Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Judaskus

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Rudie van Rensburg oor Judaskus

Baie geluk met Judaskus, Rudie. Waarom het jy hierdie boek geskryf? Het iets jou geïnspireer, of het jy gedissiplineerd gesit en begin werk sonder om vir inspirasie te wag?

Baie dankie, Naomi! Gewoonlik gaan soek ek na inspirasie deur wyd te lees oor verskillende onderwerpe en omgewings. Ek het onder meer die gewoonte om elke dag se koerant te versnipper en dan die interessante berigte/artikels te liasseer. Die ongekende toename in georganiseerde misdaad in die land het my opgeval, en veral die bedrywighede van groot sindikate. Dit het uiteindelik die vonk vir my verhaal verskaf.

Is hier 'n voortsetting van enige van jou vorige twee boeke? Of 'n splinternuwe konsep?

Elkeen van my boeke is afsonderlike verhale, maar ek hou natuurlik by my misdaadfiksieresep en my speurder, kaptein Kassie Kasselman. Wat wel uitdagend in Judaskus was, was dat Kassie, ’n gebore alleenloper en allermins jou tradisionele romantiese held, aan die swymel begin raak oor ’n aantreklike nuwe buurvrou. Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie! Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop.

Skryf jy met die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer, of omdat jy iets in die media raakgesien het en 'n storie daarvan wil maak - of suiwer fiksie?

Nee, ek skryf hoegenaamd nie om sosiale kommentaar te lewer nie. Dit is ’n bonus as die storie hom daartoe leen, maar dan moet jy versigtig wees dat die stert nie die hond swaai nie. Die sosiale kommentaar mag nooit die storie versmoor nie. In Judaskus was dit suiwer fiksie, maar in my volgende boek, wat reeds ver gevorder is, pak ek ’n baie netelige en aktuele kwessie aan. Dit pas egter soomloos in by die verhaallyn.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek vir jou?

Anders as tradisionele speurromans, waar die speurder gewoonlik deurlopend die sentrale karakter is, hou ek van baie karakters in my verhale. Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie.

Jou boeke lees moeiteloos, asof jy eintlik al die jare nog skryf. Is dit so?

Dit is lekker om dit te hoor! My benadering is nie soseer om letterkunde te probeer pleeg nie, maar om gewone stories te skryf. En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie. Ek was onder meer twintig jaar lank werksaam by ’n finansiëledienste-instelling, maar het in dié tyd nog gereeld vir koerante bydraes gelewer en onder skuilname rubrieke vir ’n hele paar plaaslike koerante en maatskappypublikasies geskryf. Ek het my hand ook gewaag aan ’n drama wat goed ontvang is by al die groot kunstefeeste in die land – iets wat ek baie geniet het om te skryf. Skryf was dus altyd maar deel van my lewe.

Daar was geen groter verraad as toe die Judaskus gekus is nie. Het jy van die begin af geweet wie gaan verraai en wie verraai gaan word, of het dit na jou gekom soos die storie ontwikkel het?

Die idee vir ’n verraaier was van die begin af daar. Die uitdaging was om dit nie onmiddellik vir die leser duidelik te maak wie die verraad gaan pleeg of wat die verraad presies behels nie. Dit het soms fyn voetwerk vereis.

Jy het ook 'n groot belangstelling in die kunste, soos wat in Kopskoot geblyk het. Het jy nog ander geheime belangstellings?

Ek is baie lief vir skilder, maar deesdae is my tyd as gevolg van die skrywery redelik beperk daarvoor. Ek bly versot op biografieë van kunstenaars. Oor Picasso, my gunstelingkunstenaar, het ek al vyf gelees. En soos baie Suid-Afrikaners stel ek belang in sport en hou daarvan om na rugby, krieket en gholf op die TV te kyk. Andersins is ek ’n aand-leesvraat. Ek twyfel of ek oud genoeg gaan word om alles te lees wat ek in die vooruitsig stel!

As jy skryf en besig is met jou boek, word jou aandag nie afgetrek deur die sosiale media nie?

Facebook is nogal ’n boggher! Voordat ek vroegoggend begin skryf, maak ek eers ’n Facebook-draai en is dan soms kwaad vir myself as ek te lank daarop boer. Maar gewoonlik probeer ek die sosiale media in my skryftyd vermy en loer ek eers later in die middag weer op FB en Twitter. Ongelukkig is ek as oudjoernalis maar van nature nuuskierig – dus is die versoeking altyd daar!

Bereik jy ooit 'n dooie punt in 'n manuskrip, of 'n plek waar die karakters hulle nou vasgedraai het en nie weet hoe om daar uit te kom nie - en wat maak jy dan?

Ek bereik selde ’n dooie punt, maar soms moet jy hard dink om jouself op ’n geloofwaardige manier los te wikkel uit ’n knyptangsituasie. Maar dit bly die lekker deel van misdaadfiksie – om verskillende scenario’s te oorweeg om ’n struikelblok te oorkom. Ek hanteer dit as ’n uitdaging eerder as ’n probleem. Soms dien sulke situasies juis as ’n katalisator vir verrassende nuwe storiewendings.

Wat lees jy op die oomblik?

Ek het in redelik vinnige opeenvolging The Son van Jo Nesbo en Ikarus van Deon Meyer klaar gelees (albei skitterende boeke) en het pas begin met Robert Harris se An officer and a spy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top