Magdel Vorster het met De Wet Hugo oor die Grilgryper-reeks gesels.
Baie dankie dat jy oor jou Grilgrypers-reeks, en in die besonder die nuutste titel, Die groen watergraf, met my gesels. Ek wil jou gelukwens met hierdie reeks; ek is een van jou grootste aanhangers. As jy jong lesers wil laat gril, slaag jy met vlieënde vaandels, of dan vlieënde vrot visse. Dis baie duidelik dat jy jou teikenmark ken. Jou taalgebruik is aktueel en kreatief en jou storielyne is oorspronklik en boeiend en nooit voorspelbaar nie.
’n Algemene vraag: Waar kry jy jou idees? Zombies is een ding, maar hoe op aarde dink ’n mens aan ’n reusespinnekop wat uit bobotie klim (Die web van die mummie) of mense wat troetelkrokodille met ’n aptyt vir weeskinders aanhou (Die groen watergraf)?
Ek het as die jongste van vier kinders in die 1980’s grootgeword en kleintyd, toe my tienersusters en hulle maats die tipiese 1980’s slasher films van daardie tyd gekyk het, kon ek saamkyk, maar ek moes my oë tydens die grusaamste tonele toemaak. Natuurlik het ek deur my vingers geloer! Ek dink dit is waar my voorkeur vir stories vol spanning en skokelemente ontstaan het. Vandag is ek self eintlik glad nie lief vir gruwelfilms vol bloed en geweld nie, maar vreemd genoeg gee ek glad nie om om sulke boeke te lees nie. Mense lag altyd wanneer ek hulle vertel hoe ek na doodnormale goed kyk en dan idees vir my rillers kry. Maar dis juis dit wat goeie rillers maak – wanneer mens doodnormale omstandighede neem en iets wat nie daar hoort nie, daarin plaas. Wie sal byvoorbeeld nie skrik as jy die enigste kind is, onder jou bed kyk en ’n vreemde tweejarige daar sien uitloer nie? Peuters mag miskien skadeloos wees, maar nie as jy hulle in grilboeke op plekke raaklees waar hulle nie hoort nie! Gelukkig sien ek my ooraktiewe verbeelding as ’n seëning en nie ’n hindernis nie.
Wat is op jou boekrak? Jy sê jy lees self grilverhale – van watter skrywers? Wie se werk inspireer jou?
Ek koop boeke asof my lewe daarvan afhang, maar as voltydse onderwyser en skrywer kry ek ongelukkig heeltemal te min tyd vir lees! Wanneer ek wel iets optel en begin lees, is dit gewoonlik iets spanningsvol of ’n outobiografie. Die laaste een wat ek gelees het, was RL Stine, die skrywer van die Goosebumps-reeks, s’n. In Afrikaans geniet ek François Bloemhof en Fanie Viljoen se boeke, en wanneer ek Engels lees, bly Stephen King maar my gunsteling. So, ja, ek lees self graag grilboeke en as kinderboekskrywer kan ek nie anders as om deur RL Stine geïnspireer te word nie.
Die lesing op my grilmeter het met elke titel in die Grilgrypersreeks ’n paar grade gestyg. Met gruwelverhale moet lesers juis nie in ’n gemaksone beland nie, maar veral met Die groen watergraf het ek oor my eie, en jong lesers, se grilgrense begin wonder. Hoe bepaal jy hoe ver jy kan gaan? Is daar enige taboes vir jou?
Vir my as leser is daar bitter min taboes, maar vir my as skrywer is daar wel een of twee. Ek sal byvoorbeeld nie gemaklik daarmee wees om oor demone, satanisme of die duiwel te skryf nie. Dis ’n onderwerp wat my self werklik bang maak. Op amper 37 het ek nog nooit eers genoeg moed gehad om The Exorcist te kyk nie. Die monsters in my stories is onrealistiese karakters wat vandag se kinders almal weet nie bestaan nie, en met elke skoolbesoek maak ek dit baie duidelik dat die Grilgrypers uitgedinkte, opgemaakte stories is en dat daar geen rede is om later bang te wees nie. Maar tog verstaan ek dat ’n spook of ’n mummie nog steeds vir baie elfjariges erg is en beslis nie in elke kind of ouer se smaak val nie, so juis daarom het ek besluit om party van die stories in die reeks sonder bonatuurlike elemente te maak. Wanneer ek wel soms te ver gaan en die grilmeter breek, is my uitgewer gelukkig daar om my wakker te skud en weer in te katrol.
Jy het al gesê jy skryf eerstens om kinders te vermaak en aan die lees te kry. Daar word wel algemeen aanvaar dat grilverhale vir tweens ook ’n bemagtigende funksie het omdat dit hulle toerus om alledaagse vrese en ongemaklike situasies te hanteer. Ondanks al die gegril en gegil weet die kinders dat dit ’n storie is en nie die werklikheid nie. As dinge te erg raak, kan hulle die boek bloot toemaak. Is dit iets wat jy in jou agterkop hou wanneer jy skryf?
Beslis, ja. Ek skryf om te vermaak en om kinders aan die lees te kry, nie om hulle te verskrik en te traumatiseer nie. Ek het nou al, met die leiding van my bekwame uitgewer, geleer waar die bangmaakgrense lê en hoe ver ons die grilfaktor kan neem. Ek dink vandag se kind is ook al wêreldwys genoeg om te weet wat werklik is en wat nie, so daar is nie regtig ’n gevaar dat hierdie genre kinders sal afskrik en vervreem van boeke en lees nie. Inteendeel, ons kry gereeld boodskappe van ouers en onderwysers wat sê dat kinders (meer spesifiek seuns) wat nooit wou lees nie, nou verslaaf is aan hierdie reeks. Daarom is hierdie laerskoolonderwyser baie trots op en tevrede met die Grilgrypersreeks!
Die hoofkarakter in Die groen watergraf, Wian, is ’n kinderhuiskind sonder familie. In grilverhale is daar gewoonlik newekarakters wat die hoofkarakter ondersteun en dus ’n vangnet – waarvan die leser bewus is – bied. ’n Jong leser het genoem dat dié storie hom hartseer laat voel het. ’n Graad 6-resensent skryf dat “’n mens wens dat daar iets goeds met Wian gebeur” en ook dat lesers moontlik ná die lees van dié boek regte trane, en nie krokodiltrane nie, gaan huil. Al die Grilgrypersboeke eindig in naelbyters. Nie een van die ander hoof- of newekarakters is egter in slottonele so alleen en hopeloos soos Wian nie. Is daar enige hoop vir Wian? Is dit vir jou belangrik dat daar hoop is vir jou karakters? Met watter gevoel wil jy jou lesers laat wanneer hulle ‘n boek klaar gelees het?
Met elke Grilgryper probeer ek die einde so skryf dat die leser se verbeelding self sal bepaal of die protagonis gaan oorleef of nie. Natuurlik moet die leser vir die hoofkarakter omgee en hoop dat hy/sy oorleef, maar dit is nie ’n werklike riller as die storie nie met ’n laaste skrik eindig nie. Dit was nie beplan dat die arme Wian so alleen deur die nagmerrie moes gaan nie. Dit was maar bloot die isolasie van die plek waar die storie afspeel wat dit so laat uitwerk het. Daarom het ek Yeti, die hond, later ingeskryf – sodat Wian darem een vriend en vertroueling het. Ek dink die tingerige Wian het wel deur die loop van die storie bewys dat hy sterker en dapperder is as wat mense dink wanneer hulle hom volgens sy grootte takseer. So ek het hoop vir hom ...
Het jy doelbewus op ’n kinderhuisagtergrond besluit om simpatie vir die hoofkarakter te ontlok toe jy die verhaal geskryf het? En indien wel, dink jy jong lesers snap die feit dat die Groenewalds ook “produkte” van ’n kinderhuis is? Sou almal die verwysing na hoe meneer Groenewald se ouers aan hulle einde gekom het, raaklees?
In grilstories wil jy jou protagonis altyd in onbekende omstandighede plaas. In die eerste vier Grilgrypers trek die hoofkarakter na ’n nuwe dorp toe, een gaan koshuis toe, een gaan op ’n kamp en een gaan kuier op ’n vreemde dorp. Ek moes dus kreatief dink hoe ek ’n kind op ’n nuwe plek gaan kry, en ’n kinderhuiskind in pleegsorg was die antwoord. Dit het ook gehelp dat hy nie ouers het wat vir hom omgee nie. Ek vra gereeld in grilflieks: “Waar is hierdie tieners se ouers?” So dis altyd belangrik vir my om dit realisties te hou, en as daar ouers betrokke is, moet hulle ook deel van die storie wees. Die feit dat die Groenewalds die produk van kinderhuise is, was wel beplan, want ek moes vir hulle ’n motief skep. Anders sou lesers wonder waarom hulle wraak neem op onskuldige kinderhuiskinders. En die gedeelte waar ons lees hoe meneer Groenewald se ouers aan hulle einde gekom het, gee ons ook die leidraad dat hy selfs as kind reeds onstabiel was.
Daar word ’n onderskeid getref tussen rillers (thrillers) en gruwelverhale (horror). In eersgenoemde is die hoofkarakter meestal vasgevang in ’n toenemend spannende situasie wat oorlewing bedreig. Daar is baie konflik, opwinding en spanning, maar alles is nie noodwendig vreesaanjaend nie, en die einde is gewoonlik positief. In laasgenoemde speel die bonatuurlike en grusame ’n groter rol en word daar meer op bloeddorstige en afgryslike besonderhede as probleemoplossing gefokus. Dit voel vir my asof jy die grens wil-wil oorsteek na horror met Die groen watergraf. Was dit doelbewus? En dink jy dit werk vir die ouderdomsgroep?
Ek dink weer juis dat Die groen watergraf meer riller as gruwel is. Die vloek van Vreesbaai se mengelmoes van monsters, Web van die mummie se biltongmens en Die meisie in die maanlig se zombies maak daardie drie titels eerder gruwels vir my. En dan dink ek aan Kamp vir monsters as ’n wetenskapriller. Die Grilgrypersreeks word nêrens spesifiek as rillers of gruwels bemark nie, so dit maak dit lekker gemaklik om oor die lyn tussen die twee genres te kan beweeg.
Om op bogenoemde vraag uit te brei: Hier is meneer Groenewald se uitbarsting op bladsy 108 van Die groen watergraf teenoor James, wat saam met Wian aangeneem is:
“James, jou breindood moroon! Het ek nie gepraat nie? Beweeg of ek maak jou ook vandag vrek!” skree die oom dat die spoeg by sy mond uitspat. Hy draai na die tannie. “Ek sê vandag vir jou vir die laaste keer, vroumens. Hierdie onnosele blerrie bobbejaankop kán nie my kind wees nie!” Hy word pers in sy sproetgesig. “Vandag is dit julle twee se einde ook! Cornelia is my énigste liefde!”
Dis veral hier waar ek ongemaklik gevoel het oor jong lesers se moontlike werklikheid – kinders wie se ouers so met hulle praat. Dit is ongelukkig sommige kinders se realiteit. As een van jou grootste volgelinge, wonder ek of dialoog soos dié nie te ver gaan nie? Dit is vir my aanvaarbaar in ’n grootwordverhaal, omdat die teikengroep ouer is en dié subgenre dikwels sosiale kwessies en situasies aanspreek met die doel om morele ondersteuning te bied. Hier slaan dit egter vir my net die laaste spyker in Wian se hopelose kis. Of miskien lees ek as volwassene dié soort dialoog anders as ’n kind?
Alhoewel Cornelia, die krokodil, Wian se grootste vrees is en die pleeggesin haar gebruik om Wian te terroriseer, is húlle – die Groenewalds – die werklike antagonis in die storie. Ek moes hulle dus as uiters koud, gevoelloos en gevaarlik uitbeeld. Daarom was dit vir my aanvaarbaar om daardie woorde, veral uit meneer Groenwald se mond, te skryf. Ek verstaan egter jou vraag en as iemand wat baie lief is vir kinders en hulle belange altyd op die hart dra, dink ek gewoonlik twee maal voordat ek iets skryf wat hulle moontlik kan traumatiseer. Die aangehaalde woorde was ook teenoor James, ’n karakter wat die leser op daardie stadium al lank reeds in die storie nie vertrou nie en waarskynlik haat, so dit behoort kinders nie te veel te ontstel nie. Ek is natuurlik ook in die baie bevoorregte posisie om met ’n uitstekende uitgewer te werk en ek vertrou haar oordeel een honderd persent, so as sy tevrede met ’n woordkeuse of toneel is, is ek ook.
Dink jy ook Die groen watergraf is jou grillerigste boek? Indien nie, watter een? En wat kan ons volgende verwag?
Ek dink wel Die groen watergraf is my grillerigste boek, maar slegs omdat dit die mees realistiese storie in die reeks is. Ons almal, kinders ingesluit, weet zombies, mummies, vampiere en weerwolwe bestaan nie, maar na een minuut op die internet kan ons sien hoe mense saam met hulle mak troetelkrokodille swem. En dit gee my herhalende koue rillings! Daar verskyn wel nog Grilgrypers in die toekoms en alhoewel ek niks nou mag verklap nie, belowe ek dat hulle nie sal teleurstel nie.
Kinder- en jeuglektuur word dikwels afgeskeep en ek voel baie sterk daaroor dat dié genre ernstiger opgeneem moet word. ’n Mens hoor so dikwels dat iemand sê dat hulle ’n boek wil skryf en dan noem dat hulle maar met ’n kinderboekie sal begin. Wat is jou reaksie op sulke uitsprake?
Ek glimlag maar net vriendelik en daag hulle uit om ’n kinderboek te skryf. Ek respekteer en bewonder skrywers van alle genres, maar ek weet dis ’n feit dat die skryf van kinderboeke nie makliker is nie en dat die mark baie kompeterend is.
Ten slotte kan ek maar net saam met duisende Afrikaanse kinders sê: Hou asseblief aan skryf!
Baie dankie! Ek waardeer jou ondersteuning meer as wat jy weet.