Titel: Uit die kroes
Skrywer: Lynthia Julius
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709531
In Lynthia Julius se debuutdigbundel, Uit die kroes, word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende manier inkorporeer.
Die gedigte aan die begin van die versameling verwys na die geskiedenis van Suid-Afrika en belig die sentrale dog geringgeskatte rol van die bruin vrou daarin. Die Kaap se slawegeskiedenis, Distrik Ses en apartheid word opgeroep aan die hand van figure soos Amria van Bengale en Dulcie September.
Die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou in Suid-Afrika word ook bekyk – hoe daar byvoorbeeld steeds van die giftige erflating van apartheid, veral hardnekkige persepsies oor ras en skoonheid, ontsnap probeer word.
Jy ís nie soos jou ma nie;
jy rook Marlboro op die stoep.
Jy glo, maar jy weet nog nie in wat nie.
Jy dra jou kroes hare so laat mense kan sien
glad alleen beteken nie mooi nie.
Cliffordene Norton gesels met Lynthia Julius.
Volgens die bemarkinsgteks spreek Uit die kroes die Noord-Kaapse leefwêreld, die Kaap se slawegeskiedenis, asook die historiese en moderne rol van die bruin vrou aan. Waarom het jy hierdie temas gekies?
Ek het dit eers besef toe my keurder dit noem. Ek het net geskryf oor my leefwêreld, wat om my aangaan, wat ek beleef het, die boeke wat ek gelees het.
Wat was die moeilikste gedig(te) om te skryf?
“Vir Aljarreau” en “Krismisboom”.
Hoeveel beplanning doen jy voordat jy begin skryf?
Almal wat my ken, weet ek is ’n baie ongeorganiseerde mens. Ek beplan niks nie. Ek pen wel elke gedagte of woorde wat kom neer, maar beplanning werk nie vir my nie.
Volgens die bemarkingsteks word “Namawoorde op verrykende manier” in jou gedigte geïnkorporeer. Is daar ’n gedigte wat ten volle in Nama geskryf is?
Dis die hartseer van die saak. Dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie. Ek weet van ’n Khoi-plaaswerker wat eenkeer sy moedertaal op die plaas waar hy werk, gepraat het. Die boer van die plaas het kwaad geword en gesê: “Hotnot, jy praat nie weer daai skindertaal nie, hoor jy?”
My mense moes hulle taal eenkant skuif, koebaai sê, rug op draai, omdat dit gesien was as ’n taal waaroor sy sprekers moet skaam wees. My oumagrootjie kon Nama vlot praat; my ouma, my ma, ek – ons kan nie Nama vlot praat nie. Dis nie aan ons oorgedra nie.

Foto: verskaf
Is daar ’n spesifieke (persoonlike) betekenis aan die gekose Namawoorde?
Die Afrikaans wat ons by die huis in Namakwaland praat, is ’n Afrikaans wat nie kan bestaan sonder Nama-woorde nie. Jy sukkel om sulke Nama-woorde in Afrikaans te bewoord, omdat dit bloot nie sin maak as jy dit in Afrikaans gebruik nie.
Die beminde (van die Vrystaat) was eenkeer saam met my Springbok toe. Ek het die arme ding jammer gekry – hy het nie die gesprekke of woorde verstaan nie. Ek moes kort-kort verduidelik.
Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van die bundel ervaar het?
Om my manier van Afrikaans praat te probeer verduidelik was ’n groot struikelblok. Dis amper soos ’n sekere club waar net die mense wat die taal so praat, kan verstaan wat eintlik bedoel word.
’n Hoogtepunt was toe ’n ander digter wat al die Hertzog gewen het, my gevra het om maar geduldig met ander lesers te wees wat nie die Afrikaans van my wêreld verstaan nie. Ek moet aan hulle verduidelik as ek wil, want hulle ken nie die skatte van die Afrikaans wat ek en my mense praat nie.
Watter gedig(te) is essensieel tot die bundel, en waarom?
Die laaste gedig in die bundel, “Kroeshare”. Dit som als wat in die bundel voorkom, op.
Waaraan werk jy tans?
Ek werk tans aan kreatiewe-skryfkuns-opdragte vir my meestersgraad.
Sal jy asseblief ’n gedig uit jou bundel met ons deel?
Kroeshare
“I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood.” – Zora Howard
Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark & Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdansnet ’n bietjie Babyliss hier
’n bietjie blow dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog om godsnaam net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam niedaar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
ek was te kroes om ’n Kimberleycoloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te weesek het uit die as opgestaan met my kroeshare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:fok gladwees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie.
Kommentaar
Baie dankie, dis baie interessant en goed geskryf, en sterkte met die bundel se verkope en jou toekomsdrome. Hopelik sien Afrikaans nog baie van jou! Ons taal benodig beslis jou letterkundige uitset, en jy kan maar gooi met die namawoorde hoor, ons sal dit vinnig optel 🙂
My voorsate, wens ook ek het meer belanggestel om Nama te leer en verstaan.
Ongelooklik - welgedaan! Hoogtyd dat ons Nama-Afrikaans leer en lees.
My oorlede Pa, 'n polisie-offisier, het homself geleer om Nama te lees. Dit na sy 60ste jaar.
Op my rak is sy Nama Bybel. Ek sukkel met die rekenaarkodes, maar die titelblad is min of meer "ELOBMÎS ... ІІÎS GE ǃANU XOAS HOAS KANONISI ... [ens]." Bybelgenootskap van SA. 1e uitgawe 1966. Sesde druk 1985.
Een van sy notaboeke het hy getitel "NAMA \ DAMARA - AFRIKAANSE WOORDELYS MET AANTEKENINGE EN SINNE OM DIE GEBRUIK VAN, EN BEKENDE EN VERONDERSTELDE INTERESSANTHEDE VIR NASLAAN EN EN AANVULLING BYDERHAND TE HÊ." Gedateer 11 November 1986.
Ons geboortesertifikate wys "Distrik Gibeon". Tot my spyt en skande het ek niks Nama nie.