Die lekkerlag-pretboek
De Wet Hugo
Human & Rousseau
ISBN: 9780798182874
’n Kinderboek wat nie ’n storieboek is nie? De Wet Hugo praat met Naomi Meyer oor Die lekkerlag-pretboek.
Hallo De Wet! Sal jy eerder buite in die reën sit of heeldag regop in die huis staan? Sal jy eerder ’n jaar lank tronk toe of nooit weer met vakansie gaan nie? Sal jy eerder alleen op die verhoog sing, of alleen op die verhoog dans? Sal jy eerder jou eie troeteldier of die bure se kind van ’n natuurramp red? Sjokolade of kolwyntjies? Honde of katte? Wil jy verklap hoekom ek al hierdie vrae vir jou vrae? En is daar regte of verkeerde antwoorde?
Een van die afdelings in Die lekkerlag-pretboek is “Sal jy eerder?” Die doel van hierdie tipe vrae is doodeenvoudig vir mense om mekaar te vermaak. Jy plaas die persoon aan wie jy die vraag stel in ’n situasie waar hulle gewoonlik nie werklik enige van die twee moontlikhede wil kies nie, maar hulle móét net. Natuurlik het dit skreeusnaakse gevolge. Ek speel hierdie lawwe speletjie al self baie graag van my kinderdae af en kon destyds reeds die vreeslikste walglike moontlikhede vir my drie susters en maats uitdink. Oor of daar regte of verkeerde antwoorde is? Nee, beslis nie. Dís juis wat dit soveel pret maak.
Natuurlik is daar nie regte of verkeerde antwoorde nie. Dit kan wel ’n groot gesprek afgee as mens hierdie vrae vir jou maats of vir jou ouma sit en voorlees. Of selfs as die ma die boek in die hande kry en dit vir haar vriendinne begin vra! Die vrae het my ’n bietjie laat dink aan die soort vrae wat De Klerk Oelofse soms vir die kinders vra in die kykNET-program Kyk wie praat. (Soos: Wil jy liewers jou tande met tamatiesous of met karamel borsel?) Maar jou vrae is almal besonders en anders. Waar het jy aan al die vrae gekom?
Ek weet nie of ek trots daarop moet wees nie, maar hierdie klomp belaglike vrae kom almal by my kop uit – seker soms tot afgryse van my familie en vriende! En jy’s reg, hierdie boek is nie nét vir kinders nie. Tieners, volwassenes én ja, selfs Oupa en Ouma, sal almal hierdie boek tot groot vermaak van hulself en hulle vriende kan gebruik.
...........
En jy’s reg, hierdie boek is nie nét vir kinders nie. Tieners, volwassenes én ja, selfs Oupa en Ouma, sal almal hierdie boek tot groot vermaak van hulself en hulle vriende kan gebruik.
..............
Die lekkerlag-pretboek is nie ’n storieboek nie, maar dis beslis ’n besighou-boek. Hoekom het jy die boek geskryf, en het jy self ook lekker gelag en pret daarmee gehad?
Die meeste kinderboekskrywers droom waarskynlik daarvan om ’n verskeidenheid van boeke en genres te kan skryf, dus het ek altyd geweet ek gaan nog een of ander tyd ’n niefiksieboek probeer aanpak. Natuurlik wou ek iets prettig probeer en nie iets verveligs nie. Toe ek die afdelings van “Sal jy eerder?” en “Dit of dat?” én die 45 limerieke klaar geskryf het, het my uitgewer voorgestel dat ons alles sommer in een lekker boek saamgooi. So dis hoe hierdie pret ontstaan het. Ja, ek het absoluut met tye self lekker gelag vir die klomp lawwighede op die bladsye.
Ek dink ek kan hierdie boek beskryf as ideaal vir die langpad, of vir ’n seevakansie waar daar niggies en neefs saam is. Dit voel soos ’n boek waar die enigste gestry sal plaasvind as mense besluit wie stel die vrae. Wie is jou teikenmark? Wat dink jy is die regte of ideale plek om die boek te gebruik?
Ek glo die boek sal beslis die meeste deur laerskoolkinders geniet word, maar dit kan vir seker ook groot pret vir die hele familie verskaf. Dis 100% geskik vir ’n lang rit in ’n motor of ’n vakansie waartydens niggies en neefs mekaar uiteindelik weer na ’n lang tyd sien. En dit kan selfs aan die begin van die skooljaar in die klaskamer gebruik word as ysbreker op die eerste dag. Dink net hoe lekker die kinders én die onderwysers sal lag terwyl hulle saam deur hierdie boek blaai.
..........
Dis 100% geskik vir ’n lang rit in ’n motor of ’n vakansie waartydens niggies en neefs mekaar uiteindelik weer na ’n lang tyd sien. En dit kan selfs aan die begin van die skooljaar in die klaskamer gebruik word as ysbreker op die eerste dag.
.............
Dis meer ’n dink-en-praat-boek as ’n leesboek. En dan is daar nog raaisels en kopkrappers ook. Hoe het jy besluit watter onderafdelings daar in die boek moet wees? Dalk kan jy uitbrei op die verskillende afdelings, sodat ons lesers kan weet wat om te verwag?
Soos ek in die boek verduidelik, is baie van die grappe en raaisels oorspronklik, wat natuurlik beteken dat ek dit self uitgedink het, maar daar is ook ’n klomp goue oues in. Daardie grappe en raaisels waarmee die meeste van ons grootgeword het en almal behoort te ken! Die speletjiesafdelings, soos “Sal jy eerder?” en “Dit of dat?”, is perfek om saam met nuwe maats te speel. ’n Mens kan nogal baie van iemand leer wanneer jy uitvind of hulle eerder in ’n swembad vol spoeg of ’n swembad vol sweet sal swem! Die limerieke is alles oorspronklik en ek deel limeriekskryfraad (wat ek weer by die wonderlike Philip de Vos geleer het) met die lesers. Daar is ook interessante feite in die boek en dít het ek natuurlik alles deur navorsing uitgevind. So, met hierdie pretboek sal jy nie net lekker lag nie, maar ook sommer heelwat slimmer raak!
Lees ook:
Katastrofe en Die holderstebolder hondepartytjie: ’n onderhoud met De Wet Hugo
Onderhoud met De Wet Hugo oor die Grilgrypers-reeks en oor Die groen watergraf