In gesprek met Veronique Jephtas oor My kroon se krank by die Suidoosterfees

  • 0

My kroon se krank
Ondersteun deur NATi, KKNK en die LW Hiemstra Trust
Vervaardiger: Bossikop Productions
Met: Veronique Jephtas
Teks: Veronique Jephtas en Lynthia Julius
Regie: Tinarie van Wyk Loots
Verhoogbestuur: Roland du Preez
Beligting: Andi Colombo
Taal: Afrikaans
Venue: NATi Arena
Datum en tyd: 27 April 16:00 | 1 Mei 13:00
Tydsduur: 50 min
Prys: R125
Geen o/13 T, V
Nie vir sensitiewe kykers nie!

Programnotas:

Dis 2020. Mej. Suid-Afrika 2019, Zozibini Tunzi, is sopas as Miss Universe announce en natural hair is nou meer in as ooit.

  • Aunty Pat, raadslid innie gemeenskap, moet nuwe foto’s niem vi haa veldtog en wil die natural route volg.
  • Roxanne, haa baby, is biesag om ’n hair salon oep te maak en haa roots te vind,
  • tewyl confident Debbie om elke hoek en draai pleit by hulle om hulle natural self te wees.

Drie karakters op ’n journey van renewal, repent en new beginnings.

Gesprek:

Izak de Vries gesels met Veronique Jephtas oor die komende vertonings van My kroon se krank by die Suidoosterfees.

Ek en my feesmaatjie, Lara, het My kroon se krank by die KKNK gesien. Dit is ’n diep stuk. Hoe en hoekom het jy en Lynthia hieraan gewerk?

Baie danke. Ek hettie stuk geskryf in 2019 en het die karakters en die storielyne en kern vannie storie op my eie ontwikkel. Ek het by Teksmark 2019 ’n uittreksel gedoen, waa Quanita Adams die regie gedoen het. Die teks het aanhou groei soes ek gegroei het, en laas jaar besluit ek toe om weer daaraan te krap. 70% vannie teks is presies soes dit was in 2019/2020, en dis baie cool dat hulle stemme steeds relevant is soes dit was toe ek daaraan begin skryf het. Ek en Lynthia is goeie vrinne en raasbekke en gatkrappers en omkrappers. Ek het vi Lynthia gesê ek het die play. By dié tyd was ek al op draft vier. Ek het gesê dat ek haa wêk kan bestudeer of ôs kan saam begin skryf aan sekere gedeeltes wat ek wil skrap of aan wil pas, en toe raak ôs excited en skryf saam, en Bob’s your uncle.

Die stel is baie eenvoudig. Jy dui elke karakter aan met ’n kledingstuk en iets wat jy met jou hare doen. Maar op die verhoog is ’n hengse hoop hare. Hoeveel het dit julle gekos?

Tinarie glo in poor theatre, so nie te veel nie, maa min genoeg om te lyk asof dit baie gekos het.

Om Tinarie van Wyk-Loots as jou regisseur te hê ... Dis darem ’n naam daardie! Hoe en wanneer het sy betrokke geraak?

Tinarie was my director op Evita in Excelsior, en dis toe waa ôs begin close raak het. Ek het ’n regisseur gekort en toe net ’n kans gevat en haa gevra en toe sê sy dadelik ja, sonne dat sy die teks geleesit. Maa nie net dittie – ek’t iemand gekort wattie teks sou vestaan en kaalgat saam my oor verbode grense sou kon haloep, en Tinarie doen daai in haa slaap.

Dit het my opgeval dat jy drie karakters speel. Elkeen uniek. Elkeen bring ’n totaal nuwe beeld van menswees in Suid-Afrika na die gehoor.  Dit is ’n slim narratiewe tegniek. Hoe het jy dit reggekry om al drie die karakters oortuigend te vertolk?

Baie dankie. Ek dink ammel vegiet ek is ’n theatre-trained actress en dat ek drama geswot het op Universiteit Stellenbosch en dat my hartjie eintlik by teater lê. Haha. Ek het my BA-graad in drama en teaterstudies in 2018 verwerf. Dis hoekô dit soe lekke was om self te speel en oek dié kant van my talent aan gehore bloot te stel saam mettie skryf. But I do get it – ek hettie baie met theatre acting geworry nie; ek het bietjie meer op film en TV gefocus. Maa tot jou punt … Tinarie hettie regie soe mooi behartig en het my spel soe mooi gelei dat alles wat jy op stage sien, haa baby is, jong – ek execute maa net haa vision. En as aktrise benader ek altyd enigeen se teks met respek en ek hettie grootste respek vi die drie vroue innie teks, soe ek gie hulle die spasie, tyd, liefde en grace wat hulle vedien.

Ek wil nou tong-in-die-kies sê dat ek laas oor hare gebodder het voor jy gebore is (ek het niks meer nie), so vir my was die kwessie van versorging van natuurlike hare werklik interessant. Is dit regtig so ’n groot storie?

’n Moerse, persoonlike, diep, seer, ongemaklike en eerlike een!

En dan is daar die lieflike oomblik waar Suid-Afrika vergelyk word met daardie onmoontlike tussenstadium waar hare gewoon nie wil doen wat ’n mens hoop hulle doen nie. Hoe reageer mense op julle politieke ontleding?

Ek dink mense, of dié wat my wêk ken, by nou al gewoond is aan dié manier van skryf van my. Alles is political. Daardie spesifieke monoloog is juis die een wat ek by Teksmark in 2019 gedoen het en dit spreek tot die timeless relevance van daai stuk. Mense vestaan altyd, want dissie waarheid. People always get it – Suid-Afrikaners is gatvol, maa nie onredelik nie.

Lara het gesê dis die soort stuk waarheen sy eendag haar kinders wil vat. Wat is jou boodskap aan die jong seuns daar buite: Hoekom moet hulle na ’n stuk kom kyk oor drie vroue se hare?

Kô kyk, want dit gaan oor meer as net hare. Dit gaan oorie oorbegin, die eerlik praat, die awkward phases vannie lewe. Dit gaan oor opstaan en oppie ou einde vannie dag drie vroue wat net gehoor wil wôd, soe kô luister, toe?

Lees ook:

My kroon se krank by die KKNK, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top