
Foto’s van Cliffordene Norton en Francine Beaton: verskaf
Lees dalk vooraf hierdie artikel ter agtergrond van onderstaande onderhoud - LitNet-redaksie
Onafhanklike outeur Francine Beaton, wat voortaan haar boeke onder die drukkersnaam Fleur Publishing sal uitgee, deel haar ervaringe en insigte oor die selfpublikasiebedryf. Sy het gekies om die selfpublikasierigting te neem nadat sy besef het dat die tradisionele publikasieproses te lank neem.
As ’n indie-outeur waarom het jy besluit om die selfpublikasierigting te neem?
Ek het reg aan die begin ’n kontrak met ’n uitgewer gehad vir drie boeke. Nog voor ek my boeke begin uitstuur het na uitgewers, het ek reeds agt boeke gereed gehad. Terwyl ek gewag het vir terugvoer, het ek nog soveel bygeskryf. Ek is 60. Ek is ’n oorywerige en vinnige skrywer.
Ek het vroeg reeds besef dat die tradisionele publikasieproses vir my gans en al te lank neem en het, nog voor my eerste boek deur die uitgewer gepubliseer is, besluit om te probeer om self te publiseer. Dié boek wat ek self uitgegee het, is gepubliseer voor die uitgewer met die tweede boek begin het. Teen die tyd dat die derde boek sou verskyn, het ek reeds vyf boeke ook onafhanklik gepubliseer.
Dis egter nie te sê dat jy net die een of die ander hoef te doen nie. Daar is heelwat skrywers wat tradisioneel en onafhanklik uitgee. Sou die geleentheid ditself voordoen, sal ek dalk wel tradisioneel uitgee.
Watter uitdagings het jy ondervind in die hantering van jou skryfwerk, en hoe het jy dit oorkom?
Die grootste probleem wat ek ondervind het, is om die regte diensverskaffers te kry met wie ek kon en wou saamwerk. Ek verwys hier na proeflesers, redakteurs, voorbladontwerpers, ensovoorts. Ek was ook nie aan die begin gemaklik met die bemarkingsproses nie. Ons geslag Afrikaanse kinders is mos geleer om nie jou eie beuel te blaas nie. Ek moes leer om ’n dik vel te hê.
.....
Afrikaanse lesers hou nog van ’n boek in die hand.
.....
Om in Afrikaans onafhanklik te publiseer, bied inderdaad ander uitdagings, soos bemarking. Ek was gewoond aan die Engelse mark, waar skrywers makliker saamwerk om mekaar se boeke te bemark. Daar is bemarkingskanale wat jy kan volg met Engelse boeke, soos groeppromosies deur StoryOrigin, BookBub, Bookfunnel en baie ander, maar wat nie beskikbaar is in Afrikaans nie. Dan is daar ook bemarkingsgeleenthede vir Engelse skrywers soos Facebook-groepe, Facebook-partytjies, blogtoere en nuusbriewe, om maar net ’n paar te noem.
’n Ander probleem is om jou boeke in boekwinkels te kry – en Afrikaanse lesers hou nog van ’n boek in die hand. Ek kan nie ’n verspreider duisende rande betaal en duisende boeke druk nie, veral nie as jy in ag neem dat ek reeds 20 boeke het in Afrikaans nie. Selfs nie onafhanklike boekwinkels wil jou altyd ’n kans gee nie. Hulle wil hê jy moet ’n besending boeke vir hulle gee sonder voorafbetaling, wat vir my as ’n onafhanklike entrepreneur nie sin maak nie. Dis dan ’n dooie bate. Tensy dit natuurlik verkoop, maar dis ’n kans en risiko wat ek nog nie bereid was om te waag nie.
Dieselfde geld dus vir biblioteke. Dis nie maklik om jou boeke in ’n biblioteek se katalogus te kry nie. Maar ek werk daaraan.
Wat is jou mening oor die balans tussen kreatiewe selfuitdrukking en die kommersiële aspekte van selfpublikasie?
Dis ’n vraag wat elkeen vir hom- of haarself moet afvra: Hoekom skryf jy? Is dit om geld te maak of om jouself kreatief uit te druk? Dan moet jy jou verder afvra, hoe ver is jy bereid om jou kreatiewe proses aan te pas net om kommersiële sukses te bereik?
Ek weet daar is maniere waarop ek meer sukses kan behaal deur boeke te skryf vir ’n spesifieke mark, volgens ’n spesifieke resep, met ’n spesifieke tema, vir ’n uitgewer.
Ja, ek kon dit seker doen om meer geld te maak, en dit sou lekker wees om meer geld te verdien, maar ek het lankal besluit ek geniet dit meer om ’n storie te skryf wat deur die karakters gedryf word.
.....
As onafhanklike uitgewer kan ek hier en daar iets anders probeer, en kyk hoe die lesers dit ervaar. Miskien hou die lesers daarvan. Werk dit nie, kan ek iets anders probeer. Ek kan die boek verander en die voorblad verander, as ek wou.
.....
Bygesê, jy gaan mos nie ’n boek skryf, baie geld spandeer om dit te laat proeflees, ’n buiteblad te laat ontwerp en dit te laat bemark as dit nie gaan werk nie? So ja, as jy sukses behaal het met een boek, en daardie “resep” werk, is dit logies dat jy weer so iets sal skryf.
As onafhanklike uitgewer kan ek hier en daar iets anders probeer, en kyk hoe die lesers dit ervaar. Miskien hou die lesers daarvan. Werk dit nie, kan ek iets anders probeer. Ek kan die boek verander en die voorblad verander, as ek wou. Weet net dat as dit nie werk nie, dit jou reputasie skade kan aandoen en jy kan geld verloor. Orson Scott Card het eenkeer gesê oor skryfwerk: “You can break any rule you like, as long as you’re prepared to deal with the consequences.”
Hou dit in gedagte.
Watter raad of insigte het jy vir ander skrywers wat oorweeg om self te publiseer en hul eie skryfbesigheid te begin?
Ek het onlangs ’n praatjie aangebied in Pretoria wat ek die “Agt stappe tot selfpublikasie” noem. Een belangrike aspek wat ek opgehaal het, is dat skrywers nie moet doen soos ek nie, maar eerder doen wat ek sê. Ek het sommer in die proses ingeduiwel, sonder om my huiswerk te doen en myself voor te berei. Ek het ’n hele paar onnodige en duur foute begaan.
In my tienerjare het ons klubs gehad. Ons het by een se huis of ’n geheime wegkruipplek bymekaargekom en goed gedoen wat ons geïnteresseer het. Partymaal nuwe dinge geleer ook. Deesdae gebruik ons sosiale media vir dieselfde doel. Skep vir jou ’n profiel en hang daar rond nog lank voor jy wil publiseer. Daar is soveel groepe en organisasies waarby jy kan aansluit. Maak vriende met ander skrywers. Vra raad oor wie hulle gebruik as proeflesers/redigeerders, voorbladontwerp en bladuitleg.
.....
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons lesers om ’n goeie boek te skryf en te publiseer. Dit behels dat die boek goed geskryf en professioneel verpak moet wees (onder andere goeie omslag en redigering). Jy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor jou mede-skrywers. Maak seker dat jy ’n goeie produk uitgee sodat jy nie die hele indie-industrie ’n slegte naam gee nie.
.....
Jy moet bereid wees om te leer, en jy moet verwag dat jy foute sal begaan en mislukkings ervaar. Doen jou huiswerk voor jy publiseer. Gesels met ander skrywers. Doen ’n kursus of twee. Leer. En leer nog. Hoe beter jy jou kan voorberei, hoe beter gehalte boek kan jy uitgee. En hê sommer ’n dik vel ook. Wees voorbereid op kritiek, hoe goed of hoe sleg dit ook al is.
Proeflees 3000 keer as dit moet. Kry ’n ervare proefleser. Maak staat op beta-lesers.
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons lesers om ’n goeie boek te skryf en te publiseer. Dit behels dat die boek goed geskryf en professioneel verpak moet wees (onder andere goeie omslag en redigering). Jy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor jou mede-skrywers. Maak seker dat jy ’n goeie produk uitgee sodat jy nie die hele indie-industrie ’n slegte naam gee nie.
Hoe belangrik is dit vir indie-outeurs om kennis te hê van sakebestuuraspekte soos bemarking, finansies en produksie?
Om jou boek of boeke self uit te gee, verg harde werk, deursettingsvermoë en selfdissipline.
As jy wel wil self uitgee, moet jy ’n paar dinge in ag neem: selfuitgewery, of onafhanklike uitgewery soos ons verkies om dit te noem, is vergelykbaar aan ’n eenmansaak. Jy dra al die hoede in daardie besigheid, en jy neem al die verantwoordelikhede. Jy is alles: Van skepper tot boekhouer, statistikus en bemarker. En sommer die hoofkok en skottelgoedwasser ook.
Dink maar byvoorbeeld daaraan: Jy koop byvoorbeeld ’n franchise van ’n kitskosrestaurant. Jy hou van kitskos. Jy eet dit gereeld. Jy weet hoe dit moet proe. Dis egter nie te sê jy gaan alles weet wat gepaard gaan om so ’n besigheid te bestuur nie, tensy jy vorige ondervinding het. Jy gaan dus die verskillende aspekte van besigheidsbestuur moet aanleer.
Dis egter nie te sê jy moet net so ’n goeie kok wees as die hoofkok met 30 jaar ondervinding nie. Jy hoef nie elke aand al die skottelgoed te was nie. Jy hoef nie ’n ekspert te wees in elke aspek van die besigheid of dat dit beteken dat jy alles self moet doen nie. Jy moet net genoeg ken en doen om jou besigheid suksesvol te bestuur.
Dis dieselfde as om jou boeke onafhanklik uit te gee. Leer genoeg om jouself te kan handhaaf indien jy wel van die take uitkontrakteer. Leer ken die publikasieproses en leer wat jy self kan doen en wat nie. Leer ken jou sterk- en swakpunte. Jy hoef egter nie alles self te doen nie.
Maar, aangesien jy beheer het oor elke faset, moet jy die finale besluit neem voor jy jou produk uitstuur. Dis waarom jy daardie kennis moet hê. Hoe meer jy weet, hoe minder foute gaan jy maak.
’n Ander aspek wat die sakedeel betref, is jou regte, nie net vir nou nie, maar wat gaan gebeur indien jy afsterwe. ’n Mens wil nie daaraan dink nie, maar dis belangrik. Wat word van jou tantième en regte ná jou dood? Wat word van jou sosiale media-profiele? Wat van jou webblad en nuusbrief? Jy moet dus ’n plan in plek hê vir elke faset van jou besigheid, van finansies tot algemene administrasie.
Vind egter ’n balans tussen jou skryfwerk en die ander aspekte om jou besigheid te bestuur. Jy kan tog nie iets bemark wat jy nie het nie. Dus, maak tyd om te skryf. Dis jou besigheid se grootste bate en wat dit aan die gang hou en laat groei.
Lees ook:
Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?
Kommentaar
Goeie artikel. Om by te voeg: moenie gaan lê as kritiek jou tref nie. Maak van kritiek 'n leergeleentheid. Indieskrywers is dapper, het guts, gee nie op nie. Ek wil ook beklemtoon: twv ander Indieskrywers, gee asb 'n kwaliteitboek uit.
Wil ook net 'n stertjie hier aanlas. Selfpublikasie gee jou die geleentheid om jou boeke teen 'n heelwat goedkoper prys aan te bied. Die wins is dus alles vir jou sak. Skrywers is vinnig besig om oor te skakel na selfpublikasie.
Goeiedag
Ek is 'n 62-jarige vrou wat begeer om 'n digbundel te publiseer. Enige voorstelle sal waardeer word. Riglyne? Baie dankie, ek hoor graag van u.
Vriendelike groete
Ina