Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie

  • 5

SJ Naudé (foto verskaf)

Lees SJ Naudé, beurshouer van die 2014 Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, se gedenklesing na aanleiding van dié beurs. Lees ook 'n vorige onderhoud met Naudé.

Berlyn, 2014. Jy loop al langs die lyn van die verdwene muur af. Deesdae is dit amper onsigbaar, die eertydse skeiding; net ‘n ry donkergrys keisteentjies dui aan waar dit was. Soms kruis dit strate, of stuit teen ‘n nuwe gebou. ‘n Vae litteken, netjies ontsmet, oënskynlik toegegroei. Jy tas rond, in hierdie stad, na inligting vir ‘n roman wat jy skryf, en wat gedeeltelik hier afspeel. Jy probeer uitpluis hoe mens dinge sou kon beskryf wat nog selde in Afrikaanse fiksie beskryf is, hoe om met materiaal te werk wat nog skaars in Afrikaanse prosa gefigureer het. Maar dan wonder jy: Ís dit Afrikaans wat in jou gedagtes kliek en ruis? Toe jy begin luister, besef jy jy prewel meestal in Engels, met fragmente Duits tussenin. Die Afrikaans sal eers later kom; ‘n soort vertaling. Dit gebeur nou minder dikwels, weliswaar, as vyf of ses jaar gelede, toe jy die taal skielik weer gevind het, soos ‘n munt wat mens opgrawe. Toe dit nog vreemder gevoel het teen die harde verhemelte as nou. Die denkstroom neig deesdae terug na Afrikaans; dit is, helaas, nog nie heeltemal in Afrikaans nie.

Dis somer in Berlyn, en warm. Jy verloor die muur se spoor, stap in Oranienstrasse af. Dis die enigste deel van die stad wat nog min of meer soos in die 1980’s lyk, die periode waarin jou roman afspeel. As jy jou oë skreef, sien jy nog graffiti en plakkate vir bands teen die mure, en biljette vir underground parties wat rondwaai. 21ste-eeuse Berlyn het ‘n pastiche van sigself geword. Die ondergrondse nagwêreld van die stad is nou gekommersialiseer, verpak vir jong New Yorkers en Londenaars. Kelners of winkelassistente spreek jou outomaties in Engels eerder as Duits aan. Alles versteen, word simulakrum. Net as jy oë sluit, voel jy die vibrasies van 25 jaar gelede teen jou vel: die moerigheid, die dwarsheid, die weiering. Die manjifieke chaos. In jou skedel hoor jy selfs nog fragmente van woedende Duitse industrial rock.

Jy stap verby die Oranienstrasse-kroeë sonder om in te gaan. Jy vermy trouens, op hierdie reis, oral die plekke waar mense rondhang, waar hulle loslit raak. Jy besoek nie Mitte se über-cool drink- en kuierplekke, of die rivierstrande of grasperke naby die Museumeiland nie. Ook nie die mere in die buitewyke of die Tiergarten waar mans met bleek, gespierde lywe lê nie. Jy vermy nagjolyt op dakterrasse en in klubs. Jy kontak nie jou ou vriende in die stad nie.

Dis die verlate plekke wat jy opsoek, ruimtes waar onheil nog in die lug hang. Jy besoek die reusekompleks in Ruschestrasse waar die Stasi se hoofkantore eens was.

Buite in die straat vou jy jou kaart oop. Dit dateer uit die 1970’s: ‘n ou DDR-publikasie. Jy bestudeer dit, kyk dan op. Stasi-geboue verskyn nie op sulke Oos-Duitse kaarte nie. Waar jy nou staan, is daar op die papier net ‘n wit vierkant, ‘n leë ruimte. En tog, hier is die strukture voor jou, lewensgroot. Jy kan nader stap, daaraan raak. Jy kan deur die doolhof van geboue begin stap, deur die binnehowe en parkeerterreine waar onkruid deur sementoppervlakke druk. Waar die son net vir ‘n kort deel van die dag skyn. Jy gaan binne, voel die sweet onder jou hemp afkoel. Behalwe die karige personeel, is daar skaars enigiemand in die 1970’s-interieur met sy pampoenkleurmatte en bruin muurpapier. Hysbakke ruik na olie. Daar is plastiektelefone en gelamineerde houtoppervlakke, lessenaars met ou tikmasjiene.

Terwyl jy deur die koue vertrekke stap, wonder jy waar tonne Stasi-lêers in ‘n raserny verpulp is in 1989, toe die muur pas geval het en woedende Oos-Duitsers buite die kompleks begin saamdrom het. En jy wonder in watter kantore Stasi-amptenare franties spoele afloerfilms uitgeryg het – honderde kilometer daarvan – voor die skares die buitedeure begin afbreek van geboue wat eintlik, as mens die kaarte moes glo, nie bestaan nie.

Die volgende dag – ‘n perfekte somersoggend – besoek jy die eertydse Stasi-tronk in Hohenschönhausen. Jou gids, begin jy halfpad deur die toer vermoed toe jy saam met haar in ‘n voormalige aanhoudingsel staan, is self daar aangehou. Die sel is rond en vensterloos, en met dik spons uitgevoer. Die gids verduidelik hoe gevangenes eers vir ‘n paar dae daar aangehou is, hoe hulle gedisoriënteer moes word. Mens moes van tyd vergeet, sê sy, en jou rigting verloor.

Jy vra haar reguit of sy self ‘n gevangene was. Sy vertel hoe sy in hegtenis geneem is omdat sy ‘n vriend – wat toe ‘n informant blyk te wees – vertel het dat sy oorweeg om ‘n geheime protesvergadering by te woon. Sy beskryf hoe mens eendag op straat opgelaai word, in ‘n vermomde paneelwa, met die naam van ‘n droogskoonmaker of slagter buite op. Jy verdwyn eenvoudig; jou familie en vriende sal nooit weet wat van jou geword het nie.

Sy gaan staan buite ‘n seldeur, druk haar gesig teen die muur aan. Daar is rooi ligte in die gange, wys sy uit, wat aangeskakel sou word wanneer ‘n ander gevangene deur ‘n wag in die gang afgelei word. Gevangenes mag nie mekaar se gesigte gesien het nie. Mens moes met jou neus teen die muur staan, jou eie wag agter jou, tot die lig afgaan.

Toe julle verder stap, vertel sy van haar eindelose ondervragings. Sy is nog steeds skaam, vreemd genoeg, wanneer sy hieroor praat, asof sy ‘n ware krimineel was.

Vanuit ‘n ondervragingskamertjie op die vierde vloer wys sy na die dakke van rye huisies daar buite. Daar, sê sy, woon die ondervraers wat eens hier gewerk het. Nou nog? kan jy nie anders as om te vra nie. Sy knik. Jou eie ondervraers ook? Nog ‘n knik. Stem dit jou nie diep ongemaklik nie? Sy haal haar skouers op. Beter dat hulle daar bly, sê sy, as in die woonstel langs my eie.

Kon sy toegang kry tot die name van haar tormenteerders, en tot dokumentasie oor haar tyd as gevangene? wil jy weet. Sy knik. Baie mense, gaan sy voort, was nie so gelukkig nie. Sy vertel van die legkaartvroue. ‘n Projek van die Federale regering wat behels dat miljoene papierflardes van die verwoeste Stasi-dokumente weer aanmekaargelas word sodat eks-DDR-burgers toegang tot hul lêers kon verkry. Met absolute vernuf en toewyding, en teen ‘n pynlike pas, rekonstrueer ‘n span vroue die dokumente wat die Stasi in 1989 verwoes het. Hoekom hulle almal vroue is, verduidelik jou gids nie. En jy wil haar nie onderbreek nie. Dis soos die fynste mosaïekwerk, gaan sy voort. Iewers in Suid-Duitsland, in ‘n halfvergete blok kantore, sit die vroue. Dag na dag, amper 15 jaar lank al. Maar, sê sy, en glimlag wrang, teen die pas wat hulle vorder, sal dit honderde jare neem voor al die bladsye in al die lêers weer in een stuk is.

Sy laat jou onverwags alleen; jy sal self jou pad moet terugvind na die museum se ingang. Jy bly in die vertrekkie met sy linoleumvloer sit. In die ondervraer se stoel. In die stilte hier bo die ondervraers se huise spring jou gedagtes na ‘n ander vasteland. Na Suid-Afrika. Na haar institusionele ruimtes, die halfverdwene plekke van ‘n vorige magsorde. Die soort plekke wat die Suid-Afrikaanse kunstenaar Wim Botha soms in sy werk oproep. Regeringskantore met hul vinielstoele en genommerde meubels. 19de-eeuse raadsale waar koue uit graniet damp, banke met outydse kluise in die kelders. Polisiekantore, howe, NG kerke met verniste preekstoele, ‘n hospitaal vir sielsiekes buite die stadsgrense wat die langste gang het in die suidelike halfrond. Waar jy aan een punt staan en die gang aan die ander kant ‘n visuele verdwynpunt bereik voor dit fisies eindig. Formele, intimiderende ruimtes, waar wolfsasem en die reuk van hiënas in die lug hang. Jy dink aan apartheidsmodernisme. 1970’s-kerkargitektuur, ‘n universiteitsadministrasiegebou wat soos ‘n skip of vlerk swewe: tonne beton wat swaartekrag kul. Of ‘n koepel wat die kopbeeld van ‘n eerste minister beskadu, neffens bronsperde wat uit ‘n fontein spring. En, daarnaas, ‘n brutalistiese teater met ‘n wentelende standbeeld van apploushande.

Die herinnering aan ‘n video-installasie deur die Amerikaanse kunstenaar Bill Viola onderbreek nou jou gedagtes: ‘n man stap op ‘n kronkelpaadjie in ‘n woud, al nader aan ‘n swembad. Hy gaan staan op ‘n duikplank, spring in die lug, vou sy arms om sy knieë. Voor die swemmer die wateroppervlak breek, vries hy, bly net daar in die lug hang. En dan – stádig – begin hy oplos, totdat hy verdwyn soos ‘n dampie mis. Net die woud en swembad bly agter.

Dan kom herinneringe aan alledaagse ruimtes wat uit jou eie lewe verdwyn het. Of waaruit jý verdwyn het. In jou gemoed verskyn jy nou weer waar jou teenwoordigheid so lank ondenkbaar gelyk het. In ‘n provinsiale biblioteek wat na songebakte boeke ruik, ‘n nou verdwene afdelingswinkel, ‘n parkie in ‘n vallei waar swaaie se kettings blinkgevat is. ‘n Skemer poskantoor. ‘n Skoolspeelgrond, geboue van rooi baksteen, klaskamers langs ‘n treinspoor. Jy ruik sement en ou marmer. Gras, yster, viniel.

1994 het, nodeloos om te sê, ‘n fundamentele breuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vergestalt, ‘n politieke oorgang wat iemand van jou eie generasie se kinderdae en jeug van jou volwasse jare afsny. Daar is ‘n voor en daar is ‘n ná. Die betekenisse wat mense heg aan die voor en die ná, hang natuurlik hoofsaaklik van ras af. Hoewel daar ook die mees desperate Suid-Afrikaners is wie se bestaan min of glad nie verander het nie. En oënskynlik nooit sal nie. Hulle nood is ‘n kontinuum: ononderbroke, onverpoosd.

Jy was self deel van die voor. Jy was in die vakuum, in die wit ruimte. As kind en jongmens het jy, sonder, om aanvanklik te begryp presies waarom, daardie stilte onverduurbaar gevind. Met inspanning, en so gou jy kon, het die lugleegte ontsnap. Jy was te jonk in die doodsnikjare van die vorige bestel om daadwerklik daarteen te protesteer. Maar of jy op konkrete of effektiewe manier polities betrokke sou geraak het, selfs al was jy vroeër gebore, is ‘n ope vraag. Dalk sou jy die taal van die soort politiek wat die brutaliteit teengestaan het, eweneens vervreemdend gevind het.

Hoe dit ook al sy: jy was daar, en nou is jy hier. En nou kan jy, met die gerief van terugskoue, en met die bevoorregting van opvoeding, oor kulturele produksie in Afrikaans in die vakuumjare nadink. Apartheid-Suid-Afrika was ‘n ongenaakbare plek, maar wat kultuurgoedere betref, was dit nie Hitler se Duitsland of Stalin se Rusland nie. Skrywers was nie byvoorbeeld onder druk om iets soos anti-Semitiese propaganda of Sowjet-produksieromans te skryf nie. Dit is seker so dat die uitbeelding van ‘n plattelandse bestaan in plaasromans dikwels behels het dat swart karakters – amper altyd plaaswerkers – uit die prentjie moes verdwyn of net aan die rande kon figureer. En, ja, soos politieke onrus toegeneem het, het party Afrikaanse skrywers veilig gespeel en van politieke temas weggeskram. Oorhoofs was teenkanting teen apartheidsbeleid egter kenbaar in die werk van die meeste Afrikaanse skrywers, hetsy wit of bruin. Die risiko’s wat skryf oor politieke temas in Suid-Afrika tydens apartheid meegebring het, is deeglik gedokumenteer. Sensuur was aan die orde van die dag; dit het die kultuursfeer misvorm en die skrywersverbeelding aan bande gelê, of probeer lê. En waar sommige skrywers versigtig getrap het, het ander skromeloos ingeduiwel. Die dapperes het, hoewel hulle soms die onwelkome aandag van die Suid-Afrikaanse owerhede getrek het, ook die grootste hoeveelheid internasionale intellektuele kapitaal opgebou. Hoe minder versigtig ‘n mens was, hoe groter het die risiko’s in Suid-Afrika geword, en hoe groter was die loon elders. Maar watter politieke sentimente ‘n skrywer se werk ook al vertoon het, was jou lesersgehoor, as jy in Afrikaans geskryf het, noodwendig beperk tot ‘n klein streeksgehoor. Tensy mens tevrede was met net die lesers in jou onmiddellike omgewing, moes mens in Engels vertaal word, of in beide Afrikaans en Engels skryf.

In die 1970’s en ’80’s is daar toenemend van Suid-Afrikaanse skrywers – en dit geld skrywers in Engels sowel as Afrikaans – verwag om bepaalde gebare te maak ten einde buite Suid-Afrika as ernstige skrywers beskou te word. Die gedagte dat sulke gebare van ‘n mens “verwag” is, beteken natuurlik nie dat skrywers, veral swart skrywers, hulle nie gebónde gevoel het om oor brandende politieke kwessies te skryf nie. Of dat werk wat in diens van die politieke ideale van die tyd geskryf is, nie ten diepste gevóél is nie. Skrywers het dikwels geen ander keuse gehad, beide moreel en psigies gesproke, as om hul stem te laat hoor nie.

Ironies genoeg het die idee van polities betrokke skryfwerk vanaf die 1960’s elders in die wêreld veld begin verloor. Veral met die opkoms van deurpriemende ondersoekende joernalistiek en ander nuwe forums vir politieke deelname, en soos die boek stadig haar kultureel sentrale posisie begin verloor het en visuele kultuur begin oorheers het, het die idee van die skrywer as unieke voorbrandmaker vir demokrasie en bevryding outyds begin raak. Daarby het liberale demokrasie, en die gepaardgaande individuele regte en vryhede, ten minste in die Westerse wêreld, al stewiger ingebed geraak. Die potensiaal vir skrywers uit enige tydvak om ‘n politieke impak te maak is natuurlik in elk geval debatteerbaar. Of daar al ooit ‘n boek was wat ‘n politieke stelsel verander het, is ‘n goeie vraag, en een wat buite die bestek van hierdie lesing lê. Maar as ‘n mens aanneem dat letterkunde in sekere stadiums van die wêreldgeskiedenis, en in sekere gemeenskappe en kulturele kontekste, deel kon word van ‘n koor van protes wat op onsigbare wyse gemoedere verander of voorberei op ‘n nuwe stel politieke waardes, dan speel fiksie seker tog ‘n spesiale soort sosiopolitieke rol.

In Suid-Afrika was die neiging dus die teenoorgestelde as in die Westerse wêreld, hoofsaaklik omdat Suid-Afrika polities op ‘n geheel ander trajek was. In die laaste dekades van apartheid was die sensibiliteite van modernisme, of formele eksperimentering, op enkele uitsonderings na, nie hoog op die literêre agenda nie. Polities-gelaaide skryfwerk was besig om alle ander skryfmodusse uit die arena te verdryf, en ‘n skrywer se politieke kleure moes duidelik uit die teks blyk. As jy ‘n wit Afrikaanse skrywer was, en dus ‘n vermeende broeder of suster van die magshebbers, was jy uit die staanspoor verdag. Jou politieke gebare moes sterker wees, en valke-oë was op jou gerig. As jy ‘n kans wou staan om agterdog in die internasionale sfeer te oorkom, sou jy jouself inderdaad polities moes bewys in ‘n soort rituele selfreiniging. Dit was amper die enigste modus van skrywerlike ingesprektreding met die wyer wêreld.

Daardie tye is verby. Wat het intussen met kulturele produksie in Afrikaans gebeur? Wat volg nou? Wat is voortaan moontlik op papier? Hoe integreer mens die geamputeerde absurde verlede met die absurde hede? En hoe reageer mens op die troebel en gefragmenteerde nuwe sosiopolitieke landskap?

Ná ‘n soort wittebrood waartydens daar ‘n dekade-en-‘n half lank hoop was dat ware, diep verandering moontlik is – of, as mens sinies wil wees, waartydens fantasieë van Suid-Afrikaanse eksepsionalisme ‘n irrasionele optimisme laat opstuwe het – leef Suid-Afrikaners nou in ‘n nuwe soort vakuum. In ‘n neobrutale ruimte waarin ongelykheid en armoede steeds – of veral – seëvier, en met ‘n regering wat so lamgelê is deur gierigheid en magsug dat hulle nie die politieke wil of vermoë het om iets daadwerklik hieraan te verander nie. Die mag van ons huidige heersers is die soort wat die morele en etiese sfeer – al weer – ontruim het. ‘n Mens het ná 1994 gehoop op ‘n werklik nuwe stel waardes, ware omvorming. In jou mees optimistiese oomblikke het jy gedink vroulike en queerwaardes sou selfs die nuwe Suid-Afrikaanse werklikheid kon help daarstel. Dit was naïef, besef jy by terugskoue, om nie te verwag dat die patologie van die eertydse meesters die nuwe meesters se DNS sou penetreer en vervorm nie. In ‘n postkoloniale bestel is so ‘n verskynsel nie ongewoon nie. Suid-Afrika, het mens gereken, is om een of ander rede anders. Maar nee, een soort brutaliteit word geleidelik vervang deur ‘n ander soort, amper so kil, dog meer gesofistikeerd, sterker in aanraking met 21ste-eeuse neigings tot blinde materialistiese vraatsug en ekstreme nepotistiese kapitalisme. Dis die soort mag wat fundamenteel koudgelaat word deur die lot en lyding van individuele burgers. Wat blind en onverskillig staan teenoor verwoestende armoede, wat staatsfondse koelbloedig plunder. Jy woon, begryp jy, in ‘n land wat skynbaar brutaliteit in sy gene het. In ‘n soort tydsprong, asof in ‘n wetenskapsfiksiefilm, is mens terug in ‘n vakuum.

Dis ‘n plek van ongemaklike, onnatuurlike stilte, hierdie ruimte, waar fragmente historiese rommel warrel. Die radioaktiewe afval van misbruikte mag vergiftig die lug. Gewone burgers is lugtig om die oopte as protesruimte op te eis. Daar is ‘n heersende diskoers wat jou, met jou wit vel, ten diepste laat twyfel of jy die openbare plein mag betree. Selfs nou, op hierdie oomblik, wonder jy of jy mag praat oor jou huiwering as sodanig. En jy sou inderdaad niks gesê het as dit nie vir die spesifieke verpligting was om by hierdie geleentheid te praat nie. Dit sou verkeerd wees om te sê mens begin om amper so ontuis te voel as in mens se jeug, hier aan die rand van die geskroeide veld. Dis eenvoudig nie waar nie. Maar dat ‘n nuwe soort vervreemding begin intree, of iets wat nie soveel anders voel as die ou soort vervreemding nie, is onontkenbaar.

So, nogmaals, wat doen mens nou? En juis in Afrikaans? Watter soort reaksie kan jy hê as iemand wat skryf, en dit – God weet presies hoekom – in Afrikaans wil doen, te midde van die kakofoniese en oorwegend irrasionele politieke diskoers rondom die taal, en terwyl Afrikaans onlangs op abrupte en antidemokratiese wyse die nekslag toegedien is as akademiese taal? En hoe doen jy dit, daarby, in die lig van jou huiwerige en afstandelike begrip van hierdie plek, hierdie land? En in die lig van jou knaende buitestanderskap, hier sowel as in die noordelike halfrond waar jy die meeste van jou volwasse lewe deurgebring het? ‘n Mens is natuurlik nie spesiaal omdat jy in Afrikaans skryf nie. Jy is nie op een of ander manier uitverkore nie. Skrywers in verskéie tale – veral minderheidstale – in Suid-Afrika, en ook elders in die wêreld, word met hierdie soort vrae gekonfronteer, en, soos in Afrikaans, is daar telkens ‘n spesifieke taalgeskiedenis en -politiek om mee rekening te hou in mens se skryfhandelinge. ‘n Mens kan byvoorbeeld skaars begin om die groter probleem van die historiese en voortdurende verwaarlosing van swart Suid-Afrikaanse tale aan te sny.

Die beginpunt, vir ‘n Afrikaanse skrywer, is om te aanvaar dat jy jou aan die uiterste rande bevind. Op die rande ván die rande. Jy skryf aan die suidelike rand van die wêreld, in ‘n klein streekstaal wat onder massiewe politieke druk verkeer. Vir gerief, terugkykendheid of selftevredenheid is daar nie plek nie. Net as jy dít terdeë begryp, kan jy begin uitpluis hoe om in hierdie tydsgreep in Afrikaans te skryf. In die wêreld van openbare literêre gesprek is mens as Afrikaanse skrywer noodwendig oral buite die tent. By internasionale boekefeeste, hetsy in Brittanje of die VSA, is jy altyd die buitestander. In die noordelike halfrond is jy die skrywer van die suidpunt van Afrika, en jy skryf in ‘n koddige taal wat die meeste van jou medeskrywers moeilik kultureel kan plaas, behalwe dat hulle dit dikwels nog vaagweg met apartheid assosieer – klinkklare bewys van die sukses van die Nasionale Party se propagandaveldtog om Afrikaans as ‘n wit taal voor te hou. By Suid-Afrikaanse boekefeeste word jy vinnig gestereotipeer. Jy verstaan instinktief – of matig jou aan om te dink jy verstaan – die beswaar van swart Suid-Afrikaanse skrywers dat daar voortdurend deur ‘n etniese bril na hulle en hul werk gekyk word. As mens wit is en in Afrikaans skryf, gebeur dit op sekere maniere ook. Jou werk kan nie, vanuit die perspektief van sommige wit Engelssprekende Suid-Afrikaanse kritici, sê maar ‘n projek wees wat die moontlikheid of onmoontlikheid van postnasionale bestaan ondersoek nie. Nee, dit kan alleen maar gelees word as fiksie wat kwansuis die stand van kollektiewe Afrikanerpsigologie weerspieël. Dit gaan, volgens sulke lesers, noodwendig oor iets soos “Afrikanerskap in ‘n veranderde Suid-Afrikaanse konteks”. ‘n Hardkoppige parogiale blindheid vir die breër strominge van letterkunde binne die konteks van globalisering en denasionalisering, en die moontlikheid dat Afrikaanse tekste eerder dáárby aansluit, is kenbaar.

Maar as mens in ‘n soort klaagtoon wil praat oor die atmosfeer waarin jy probeer skryf, vergelyk dit nog nie naastenby met die posisie waarin ‘n werklik jong persoon – iemand wat, sê maar, 30 jaar oud is – wat nou in Afrikaans sou wou skryf, haar sou bevind nie. So iemand sou moes rekening hou met ‘n verswelgende teenstroom: die sosiale ruimte vir ernstige kulturele produksie atrofieer teen ‘n onthutsende pas; noemenswaardige institusionele ondersteuning ontbreek (die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs synde ‘n seldsame uitsondering); Afrikaans krimp as studieveld; vanuit regeringsweë is daar skaars belangstelling in of ondersteuning vir literêre fiksie of die vestiging van ‘n leeskultuur. Daar is voorts die feit dat visuele- en sosiale-media-kultuur wêreldwyd die boek aan’t verplaas is. En dan praat jy nie eens van hoe radikale kapitalisme, in sy verwronge en perverse Suid-Afrikaanse inkarnasie, die kultuursfeer verrinneweer nie. Alleenlik koestering, deur beide die gemeenskap en die staat, kan literêre produksie laat oorleef, by uitstek in minderheidstale. En in Suid-Afrika word minderheidstale en die ernstige kulturele domein nie net verwaarloos nie, maar dikwels aktief ondermyn.

Hoe vergelyk die posisie van die putatiewe 30-jarige skrywer in Afrikaans dan met dié van ‘n generasie of twee gelede? Ironies was selfs – of veral – die mees polities afvallige Afrikaanse skrywers van sulke vorige generasies in ‘n hoogs voordelige posisie – nie net weens die magsposisie van die Afrikaanse kultuurwêreld binne apartheid-era-Suid-Afrika nie, maar ook weens die internasionale voertuig wat skrywers se anti-apartheidsposisies hul gebied het. Daar was inderdaad ‘n dubbele soort bevoordeling. Afrikaanse protesskrywers was beide binne- en buitefigure. Enersyds was hulle verbind met die land, en met die Afrikaanse wêreld waaroor hulle so dubbelsinnig gevoel het. Andersyds het hulle in opposisie gestaan. En die een pool kon nie regtig sonder die ander nie. Sommige skrywers het hul lieflingsrol meer effektief afgesweer as ander, maar dit was moontlik om ‘n afvallige skrywer sowel as ‘n Afrikanerliefling wees, met al die gepaardgaande ondersteuningsbronne. Heelwat afvallige Afrikaanse skrywers kon byvoorbeeld ‘n institusionele tuiste binne die Suid-Afrikaanse akademiese sfeer vind. Afrikaans kon dit nooit regtig oor die hart kry om sy dwarse kinders uit die huis te smyt nie. Daar was altyd annekse, of ten minste gerieflike buitekamers, wat betrek kon word.

Dink nou aan hoe radikaal dit verskil van die situasie waarin die jong aspirerende Afrikaanse skrywer haar vandag bevind. Dink hoe beperk die moontlikhede is, hoe onwaarskynlik – ondénkbaar – die idee van ‘n loopbaan as Afrikaanse skrywer moet lyk. Dink hoeveel dapperheid, vindingrykheid en deursettingsvermoë – of verbetenheid – dit sou verg om ‘n sinvolle skrywerlike soloroete deur die nuwe brutaliteit oop te kerf. En dan praat jy nie eens van die kwessie van hoe so iemand ‘n lewe sou kon maak nie. En miskien is dit ook om hierdie rede dat mens soms die gevoel kry van party literêre kommentators – en wel ook bínne die Afrikaanse sfeer – dat die Afrikaanse literêre korpus nou min of meer geslote is, afgehandel. Dat dit versteen het. Dat hulle nie noodwendig veel van die toekoms verwag nie.

Daar is helaas ‘n paar voorbeelde, in die afgelope 20 jaar, van skrywerlike reaksies wat geen roete oopkerf nie, maar liefs retireer. Daar is sekere soorte nostalgiese reaksies. Amper soos sogenaamde Ostalgie in Duitsland. Die ongeproblematiseerde “ons was nie almal so nie”. Of “daar was darem mooi dinge ook”. Plattelandse of terugkykende gemoedelikheid, selfs die bestendiging van 19de-eeuse landelike fantasieë. Of, God behoede ons, manipulerende stories wat onderwerpe soos kindermolestering as tema neem. Dan, gelukkig, was daar ook manjifieke literêre hoogtepunte in Afrikaans. Romans wat in vars taal en met verblindende perspektiewe grense deurbars. Wat formeel en tematies onthuts. Wat ‘n mens bly maak.

Wat van Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde? Daar was eweneens, in die afgelope 20 jaar of wat, ‘n klomp verblydende literêre hoogtepunte en ‘n aantal onthutsende nuwe skrywers. Maar daar was ook, benewens die speur- en gruwel- en wetenskapsfiksie wat, soos in Afrikaans, hoofsaaklik met die oog op tantieme geskryf word, ‘n paar vals nostalgiese note, werk wat fokus op wit kinderdae onder apartheid, tipies met ‘n kinderprotagonis wat ‘n instink vir onreg vertoon wat by die grootmense skeel. Dikwels is daar dan ‘n wrede Afrikanerantagonis of twee, en soms ‘n edel Zoeloeman of ‘n wyse Afrikamoederfiguur wat die fantasie voed van die goedige swart mens wat in diens staan van ‘n sensitiewe wit kind se inisiasie. Nogmaals ‘n soort “ons is nie almal so nie”-scenario, hoewel weliswaar in toenemend gesofistikeerde gedaante. Dan was daar die uitgewekenes se romans, stories van weggaan en terugkeer, die wit opgevoede klasse wat in die noordelike halfrond gaan woon en net terugkom om van sterwende moeders en vaders afskeid te neem. (Aan die pleging van laasgenoemde genre, moet jy dadelik sê, is jy self ook skuldig.) Daar blyk selde uit hierdie soorte werk, met hul ontruimde kinderplekke waaroor wit skrywers so ambivalent voel, ‘n ware begrip van hoe onambivalent mense aan die ander kant van die rasseskeidslyn oor die verontmenslikte stelsel van rasse-uitsluiting en -onderdrukking gevoel het. Dit tas die wrewel en woede en verontwaardiging dikwels mis. En dit trek die aandag af van voortdurende en verergerende ekonomiese ongelykheid.

Maar is die gevoel onder swart Suid-Afrikaners wat nie vrygeborenes is nie, werklik so ondubbelsinnig?

Een van die interessantste boeke wat in die postapartheid jare verskyn het, is Jacob Dlamini se Native nostalgia. Dlamini is ‘n Suid-Afrikaner, ‘n historikus by Yale. Die boek is van onsekere genre, ‘n soort memoire waarin die skrywer terugkeer na die township van sy kinderdae. Hy boekstaaf ‘n ouer generasie se gevoelens oor die verlede, en onthou ook self met deernis die vreugdes en verdriete van sy kindertyd tydens die apartheidsjare, sonder om toe te laat dat dit gekaap word deur die meesterverhaal van swart politieke bevryding. Dlamini se nostalgiese toe-eiening van ‘n verlede wat veronderstel is om ongeldig te wees, dit wil sê sy idee dat ‘n swart Suid-Afrikaner vreugde kon vind in sy kinderdae tydens apartheid, is radikaal en ondermynend. Sy nostalgie vergestalt ‘n weiering om menslike kompleksiteit en spesifiekheid te laat verplaas deur glansende politieke makronarratiewe. En ineens val soveel nuwe moontlike maniere om oor identiteit en ras en die geskiedenis en die toekoms in hierdie land te dink voor ‘n mens oop.

Hoe mag jy, teen hierdie agtergrond, jou eie verlede, jou eie pre-1994 self, aanspreek? Goedkoop nostalgie verlei jou nie. Daar is nie by jou ‘n verlange om terug te keer na iets waarvan jy nooit deel kon word nie. En jy beplan nie om by die verlore stadsruimtes verby te tuur na grasvelde, louwarm klip en verkrummelende opstalle nie. Maar hoe oriënteer jy jou relatief tot die makliker toevlug van ántinostalgie? Om die blik eenvoudig af te wend en weg te draai is so suiwerend. Dog, iets hier laat dít ook nie toe nie. Hierdie land, waaraan jy met soveel verbetenheid ontsnap het, waar jy eens so vervreemd gevoel het, waarvan jy gevlug het en waarin jy jouself eers baie jare later weer gedompel het, wil jou dwing om al skrywende sin te maak van nie net allerlei nuwe soorte energie nie, maar ook daardie leë ruimtes op ‘n ou kaart. Wat het daarvan geword? Het jy dit self uitgewis? Was die kaart in potlood geskets, en sit jy verdwaas met ‘n uitveër in die hand?

Soos ‘n mantra keer jy terug na die vraag: Wat kan ‘n mens skryf? Net deur te skryf kan jy uitvind wat jy wil skryf, antwoord die gode. Jy het ‘n enkele verantwoordelikheid, naamlik teenoor die toekoms, die onbekende. Teenoor dit wat op papier wil verskyn. Dis soos om met ‘n yspik deur ‘n gletser te kap, gaan die hemelstemme voort. En ineens, wanneer jy dit die minste verwag, breek jy deur die ys. Daar is ‘n oomblik van swyging. Onthulling, swymeling. En dan, kortstondig, vloeiendheid: die pen begin sy eie patrone maak op die papier.

En iewers tussen voorwaardelike nostalgie en radikale antinostalgie kom jy te lande. Dit gaan, vermoed jy terwyl jy die pen volg, oor hoe jy aan die beklemming en brutaliteit van hierdie plek, hierdie land met sy gapinge en diskontinuïteite, kan ontsnap, maar juis in en déúr Afrikaans, en met die noodwendige verrekening van die verlore wêreld wat in die taal self opgesluit is. Hoe kan jy deur hierdie talige lens met die res van die wêreld – met die wyer geskiedenis en met kosmopolitaanse bestaansmoontlikhede – in gesprek tree? Of anders gestel: Wat is die internasionale potensiaal van skryfwerk wat in Afrikaans ontstaan? As jy Suid-Afrika nie werklik ken nie, dit nooit regtig geken het nie, as dit voel of dit ‘n potensieel skadelike intensiteit van verbeelding verg om die Suid-Afrikaanse kaarte se oop kolle met genoeg besonderhede te probeer invul, lyk die bekender topografie elders na ‘n toevlug, en lok nuwe velde van moontlikheid.

Jy bring dus vlugtige besoeke aan die lugleegtes, maar meestal wend jou pen sigself na plekke buite die vakuum, plekke wat jy gladder kan verbeel, instinktief beter verstaan. En dan, nog verder anderkant die horison, wink plekloosheid, en iets soos táálloosheid. Daar is, blyk dit, maniere om róndom Suid-Afrika te skryf, met die land as ‘n prominente afwesigheid in die kern. Die voorwaarde is dat jy die idee van Suid-Afrika as ‘n 19de-eeuse soort Heimat afsweer, die gedagte dat Suid-Afrika ‘n tuiste is soos geen ander nie. Teen daardie konstruk smyt mens in die lieflike ontwrigting, die hindernisse, vreugdes en verdriet van die lewe in kosmopolitaanse stede, en idees rondom wortelloosheid en hibriditeit – ook al is dit ‘n hibriditeit wat so kompleks kan raak dat dit identiteit met disintegrasie bedreig. Hoe onmoontlik dringend voel dit nie, en hoe dryf dit die pen voort, hierdie gelyktydige soeke na en afwysing van tuiste.

Hierdie benadering is skaars oorspronklik of uniek, veral buite Suid-Afrika. Baie skrywers is immers vandag globaal in hul lees- en reisgewoontes en invloede. En dikwels ook in terme van hul temas en ruimtes. Dis nie so ongewoon vir skrywers om in ‘n taal te skryf wat nie hul grootwordtaal is nie, of in lande te woon waar hulle nie gebore is nie.

Vir letterkunde om sogenaamd globaal of internasionaal, te wees, hoef dit natuurlik nie in wêreldstede af te speel, of in ‘n reeks vinnig verwisselende plekke nie. Van die mees universeel geliefde, mees vertaalde en mees durende letterkunde is juis sterk ingebed in een plek. En heel dikwels in ‘n afgeleë of provinsiale plek. En daar is eweneens oorgenoeg voorbeelde van bourgeois middelklasletterkunde wat in wêreldstede afspeel.

Jy het verwys na plekloosheid as een soort literêre reaksie op ontruiming van ‘n politieke en kulturele landskap. Jy dink in hierdie opsig aan Kafka, Beckett en Borges. Die plekloosheid in hul werk het hulle op verskillende maniere bereik. Kafka was ‘n Duitssprekende Jood in Praag, ‘n man sonder ‘n land. As hy ‘n paar jaar langer gelewe het, sou hy saam met sy susters in ‘n konsentrasiekamp gesterf het. Wat Beckett betref: as jou karakters geluidlose pynkrete uiter in ‘n leë kamer of op ‘n naakte verhoog, het jy, soos een kommentator dit gestel het, nie dorp- of straatname nodig nie. En Borges? Hy het grootliks in Switserland en Engeland grootgeword. Teen die tyd dat hy na Argentinië terug is, was hy aan die blind word. Die Argentynse landskappe het hoogstens in vae kinderherinneringe voortgeleef. Die pleklose modernisme van Beckett en kie het weliswaar ook ‘n tyd ingelui toe lesers vervreem begin raak het van literêre prosa. Skrywers moes toenemend hul lesers wêreldwyd gaan soek, moes hul lesersgehoor lagie vir lagie in verskillende lande opbou.

Ook in die eietydse Kontinentale letterkunde is daar neigings tot ‘n lae graad van spesifiekheid wat ruimte betref. Ek dink aan die afstammelinge van Kafka – skrywers soos Knausgard, Handke, Houllebecq, Nooteboom – en die inkrimping van sosiale en geografiese ruimte tot die absolute minimum in hul werk. Wat vir hierdie skrywers in moderne Europa oorbly, is alleenlik psigiese ruimte.

Jy het ‘n nostalgies-analitiese argument probeer maak ten gunste van skryf oor plekke buite Afrikaans, dog ín Afrikaans. As jy die vraag “hóékom in Afrikaans?” egter deegliker sou deurdink, sou jy dalk ophou om in die taal te skryf. Die meeste argumente werk daarteen. Dis tog sekerlik ‘n perverse keuse om in Afrikaans te wil skryf oor ‘n wêreld wat groter is as Suid-Afrika, dit wil sê in ‘n klein minderheidstaal wat net hier gepraat word, wat in ‘n onmoontlike politieke posisie verkeer en net ’n handvol lesers oor het.

Miskien, om die argument oor taal en antinostalgie nou effe aan te pas, is die antwoord dat Afrikaans vir jou presies ewe ver van bekendheid en vreemdheid lê, en dat ‘n ontwrigtende energie tussen daardie pole vonk. Toe jy ‘n paar jaar gelede in Afrikaans begin skryf het, was jy ‘n vreemdeling vir die taal wat jy 16 jaar lank nie gepraat het nie. Die heraktivering van die dormante Afrikaans het ‘n oorformaliteit van register teweeggebring; iets daarvan bly steeds oor. Die intense hernude betrokkenheid by Afrikaans het dus ‘n ongemaklik nabyheid aan die taal sowel as ‘n vervreemding daarvan teweeggebring. Om in Afrikaans te skryf het die enorme afstand tussen jou skrywende self en hierdie nuwe-ou wêreld van Suid-Afrika ontbloot. Terselfdertyd het dit jou in ‘n koddige soort intimiteit met die halfbedolwe idiomatiek van die taal ingedwing. En een uitdaging was dan om die Afrikaans te laat buig rondom subkulturele kontekste, ruimtes of teksture wat mens dalk nie tradisioneel met Afrikaans sou assosieer nie, maar wat vir jóú bekender voel.

Om iets van die spanning tussen die pole te verstaan, moet jy verder teruggaan, die wisselwerking tussen taal, vertaling en emigrasie van nader probeer beskou. Die toestand van emigrant-wees (wat postnasionale identiteit dalk voorafgaan soos pidgin kreools voorafgaan) behels klaarblyklik ‘n konstante vertaling van die self vir die nuwe kulturele omgewing, en van daardie omgewing vir die self. As dit beteken dat die emigranteskrywer se ervaringe op die snypunt van verskeie vektore van kulturele vertaling gesetel is, en as hierdie ervaringe getematiseer word in sy werk, dan wil dit lyk asof die proses van vertaling deur die skrywer van sy eie teks daardie teks se temas laat uitspeel. En as die toestand van kulturele hibriditeit behels dat jou gedagtelewe konstant in ‘n proses van vertaling in verskeie rigtings verkeer, dan kan ‘n literêre werk wat uiting gee aan so ‘n gedagtelewe dalk geag word as een wat tússen tale bestaan, of wat gelyktydig in meerdere tale bestaan, eerder as in ‘n enkele taal. Of, overgeset synde: dalk lýk dit maar net of jy in Afrikaans skryf; dalk is die werklikheid veel ingewikkelder.

Soos vroeër genoem, het dit sedert die middel van die 20ste eeu al noodsaakliker geraak vir literêre skrywers om in verskillende tale te publiseer, en in verskillende wêrelddele. ‘n Mens word gedwing om jou lesers in ‘n verskeidenheid kontekste te vind, om jou gehoor in verskillende lande te akkumuleer. Die vraag is: Hoe affekteer dit wat jy skryf? In die 19de eeu het skrywers in die noordelike sentrums van koloniale mag hul werk op hul landsgenote gemik, selfs al het hulle geweet hul boeke sou ook elders in die wêreld sirkuleer. Die aanname was, soos een kommentator dit stel, dat skrywerlike uitings in ‘n “nation-sized room” gemaak word. Hierdie skrywers het hul nie genoop gevoel om rekening te hou met lesers in die kolonies – of selfs elders in die noordelike halfrond – nie. Skrywers uit die kolonies, daarenteen, was nog altyd deeglik bewus daarvan dat hulle hulle gelyktydig tot verskillende gehore rig. Daar was eenvoudig nooit genoeg lesers in hul eie lesersmarkte nie, en die roete na ‘n skryfloopbaan het noodwendig uitgewers in Londen of Parys behels. ‘n Senegalese skrywer sou byvoorbeeld baie bewus wees dat hy eweseer vir ‘n Kontinentaal-Franse as ‘n plaaslike gehoor skryf. Dit beteken dat skrywers in die kolonies toenemend sogenaamde ekstroverte instinkte moes aanleer. Dit wil sê, hul werk moes hul eie kulturele wêreld aan Westerse of noordelike gehore openbaar of verduidelik, en op maniere wat dit verteerbaar maak. Dit geld veral skrywers van die globale suide.

Jy is nie seker dat dit is wat jou eie werk doen nie, of ten minste, nie seker dat dit ekstrovert is in ‘n enkele rigting nie. Jy sou eerder reken dat die vektore van kulturele vertaling in jou werk in verskillende rigtings mik, ná sowel as vanáf verskillende kulturele wêrelde. Of, om dit anders te stel: dalk speel jou stories tússen – eerder as ín – plekke af.

Daar is uiteindelik baie oorwegings, ook op taalvlak, wat verder strek as Afrikaans, wat met groter vraagstukke te make het. Een daarvan is om mens te versit teen die aanslag van globale kapitalisme op taal. Die Suid-Afrikaans-gebore Britse skrywer Deborah Levy praat iewers van “the dead words of corporate culture” en oor hoe fiksie die teenvoeter is daarvoor. As iemand wat baie jare van jou lewe spandeer het in konferensiekamers waar internasionale transaksies onderhandel word, weet jy dadelik wat sy bedoel. Om fiksie te skryf, in watter taal ook al, kan ‘n desperate verweer wees teen die oorvloed van korporatiewe kommunikasie wat ons tye kenmerk – teen boodskappe uitgedruk met behulp van die skraal katalogus woorde en uitdrukkings waarmee die uitruilbare funksionarisse van die kommersiële wêreld met mekaar kommunikeer, of wat hulle gebruik om onnodige produkte aan verbruikers te verkoop. Die Anglo-Amerikaanse wêreld het ‘n obsessie begin ontwikkel met sogenaamde “plain English”. Ook in Suid-Afrika is die gemene deler nie alleen Engels nie, maar oorwegend ‘n leeggebloeide variant daarvan. ‘n Bleek, kadaweragtige dialek. Wit stedelike Anglo-Afrikaans voel eweneens lou en dooierig. Geradbraak. Kaapse Afrikaans is veel soepeler, met nodusse van lewenskragtigheid en kreatiwiteit, maar daartoe het jy nie direkte toegang as spreker nie. Die trajek van Xhosa of Zoeloe of Sotho kan jy helaas, tot jou spyt en skande, nie volg nie. In jou vorige lewe, as regspraktisyn in Anglo-Amerikaanse metropole, moes jy jare lank funksioneer tussen mense wat dikwels, hoewel hulle hoogs opgevoed is, maar net vaagweg geweet het van die bestaan van Afrikaans (of soms glad nie), wat onvertroud was met die taal wat hardnekkig onder jou eie vel bly pols het. In die huidige klimaat sal dit nie baie dekades wees voor dít ook die geval in hierdie land is nie.

Waaraan mens bly vashou, te midde van al die verwringende kragte, is die idee dat kuns maak – hetsy skryf of ander modusse – ‘n laaste manier van weiering is van alles wat kras en brutaal en onmenslik is, dat dit die laaste soort arbeid verteenwoordig wat onverminderbaar spesifiek is aan die individu. Die enigste manier om nog nee te sê.

Voorlopig, ten minste, hou jy dus verbete aan om die Groot Geheime déúr Afrikaans te probeer benader. Afrikaanse sinne hou halsstarrig in die holtes van jou beendere skuil. Hulle verander pal van vorm, probeer jou ontglip. Jou taak is om ‘n greep daarop te kry, om nuwe sonoriteite hoorbaar – of nuwe vibrasies voelbaar – te maak met ou woorde. Watter ander uitweg is daar? Jy pers die sinne moeisaam deur die breinlobbe, filtreer dit deur die skedel. Stadig styg die taalwolk bokant jou kroontjie. Dan wag jy in stilte vir die storm.

  • 5

Kommentaar

  • Dit verbaas my dat 'n outeur wat so 'n indrukwekkende skryfbeurs ontvang het, so onsamehangend en onnodig uitgerekte stuk skryf. Dit kon 'n beter stuk gewees het as hy die helfte van die ruimte gebruik het om een of twee punte meer duidelik uiteen te gesit het met argumente in pleks van byvoegike naamwoorde.

    • Avatar
      Marianne de Jong

      Dis 'n essay, nie 'n betoog wat op argumente staatmaak nie. Dit dink na terwyl dit praat en dit werk met assosiatiewe ruimte, soos 'n kreatiewe skrywer met ruimte sou werk.

  • Avatar
    Hannetjie Viljoen

    In 'n mate stem ek saam met die kommentaar hier bo!Ek het egter deurgeworstel en verstaan die probleme en uitdagings waarvoor die hedendaagse Afrikaanse skrywer te staan kom! Waaroor en vir wie moet hy in Afrikaans skryf?
    Ek hou niks van die sogenaamde speurverhale wat nou so in die mode is nie! Swak en voorspelbaar geskryf! Of erger al die verkragtes en gemolesteerders!

  • Avatar
    Herman Lategan

    Hierdie is 'n uitstekende stuk. Die tipe essay wat in die New Yorker sou kon verskyn. Well done. Nog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top