
Foto van Lynthia Julius: verskaf
............
Iemand het eenkeer vir my gesê: 'Jou skryfwerk se krag lê in waar jy vandaan kom.' Ek verstaan dit nou. Ek dink Gariep-Afrikaans is ’n variant wat meer plek moet opneem in die Afrikaanse letterkunde.
..............
Die Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs is pas aan Lynthia Julius toegeken. Sy praat met Naomi Meyer hieroor.
Lynthia, baie geluk met die toekenning van die Jan Rabie-Marjorie Wallace-beurs. Ek sit en lees ’n skrywe van jou uit 2017 wat op LitNet verskyn het. Jy speel met woorde; plekname word musiek in jou mond. Die gewone goed waarna jy in hierdie gedig verlang. Van wanneer af skryf jy? Wou jy nog altyd skryf, vandat jy klein is?
Baie dankie, Naomi. My ma skryf nog altyd, so skryf was van ek verstand gekry het deel van ons huishouding. Ek kan nou nie presies onthou wanneer ek begin skryf het nie, maar ek kan goed ’n dag onthou toe ek in graad 6 was wat ek ’n boek begin skryf het. Die titel het “kruispad” in gehad, maar die hele storie was so ’n cliché ek sal nooit nou daai storie skryf of lees nie. Ek wou ’n reisigerskrywer word en ek het die kjeeners gesê: “Vat my handtekening, wan dit gaan eendag baie werd wees.”
In watter taal het jy eerste geskryf? Wat praat jou familie en wat praat jy as jy by die huis is? Ek weet jy het met Cliffordene Norton gepraat oor hoe spyt jy is dat jy nie volledig alles in Nama kan skryf nie. Praat asseblief met my oor die kompleksiteite en vreugde van skryf in Afrikaans, jou eie Afrikaans, en Nama-skryf?
Ek het heel eerste in Afrikaans geskryf. My familie praat Afrikaans. Ek sê vandag vir iemand hoe lelik my antie (wat in Springbok bly) my sal vloek as ek vir haar die dag moet sê dat sy net Engels met my moet praat. Toe ek my verstand kry, was daar Namakwalandse Afrikaans gepraat wat ’n klomp Nama-woorde bevat. As ek my ma gevra het om vir my melktee in die koppie oor te skiet, het ek gesê: “Ma, xhou my.” As my ore vuil was, het my ouma gesê: “Kyk hoe xhoe die kjeent se ore.” Ek kan nie ’n Afrikaans praat wat nie Nama-woorde in het nie.
............
Toe ek my verstand kry, was daar Namakwalandse Afrikaans gepraat wat ’n klomp Nama-woorde bevat. As ek my ma gevra het om vir my melktee in die koppie oor te skiet, het ek gesê: “Ma, xhou my.” As my ore vuil was, het my ouma gesê: “Kyk hoe xhoe die kjeent se ore.” Ek kan nie ’n Afrikaans praat wat nie Nama-woorde in het nie.
...............
Ek kan nie volledig in Nama skryf nie, maar ek kan in die Afrikaans skryf wat ek mee grootgeword het en dit is Gariep-Afrikaans. Iemand het eenkeer vir my gesê: “Jou skryfwerk se krag lê in waar jy vandaan kom.” Ek verstaan dit nou. Ek dink Gariep-Afrikaans is ’n variant wat meer plek moet opneem in die Afrikaanse letterkunde. Ek het nou al soveel keer gelees ek is ’n digter wat in Kaaps dig, maar dan sê ek, maar net sag: “Ai, die onkunde.” My ma sê ek moet minder vloek.
Gee bietjie vir ons lesers ’n oorsig oor jou skryfwerk van die afgelope paar jaar: digbundel, Woordfeesbundel, rubrieke. Wat het jy alles die afgelope tyd geskryf?
Ek het ná Uit die kroes begin met my MA in kreatiewe skryfkuns. Voor dit het ek net gefokus op poësie. Ek het begin werk aan kortverhale (wat nie vir my maklik kom nie). Ek hou van dom voel, want dit beteken ek is besig om te leer. So sit werk ek aan die kortverhale en ek kry toe die geleentheid om rubrieke te skryf en ek het nog nooit so baie gegroei as skrywer nie.
............
Ek hou van dom voel, want dit beteken ek is besig om te leer. So sit werk ek aan die kortverhale en ek kry toe die geleentheid om rubrieke te skryf en ek het nog nooit so baie gegroei as skrywer nie.
................
Gedigte, kortverhale, rubrieke. Toe skryf ek ’n toneelstuk, My kroon se krank, met Veronique Jephtas. Iets wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie. Skryf is moeilik. Ek dink nie dis veronderstel om maklik te kom nie. Ek verstaan nou goed hoekom Sylvia Plath gesê het: “Everyday, one has to earn the name of ’writer’ over again, with much wrestling.”
As jy daaroor wil praat, kan jy iets kortliks sê wat jy vir die Jan Rabie-Marjorie Wallace-jaar se skryfprojek beplan? Jy kan net bolangs vertel wat jy beplan en in watter genre jy beoog om te werk.
Ek beplan om ’n roman te skryf. ’n Roman oor ’n Nama-medisyneman.
Wat beteken iets soos hierdie beurs vir ’n skrywer? Wat beteken dit vir jou?
..............
Jy raak eintlik bang as die nuus dat jy die beurs ontvang het, klaar ingeskop het. Jy dink aan die mense wat dit voor jou gekry het. Dis sterk skrywers, en iewers tussenin skop “impostor syndrome” in. Maar dan moet jy hom eenkant skuif, want hier lê werk voor en ’n boek moet geskryf word.
...............
Jy raak eintlik bang as die nuus dat jy die beurs ontvang het, klaar ingeskop het. Jy dink aan die mense wat dit voor jou gekry het. Dis sterk skrywers, en iewers tussenin skop “impostor syndrome” in. Maar dan moet jy hom eenkant skuif, want hier lê werk voor en ’n boek moet geskryf word. Ek kan nie sê wat dit vir ’n skrywer beteken nie – ek weet vir my is dit ’n groot eer. Dit beteken hulle het geglo in my manuskrip, en nou het ek die vryheid om voltyds daaraan te werk. Ek moet my navorsing klaar doen en loop sit en skryf.
Lees ook:
In gesprek met Veronique Jephtas oor My kroon se krank by die Suidoosterfees
Persverklaring: Wenner van die 2022 Woordfeeskortverhaalkompetisie
"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024
’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld
Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas
Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024
Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024: ’n onderhoud met Steward van Wyk

