Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

  • 1

Prent: Unsplash

Onlangs het ek een van my gunsteling-YouTube-kanale, The Financial Diet (TFD), besoek en ’n video getiteld “I’ve Spent $34,303.39 On My Book (So Far). Here’s Everything I Learned” het my aandag getrek. In hierdie video bespreek Chelsea Fagan, medestigter van TFD, die koste van haar debuutroman, A perfect vintage. Dit het my onmiddellik laat dink oor die frustrasie waarmee ek al ’n rukkie sukkel en ek het myself gevra: Waarom leer ons aspirantskrywers nie die nodige besigheidsvaardighede saam met ’n kreatiewe opvoeding nie?

Ek is ’n jong skrywer met vyf jaar se werkservaring by ’n uitgewer. Hierdie ervaring het my waardevolle insig gegee oor die binne-werkinge van die uitgewersbedryf. Ek het egter besef daar is gapings in my kennis, veral oor die sakekant van my skryfloopbaan.

Verlede jaar het ek weer eens skryfkuns begin studeer en ek moes grotendeels aanpas by die sterk akademiese aanslag.

Ek het uitstekende lektore en gassprekers gehad wat oor die kreatiewe proses gepraat het. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is uiters belangrike aspekte van skryf – dis die grondslag van skrywerwees.

Soos romanseskrywer Francine Beaton sê: “Jy kan tog nie iets bemark wat jy nie het nie. Maak tyd om te skryf. Dis wat jou besigheid aan die gang gaan hou.”

Francine, wat ongeveer 20 Afrikaanse boeke vanuit haar pen het, het besluit om onafhanklik te publiseer omdat sy ’n vinnige en oorywerige skrywer is. “Ek het reg aan die begin ’n kontrak vir drie boeke by ’n uitgewer gehad. Nog voor ek my boeke begin uitstuur het na uitgewers, het ek reeds agt boeke gereed gehad. Terwyl ek gewag het vir terugvoer, het ek nog soveel bygeskryf. Ek het vroeg besef die tradisionele publikasieproses neem vir my gans en al te lank. Nog voor my eerste boek deur die uitgewer gepubliseer is, het ek besluit om te probeer om self te publiseer. Dié boek wat ek self uitgegee het, is gepubliseer voor die uitgewer met die tweede boek begin het. Teen die tyd dat die derde boek sou verskyn, het ek reeds vyf boeke onafhanklik gepubliseer.”

Sy maak voornemende skrywers attent daarop dat self-uitgewery of onafhanklike uitgewery harde werk, deursettingsvermoë en self-dissipline verg.

Dit is vergelykbaar met ’n eenmansaak, sê Francine. “Jy dra al die hoede in daardie besigheid, en jy neem al die verantwoordelikhede. Jy is alles: Van skepper tot boekhouer, statistikus en bemarker. Sommer die hoofkok en skottelgoedwasser ook.”

Die akademie fokus tans op navorsing in plaas van die bou van ’n suksesvolle (kommersiële) loopbaan. Selfs tydens skryfkonferensies of -skole word die belangrikheid van bemarking beklemtoon. Ek het slegs een keer gehoor dat een romanseskrywer, Joss Wood, tydens die 2018-Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA)-konferensie gepraat het oor professionalisme en finansies. Projekbestuur, bemarking en besigheidselemente speel deurslaggewende rolle in die sukses van enige skrywer.

.....
Een van die sleutelkwessies wat my aandag getrek het, is die persepsie dat skrywers slegs as kreatiewe kunstenaars gesien word eerder as entrepreneurs.
.....

’n Uitgewer het dit goed verwoord: “’n Skrywer moet betrokke bly by alle aspekte rondom die boek en nie als in die hande van die uitgewer laat nie. Skrywers moet verstaan hoe die finansiële sy van sake werk as jy by ’n uitgewer uitgee. Hoe jou tantieme werk, wanneer jy dit ontvang, of jy ’n voorskot sal ontvang, of jou tantième sal verhoog as ’n sekere hoeveelheid kopieë van jou boek verkoop het, of jou boek sal herdruk en hoe jy jou regte kan terugkry as dit nie gaan herdruk nie. Is daar die moontlikheid om ander boekprodukte uit jou bestaande boek te skep – boeke vir volwassenes wat aangepas word vir kinders.”

Een van die sleutelkwessies wat my aandag getrek het, is die persepsie dat skrywers slegs as kreatiewe kunstenaars gesien word eerder as entrepreneurs.

“As jong skrywer en student was ek nog nooit blootgestel aan enige besigheidsaspekte van die skryf- en verkoopproses nie,” sê derdejaarstudent Constance Venter. “Die meeste aspirantskrywers is nie eens bewus van die proses waardeur hul skryfwerk moet gaan om op die ou end deel van die ‘mark’ te wees nie. Ons sit met die wonderlike ‘kuns’ wat ons geskep het, maar word net in die diep kant ingegooi wanneer ons wil begin geld vra vir ons skryfwerk.”

Met die hedendaagse tegnologie en publikasie-opsies kan skrywers verskillende roetes verken, soos tradisionele, hibriede of self-publikasie.

Ongelukkig word die persepsie dat skrywers slegs deur hul passie gedryf moet word, nog steeds in stand gehou. Alhoewel ’n liefde vir skryf noodsaaklik is, is dit belangrik om die potensiaal te besef om ’n inkomste uit ons skryfwerk te genereer. Skrywers moet toegerus word om alle moontlikhede van hul skryfwerk te benut.

Ek het al baie talentvolle skrywers teëgekom wat uitsluitlik op hul handwerk fokus sonder om die besigheidsy van sake in ag te neem. Ongelukkig kan dit hul geleenthede beperk en verhoed dat hulle hul potensiaal maksimeer. In vandag se wêreld waar indie-outeurs floreer en tradisionele publikasie nie die enigste pad na sukses is nie, word dit noodsaaklik om bemarkingstrategieë te verstaan, ’n handelsmerk te bou en betrokke te raak by self-bevordering.

Akademiese kennis bied waardevolle kortpaaie en ’n holistiese perspektief wat kan help om ’n suksesvolle loopbaan as skrywer op te bou. Die verantwoordelikheid om die gaping tussen kreatiewe opvoeding en sakevaardighede te oorbrug, rus tans grootliks op mede-skrywers wat bereid is om hul ervarings en insigte te deel.

Hibriede skrywer van fantasie, wetenskapfiksie en romantiek, Rebecca Thorne (@rebecca.thorne), is passievol daaroor om studente te help om ’n lewensvatbare inkomste uit hul skryfwerk te maak. Sy gebruik sosiale media-platforms soos Discord en TikTok – waar sy meer as 26 000 volgelinge het – as ’n verlenging van haar klaskamer.

Dit is egter my mening dat skrywers toegerus moet word met die nodige gereedskap om alle aspekte van hul skrywersloopbane te bestuur. Deur sake-onderrig in akademiese programme te integreer, kan aspirantskrywers waardevolle kortpaaie verkry en ’n holistiese perspektief ontwikkel wat hulle in staat stel om suksesvolle en volhoubare loopbane op te bou.

Die uitgewersbedryf ontwikkel vinnig en dit is noodsaaklik vir skrywers om by te bly met hierdie veranderinge.

.....
Die verbinding van kreatiewe en sakevaardighede is noodsaaklik vir skrywers in die moderne landskap. Aspirantskrywers moet nie net meesterlike woordkunstenaars wees nie, maar ook skerpsinnige entrepreneurs. Deur hierdie dubbele rol te omarm, kan skrywers met vertroue die veranderende uitgewersbedryf trotseer, geleenthede benut en hul volle potensiaal as suksesvolle skrywers verwesenlik
.....

Hoewel tradisionele publikasie nog steeds waardevol is, bied self-publikasie geleenthede vir skrywers om direkte toegang tot hul lesers te hê, kreatiewe beheer te behou en hul inkomstepotensiaal te maksimeer. Dit maak eksperimentering moontlik, pas aan by marktendense en bied die moontlikheid om verskeie inkomstestrome uit ’n enkele boek te skep.

Die verbinding van kreatiewe en sakevaardighede is noodsaaklik vir skrywers in die moderne landskap. Aspirantskrywers moet nie net meesterlike woordkunstenaars wees nie, maar ook skerpsinnige entrepreneurs. Deur hierdie dubbele rol te omarm, kan skrywers met vertroue die veranderende uitgewersbedryf trotseer, geleenthede benut en hul volle potensiaal as suksesvolle skrywers verwesenlik.

Lees ook:

Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton

  • 1

Kommentaar

  • Ek is een van daardie "indieskrywers" en het drie boeke self uitgegee. Maar ek het ook drie kinderboeke na die uitgewers gestuur. Ek "soek na meer". Ek wil ook my boeke daarbuite op die winkelrakke hê. Maar ek moes eers 'n indieskrywers wees voor ek verder kon sien. Baie dankie vir jou artikel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top