Cliffordene Norton praat met Naomi Meyer oor Hartsmense, Cliffordene se bundel wat onlangs by VivA Uitgewers verskyn het.
Cliffordene, baie geluk met Hartsmense, jou aanlyn kortverhaalbundel by VivA Uitgewers. Jy is bekend vir veral kortverhale en vir jeugverhale. Voel jy ’n skrywer moet iewers binne ’n spesifieke genre inpas? Hoe sien jy jouself as skrywer?
Ek is so groen soos gras – ek het nog baie om te leer. Die twee genres, kort- en jeugverhale, waarin ek skryf, is die genres wat ek nooit op universiteit oorweeg het nie.
Kortverhale het ek geïgnoreer omdat ek ’n skrywer, novelist, wou wees. Ek het nooit aan jeugverhale gedink nie – ek wou ’n romanseskrywer word. Ek weet mense trek hul neus op vir romanse, maar gelukkig het ek nie sulke hang-ups nie. Ek het grootgeword in ’n gemeenskap en tyd waar dit ’n prestasie was om te lees – so wat jy gelees het, het nie veel saak gemaak nie.
Soos met kortverhale, voel dit asof ek eers moes “grootword” om jeugverhale te waardeer. So, omdat ek hulle nie verwag het nie, laat ek my deur die stories lei. Wie weet waar ek volgende gaan opeindig?
Ek vra jou vandag oor Hartsmense, jou bundel kortverhale wat onlangs by VivA Uitgewers verskyn het. En toe ek begin lees, besef ek: Daar is natuurlik ’n uiters belangrike genre wat ek nie genoem het hierbo nie. Cliffordene, jy skryf beslis gereeld liefdesverhale. Jou kortverhale het ongetwyfeld almal verhoudingstemas. Nie altyd liefdesverhoudings nie, maar mense wat by mekaar betrokke is. Hartsmense. Is ek reg? Vertel ’n bietjie van die titel en hoe jy daarop besluit het.
Die kortverhale in die bundel is op verskillende tye in my lewe geskryf – ’n bundel was nie die doel nie, maar toe ek dit saamvoeg vir VivA het ek besef dit gaan oor die mense na aan jou. Die mense wat jou dikwels regop hou, maar dalk ook die seerste kan maak – die mense wat ’n deeltjie van jou hart besit. Vandaar die titel.
Jy spesialiseer in en is regtig goed met treffende eindes (en die titel “Om saam te slaap” is ook ’n treffende een, jy keer sommer gou die idees op hulle kop!). Ek was lus om sommige van die slotsinne aan te haal, maar dan bederf ek die pret. En dis lekker op-die-kop-gedraaide sinne ook. Soms hartseer, soms iets wat mense se harte sal warm maak – altyd onverwags. Cliffordene, wanneer het jy jou heel eerste storie geskryf?
Ek het in my eerste semester op universiteit skryfkuns geneem. Dis toe ek noodgedwonge my eerste kortverhale moes skryf. Daar het ’n paar aaklige kortverhale uitgekom.
’n Paar semesters later het ek seker die eerste kortverhaal geskryf wat soos ék gevoel het. Die verhaal is gebore uit prof Franci Greyling se raad: “Skryf stories wat jy ken – van jou plek en mense wat vir jou bekend is.” Toe skryf ek “Getuienis van Bilo” wat in ons kortverhaalbundel Weerspieël & weerkl(ink) vir die skryfkuns-module opgeneem is.
Ná skryfkuns was ek egter bly om kortverhale te groet, tot ek een aand – skaars ’n paar maande ná universiteit – gedroom het van “Opoffering”. Ek het dit vir Kuier gestuur en dis opgeneem. Van toe af is ek verlief op kortverhale.
Die stories vloei en vloei net. Ek vind dit so interessant, die verskillende temas. Jou karakters se leefwêrelde is outentiek Suid-Afrikaans (dalk Noord-Kaaps), maar hulle is net mense wat die groot lewe bewoon en by mekaar betrokke is. Dis nie noodwendig stories wat moeilike temas ondersoek nie en as dit wel ’n moeilike tema ondersoek, soos gesinsgeweld, doen jy dit op ’n doodgewoon menslike manier – nie ’n maatskaplike kwessie nie. Neem asseblief een storie en vertel hoe iets in die lewe jou geïnspireer het om dit te skryf, en dan nog ’n storie en vertel hoe jy dit uit niks geskep het nie?
Een storie wat uit niks geskep is nie, is seker “Om saam te slaap”. Dit het verskeie inspirasiepunte, maar een van die ligste daarvan is seker my liefde vir AC/DC-T-hemde. In die kortverhaal sal jy dit van een asemteug tot die volgende mis, maar daarsonder sou ek seker nie die kortverhaal so geniet het nie.
“Pienk van hoop” is ’n kortverhaal met net een inspirasiepunt en dis ’n sterk een: ’n Pienk windmeul wat kankeroorlewendes vier. Toe ek dit sien, het ek die storie gesien. Soms voel dit asof die stories wag en ek net die gelukkige skrywer is om dit te vind.
Jy het ook al ’n keer of wat verhale in die Woordfeesbundel gepubliseer gekry. Jy weet hoe om ekonomies genoeg met woorde te werk sodat dit nie te lank is nie, maar net genoeg om mens se aandag te behou. Maar Cliffordene, wat van die volgende hoofstuk? Sê nou jy moet vir jou kortverhaalstories elkeen ’n hoofstuk 2 skryf, sal dit werk?
Sjoe, Naomi, dis darem nou ’n moeilike een. Ek weet ek sal altyd mal wees oor skryf – ek het dit al genoeg probeer opgee om te weet dis in my bloed.
Ek het groot drome – meer jeugverhale, veral omdat dit voel asof ek pas daardie aar raakgeskryf het, meer kortverhale, dalk ’n teaterstuk, en ek wil graag meer met skrywers werk. Ek het al saam met twee skrywers gewerk en dis ’n proses wat ek geweldig geniet.
Ek wil ook my meesters in skryfkuns kry en eendag skryfkuns gee. Dit klink dalk arrogant, maar ek hoop om die module aan te pas so dat voornemende skrywers eendag vanaf universiteit net ’n paar kort jare hoef te werk, voordat hulle voltydse skrywers is.
Daar is net agt stories in Hartsmense – maar mens wil by elkeen nog meer weet van die karakters. Ek het jou nou al oor hoofstuk 2 gevra, maar het jy al ’n kortverhaal geskryf wat jy net nie kon los nie en toe word dit ’n boek? Soos Om jou te ken? Of was daardie proses anders?
Die kortverhaal wat ek vir vanjaar se Woordfeesbundel ingeskryf het, is besig om ’n boek te word. Die kortverhaal is afgekeur en ek wou dit in die “kas” bêre, maar dit het skielik meer diepte gekry en ek het so ’n hoofstuk geskryf voordat ek dit op ys geplaas het. Dit sal deel van volgende jaar se beplanning wees.
Jy het ’n romansekursus gedoen en ook onlangs vir LitNet geskryf oor die skrywer as entrepreneur. Is dit nie ook baie uitputtend om alles self te doen nie? Wat ondervind jy – wat ook baie op TikTok betrokke is en skryfwerk aktief bemark op ’n wyse waaroor jy al baie navorsing gedoen het? Voel jy meer mense weet van skryfwerk as mens dit self bemark?
Uitputtend, beslis. Is ek ’n beheervraat? Nog ’n beslis. Ek het ook jare in die uitgewersbedryf gewerk. Ek het gesien hoe dit verander en hou dit steeds met ’n fyn oog dop. Skrywers kan nie meer net die manuskrip afgee en wag vir die tantième nie.
Die uitgewers verwag meer – die mark is nie meer tevrede om die naam te ken sonder die mens nie. Die meeste mense wil mense ondersteun van wie hulle hou of ten minste kan respekteer. Dit vereis meer betrokkenheid. En wie gee meer om vir jou stories as jy?
Daar is ook vir my ’n soort elitisme aan die siening van: “Ek is ’n ernstige skrywer, ek sal nie so laag daal om myself te bemark nie.” Dit voel disrespekvol teenoor jou lesers. Dit voel asof hierdie siening dikwels sê: “My tyd is te kosbaar om met julle te praat oor die karakters wat ons almal liefhet.” Soos jy kan agterkom, het ek sterk menings hieroor.
Watter van die stories in Hartsmense is jou persoonlike gunstelinge? En hoekom? Jy mag drie noem.
Naomi, dis soos om te vra watter kind is jou gunsteling. Maar die drie waaroor ek seker die malste is, is: “Waarvoor bid Myra?”, want dis my ma se gunstelingverhaal. “Dingaan se kis” en “Ek het vir jou blomme gebring”, omdat hierdie twee kortverhale my herinner aan my gunsteling-oom en my oupa.
..............
Maar die drie waaroor ek seker die malste is, is: “Waarvoor bid Myra?”, want dis my ma se gunstelingverhaal. “Dingaan se kis” en “Ek het vir jou blomme gebring”, omdat hierdie twee kortverhale my herinner aan my gunsteling-oom en my oupa.
...............
Die meisie wat die boeke gelees het, is die vrou wat die boeke skryf. Vertel my waar kry jy die tyd: Jy werk mos ook bedags. Het jy ’n skryfroetine, staan jy vroeg op, vra jy dat jou hond jou help ;), hoe bly jy so produktief? En ook: Wat lees jy? Wie is jou gunstelingskrywers en watter boek het jy onlangs gelees?
Waar kry ek tyd? Eerlikwaar, ek is ’n introvert. My gunstelingplek is my hoekie in my huis waar ek skryf, en sodra my honde tevrede is, verkas ek soontoe. Maar skryf is iets wat my absolute plesier gee. Ek kry my energie daaruit, so om dit nie te doen nie voel asof ek nie my lewe ten volle geniet nie. Ek weet dit klink dramaties, maar wanneer ek skryf voel ek meer myself as ooit.
...............
Ek weet dit klink dramaties, maar wanneer ek skryf voel ek meer myself as ooit.
................
En lees ek? Ja, vanjaar het ek baie gelees, maar minder nuwe boeke gelees. Ek het eerder vorige boeke herlees.
Die lys van my gunstelingskrywers word by die dag langer, maar Nalini Singh, Sophia Kapp, Chanette Paul, Didi Potgieter, Elsa Winckler, Joss Wood, Marie Dry, Rupi Kuar, Emma Lord, en Ronelda Kamfer bly op die lys. Jaco Jacobs verstom my, en antie Zee, Zelda Bezuidenhout, inspireer my.
Veronique Jephtas se Soe rond ommie bos en An-Mari do Carmo se Toe als groen was is die eerste boeke wat ek op dieselfde plek as Diekie vannie Bo-Kaap (’n heilige boek vir my) geplaas het. Veronique se skryfstyl herinner my aan Rupi Kuar s’n – dit voel asof dit jou oopkerf en genees op al die plekke waaroor jy nie praat nie. As my suster ná universiteit uittrek beter ek seker maak my kopie van Toe als groen was bly by my.
Ek is ook besig om Joha van Dyk se eerste boek te lees. Ek het die boek verlede jaar gekoop, maar op die eerste blad het ek besef dit dek ’n tema waaroor ek in een van my work in progress-boeke skryf. Ek het dit toegemaak en eers hierdie naweek begin. Ek is so 10% in die boek, maar ek dink sy gaan een van my gunstelinge word.
Lees ook:
Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton
Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton
Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?
Internasionale Kinderboekdag 2023: Cliffordene Norton se dankie-sê-brief