Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n onderhoud

  • 0

Titel: Ek sal vir jou veg
Skrywer: Cliffordene Norton
ISBN: 9781779990433
Uitgewer: Pan Macmillan

Naomi Meyer gesels met Cliffordene Norton oor haar nuwe roman Ek sal vir jou veg.

Cliffordene, baie geluk met jou volgende jeugroman, Ek sal vir jou veg. Jou hoofkarakter is ’n katjie wat mens nie sonder handskoene kan aanpak nie. Cazlee is ’n vegkampioen. Praat net gou eers met my oor haar. Waar is sy gebore? Waar kom jou kennis van vegklubs vandaan? Ken jy ’n Cazlee – of is JY ’n Cazlee?

Ek ken ’n Cazlee. In Ek sal vir jou veg is die hoofkarakters na my kleinniggie vernoem: Cazlee en Ellamay. Ek wens Caz, my niggie, het die uithouvermoë en gees wat hierdie karakters het. Ek hoop sy moet nooit haar kneukels – letterlik of figuurlik – stukkend veg nie, maar indien sy moet: Mag sy veg vir dit wat reg is.

Die vegter in Cazlee het gekom omdat ek kwaad was vir my twee huismaats en familielede. Woede kan ’n goeie bron van inspirasie wees!

Nou: jou storie. Dit klink soos ’n ideale ding wat met Cazlee gebeur. Sommer in die eerste hoofstuk. Daar word ’n beurs vir Cazlee aangebied by ’n skool waar haar held taekwondo afrig. Maar ons, en jou jeugdige lesers, sal weet: Daar bestaan nie iets wat sommer net so gratis uit die lug in mens se skoot val sonder dat dit teen ’n prys kom nie. Hoe het jy aan hierdie probleem gedink? (Jou vorige boek, Om jou te ken, het ook ’n ingewikkelde raaiseldilemma bevat: Twee niggies wat per ongeluk mekaar se dagboeke te lese kry.) Ek vra jou twee dinge: Waar kom jou idees vandaan, die raaisel wat in die boek opgelos moet word en die keuses wat jou hoofkarakters moet maak – en waar kom HIERDIE idee vandaan, die manier hoe Ek sal vir jou veg afskop? (Ek wil glad nie jou boek soos ’n kies jou eie avontuur-boek laat klink nie, want dit is nie wat dit is nie. Maar ek voel met hierdie boek, soos met die vorige een, of mens saam met die hoofkarakter een van meer as een uitkomste wil ondersoek en nie weet WAT sy gaan doen om dinge te laat uitwerk nie. As dit ooit uitwerk!)

Een week in Mei 2022 het ek met my niggie en suster gestry. “Ongemaklik” is sagkens gestel om die atmosfeer in ons huis te beskryf. My suster het onlangs by my ingetrek en sy vra vroeg die oggend of ons haar laaste goed kan gaan haal in Pretoria.

Een koffie agter die blad en ons val in die pad. Dis ’n twee uur rit met twee mense wat nie met mekaar wil praat nie. Toe ons verby daardie groot digital billboard-skerms ry, sien ek hoe ’n tienermeisie ’n vuis ontwyk en die bloed uit die hoek van haar mond lek – en dis hoe Ek sal vir jou veg ontstaan het. Die hele boek het hoofstuk vir hoofstuk in my kop afgespeel.

Ek is ’n pantser, ontdekkings- of binge-skrywer soos deur Brandon Sanderson beskryf. Ek loop vir maande met ’n idee in my kop rond voor ek dit in drie tot vyf weke neerskryf. Daarna begin die lang redigerings- en navorsingsproses. My skryf- en ideeproses verander van boek tot boek, want my stories moet organies vloei. Ek het al probeer om ’n plotter te wees, maar dan maak ek nooit die boek klaar nie. Dis asof die storie se magic vir my weg is.

Jy skryf vir tieners asof jy self nog in ’n tiener se skoene rondloop. Jou karakters is outentiek en hulle lewenservarings ook. Hoe ken jy hulle so goed? Wat is eerste: die karakters en die storie-omgewing wat jy ken, of jou idee en dan moet jy gaan navorsing doen oor die res?

Ek voel asof die mensdom nooit regtig uit hul tienerfase groei nie. Die lewe verander so deurlopend, en daarmee saam verander jy as mens en hoe jy die wêreld sien.

In my skryfpassie voel dit asof ek deur die storie gekies word. My karakters daag op, sit my neer en maak dat ek hul stories vertel. Dit klink dalk passief, maar ek sien elke idee: dié wat gepubliseer word en dié wat ek nooit vir ander wys nie, wat my gekies het om dit te vertel. Ek leer so baie uit die skryfproses en waardeer die magic daarin. My rol as skrywer (met my uitgewer Miemie du Plessis se kennis en hulp) is om die storie op die lekkerste wyse en tot die beste van my vermoë te skryf.

Hier’s twee soorte gevegte in jou storie aan die gang. Die een is die geveg met die reëls. Die taekwondo. Cazlee is ’n kampioen. Sy beskou dit nie eintlik as ’n geveg nie, soos in ’n bakleiery nie. Iemand vra op ’n stadium vir haar hoekom sy baklei en dan sê sy, sy oefen. Maar daar is ook ’n ander geveg. Die huis waaruit Cazlee kom. Hoekom sy MOET geld verdien. Haar pa ... Hy is die een teen wie sy nie verweer het nie. Hier is ’n onderwerp waarmee tieners kan identifiseer, dink ek. Die vasgevang wees in die huisgesin wat hulle nie gekies het nie. Wat is jou gedagtes oor hierdie moeilike karakter, Cazlee se pa? Want al wil sy eintlik met hom veg (’n ander soort veg, sonder reëls), is sy ook lief vir hom en wil sy hom tevrede stel. Wat is jou gedagtes oor hom?

In my eerste draft was Cazlee se pa die villain in die verhaal. Ek wou hom baie graag haat, maar dis moeilik en kan maklik gewees het om dit weg te skryf, want daar is soms die siening dat tieners alles swart en wit sien. Dit was nooit my ervaring met tieners nie – hulle is kompleks. In ’n sekere mate is tieners die mees komplekse mense en karakters met wie ek ooit omgegaan het.

Hulle weet of weet nie wie hulle wil wees nie, maar hulle is baie bewus van ander (ouers, familie, die samelewing) se verwagtinge van hulle, en dan wat realisties vir hulle beskikbaar is.

Dis goed waaraan ek konstant dink en met Ek sal vir jou veg het ek geweet Cazlee soek haar pa se goedkeuring soos gesien op bladsy 21:

“Hoeveel gevegte het jy gewen?” vra hy.

“Vyf.”

“Dis my meisiekind,” sê hy trots.

Cazlee is vir my ’n karakter wat nie hard is nie. Sy het nooit die kans gekry om sag en veilig te wees nie. Sy haat nie en wanneer sy woede wys, is dit geregverdig – sy baklei nie omdat sy wil nie, maar omdat sy moet. Dus sou sy kies om haar ouers te aanbid as dit ’n keuse was, maar daardie keuse gaan teen wie sy wil wees en wat sy wil hê.

Ek het ’n aanhaling van Franz Kafka op Pinterest gesien wat ek voel vang Cazlee se gevoelens vir albei haar ouers mooi vas: “I know it is my father’s first time on this earth, too. I know he had it worse when he was little, but I was little too.”

Natuurlik, soos dit enige jeugverhaal (enige storie!) betaam, is daar ook die liefde en die hartsake wat nou weer ’n ander soort geveg veroorsaak. Al baklei Cazlee soms teen haarself! Maar die belangrikste verhouding is die verhouding tussen Cazlee en Ellamay. Vertel my van hulle twee – dis twee vriendinne wat vir mekaar sal veg, of wat praat ek alles?

Ja, ek dink aan hulle verhouding as ’n liefdesbrief aan vriendskap. Hulle verstaan mekaar, is lief vir mekaar en sal letterlik vir mekaar veg. Cazlee vind vir haar ’n familie tydens die storie, want sy leer ook om ’n kans te waag met meer as net haar vuiste.

Ek moet sê: Vir my was ’n baie ander belangrike geveg die geveg wat Cazlee veg vir haar eie drome. Waar kom Cazlee vandaan en waarheen is sy op pad? Moet Cazlee in hierdie land nog steeds veg om raakgesien te word? Moet sy van ’n ander plek af wegspring as ’n bevoorregte en dalk ’n wit vegter? 

Almal vra of Cazlee ’n opvolg gaan kry, en die antwoord is: Ek weet nie. Ek is baie trots op Ek sal vir jou veg. Ek was mal oor Om jou te ken, maar ek wou ook baie graag hê lesers, skrywers en resensente moet mal wees daaroor. Ek was so bang dit sou nie aanklank vind by ander nie.

Ek is baie tevrede en trots op hierdie boek. Ek was nie bekommerd soos met Om jou te ken nie en daarom is dit vir my baie verrassend dat ek sedert Ek sal vir jou veg gepubliseer is, steeds daaroor leer. Elke interaksie leer my iets en ek sien iets nuuts.

Oor die tweede deel van jou vraag, ek wens regtig ek kon opt-out of die politieke aspek van enigiets in ons land. Dit is uitputtend en dit lyk asof haat ’n nuwe stokperdjie geword het. Is dit moeiliker? Ja, maar ons kap aan. Wat is die alternatief?

Die ding is dat die boek nog steeds ’n lekkerleesstorie is waar mens kan sien jy kan dalk nie jou familie kies nie, maar jou vriende ... Hulle kan mos jou familie wees. Sentraal in die storie is dus vir my die vriendegroep, veral Cazlee en Ellamay. Hulle kompeteer EN hulle is mekaar se familie, al is hulle nie bloedfamilie nie. Dink jy elke tiener wat hierdie boek lees, sal kan identifiseer hiermee – en het jy ook doelbewus besluit jy gaan nie noodwendig hierso ’n verhaal skryf waar die vroulike hoofkarakter deur ’n jong man gered hoef te word nie?

Cazlee is haar eie ridder. Dit was nie ’n skryfbesluit wat ek moes neem nie, want dit het so by my opgedaag. Sy is nie die tipe wat gered moet word nie, maar in Ellamay vind sy iemand wat bereid is om te vertrou.

Cliffordene, jy skryf in ’n toeganklike en Lekkerleesafrikaans en alle Afrikaanssprekendes sal jou boek kan lees en volg. Vertel my bietjie van ’n paar van jou Noord-Kaapse Afrikaanse woorde, as ek dit so kan noem. Of hoe beskryf jy die Afrikaans waarin jy skryf?

’n Vriend en akademikus het my onlangs dieselfde vraag gevra. Hoe vind sosio-linguistiek neerslag in my verhale. Die kort antwoord is my boeke reflekteer my leefwêreld. Ek kom van Barkly-Wes in die Noord-Kaap, ons het nie so ’n spesifieke dialek soos Afrikaaps of Namakwalandse Afrikaans nie.

Woorde wat eg in my dorp voorkom, is iets soos skrop (“werk”), maar met elke boek probeer ek die taalgebruik by die karakters se belangstellings pas.

Wat is jou gunstelinggenre om in te skryf? Jy is ook baie bekend vir kortverhale en vir liefdesverhale. En ek kan hoor hoe jy ’n oortuigende en sterk stem in jeugverhale het. Jou karakters in albei jou jeugboeke is so 16 of 17 jaar oud. En jy is binne-in hulle velle.

Jeugverhale en kortverhale voel natuurlik. Ek voel tuis as ek jeugverhale skryf en kortverhale was en bly ’n onverwagse liefde. Beide leer my so baie van skryf en ek is dikwels verras hoe baie ek het om te leer.

Waarmee is jy op die oomblik besig? Jy hoef nie oor jou volgende skryfprojek te praat as jy nie wil nie, maar jy is baie welkom! Jy kan ook vertel van jou daaglikse werk, of jou honde!

Ek is tans besig om ’n boek te redigeer voor ek dit voorlê en ek wag vir terugvoer van my uitgewer. Ek het ook ’n paar kortverhale wat wag vir ’n goeie slot. As hondema en -assistent wag ek vir ’n prestasie-oorsig vir die eerste ses maande. Ek dink my klein hond, Ramsey, gaan my ’n swak punt gee, want ek het te min met hom gaan stap hierdie week.

Dankie, Cliffordene. Ek het lekker gelees aan jou boek! Bittersoet.

 Lees ook:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top