
Foto's: Kobus Marx | KKNK
...
Iemand se hare, natuurlik of nie, dra ’n boodskap. Vir ’n enorme deel van ons landsbewoners is sosiaal aanvaarbaar iets om na te streef.
...
Ek vermoed My kroon se krank was die stuk wat my die meeste geraak het op die KKNK. Dit speel binnekort ook by die Suidoosterfees.
Die drama is kort, die messe is lank en skerp, die steke is sekuur. Die eenpersoonstuk is dus nie maklik nie; identiteitspolitiek word aangespreek sonder om skaam te wees of om doekies om die boskop van die hoofkarakter te draai.
Ja, hare is deel van die saak. Hare en identiteit het baie met mekaar te doen.
- Kan ’n vrou mooi wees as sy ’n boskop het?
- Is natuurlike hare ’n manier om jou identiteit te eien?
- Is dit beter om vir iemand te stem wat natuurlike hare het?
- Is dit verkeerd om verskriklik baie te betaal vir gladde hare, sodat jou boyfriend sy hande deur jou hare kan laat gly?
My kinders en talle van hul vriende is donkerder as ek, so haarpolitiek is deel van ons huis. Iemand se hare, natuurlik of nie, dra ’n boodskap. Vir ’n enorme deel van ons landsbewoners is sosiaal aanvaarbaar iets om na te streef.
’n Mlungu soos ek, met niks hare nie, kan maklik afsydig staan, selfs afwysend wees, teenoor mense wat soveel moeite doen met hul hare. Dit sou futiel wees, en boonop onsensitief.
My kroon se krank maak die punt dat selfs “natuurlike hare” nie bloot van nature natuurlik is nie. Gaan sien asseblief die stuk as jy nie verstaan nie.
Dit gaan oor verstaan
My kroon se krank is geskryf deur Veronique Jephtas en Lynthia Julius. Beide het toevallig lieflike hare, maar dit het min met die inhoud van hierdie toneelstuk te doen.

Lynthia (links) en Veronique (Foto's: Izak de Vries)
Die verhoogspel staan onder regie van Tinarie van Wyk-Loots.
Drie sterk mense het dus ingekoop in hierdie projek.
Veronique Jephtas is alleen op die redelik leë verhoog waarop ’n enorme hoop hare lê. Sy speel drie uiteenlopende karakters:
- ’n ouer vrou wat die politiek wil betree
- ’n jong politieke aktivis
- ’n jong meisie wat met ’n wit man uitgaan en die politiek bewustelik vermy.
Die jong aktivis is ’n lieflike karater wat haar velkleur, haar hare en haar vroulikheid opeis en bewustelik daarmee omgaan teen ’n patriargale bestel; saam met die patriargie kom dikwels ook rassepolitiek.
Elkeen van die drie karakters wat Jephtas uitbeeld, kaats ’n ander aspek van vrou wees en bruin wees in Suid-Afrika na die gehoor.
Die ouer tannie verwoord talle van die vrese van ons hedendaagse samelewing. Sy is erg xenofobies, al skep sy die hutsmerk #PutTheNoInXeno. Ons land het verander, sonder om aan ’n ouer generasie gemoedsrus te bied. Hierdie generasie, onder alle rassegroepe, gryp dan terug na clichés wat skynbaar tuishoort in ’n ouer Suid-Afrika. G’n wonder ook nie dat daar ’n waarskuwing by die deur van die saal was wat lees: Teks bevat woorde wat aanstoot kan gee binne die konteks van historiese tyd en karakters.
Die jonger mense moet dan skynbaar óf aktivisties kies om die ouer generasie te bevraagteken, óf hulle moet hul eie self misken om in te pas in ’n lewe van relatiewe materiële welvaart om die wolf so ver moontlik van die deur te hou. Laasgenoemde is wat die derde karakter skynbaar doen.
Eina
Dis nie altyd lekker om jouself in ’n spieël te sien nie, en dis waarom mense baie geld spandeer om hulself mooi te laat lyk.
Vra maar die jong meisie wat Jephtas hier uitbeeld. Sy het ’n haarsalon waar sy mense se hare reguit maak. Sy self het lang, reguit hare en dit dra daartoe by dat haar boyfriend se mense aan haar kan sê dat sy darem nie “soos die ander coloureds is nie”.
Jip.
My feesmaat het veral daardie sin onthou. Lara was vir ’n paar jaar in ’n verhouding met ’n vrou vir wie sy baie lief was. Toe sy dit durf waag om dié persoon aan haar gesin voor te stel, is daardie einste woorde geuiter.
Hoe baklei ’n mens terug?
Die stuk beeld al drie karakters met empatie uit.
Dit is natuurlik die jong aktivis wat baklei, wat die dolke direk en sekuur gooi. Sy eis haar reg op vrouwees op. Sy aanvaar haar vel en haar hare. Sy eis ook gelyke regte met ander op, iets wat soms met konflik gepaard gaan.
Ook sy moet egter hard werk daaraan om haar “natuurlike hare” natuurlik te laat lyk.
Om die hare as skans te gebruik
Ek gaan nie die stuk se storielyn verklap nie – gaan sien dit self.
Van belang is dat die hoop hare op die verhoog sonder meer die verhaal van Raponsie sou kon oproep. Sy het met haar lang, gladde hare uit haar tronk ontsnap.
In hierdie toneelstuk word die boskophare egter as ’n tipe wapenrusting gebruik – à la Efesiërs 6:13–18. Hare bly egter ’n sagter skans en die mens binne die draer bly broos.
Mag die hare jou omhels
Daar is ook ’n veel sagter en vriendeliker lees van die karakter wat die enorme bos hare soos ’n kleed aantrek: Die hare kan ook ’n omhelsing in plaas van ’n wapenrusting, wees.
Dalk moet ons almal leer om ons hare (ook die gebrek daaraan, soos by my) te omarm.
Daarvoor is stukke soos My kroon se krank ’n belangrike spieël waarin ons na trekke van onsself moet soek, al lyk ons nie presies soos die mens in daardie spieël nie.
Lara, my feesmaat, het, van al die stukke wat ons gesien het, gesê dat My kroon se krank die tipe teater is waarheen sy eendag haar kinders sou wou neem.