Toe als groen was deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud

  • 2

Titel: Toe als groen was
Skrywer: An-Mari do Carmo
Uitgewer:
LUCA | LAPA Uitgewers
ISBN: 9781776357574

Ek het onlangs ’n meem gesien met ’n sentiment waarmee ek dink die meeste lesers kan identifiseer. Dit het gelees: Wanneer jy iets in ’n boek raaklees en so tien minute moet neem om asem te haal.

Ek moes ’n hele paar keer diep asemhaal terwyl ek An-Mari do Carmo se debuutroman, Toe als groen was, gelees het. Toe als groen was is deur LAPA Uitgewers onder hul nuwe Christelike druknaam, LUCA, gepubliseer.

Dit is ’n ongelooflike boek wat my binne die eerste vier bladsye met tranerige oë verder laat lees het. Dit het my ook moordgedagtes laat koester en dankbaar gemaak vir my grootwordjare.

Marné se lewe by Sederboom Sending, ’n godsdienstige kultus, het meestal bestaan uit “jy moet” en “jy mag nie”. Sy ontsnap die oomblik wat sy agtien word uit die Sending se mag na haar antie Minette in Klerksdorp.

Sy ontsnap egter nie uit alles wat vir agtien jaar in haar ingepreek is nie. ’n Nuwe begin, ’n nuwe lewe weg van die Sending en nuwe vriende, maar die ou probleme trek saam.

Toe als groen was is gebaseer op ware gebeure, die skrywer en ander s’n. Dit speel ook in die hede en verlede af. Die twee tydlyne bou op tot ’n onthulling wat die leser verwag, en tog is die impak daarvan nie minder treffend nie.

.....

“Soek die waarheid en staan daarby.”

.....

En dis die mag van hierdie storie: Die klein gebeure tref die hart net so hard soos onmenslikheid. Dit het soveel impak dat jy ’n oomblik moet neem om asem te haal. Een toneel waarna ek keer op keer terugkom, is die een waar die sesjarige Marné bid vir ’n sustertjie in plaas van ’n boetie. Jonk besef sy sy sal nie weet wat om met ’n boetie te doen nie, want basiese menslike kontak word nie deur die kultusreëls toegelaat nie.

Die skrywer hanteer ook swaar temas soos slut en body shaming, dwelmmisbruik en molestering met geweldige empatie.

Daar is twee dinge in die verhaal waarvan ek nie gehou het nie. Die eerste een is Marné en haar vriendskap met Megan, wat baie gerieflik haar geldprobleme oplos. Dit was effens té maklik vir my.

Dit voel ook vir my asof daar ’n “plothole” is oor hoe Marné se ouers by die kultus beland het. Volgens Minette se vertelling het sy en haar broer, Marné se pa, daar grootgeword. Sy praat van hoe sy ontsnap het en hoe hul ma verstaan het waarom sy dit moet doen.

Later in die boek vertel Marné se pa oor hoe hulle as jong paartjie besluit het om by die Sending te gaan woon. Dis al wat gepla het, maar andersins is die boek uitstekend.

Ek het dit opreg geniet. Die skrywer spreek moeilike kwessie met empatie en humor aan. Daar is paar aanhalings wat ek graag op ’n bumper sticker sou wou sit, soos:

  • Carbs maak alles beter.
  • Soek die waarheid en staan daarby.

Toe als groen was kon maklik in ʼn preek verander het, maar dit het nie. Dit is eerder ʼn emosionele belewing en herbelewing van Marné se grootwordjare. Die jare wat van haar die mens gemaak het wat sy nou is.

Die verhaal is gemik op die ouer tiener, maar ek dink baie lesers, ongeag ouderdom, sal die boek geniet. Toe als groen was kry tien ekstra punte omdat my reunhondjie mal is oor die voorblad.

Noudat julle weet wat my mening is, kom ons hoor wat sê die skrywer. Ek het met An-Mari do Carmo oor haar awesome boek gesels.

An-Mari, baie geluk met Toe als groen was. Dit is ’n wonderlike boek. Ek het so baie vrae en terselfdertyd wil ek ook niks verklap nie.

Jy het onlangs jou eerste boekbekendstelling van Toe als groen was by Shack to Sanctuary in Klerksdorp gehou. Hoe het dit gevoel?

Dit was ongelooflik en oorweldigend. Ek kon nie glo dat so baie mense daar was om my en my boek te ondersteun nie, en die terugvoering wat ek na die tyd ontvang het, was so positief en bemoedigend. Dit voel nie of ek dit verdien nie! Gewoonlik is ek glad nie iemand wat daarvan hou om in die kollig te wees nie, maar hierdie boek is een waarin ek so sterk glo dat ek baie maklik daaroor kan praat – en ek het baie te sê oor KwaSizabantu, kultusse en mense wat die Here se Woord verdraai vir hulle eie doelwitte!

An-Mari gesels met Salomé Kotzé tydens haar boekbekendstelling. (Foto: Mejandra Pretorius)

Die openingstonele wat Marné se verhaal afskop is so treffend. Het jy altyd geweet dat die manuskrip daar sal begin of het jy dit later herskryf?

Ek het van die begin af geweet dis waar die storie moet begin. Ek wou begin met waar sy wegloop en probeer oor begin. Dit was gedeeltelik ’n persoonlike keuse, want ek het geweet dit sou vir my net te moeilik wees om te begin skryf waar sy nog op die Sending is. Uit ’n skrywersoogpunt het ek ook geweet ’n openingstoneel van ’n meisie wat vlug – wat so desperaat is om van daardie plek weg te kom dat sy alleen in die middel van die nag Suid-Afrikaanse strate en agterpaaie sal trotseer – gaan daardie impak en hoek hê wat ’n leser dadelik sal intrek. En – as ek nou ’n klein bietjie mag spog – die meeste mense wat sover die boek gelees het sê hulle kon dit van die eerste bladsy nie neersit nie.

.....

“Ek dink die meeste tieners sal met Marné kan identifiseer, veral die soektog na jou eie identiteit en geloofsoortuigings, sowel as die begeerte om iewers te behoort. Dis goed waarmee die meeste mense en tieners kan identifiseer, ongeag jou omstandighede.”

.....

Marné het ’n ongewone gelewe gehad en dit kan die leser duidelik ervaar, maar sy is ook soms net ’n gewone tiener. Hoe maklik of moeilik was dit om hierdie balans te handhaaf?

Ek kon baie op my eie ervarings leun om hierdie balans te handhaaf. Ek was darem nie só lank terug ’n tiener nie! Alle kinders en tieners gaan deur dieselfde ontwikkelingsfases en ek is ook daardeur – dit word net beïnvloed deur jou omstandighede. Ek dink die meeste tieners sal met Marné kan identifiseer, veral die soektog na jou eie identiteit en geloofsoortuigings, sowel as die begeerte om iewers te behoort. Dis goed waarmee die meeste mense en tieners kan identifiseer, ongeag jou omstandighede.

Kleur speel ’n groot rol in die boek, veral groen, rooi en blou. Weer sukkel ek om niks te verklap nie. Waarom het jy hierdie kleure en hul betekenis gekies?

Kleur het vir my baie betekenis. Ek hou daarvan om goed te “colour code” en spandeer partykeer ure om presies die regte kleur vir die regte ding te kies. Groen was dus ’n doelbewuste keuse as gevolg van die simboliek daaraan gekoppel – nuwe lewe, groei – maar ook die letterlike beeld van die Sending in die groen Vallei van ’n Duisend Heuwels. Ek dink die ander kleure was meer ’n onbewuste keuse, of is geïnspireer deur iets in die regte lewe. Tiaan se blou skedonk is byvoorbeeld op my man se ou blou Fiat Palio gebaseer.

Drie is ook ’n herhalende tema. Marné se ervaringe kan in drie verdeel word en sy herhaal dikwels belangrike woorde of epifanieë in dries. Waarom het jy drie gekies?

Kyk, ek kan seker nou iets uitdink wat my baie slim en literêr gaan laat klink – maar die heilige waarheid is ek het nie eers agtergekom dat ek “drie” herhaal nie, totdat jy dit nou noem! Dit het maar net gebeur. Dalk is my onderbewussyn slimmer as wat ek is. Of dalk is dit my ma se goeie raad vir huis- of koekversiering – sulke elemente moet altyd in dries, vywe of sewes gedeel wees.

Toe als groen was is grootliks deur jou persoonlike ervaring geïnspireer. Ek neem aan dis moeiliker om dit in die wêreld uit te stuur. Het jy enige voorbehoude gehad om die boek te publiseer?

Om eerlik te wees, ek was banger vir my ma om dit te lees as om dit in die res van die wêreld in te stuur! Haha. (Sy het baie positief gereageer, as jy dalk nuuskierig is.) Maar nee, ek is nogal geneig om te “overshare”, so dit was nie vir my moeilik om dit te publiseer nie. Wat ook help, dink ek, is dat feit en fiksie so vermeng is dat dit my ’n lagie van anonimiteit en beskerming gee.

Die verhaal speel in die hede en verlede af. Hoe het jy die tonele wat in die verlede afgespeel het, gekies?

Ek het tonele geskep waar ’n baie spesifieke eienskap van die Sending uitgebeeld word, sowel as die effek wat dit op ’n jong kind se psige het. Ek wou kort, kragtige flitse skep wat die leser in daardie wêreld in ruk – sterk gekontrasteer met die “gewone” lewe buite die Sending. Baie van daardie tonele is ook gebaseer op my eie ervarings en herinneringe. Die preke byvoorbeeld is als afkomstig van dienste waarin ek self gesit het of wat ek amper verbatim van KSB se webwerf gekry het.

Is die storielyn van Corrie Green gebaseer op ware gebeure of het jy hier kreatiewe vryheid gebruik?

Corrie se storie is gebaseer op ware gebeure. Wat met haar gebeur het, het met soveel ander meisies gebeur – ek het net almal se stories saamgevleg en ’n paar besonderhede verander. Corrie verteenwoordig al die meisies wat nooit ’n stem gehad het nie.

Wat was die inspirasie vir Marné en Minette se verhouding?

Tannie Minette is iemand wat ek wens ek gehad het toe ek in Marné se skoene was. Daardie ouer figuur wat reeds deur dieselfde ervaringe is en jou sonder oordeel toelaat om jou gevoelens te voel en op jou eie tyd deur dinge te werk met net so nou en dan ’n stoot in die regte rigting. En, moet ek bieg, dis ook deels die persoon wat ek nou wens ek vir ander kan wees.

Ek weet jy is reeds besig met jou tweede manuskrip. Is dit ’n opvolgverhaal van Toe als groen was?

Ek werk eintlik nou aan ’n paar manuskripte tegelyk, maar op hierdie stadium skryf ek nie aan ’n opvolg vir Toe als groen was nie. Daar broei wel een in my kop …

Jy is voltyds ’n kinder- en jeugboekuitgewer. Hoeveel sê het jy gehad in die ontwerp van die boek? (Dis ’n pragtige boek!)

Baie dankie! Ek was bevoorreg om baie betrokke te kon wees by die proses. Die beste deel was dat ek kon kies wie my voorbladontwerp moes doen. Linki Brand is ’n ongelooflike kunstenaar wat dit altyd regkry om my verwagtinge te oortref en ’n manuskrip se gevoelswaarde op die voorblad uit te beeld. Ek het vir haar ’n paar idees en voorstelle gestuur, maar het verder vir haar vrye teuels gegee om haar “magic” te doen. Ek kon heeltyd insette lewer, maar ek was eerlikwaar so gelukkig met al Linki se idees dat – as ek reg onthou – ek minimale veranderinge gevra het.

Hoe het jou kennis as uitgewer jou as skrywer beïnvloed?

Manuskripontwikkeling is een van die gunstelingaspekte van my werk, so ek dink ek het al my kennis in my onderbewussyn gehou tydens die skryfproses. Ek dink ook dat, omdat ek die proses so goed ken, dit my beter voorberei het op die terugvoering en herskryfproses. Maar ek wil amper sê my ervaring as skrywer het ’n groter invloed op my werk as uitgewer. Ek kyk nou met ’n baie meer tegniese oog na nuwe manuskripte, en dit het my ook meer empatie gegee met die skrywers saam met wie ek werk!

Die voorbladmeisie is nie van ’n fototeek nie, maar iemand wat jy ken. Sal jy ons vertel oor hierdie proses om die voorblad te skep?

Omdat Marné as ’n sendingdogtertjie so ’n spesifieke voorkoms moet hê (geen juwele of grimering nie, beskeie klere) kon ons nie die regte stock photo kry nie. Ek het toe onthou van die fotograaf wat ek in 2021 by die Sanctuary Boekfees ontmoet het, Mejandra Pretorius, en ek het haar genader. Sy het genoem sy het presies die regte meisie in gedagte en toe ek foto’s van ’n paar meisies kry, het ek geweet Zoë is die een. Ons het saam mall toe gegaan om die regte uitrusting vir haar te kies en toe ’n fotosessie gehad die middag. Dit was groot pret en tussen die fotograaf, model en voorbladontwerper is daar soveel talent en vaardigheid dit kon nie anders as om ’n ongelooflike voorblad op te lewer nie.

Wat is die eerste boek wat jou laat huil het?

Sjoe, dis moeilik. Ek het al so baie boeke gelees, ek kan nie meer mooi onthou nie. Een wat my onlangs laat huil het, was It ends with us deur Colleen Hoover.

Wat is jou skryf-kryptonite?

My selfoon! Die ding kan my aandag lelik aftrek as ek probeer skryf. As ek ’n dag ernstig is oor skryf, gaan gee ek dikwels my selfoon vir my man en sê hy mag dit nie vir my teruggee tot ek ’n sekere aantal woorde geskryf het nie.

Jy noem op jou webtuiste dat jy weekliks ongeveer twaalf boeke gelees het? Wat is ’n vroeë ervaring waar jy geleer het dat taal krag het?

Jong, jy het groter vertroue in my geheue as ek. Een waaraan ek egter kan dink, is ’n kortverhaal wat ek op skool gelees het: “The sniper” deur Liam O’Flaherty. Die verhaal het my diep geraak en die boodskap daarin bly my tot vandag by en het beslis ’n invloed op my lewe en keuses gehad. Die slotreël spook tot vandag by my. Ek wil nie die storie verklap nie, maar gaan lees dit gerus self – dis nie lank nie.

  • Foto’s: Mejandra Pretorius 
  • 2

Kommentaar

  • Greetings, my wife heard an interview with Marné on Radio Pulpit - and she was very impressed with her story and the language of her heart. How do I get this book for her? We did ask CUM if they had the book but they did not.

  • Ellanie Fouche

    You can get it at any good bookstore. I know Cum does not carry it. Loot.co.za have it and their price is very good. You can also order it from Take-a-lot or Lapa. Bargain Books also sell it.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top