Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024: ’n onderhoud met Steward van Wyk

  • 0

Steward van Wyk (foto: uit die LitNet-argief)

Steward van Wyk praat met Naomi Meyer oor die Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs  2024 waarvoor aansoeke op die oomblik ingewag word. Hier is nog inligting:

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024

Steward, dis goeie nuus om te hoor die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs is weer oop vir aansoeke. Vir almal wat in ’n Rip van Winkel-slaap was: Wat behels hierdie beurs?

Die beurs bestaan reeds sedert 2010 en word tweejaarliks toegeken. Die ontvangers in volgorde was André P Brink, Willem Anker, SJ Naudé, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Valda Jansen en Brian Fredericks. Volgens die reglement word die beurs toegeken aan ’n skrywer om ’n tyd lank sonder finansiële sorge navorsing te doen en aan ’n kreatiewe skryfprojek in Afrikaans te werk.

Is die beurs vir gevestigde of vir ongepubliseerde skrywers beskikbaar? Sal enigiemand voorkeur kry?

...........
Daar is absoluut geen voorskrifte of voorkeure oor wie die beurs mag ontvang nie. Die oorwegende faktor is die meriete van die aansoek waarin vernuwende elemente en bydraes tot die Afrikaanse letterkunde deur die beurskomitee opgeweeg word.
.............

Daar is absoluut geen voorskrifte of voorkeure oor wie die beurs mag ontvang nie. Die oorwegende faktor is die meriete van die aansoek waarin vernuwende elemente en bydraes tot die Afrikaanse letterkunde deur die beurskomitee opgeweeg word. Vir elke ronde word ’n nuwe beurskomitee aangestel wat uit verteenwoordigers uit die skrywers- en uitgewerswêreld bestaan.

Moet mens ’n plan of uiteensetting vir ’n storie, of net ’n vonk/idee vir ’n storie voorlê? En is daar vereistes vir die soort storie wat julle hieruit wil laat voortspruit?

Die beoordeling geskied op grond van die projekvoorstel en werkplan. Dit moet ’n idee gee van die storielyn, karakters, tematiek, vormlike vernuwing en bydrae tot die literatuur in die algemeen. Dit moet ook ’n aanduiding gee van die haalbaarheid van die projek en die bewese rekord en ervaring van die skrywer om die projek te voltooi. Die aansoeker kan moontlik ook ’n begroting indien waarin aangedui word hoe die beursgeld bestee gaan word met toespitsing op die skryfprojek self.

Is die beurs nie baie ruim en luuks nie? Ek speel natuurlik duiwelsadvokaat. Maar waarom is dit juis so waardevol om skryftyd vir ’n skrywer te kan koop?

Ja, dit is ruim, maar hou in gedagte dat lewenskostes die algelope tyd baie gestyg het. Dit is ook ’n kompliment aan die universiteit se fondsbestuurders wat goeie besluite kon neem om die fonds te laat groei en elke keer ’n inflasiegebaseerde aanpassing te maak. Sodoende kan ons uitvoering gee aan Marjorie Wallace se wens dat die beurs vir iemand tyd kan vrykoop om aan ’n kreatiewe skryfprojek te werk. En dit is wat skrywers en kunstenaars nou nodig het, post-COVID-19 en in ’n tyd waarin die ruimte vir mense in die kunste en geesteswetenskappe kleiner raak.

...........
Ja, dit is ruim, maar hou in gedagte dat lewenskostes die algelope tyd baie gestyg het. Dit is ook ’n kompliment aan die universiteit se fondsbestuurders wat goeie besluite kon neem om die fonds te laat groei en elke keer ’n inflasiegebaseerde aanpassing te maak. Sodoende kan ons uitvoering gee aan Marjorie Wallace se wens dat die beurs vir iemand tyd kan vrykoop om aan ’n kreatiewe skryfprojek te werk. En dit is wat skrywers en kunstenaars nou nodig het, post-COVID-19 en in ’n tyd waarin die ruimte vir mense in die kunste en geesteswetenskappe kleiner raak.
..............

Vertel my meer van die suksesverhale wat deur die jare uit hierdie beurs voortgevloei het?

Die beurs het die afgelope jare talle pryswennerromans opgelewer wat die top literêre pryse verower het. Brink se Philida, ’n slaweroman was op die langlys van die Bookerprys. Buys, ’n grensroman (Anker) en Die derde spoel (Naudé) het die Hertzogprys, die kykNET-Rapport-prys en nog vele ander verower. Kompoun (Kamfer) het reeds die Jan Rabie-Rapport prys gewen. Die boeke wat nog gepubliseer moet word, sal gewis ook ’n indruk op die literêre landskap maak.

Lees ook:

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024

Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie

’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

Jan Rabie / Marjorie Wallace Lecture: Ground Zero – the South African literary landscape after apartheid

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top