het my aan die lag gehou en daar was ook ’n paar hardoplag-oomblikke wanneer sy hardkoppigheid en deursettingsvermoë tot ’n spits gedryf word.

Die boek begin effe ernstig: met oordenke en mymeringe oor ’n lewe én ’n lyf wat was. Aanvanklik dink jy die boek gaan hartseer wees, amper soos die internasionale wegholsukses The secret diary of Hendrik Groen, 83¼ years old, waar Hendrik se vriende geheuesiektes opdoen, ledemate verloor weens suikersiekte of selfs doodgaan; waar die verganklikheid só teer, maar só werklik beskryf word.

Maar dan neem Rudie én Hans ’n wending en die boek herinner meer aan die amper absurde The 100-year-old man who climbed out the window and disappeared, waar een ongelooflike ding op die ander met die hoofkarakter en sy nuwe vriende gebeur.

Soms is die gebeure vir my heeltemal te onwerklik en kan ek my nie indink dat my bejaarde pa so iets sou aanvang nie, en soms het hierdie absurdheid my effe gepla, maar meestal het ek net agteroorgesit en die storie geniet.

Dis nie ’n boek vol lewenslesse en -waarhede nie. Dis inderdáád loslit humor op sy beste – lees dit in daardie gees. Genade, ons het nodig om oor lawwighede te kan lag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top