Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk

  • 1

Steward van Wyk, sameroeper van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs, praat met Naomi Meyer oor hierdie geldelike inspuiting wat bloeiende jong skrywers vir ’n tyd lank sal genees van ’n groot finansiële kopseer. En hulle in staat sal stel om sonder kommer ten opsigte van ’n inkomste, slegs te kan fokus op hul skryfwerk.

Steward, dis weer amper tyd dat die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs toegeken word. Vir enige leser wat nog nie daarvan gehoor het nie, wat behels hierdie beurs en wat is die agtergrond en geskiedenis daarvan? Wie kan inskryf, wat behels die beurs en wat is die voorskrifte ten opsigte hiervan?

Wyle Marjorie Wallace het in haar testament die wens uitgespreek dat die opbrengs van haar boedel aan die Universiteit van Wes-Kaapland bemaak word vir die oprigting van ’n beursfonds. Daaruit word elke tweede jaar ’n beurs toegeken vir skeppende skryfwerk in Afrikaans en dit moet die ontvanger in staat stel om ’n jaar sonder finansiële bekommernis aan die projek te wy. Aansoeke is dus oop vir enigeen wat ’n projek wil voorlê. Geen manuskripte word aanvaar nie omdat die veronderstelling is dat die geld aangewend gaan word om ’n nuwe skryfprojek te begin. Die beursbedrag vir 2020 beloop R 430 000. Ons verwag dat die beurshouer binne redelike tyd ’n manuskrip sal voltooi en voorlê aan ’n uitgewer. Die persoon moet ook ’n openbare lesing lewer en deelneem aan kreatiewe skryfprogramme by die universiteit. Sodanige aktiwiteite word met die beurshouer onderhandel.

Dis baie moeilik om met vandag se bril na die geskiedenis te kyk en te bepaal: wat het mense in daardie tyd gedink. Wat kan afgelei word, het Jan Rabie en Marjorie Wallace oor hierdie gelde gedroom en watter soort skrywers sou hulle graag wou help om as skrywer te ontwikkel of groei? Of was hulle nie voorskriftelik in die toekenning van die gelde nie?

Soos hierbo genoem, wou hulle iemand in staat stel om ’n redelike tyd aan sy of haar skryfwerk te wy. Daar is dus geen streng voorskrifte nie. Jan en Marjorie het vir ’n groot deel van hulle lewe uit die opbrengs van hul kreatiewe werk geleef en wou waarskynlik daardie leefwyse op beperkte skaal vir iemand anders moontlik maak.

Ek het gaan terugkyk op vorige beurshouers se opstelle/essays rondom hul beursprojekte: André P Brink, Willem Anker, SJ Naudé, Ronelda Kamfer. Almal het uiteenlopende projekte beplan. Kan enige voornemende persoon wat wil aansoek doen vir hierdie beurs hulle essays gaan lees om ’n idee te kry van waarna julle, as beurspaneel, in voornemende kandidate op soek is?

Die essays waarna jy verwys, is seker die teks van die Jan Rabie Marjorie Wallace-gedenklesings wat die ontvangers gelewer het. Ek dink nie dat die lesings breedvoerig op die onderskeie skryfprojekte fokus nie, daar is wel verwysings daarna. Die beurskomitee word ook elke keer nuut saamgestel en dit is moeilik om deurlopende tendense of voorkeure te bepaal. Die wenvoorstelle het die komitees oortuig met die innoverende en verruimende kwessies wat dit beoog om te ondersoek.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde, Steward? Is jy positief oor waarheen ons op pad is?

Dit is ’n moelike vraag en een wat mens maar altyd terugskouend beantwoord. Ek dink die letterkunde het ’n eie momentum en wat my interesseer is hoe daar op ’n gegewe moment op die konteks gereageer word. Dit is insiggewend hoe die beursontvangers in hul lesings in gesprek getree het met die Suid-Afrikaanse opset en verrassende waarnemings gemaak het.

Die romans wat voortgespruit het uit die beurse het die Afrikaanse letterkunde onherroepelik verruim en vernuwe. Ek praat hier van Philida, ’n slaweroman (André P Brink), Buys, ’n grensroman (Willem Anker) en Die derde spoel (Fanie Naudé). Laasgenoemde twee boeke het ’n aantal literêre pryse verower, insluitend die Hertzogprys vir Prosa. Dit is ’n baie positiewe uitvloeisel van die beurs.

Hoe werk die praktiese proses van voornemende beurshouers wat wil aansoek doen? Wat moet hulle voorlê? In watter formaat? Met wie moet hulle in gesprek tree daaroor en waar kan hulle nog besonderhede in die hande kry? Wat is die sluitingsdatum?

Die sluitingsdatum is 4 Oktober 2019 en die aansoekprosedure word uiteengesit in die advertensie wat op LitNet geplaas is. Voornemende aansoekers kan ook ’n inligtingstuk aanvra by rabiewallacebeurs@gmail.com.

Lees ook

Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020

Jan Rabie / Marjorie Wallace Lecture: Ground Zero – the South African literary landscape after apartheid

’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit is uiters belangrik dat die beurs uitsluitlik toegeken word aan outeurs wat werk lewer wat met die gees van die Rabie-egpaar versoenbaar is. Jan Rabie was daarop gesteld om goeie Afrikaans te praat en te skryf. Elsa Joubert vertel dat Jan se fundamentele Afrikaansheid uitdrukking gevind het in sy weiering om Engels te praat. Die beurs behoort dus nie toegeken te word aan outeurs wat hulle aan geradbraakte Afrikaans skuldig maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top