Lynthia Julius het naam gemaak toe sy in 2018 aangewys is as die wenner van die Afrikaanse inskrywings vir die I wish I’d said-projek en weer in die 2019-bundel opgeneem is.
Die verwagting waarmee ’n leser dan Julius se debuut, Uit die kroes, opneem, is hoog en word ook nie teleurgestel nie.
In die wengedig, “Vir Aljarreau” (48–9) kom ’n hele aantal sake voor wat later motiewe in die bundel sou word: van die reaksies en parodieë op digters en gedigte (Ferrus, Small, Krog, Breytenbach, Gert Vlok Nel, Koos du Plessis) tot die blik op verhoudings en geliefdes, die verwysings na selfdood en narkotiese middels en die komplekse verhouding met die ma. Hiermee is daar egter nog net ’n eerste teug geneem uit die kelk, die kroes, wat Julius se bundel na die lippe bring.
’n Opvallende nasmaak wat reeds ná ’n eerste lees bly, is die eiesinnige stellinginname en die ononderhandelbare verset teen die onaanvaarbare en die ongenaakbare. Die stem aan die woord is eietyds, onverskonend en vrou. In “Skuld”, waardeur mens herinner word aan Antjie Krog se gedigte “1995” (Gedigte 1989–1995, ble 6–7) en “namens myself” (Verweerskrif, bl19), word daar bestek opgeneem, maar terselfdertyd eis dit ’n ruimte op waarbinne die self, en ook haar generasie, geposisioneer word:
ek las nie goed aanmekaar wat ek nie breekgemaak het
maar so kom kry het nie
...
ek is niemand se marionet of naaister nie
ek kies my slagvelde
ek aanvaar nie hand-me-downs van
’n sisteem waarvan ek g’n onderdeel was nie
...
ek kies my beloofde land privaat
ek is g’n aangewese Josua nie.
Hierdie bewuste posisionering is iets wat in verskillende gedigte neerslag vind – ongeag of die gedig besinnend is, aan die kaak stel, meedeel of bevraagteken – en tot so ’n mate dat mens ’n procédé daarin kan opmerk.
Vergelyk byvoorbeeld “Aksynbetalers” (44):
Jy is nie soos jou ma nie;
jy rook nie rooi Pall Mall voor die kas
met die microwave op nie
jy glo nie in kerk of gaan bad voor jy slaap nie
jy relax nie jou kop nie
jy aanbid nie jou pa nie
jy offer nie op en loop met eeltvoete rond nie
Jy is nie soos jou ma nie;
jy rook Marlboro op die stoep
jy glo, maar jy weet nog nie in wat nie
dra jou kroes hare so laat mense kan sien
glad alleen beteken nie mooi nie
jy offer jou verstand vir jouself op ...
En die aanspraak maak op erkenning in “Die hulp” (39):
En as ek eendag ’n huishulp/ maid/ girl/ bediende moet wees
word daar nié ’n tjie agter my naam gelas ...
maar hulle sal my op my onverkleinde naam noem
van aangesig tot aangesig sal ek dit aanhoor ...
’n eienaam sonder tjie
vir ’n volvrou wat die keuse gemaak het
om aanhou en aanhou en aanhou
herinner te word
sy’s gemaak vir ja en amen
fok of haar kop walgstuip ofte not.
’n Ander voorbeeld hiervan is sigbaar in die manier waarop die erotiese versugting in “Apokalips” (63) ’n aanspraak maak, die klank van aandrang dra:
stort in my jou lewende water
...
maak
gravitasiekolke in my kurwes
deur my eerste aar se bars
gryp my aan met jou bestaan
laat my liggaam vir jou ’n apokalips word.
Die gedigte oor ’n jong vrou wat in liefdesverhoudings verwerp word, of wat dit afwys ter beskerming van haarself, en veral waar ras en klas ter sprake kom, is ’n oop senupunt in die bundel. Soos in die slim geskryfde “Last Supper” (70–1) waar die leser met fokus moet lees om te kan hoor wie aan die woord is, terwyl mens nie kant kan kies tussen die twee stelle seer nie.
Dit is iets wat ook gebeur in “Hy’t gesê” (43):
Hy’t gesê ek dra my smile soos ’n kus
het ek gehoor
hy’t bedoel kis
En sy oë het vol rou geword ...
In “Wat sal jou ma sê” (81) word die beskrywings waarmee die self haar identiteit en afkoms benoem en kleim daarvoor afsteek, geraam deur die selfgeldende en uitdagende opdrag aan die begin en einde van die gedig: “Gaan sê jou ma jy’s verlief.” Dit bring mee dat die wegwys in die slotreël nugter en verwytend klink én ysingwekkend droef is:
Gaan sê jou ma jy’s verlief op
’n Nama(kwa)kind
een met kroes hare en ’n geel vel
een wat ken van gwarra-goed en suurdeegbrood
van skotteltjiewas en viervertrek ...’n klipsweetkind gebore in Xhoeroepoort
En kom vra my weer.
Die self aan die woord in hierdie bundel is meervoudig en kompleks, soos ook die onderwerpe wat sy ophaal en waaruit sy sin, en poësie, maak. Uit die smeltkroes van leef en beleef word gedigte gefiltreer wat ondersoek instel, aan die lig bring, stelling inneem, deklameer en aandring op erkenning. Die bundel bied onthutsende perspektiewe so uiteenlopend soos dié in “Halfnaatjie”, “Nege-en-dertig slae”, “Krismisboom”, “Twee grade”, “My land se krank” en “Das nichts” en mens word bewus gehou daarvan dat die gedigte neerslag is van die uitdagings en eise wat ’n eietydse jong vrou aandurf en aanspreek. Een wat stem gee aan haar generasie in Suid-Afrika en spesifiek ook een wat haarself identifiseer as “Nama(kwa)kind” (81) – gekonfronteer met daardie “een godverlate woord (wat) kletter soos ’n lem: Ras” (62).
Die paradigma waarbinne die bundel se gedigte beweeg, sluit ook gedigte in wat ’n bydrae lewer tot die representasie van die vrou in die Afrikaanse poësie. Hieronder tel gedigte oor die verhouding tussen ma en dogter (40, 41, 44, 50), liefdesverhoudings (veral waar die geliefdes geskei word deur die werklikhede van persepsies oor ras en klas), gender en generasiekonflik (spesifiek in terme van kulturele gedrag, byvoorbeeld hoe vrouens hulle “behoort te” gedra (34, 66), gendergeweld (46), die tol wat ’n studentelewe eis (intellektualisme, 54–5 en aborsies, 57) en verkragting (72).
“Naggesprek” (32–3) is een van die gedigte waarin die leser ’n binneblik op die ma kry. Ná skermutselinge met die ma (40) en verbete pogings tot dissosiasie (44) is dit die kind-ma wat die verantwoordelikheid vir haar sibbe moet dra, wat hier aan die woord is. Uit die eerlike gesprek tussen susters blyk ’n mengsel van empatie en verwyt vir die ma, waarby ook weemoed en gelatenheid ingemeng word:
Dinky, waar’s Ma?
Ma’t gehardloop
na die vry
en die jonk
ons twee het te vroeg gekom
...
maak toe jou oë
laat glip die bang
ek kyk jou onse kind
ek kyk jou die ma-lose nagte in.
Hierteenoor gee “Die vrouens in my familie” (34) ’n lemnugtere en selfs kritiserende, alhoewel nie onsimpatieke nie, blik op moedige vroue in wie se lewens onderdrukking weens patriargale mag en konvensie ’n daaglikse werklikheid is, terwyl die slot ontnugtering en distansiëring suggereer:
Die vrouens in my familie is lief vir mekaar
bel op verjaarsdae
stuur mekaar chain messages oor die Jirre op WhatsApp
kuier mekaar Desember en Eastertye
koop wyn braai saam maak potjiekos
Namastap saam
bid vir mekaar verdedig mekaar
ruil raad oor kinders tande Balsem Kopiva
shampoo coconut oil, koop vir mekaar klere
hulle is bedrywig lief vir mekaardie vrouens in my familie het van hul gehoop
in kiste beland deur hulle huwelike
...
hulle stemme ingeboet vir hulle manne s’n
dien onder trilregerings
kyk om heel te bly die krake mis
draai na die Jirre vir die vuur
wat in die ander een se oë geblus geraak het
try hulle kinders gehoorsaam grootmaak in die weë van die Jirrehulle verafgod hulle manne
die vrouens in my familie
en sien die kinders vir heidene aan.
Die baie mooi en aangrypende, dog diep ontstemmende, gedigte in Uit die kroes wat oor afkoms en herkoms handel, verryk die bestaande korpus gedigte in Afrikaans oor hierdie onderwerp – soos by Dianna Ferrus, Ronelda S Kamfer en Jolyn Phillips. Uit die aard van die saak verruim dié wat oor vroue handel, ook die blik op die vrou in die Afrikaanse poësie. In hierdie opsig is veral Julius se portretgedigte oor vroue uit die geskiedenis besonders. Lees “Sara” (7), “Sara II” (78), “Aurora” (11), “Amria van Bengale” (12), “Ouma Xhau” (18) en “Dulcie September (22). Mens kom nie onaangeraak daarvan af nie, en jy sal nie spyt wees nie.
“Sy wat mal is” (77) is een van die gedigte in die bundel waarin ’n outobiografiese spreker herken kan word. Soos by soortgenootlike gedigte (soos dié van Eybers, Spies, Krog, Hambidge) is hierdie spreker spesifiek ook vrou en digter en doen sy bestekopname van haar posisie in terme van stereotipes:
Sy wat mal is wat in skottelgoedwater was
met Mammie stry oor kerk
voorskrif spien vir Lithium
wat nou nog nie kon werk kry nie
sy wat wal is wat afdroog met vloerlappe
hou haar kastig toe vir al wat man is
maar lus vir als wat loskop is
sy hou haar duiwels aan die gis en sis
Sy wat mal is
wat poppehuisie speel met seuns
sy vry met getroude sinne
en ligtekooi met reëls.
Te midde en ten spyte van onrus en omwentelinge was 2020 ’n goeie jaar vir die Afrikaanse poësie – teen die einde van Oktober 23 solobundels (met agt debute en een digdebuut), een vertaling en drie versamelings. Lynthia Julius se Uit die kroes sing met ’n sterk en helder stem in hierdie koor.
Karen de Wet
20 Oktober 2020
Lees ook:
"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"
Kommentaar
Sommige van die versreels so pragtig skoon gedink. Nog so jonk, maar as digter.
Alreeds van alle "puppy fat" ontslae!