’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

  • 1

Lees Willem Anker, op die oomblik beurshouer van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, se gedenklesing na aanleiding van dié beurs. 

As deel van my navorsing vir ’n roman oor die legendariese trekboer en vrybuiter Coenraad de Buys het ek op reise gegaan op die spoor van hierdie ontwykende karakter. Ek het gaan loop waar hy sou geloop het, gesien hoe die miershope in Botswana anders lyk as die miershope duskant die grens. Die tekstuele navorsing kon my voorsien van die karige feite, maar al het ek hoeveel gelees, het Buys bly swyg oor homself. Dit was asof ek hom beter verstaan het by die Boesmantekeninge op die plaas van sy kinderjare, of tydens ’n donderstorm op pad na Graaff-Reinet, as in die biblioteek. Ek was seker ek verbeel my – ek is geen mistikus nie en praat slegs met mense wat ek kan sien. Maar met elke reis het hierdie gevoel verskerp. Toe ek gaan oplees hieroor, sien ek dat menige skrywer hierdie ervaring deel.

Op ’n webblad oor historiese fiksie skryf die populêre romansier Stephanie Cowell1 juis oor hierdie verskynsel. Dit het haar ook opgeval hoeveel skrywers praat van oomblikke van verbintenis met hul historiese karakters tydens besoeke aan die plekke waar die figure eens sou geleef het. Sy verwys na ’n paar skrywers se ervarings; ek haal net twee aan ter illustrasie.

Susan Vreeland sê:

There’s nothing like walking where your character walked to discover uneven pavements, mosquitoes, river stench, the smell of plaster frescoes and old wood in a convent. For [my previous novel] I climbed the 400 steps of Giotto’s bell tower in Florence not only to see what my characters would have seen (which I had imagined incorrectly), but to be able to describe the steps.

Judith Lindbergh is miskien die mees esoteriese:

For me, it’s more than simply breathing life into the dry facts of history books. It’s trying to slip back into another time. […] From dusty stone ruins, the spirits of those who once enlivened them begin to emerge. I try to listen for those spirits, to let them enter my body and my mind.

 

Ek wil graag die geleentheid gebruik om hierdie verskynsel op ’n kritiese wyse te ondersoek. Ek volg ’n idiosinkratiese roete wat uiteenlopende velde betrek, soos biologie, antropologie, argeologie, fenomenologie, transendentale materialisme en literêre teorie. Luister asseblief hierna as die verkenning van ’n leek wat vir u die spore wil wys van sy eie soektog, sy vrae met u wil deel in die hoop dat dit iets kan beteken vir skrywers en lesers op soek na historiese karakters. Om mee te begin is dit duidelik uit die bostaande aanhalings dat dit hier gaan oor ’n ervaring van tyd wat nie strook met die moderne begrip van geskiedenis as iets voorstuwend en onagterhaalbaar nie.

In Filosofie van het landschap (1970) skryf Ton Lemaire2 dat die Weste vanaf die 15de eeu sigself toenemend ontheg het van die mitiese tradisie van die sikliese historiese bewussyn. So het die geskiedeniswetenskap ontstaan. Die individu en die geskiedenis word in dieselfde beweging gebore. Pas in die 18de en 19de eeu word hierdie mitiese tydsbegrip deurbreek met ’n dinamiese tydsbegrip. Die idee van vooruitgang, evolusieleer, marxisme en die leringe van ander sosiale profete voltooi die dinamiese tydsbegrip van die Christendom deur dit te ontheilig. Tog bly die verlede in die hedendaagse, onmiddellik waarneembare landskap aanwesig in die bouvalle, die ruïnes, die grotte. Dat spoke dwaal in ons ruïnes, sê Lemaire,3 beteken dat ons geheue deur onbedwonge herinneringe besoek word. Dit is asof die romantiese bewussyn die ervaring van die volstrekte tyd en die volstrekte verganklikheid nie kan verdra nie en eerder in die leë gesig van ’n spook kyk as in die absolute leegheid van tyd. Ons soek altyd na die mitiese skuilhoeke in die amptelike geografie en die amptelike geskiedenis.4 Alles in ons vra dat die natuur ons nie ontken nie, maar steeds herberg. Reeds in ons jeug begin die subtiele, wedersydse deurdringing van mens en landskap waardeur ons ’n gedeelte van ons wese aan die landskap toevertrou. Ons “eie ek” is in alle dinge enigsins aanwesig, maar in sommige plekke meer as op andere.5 Dit lyk dus of die lineariteit van die moderne geskiedbeskouing gekonfronteer word met allerhande teenkragte, psigiese behoeftes van die mens wat ten alle koste die samehang van die tye wil hervind en herstig. Hierdie behoeftes het blykbaar met ons natuur te make, en met die natuur as die ewige dravlak of omgewing waaruit die menslike geskiedenis hom in sy snelle digte skuimende voue ontvou. Maar daar is nog meer agter hierdie gewig van die natuur wat onderaan die geskiedenis hang.

In sy Washed with Sun, Landscape and the Making of White South Africa ondersoek Jeremy Foster6 hierdie persoonlike reaksies op landskap. Hoekom voel dit soms of die landskap ’n bepaalde stemming of eie karakter het? Hoekom lyk dit of die landskap, op ’n ongewoon direkte en woordlose wyse, iets soortgelyks aan ’n verskeidenheid mense kommunikeer? Foster7 sê die landskap as ’n karakter is reeds te vinde in die klassieke genius loci, die beskermgeeste of gode van plekke. Die genius loci was die versinnebeelding van die idee dat sekere plekke ’n lewende teenwoordigheid beliggaam. Dit is dus ’n verpersoonliking van die voortdurende vraag of die verhouding tussen die waarnemende subjek en die waargenome objek méér impliseer as dat eersgenoemde laasgenoemde bloot ontvang. Die affektiewe gevoelens wat landskap teweegbring, is nie ’n bewys van enige essensie in die objek nie. Dit is eerder ’n gevolg van ’n prerefleksiewe, lyflik-mimetiese herkenning van lewe in sy materiële samestelling. Hier is vir Foster sprake van ’n deelnemende, liggaamlike vorm van subjektiwiteit, ’n verstrengeling van liggaam-subjek en topografie.

Volgens Foster8 is die postulering van die onwillekeurige, deelnemende liggaamlike verbeelding as ’n konstitutiewe faktor in die konstruksie van kulturele identiteit, nie beduidend op enige determinisme nie. Dit erken bloot die meerlagige wyse waarop geografiese ruimte en plek geapproprieer en verstaan word. Dit wys op die volle, onvertaalbare rykheid van enige individu se ervaring van die materiële wêreld. Beskrywings en interpretasies van plek kan meestal juis gelees word as onbewustelike interpretasies van onsself. Foster se ondersoek gaan dus oor hoe die landskap bydra tot selfidentifikasie; maar kan hierdie sogenaamde deelnemende liggaamlike verbeelding ook aangewend word vir ’n empatiese invoeling van identifikasie met ’n historiese karakter as die figuur se leefwêreld besoek word?

Miskien is dit nuttig om nou reeds vlugtig te kyk hoe landskap figureer in enkele uitbeeldings van ’n legendariese outlaw – Billy the Kid. Kyk maar enige dokumentêr9 wat die historiese William Henry McCarty, Jr naspeur en benewens die paar verbleikte foto’s van hom, ’n paar ander kennisse en kroeë wat oor sy lewenspad gekom het, en die tronk waaruit hy ontsnap het, is die meeste van die bronmateriaal wat die filmmakers gebruik, lang sekwense van die kamera wat oor die genadelose landskap van Nieu-Mexiko dool.

In Borges se A Universal History of Iniquity (1935) vind ons die kortverhaal “The Disinterested Killer Bill Harrigan”10, wat die lewensverhaal van Billy the Kid in vier bladsye vertel. Die verhaal beslaan 1 477 woorde, waarvan 487 beskrywings is van die landskap en plekke, New Yorkse agterstrate, teaters, kroeë en veral die woestyn waarin en waardeur Billy sou geleef het. Die storie is ’n reeks flitse uit die legende se lewe – min daarvan histories korrek – selfs die naam Bill Harrigan is bloot een van McCarty se skuilname. Soos Borges11 sê in die voorwoord tot die eerste uitgawe van die bundel: “The stories are not, nor do they attempt to be, psychological.” In ’n latere voorwoord gaan hy voort:

The learned doctors of the Great Vehicle teach us that the essential characteristic of the universe is emptiness. They are certainly correct with respect to the tiny part of the universe that is this book. Gallows and pirates fill its pages, and that word iniquity strikes awe in its title, but under all the storm and lightning, there is nothing. It is all just appearance, a surface of images.12

Hy wys die storm en die weerlig van Billy se lewe, hy wys die oppervlak van beelde, deur die plekke en die landskap te skets waarbinne die legende beweeg het. Die geskiedkundige feite is minder belangrik as die wolhaarstories en die uitsig. Om die eerste sin van die verhaal aan te haal: “The image of the lands of Arizona, before any other image – Arizona and New Mexico.”13

Die filmregisseur Sam Peckinpah se klassieke Pat Garrett and Billy the Kid (1973) open met die bruin landskap van Nieu-Mexiko. Weer eens meld die landskap voor die karakter aan. Wanneer die titel van die film ná sewe-en-‘n-half minute verskyn, is dit teen die agtergrond van ’n foto van twee wasige ruiters, skaars te onderskei van die halfwoestyn. Die kamera beweeg links. Die ruiters verdwyn uit die raam. Net die landskap bly.

Op die eerste bladsy van Michael Ondaatje se bundel The Collected Works of Billy the Kid (1970),14 ’n kubistiese, digterlike vertelling van die Kid se lewe, vind die leser ’n groot leë raam; onderaan die volgende aanhaling deur die bekende Wilde Weste-fotograaf LA Huffman:

I send you a picture of Billy […]. I am making daily experiments now and find I am able to take passing horses at a lively trot square across the line of fire – bits of snow in the air – spokes well defined – some blur on top of wheel but sharp in the main – […] please notice when you get the specimens that they were made with the lens wide open and many of the best exposed when my horse was in motion.

Ondaatje gebruik die leë, fotolose raam en die ironiese aanhaling van Huffman as metafoor vir die skrywerlike onvermoë om ’n beeld van Billy – ’n teenstrydige subjek wat voortdurend beweeg en verander – vas te vang.15 Soos Huffman se foto’s van bewegende voorwerpe steeds “some blur” vertoon, so kan die skrywer-as-historiograaf ook nie met ’n goeie gewete ’n suiwer en helder beeld van die historiese Billy herskep nie.16 Dit is die skrywer se taak om die leë raam in te vul.17 McCarty het self sy naam, Billy the Kid, gekies. Die naam is ’n leë, buigsame plekhouer wat keer op keer op nuwe wyses gevul word. In sy boek Inventing Billy the Kid (1982) beweer Stephen Tatum18 dat daar tans veel meer as 800 verwerkings van die Kid-verhaal is, insluitend ’n ballet. Ondaatje vul Billy se raam met ’n poëtiese en aangrypende innerlikheid. Sy historiese Billy bly egter doelbewus gefragmenteerd, teenstrydig en uiteindelik onkenbaar. Selfs die pastiche-vorm van die bundel weerspieël die onmerkbaarheid en ontasbaarheid van die historiese McCarty.

Waar historiese karakters ontglippend is, gebruik skrywers dus dikwels ’n wye lens, lê die fokus op die panoramiese agtergrond. Die onbeweeglike landskap bly in fokus, maar die ratse historiese figuur is ’n dowwe klad. Maar wat presies is die verhouding tussen so ’n karakter en die landskap waarbinne hy figureer?

’n Mens sou onmiddellik kon vra of mense – en hierby sluit ek historiese karakters in – in ’n mate gevorm word deur die landskap waarbinne hulle leef en waarteen hulle geskets word. In die 1970’s sê die kritikus Marjorie Barnard19 byvoorbeeld: “If you would read history, and most particularly Australian history, study your atlas, for in the long run geography maketh man.” Sy praat van ’n nuwe, plaaslike individuele identiteit wat ontspring vanuit die landskap self: “[T]he bush asks other qualities of men than does the English countryside.”

Hierdie siening, dat die landskap ’n spesifieke tipe individu voortbring, is heel verleidelik, maar oorvereenvoudigend. In 1998 berig die New York Times20 byvoorbeeld hoe twee mans in Suidoos-Utah ’n polisieman dood, drie sheriffs verwond en voor 500 wetstoepassers vlug, in die presiese spore waar Butch Cassidy en die Sundance Kid meer as ’n eeu tevore ook voor die wet gevlug het. Al die polisie se moderne tegnologie ten spyt, verdwyn die twee voëlvrye boorlinge van Utah in die woestyn soos hulle legendariese voorgangers. Dit is interessant om op te let hoe hierdie Utah-landskap herhaaldelik die speelveld word vir soortgelyke stories – fiktief soos in die 1912-Western Riders of the Purple Sage en die film Thelma en Louise (1991); legendaries soos Butch Cassidy en kie; en ook selfs ware verhale, soos die onlangse geval. Dit wil byna lyk of die verhale van legendes soos dié van Butch Cassidy spore laat in die landskap en dat ander verhale en selfs werklike mense in hierdie spore volg. In biologie vind ons byvoorbeeld die term stigmergie (stigmergy). ’n Voorbeeld hiervan is hoe miere, wanneer hulle op ’n bepaalde plek kos gevind het, feromone agterlaat op hul pad terug nes toe. So ontwikkel ’n komplekse netwerk van spore wat die nes op die mees doeltreffende wyse verbind met nabye voedselbronne. Wanneer hulle dan die nes verlaat op soek na kos, word hulle deur die feromone gestimuleer om die pad van die voriges te volg. Die netwerk van feromoon-spore funksioneer as ’n gedeelde, eksterne geheue van die mierkolonie. Stigmergie is dus ’n vorm van selforganisering wat komplekse, blykbaar intelligente strukture produseer sonder enige beplanning, beheer, of selfs direkte kommunikasie tussen die agente.21

My hipotese is dat die spore van legendes wel op ’n bepaalde wyse gevind kan word in die veld, maar om sonder meer aan te voer dat dit die landskap self is wat legendariese outlaws voortbring, sou te veel klink na die omgewingsdeterminisme van Friedrich Rätzel, wat beweer dat die omgewing die patrone van menslike kultuur, samelewing en psigologiese onderbou determineer. Ook Vidal de la Blache se omgewingspossibilisme, waarin aangevoer word dat alhoewel die omgewing nie dikteer wat mense sal word nie, gewoontes en kulture ontstaan deurdat mense aanpas by die bestaansmoontlikhede wat hul ruimtelike omstandighede bied, is nie vir my van veel nut nie. Ek probeer uitvind hoe kontak met die fisiese leefwêreld van ’n bepaalde karakter kan bydra tot die skryf, die invul, van historiese karakters soos Buys en Billy the Kid, wat êrens tussen geskiedenis en legende bestaan.

In die eerste plek is die skrywer se bewustelike besluit om vir sy karakter te gaan soek, die katalisator wat die spore enigsins waarneembaar maak. As ’n mens op so ’n navorsingsreis vertrek, is daar natuurlik die afwagting om iets te vind van die karakter wat nie in die argief opgeteken is nie. Jy stel jouself oop vir nuwe ervarings, vir kontak met die karakter.

Die eerste stap is om die persoonlike gemaksone te verlaat en die leefwêreld van die karakter te betree. In Alexander Strachan se roman Die werfbobbejaan (1994) skryf die verteller, Khera, die biografie van die misterieuse swerwersfiguur waaroor die eerste drie Strachan-tekste handel. Hierdie man is haar eks, Lenka – op hierdie stadium ’n wildvanger in Zoeloeland. Khera trek Zoeloeland toe om ’n beter begrip van die wildvanger te kry: Waar lê die geheim van die skryf van ’n biografie? vra sy haar af. Is dit ’n betrokkenheid wat meer gaan verg as net die weggaan uit jou eie omgewing?22

Inderdaad. Dit verg ook bewústelike kontak met die nuwe omgewing. Soos die Khera-karakter dit stel: “Mens moet deurentyd sensitief bly vir die impulse wat die omgewing uitstuur ...”23 En elders: “My gewaarwordinge het skerper geword, het sy gedink, sedert ek uit die Kaap weg is.”24

Op so ’n navorsingsreis word jou lyf ontvanklik: jy sien dinge duideliker, ruik aan bossies waarby jy voorheen net sou verbygehou het. Op ’n plek waar jou karakter eens sou gewees het, gee jy dus meer aandag aan presies hoe die muskiet jou vel tas en jou bloed suig. Jy ruik aandagtig hoe die buffel by die watergat sweet, jy spits jou ore vir presies hoe die snork van die wildebees klink. Die landskap maak sigself oop vir die sintuie en die invoelende verbeelding. Die rooi grond van Utah kan beloop en beruik en betas word, maar die woestyngrond inskribeer nie ’n narratief op die stomme moordenaars en diewe wat daarbinne vlug voor een of ander vorm van sheriff nie.

Dit begin duidelik word dat hierdie ondersoek nie losgemaak kan word van die sintuiglike nie. Miskien sal dit dus baat om vlugtig te kyk na ’n teorie bekend as sintuiglike of fenomenologiese argeologie.

Die fenomenologie van landskap is een van die populêrste en ook mees kontroversiële en betwiste areas in argeologiese teorie in die afgelope twee dekades.25 Christopher Tilley se boek A phenomenology of landscape (1994) was die eerste volledige werk oor hierdie onderwerp, alhoewel teoretici soos Thomas en Gosden ook in hierdie tyd die relevansie van Heidegger se werk vir argeologie begin bespreek het.26 Tilley sien landskap nie as neutrale ruimte nie, maar gebruik fenomenologie om te fokus op sosiale en kulturele betekenisse wat aan bepaalde plekke toegeskryf word en nie deur tweedimensionele voorstellings begryp kan word nie. Menslike ervaring en begrip van die wêreld word deur die liggaam bemiddel.27 Ons realiseer ons wese deur die uitvoer van handelinge wat ’n effek het in die wêreld. Dinge maak ons, soos ons dinge maak.28 Plek word dus altyd beleef as iets driedimensioneel en sintuiglik. Ons kan die wêreld nie ken op ’n objektiewe en totaliserende wyse nie. Ons begrip daarvan spruit uit ’n ingebedde en noodwendig gedeeltelike perspektief.29

Volgens Tilley moet ’n argeoloog sy eie fisiese belewing van ’n plek dokumenteer ten einde die landskap werklik te begryp.30 Hy beweer die menslike liggaam en die landskap is konstantes wat vandag op dieselfde wyse fisiese beweging sal beïnvloed as in die verlede. Volgens hom sal sy eie lyflike kontak met ’n landskap nie wesenlik verskil van dié van iemand in die Bronstydperk nie. Die fisiese ervaring van ’n argeoloog soos hy vandag beweeg deur ’n landskap, bied volgens Tilley ’n ingangspunt tot antieke mense se interpretasies van daardie landskap.31 Tilley se werk sluit ’n reeks narratiewe in van sy eie beliggaamde ontmoetings met ’n verskeidenheid prehistoriese landskappe: die uitsig vanaf sekere plekke, hoe monumente soms die topografie naboots, en selfs sy sintuiglike ervarings van klipperige grond, steil hellings en moerasagtige velde.32

Soos Tilley, voer ook Thomas aan dat die ingebedde aard van menslike ervaring beteken dat subjek en objek nie geskei kan word nie, aangesien hulle deel is van mekaar. In navolging van Heidegger sê hy dat dinge hulself altyd aan ons openbaar “as” iets. Dit is onmoontlik om iets objektief en ahistories waar te neem, aangesien dinge herkenbaar word slegs binne die struktuur van begryplikheid waardeur ons die wêreld verstaan. Die wêreld soos ons dit ken, bestaan dus nie apart van ons nie. En juis ons onderdompeling ín die fisiese wêreld kondig ons eie bestaan vir ons aan.33

Dit is natuurlik hoogs problematies om aan te voer dat ons kontemporêre ervaring van plek sou ooreenstem met dié van antieke mense.34 In my geval is die historiese figuur wat ek ondersoek, veel meer modern as die Bronstydperk wat Tilley probeer oproep. Die olifantpaaie van ouds sou later die wapaaie word en staan nou as die N1 of N2 bekend. Ek ry op die N1 en weet dat Buys heel moontlik ’n soortgelyke landskap sou sien op pad na Graaff-Reinet. Die landskap van die wild- en beesplase langs die Visrivier lyk ook steeds nie veel anders as die trekboer-leenplase van die vroeë kolonie nie. Tog, dit is die uitsonderings. Meestal vind ek ’n Shell-garage waar ’n drostdy sou gestaan het, en nugter weet wat ’n volgende generasie daar sal aantref. Landskappe verander mettertyd ooglopend en om bloot deur ’n landskap te loop of aan ’n artefak te vat, sal ons nie ’n outentieke insig bied in die ervaring van antieke mense nie, want soos Thomas via Heidegger aanvoer, ervaar ons die wêreld op wyses wat altyd kultureel kontingent en histories gekonstitueer is – waarneming is altyd reeds interpretasie.35 Grond het niks met bloed uit te waai nie. Jy raak tuis omdat jy elke dag, elke spesifieke dag, op ’n spesifieke plek woon en slaap en bemin en werk en, soms, bloei.

Alhoewel fenomenologiese argeologie sigself tot heelwat geldige kritiek leen, is Tilley se uitspraak dat direkte, sintuiglike kontak met die landskap ’n ingangspunt bied tot vroeëre bewoners se ervaring wél vir my soektog nuttig. Die historiese figuur se ervaring bly natuurlik hermeties en onherhaalbaar, maar om op sy pa se plaas deur dieselfde rivier as Buys te waad na die grot waar die rotstekeninge skuil, bied wel vir ’n skrywer ’n sleutelgat om deur te loer, al is die sleutel vir altyd verlore.

Dinge, plekke en gebeure buite die grense van die menslike liggaam konstitueer dus dikwels belangrike elemente van die persoon. Ingebedde, sintuiglike bewoning van ons tuistes, ons habitusbergende landskappe, die kleure, teksture en assosiasies, maak hulle deel van onsself. Diere en artefakte is vroeër dikwels as lewende wesens gesien wat aktiewe rolle in die sosiale wêreld vertolk het. Antropoloë praat van die gedistribueerde self. Thomas beskryf byvoorbeeld hoe ’n Neolitiese gemeenskap selfs objekte soos tromme as lewendig gesien het:36 “Where this was the case, other things may have been seen as part of the self so that personhood could extend beyond the physical boundaries of the human body.37

Die grens van die liggaam is natuurlik die vel. Strek menswees verder as die vel? Henri Lefebvre38 het gesê elke lewende liggaam produseer sigself in ruimte en dit produseer ook daardie ruimte. Vir Jean-Luc Nancy is liggame nie ’n tipe volheid of gevulde ruimte nie. Hulle is oop ruimte, eerder ruim as ruimtelik, iets wat ’n mens plek kan noem:

Bodies are places of existence, and nothing exists without a place, a there, a "here", a "here is", for a this. The body-place isn't full or empty, since it doesn't have an outside or an inside, any more than it has parts, a totality, functions, or finality. […] Yet it is a skin, variously folded, refolded, unfolded, invaginated, exogastrulated, orificed, evasive, invaded, stretched, relaxed, excited, distressed, tied, untied. In these and thousands of other ways, the body makes room for existence […]. More precisely, it makes room for the fact that the essence of existence is to be without any essence.39

 

Nancy40 praat van ’n vel-gebeurtenis of van die vel as die plek vir ’n gebeurtenis van syn. Sodra Die werfbobbejaan se Khera in Zoeloeland aankom, word haar vel onmiddellik die plek waar die landskap met haar in verbinding tree: “Dis of die hitte lewend is, het sy gedink – daar’s iets in die dik lug wat deel van jou vel wil raak.”41

Wanneer die ontvanklike skrywer die karakter se leefwêreld betree, word die lewende hitte deel van haar vel, word haar vel ’n gebeurtenisplek, ’n ontmoetingsplek met die karakter.

Hierdie idee van menswees wat iewers verder as die vel eindig, vind die fenomenologiese argeoloë nie alleen by Neolitiese mense nie, maar ook by Martin Heidegger. En dit is by hom, sal ons sien, waar die idee van syn as gebeurtenis sy oorsprong het. Op watter wyse is plekke deel van subjektiwiteit? Is plekke of landskap dan ook deel van die self van ’n historiese karakter? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ’n sekere denkstroming oor subjektiwiteit ondersoek word en wil ek, as u my sal vergeef, hierdie ondersoek begin by die subjektiwiteit van ’n bosluis.

In The Open: Man and Animal (2004) vertel Giorgio Agamben42 van baron Jakob von Uexküll, vandag gesien as een van die grootste dierkundiges van die 20ste eeu en stigter van die moderne ekologie. Von Uexküll se studies is deur Heidegger self beskryf as die mees vrugbare ding wat filosofie kan aanneem uit onlangse biologie.43 Uexküll se studies oor die dier se leefwêreld sluit aan by die tydgenootlike velde van kwantumfisika en avant-garde kuns in die sin dat sy werk ook onvoorwaardelik afstand doen van elke antroposentriese beeld van die natuur.44

Uexküll draai die klassieke wetenskap se aanname van ’n enkele wêreld waarbinne alle lewende wesens bestaan, op sy kop. Hy postuleer dat so ’n eenheidswêreld nie bestaan nie, maar eerder ’n oneindige verskeidenheid van perseptuele wêrelde wat, alhoewel niekommunikerend en wedersyds eksklusief, almal ewe perfek is en met mekaar verbonde soos in ’n reuse-partituur: “The fly, the dragonfly, and the bee that we observe flying next to us on a sunny day do not move in the same world as the one in which we observe them, nor do they share with us – or with each other – the same time and the same space.”45

Uexküll onderskei die Umgebung – die objektiewe ruimte waarbinne ons iedere skepsel sien roer – van die Umwelt, die omgewingswêreld wat gekonstitueer word deur ’n wye verskeidenheid elemente wat hy betekenisdraers of merke noem. Merke is die bepaalde dinge wat ’n bepaalde dier interesseer. In werklikheid is die Umgebung ons eie, menslike, Umwelt, ’n wêreld wat Uexküll geensins as meer outentiek as ander sien nie en wat natuurlik ook mag verskil volgens die perspektief waaruit dit waargeneem word.46 Die woud bestaan nie as ’n objektiewe gegewe omgewing nie. Daar is ’n woud-vir-die-veldwagter, ’n woud-vir-die-jagter, ’n woud-vir-die-botanis, ’n woud-vir-die-reisiger, ’n woud-vir-die-natuurliefhebber, en selfs ’n woud waarin Rooikappie verdwaal. Elke leefwêreld is ’n geslote eenheid in sigself wat ontstaan deur die selektering van merke uit die Umgebung. As jy ’n dier bestudeer, is die eerste stap die herkenning van die betekenisdraers of merke wat sy perseptuele leefwêreld konstitueer. Hierdie merke is nie objektief geïsoleer nie, maar vorm ’n geslote, funksionele eenheid met die dier se reseptoriese organe wat hierdie merke waarneem en daarop reageer.47

Uexküll se beskrywing van die bosluis48 se leefwêreld is vir Agamben49 ’n hoogtepunt in moderne antihumanisme en moet saam met werke soos Ubu Roi gelees word. Ons kan onsself die bosluis verbeel, sê Agamben:50 gesuspendeer in haar bos op ’n somerdag, gedompel in die sonlig en van alle kante omring deur die kleure en geure van wilde blomme, deur die bye-gezoem en voëlgesang. Maar hier is nie sprake van ’n bosluis-idille nie; sy weet hoegenaamd niks hiervan nie. Agamben vertaal Uexküll as volg:

This eyeless animal finds the way to her watchpost with the help of only her skin’s general sensitivity to light. The approach of her prey becomes apparent to this blind and deaf bandit only through her sense of smell. The odor of butyric acid, which emanates from the sebaceous follicles of all mammals, works on the tick as a signal that causes her to abandon her post and fall blindly downward toward her prey. If she is fortunate enough to fall on something warm (which she perceives by means of an organ sensible to a precise temperature) then she has attained her prey, the warm-blooded animal, and thereafter needs only the help of her sense of touch to find the least hairy spot possible and embed herself up to her head in the cutaneous tissue of her prey. She can now slowly suck up a stream of warm blood.51

 

Let op: dit is nie dat die bosluis die smaak van bloed begeer nie, of dat dit selfs enigsins bloed kan proe nie. Bosluise proe nie. Hulle suig gretig aan enige vloeistof by 37°C.52

Hierdie voorstelling van die bosluis-leefwêreld dui op die algemene struktuur van die leefwêrelde van alle wesens. In die bosluis se geval bestaan haar Umwelt uit slegs drie betekenisdraers: die reuk van die bottersuur in die sweet van soogdiere, die temperatuur van soogdierbloed, en die tipologie van die soogdier se vel – oor die algemeen harig en van bloedvate voorsien.53 Tog word die bosluis onmiddellik verenig met hierdie drie elemente in ’n verhouding meer intens en driftig as verhoudings wat ons aantref tussen mense en hul klaarblyklik veel ryker wêreld.54 Die bosluis íshierdie verhouding, sê Agamben.55 Jean-Luc Marion56 se formulering van erotiese begeerte praat van ’n soortgelyke fenomenaliteit as hy sê: “My begeerte uiter my aan myself deur my te wys wat my prikkel.” Wat ek begeer en wie ek daarom is in hierdie bepaalde oomblik, kom na my van elders en wys my dan eers wie ek is.57

Volgens die eksistensialistiese fenomenologie van Heidegger is daar ’n voortdurende wederkerige verhouding tussen self en omgewing. Die self wórd sigself deur sy interaksies, soos die bosluis slegs deur bogenoemde verhouding met haar merkers bosluis word. Hierdie interaksie noem Heidegger die Ereignis, the Event, die Gebeurtenis – dit wat subjek en objek saambring in die altyd tydelike byeenkoms van ’n bepaalde ervaring.58 Dit word ’n Gebeurtenis genoem, want ’n gebeurtenis bestaan alleenlik terwýl dit gebeur. Die subjek of persoon beskik nie oor sy eie begronding nie, maar vermag sy individuasie alleenlik deur ’n Gebeurtenis met die omgewing wat dit op hierdie oomblik van kontak toelaat om ’n bepaalde ervarende self te word. Ervaring is die resultaat, nie van die subjek nie, maar van ’n situasie of ontmoeting. Individuasies vind plaas tussen mense, of tussen die self en die omgewing, en behoort aan niemand en niks buiten die Gebeurtenis self nie.59 Terwyl ek daaraan deelneem, skep die Gebeurtenis my.60 Soos die bosluis sy verhouding met die sogenaamde merkers ís, so bestaan die menslike subjek as gebeurtenis ook slegs binne en tydens spesifieke verhoudings met sy Umwelt en die objekte daarbinne. Soos die Neolitiese tromme, is objekte dus nie dood of passief nie, maar akteurs uit eie reg, aangesien hulle die optrede en ervaring van die self kan toestaan??, toelaat, aanspoor??, beïnvloed of blokkeer.61

Wanneer gepraat word oor subjektiwiteit as gebeurtenis en as iets sonder ’n essensiële innerlikheid, moet die gesprek noodwendig die werk van Gilles Deleuze betrek. Deleuze se denke vertoon ’n fassinasie met die moontlikhede en produksie van ’n niemenslike en voormenslike subjektiwiteit. Vir hom is daar geen eenvoudige onderskeid tussen menslike innerlikheid en dit wat daarbuite is nie. Hy gebruik byvoorbeeld Foucault se analogie van die Renaissance-kranksinnige wat op ’n skip gesit word, wat ’n passasier of prisonier word in die binnekant van die buitekant, die vou van die see. Vir Deleuze is subjektiwiteit ’n komplekse topologie van verskillende tipes voue, om dit wat buite is, na binne te vou. Menslike innerlikheid is bloot ’n vou met die buitekant.62

Deleuze/Guattari63 sien die lewe, ’n lewe, as ’n modus van individuasie wat verskil van dié van ’n persoon, objek of subjek. Hulle gebruik die term haecceity,wat hulle ontleen aan die Middeleeuse denker Johannes Duns Scotus.64 Die term is afgelei van haec, wat “hierdie ding” beteken, en van ecce, wat “hier is” beteken. Ek vertaal haecceity dus voortaan as ditheid. Seisoene, ure en reënbuie, sê Deleuze/Guattari, is dithede. ’n Lewe word saamgestel deur talle sulke oomblikke. Dit is deels wat ’n lewe “eenmalig”, in die sin van Spinoza, maak: beide enkelvoudig, uniek en uitsonderlik of onherhaalbaar. Dit is die onmiddellike ervarings wat na ons kom soos die “golwe” van Virginia Woolf, brokke ervaring wat nie gemaklik in enige narratiewe eenheid pas nie. Die soort oop-sintese of “En” wat hulle kombineer, is onreduseerbaar tot die “Is” van eienskappe en identifikasies. Die lewe, ’n ditheid, elke lewende individualiteit, is nie ’n vorm nie, ook nie ’n ontwikkeling van ’n vorm nie, maar bestaan volledig uit verhoudings van beweging en rus, ’n stel snelhede en verbindings tussen ander liggame, molekules of partikels, asook kapasiteite van affek en dít wat geaffekteer kan word – die individualiteit van ’n trop, ’n klimaat, ’n wind of ’n mis: “It should not be thought that a haecceity consists simply of a décor or a backdrop that situates subjects [sê Deleuze/Guattari65]. It is the entire assemblage in its individuated aggregate that is a haecceity.”

Die ditheid, die Gebeurtenis, is onpersoonlik, dit word “geuiter” in ons lewens, maar gaan ons subjektiwiteit vooraf.66 Die subjek is bloot die residu van ’n Gebeurtenis.67

Soos dit nie saamgestel is uit mense of dinge nie, maar uit spoed, affekte en oorgange, so is die ditheid se semiotiek gekomponeer uit eiename, infinitiewe en onbepaalde voornaamwoorde.68 Die ditheid, sê Roberto Esposito in Third Person: Politics of life and philosophy of the impersonal (2012), bestaan uit derde persone, deurkruis en bevry deur die krag van die onpersoonlike: om te sê “hy” is nie ’n voorstelling van ’n subjek nie, maar eerder ’n diagram van die stel verbindings. Dit val nie onder die tirannie van die subjektiewe en betekenende konstellasies van “ek” en “jy” nie. Dit gaan gepatenteerde subjekte en gedomineerde liggame vooraf.69 Die eienaam Billy verwys nie na enige essensie nie, maar slegs na die stel van verhoudings waarin Billy hom bevind: ’n Billy-te-perd-om-12-uur-galoppend-deur-Nieu-Mexiko. Soos Deleuze/Guattari70 sê in verband met Uexküll se bosluis: ons weet niks van ’n liggaam voor ons nie weet wat dit kan dóén nie. Die bosluis leef vir en in haar Umwelt en tree in verhouding slegs met dít wat haar affekteer en haar in staat stel om haarself te wees – dít wat die dier, die bosluis, die mens, laat Gebeur.71 Soos die Hogsbackse kunstenaar Diana Graham aan my gesê het: “That piece of running veld is a buck.” Daarom beweer Deleuze/Guattari72 dat dit die militêre masjien en die meteoroloë is wat die geheim van die eienaam ken wanneer hulle aan strategiese operasies en orkane eiename gee.

Vroeg in Die werfbobbejaan bestudeer Khera Lenka se foto’s. Hy is nie self op sy foto’s nie; slegs sy leefwêreld is afgeneem: “Sy het foto’s van landskappe gesien, digte bos, swaar voertuie met soldate deur die stof en oop strande.”73 Die foto’s suggereer dat hierdie man as ditheid verstaan moet word, ’n subjek-gebeurtenis wat geken word aan sy verbindinge en wordinge met die leefwêreld. Dit verbaas die Deleuziaanse leser daarom nie as die wildvanger herhaaldelik in die roman beskryf word as ’n ditheid, waar die grens tussen binne en buite, self en wêreld, vervaag nie. Die “modderigheid van die moeras,” sê die verteller byvoorbeeld, is “in sy stem ...”74 Wanneer Khera dan tydens haar navorsing deur Lenka se outobiografiese manuskrip blaai, val dit haar ook op dat dit in die derde persoon geskryf is:

Die uiteensetting het bladsye lank geduur. In die derde persoon, asof hy daardeur sy afstand probeer bevestig […]. Maar tog moet daar ’n spesifieke rede wees waarom hy die omgewing so sterk beklemtoon, waarom hy so ’n gedetailleerde agtergrondbeskrywing gee … 75

Hierdie figuur wat so ontwykend bly oor drie boeke heen, word geken aan sy verbindings, spoed en wordings eerder as ’n gewaande innerlikheid. In die wye lens van die Gebeurtenis is die agtergrond integraal deel van die derdepersoon-Lenka wat sigself beskryf.

In Elizabeth Grosz se Chaos, Territory, Art: Deleuze and the Framing of the Earth (2008) praat sy onder andere oor die werk van die Australiese kunstenaar Kathleen Petyarre. Grosz76 beskryf die skilderye as dinamiese portrette van ’n vervloë geskiedenis, ’n geskiedenis met gebeurtenisse van oorlog, natuurrampe, geboortes, troues, seksuele alliansies, dierlike voorvaders en totems – ’n lewende geskiedenis soos ’n filmrol saamgepers tot ’n enkele, uiters komplekse raam. Grosz77 fokus op die skilderye van die mountain devil, ’n klein, stekelrige akkedis wat wydverspreid in die sentrale Australiese woestyn voorkom. Die skilderye bied nie ’n beeld, ’n ooreenkoms met, of ’n portret van, die mountain devil nie. Elkeen is ’n wordende-devil van die verf self, die lewendwording van die patrone en rimpels van sy vel, van sy spore, die boë van sy bewegings oor die terrein sowel as die projeksie van die vel op die landskap.

Volgens Nicholls en North78 word lewende wesens, insluitend mense, in Petyarre se kuns voorgestel as oorwegend ruimtelike wesens, eerder as psigologiese wesens. In haar werk, sê Grosz,79 is die landskap, die mountain devil, die weer, die hael, droogtes, vuur en sandstorms nie geredelik onderskeibaar van mekaar nie. Die een is geïnkorporeer binne die ander: die vel, kan ’n mens sê, is ’n gevoude landskap. In Petyarre se kuns, wil ek aanvoer, is die mountain devil ’n Gebeurtenis, ’n ditheid. Daar is geen onderskeid tussen voorgrond en agtergrond nie, geen aktiewe subjekte nie; alleen wording; oral wordings.

Hierdie verstaan van subjektiwiteit mag dalk ’n mate van verklaring bied waarom skrywers wat soek na die historiese figure waaroor hulle skryf, ’n bepaalde verbintenis ervaar met hul karakters wanneer die figure se leefwêreld besoek word. My uiters voorlopige en leke-hipotese is dat die historiese karakter, soos ons almal, ’n ditheid is: die innerlikheid waarna gesoek sou word, is bloot ’n vou met die leefwêreld. Daarom maak dit sin dat daar hierdie byna mistieke oomblikke van verbintenis of herkenning Gebeur, want die skrywer is, soos reeds genoem, afwagtend en sintuiglik ontvanklik gestem om in verbinding te tree met die Gebeurtenis, die ditheid van die karakter. ’n Klein gebeurtenis, ’n uitsig, die uitklim van ’n koppie, kan reeds ’n sleutelgat bied waardeur geloer kan word. Nie die direkte toegang tot ervaring waarna sensuele argeoloë soos Tilley verlang nie, iets veel minder, maar meer direk as die oplees en die uitdink, alhoewel die verbeelding natuurlik die instrument is waarmee deur die sleutelgat geloer word.

Die subjektiwiteit van die karakter bly ’n gaping wat op ontelbare wyses deur skrywers gevul word. Elke Billy the Kid is iemand anders, maar tog bly iets dieselfde. Ondaatje het sy Billy in Kanada geskryf; hy het nooit Nieu-Mexiko besoek nie.80 Verklaar dit hoekom sy Billy die ene innerlikheid is en dan boonop ’n heel selfbewuste moderne innerlikheid? Verklaar dit ook hoekom hierdie uitbeelding van die Billy-syn soveel verskil van byvoorbeeld die uitbeelding van karaktersubjektiwiteite deur iemand soos Cormac McCarthy, in wie se werke die bewegings van figure deur landskap, gepaardgaande met ’n eerstehandse kennis van die landskappe waaroor hy skryf, miskien meer primêr is? (Terloops, daar word vertel dat McCarthy eerder oor vektore as karakters met sy uitgewer praat.81) En wat is hierdie “iets” wat meestal dieselfde bly wanneer byvoorbeeld Billy the Kid uitgebeeld word? Het dit daarmee te doen dat die onkenbare gaping altyd daar is, maar dat die buitelyne van die gaping getrek word deur die “merkers” of “betekenisdraers” waarvan Uexküll praat as hy die bosluis se subjektiwiteit beskryf? Die bloedtemperatuur, die bottersuurreuk en die veloppervlak van die prooi bepaal die vorm van die bosluisgat wat gevul moet word. Nieu-Mexiko, sy klippe en mesas en klimaat, die meganismes van 19de-eeuse rewolwers – dit bepaal die buitelyne van die Billy-gat. Dit is die spore van hierdie merkers wat in die landskap gesoek word. Is skrywers die miere wat die spore van ou verhale volg soos feromoonspore in die veld? Die histories kontingente innerlikheid van Billy is vir ewig verlore, maar geweerolie ruik steeds dieselfde en die klippe vergeet nie. As jy skryf oor ’n veldslag, eien jy die betrokkenes se motiverings en beweegredes beter as jy sien wat hulle sou gesien het, voel hoe warm dit is, hoe steil die krans is. En wat is ’n mens anders as ’n veldslag? Onder die legendes is daar, soos Borges gesê het, niks nie, maar tog verstaan ’n mens Billy beter in Lincoln, Nieu-Mexiko, as in Toronto, Kanada en verstaan ek Buys beter in die ruigtes langs die Visrivier en die ooptes van die Marico as in Stellenbosch of Kaapstad.

Strachan se Khera tree ook in verbinding met die veelvoudigheid van die natuur, van die ruimte waarbinne en waaroor sy skryf. Die “snaakse patroon”82 wat die sandwurm op Khera se voet trek – “sy kronkelspoor in groot lomp letters oor haar voet geskryf”83 – kan gelees word as ’n beeld van hoe die skryfproses ook onpersoonlik is, ’n wording tussen subjekte en objekte, ’n ditheid op sigself. Die sandwurm se “geskrifte” wys hoe die wêreld skryf op die skrywer-vel, tot ónder haar vel. Ek haal aan uit die roman:

“Zululand se stories kry jy nie in boeke nie,” het hulle gesê. “Dit lê op die vlaktes, by die oumense om die kraalvure. As jy oor hierdie wêreld wil skryf, moet jy sy hitte ken; jy moet weet wanneer die rooibokram na die koelte begin soek.”84

Om oor die wildvanger te kan skryf, moet sy oor Zoeloeland kan skryf, moet sy deel van die hitte word, deel van die rooiboktrop, wordende-seisoen, wordende-rooibokram. Skrywers moet soms toelaat dat die sandwurms hul patrone op die skrywende vel trek. As die landskap so verbind met die skrywersvel, kan die sintuie dalk die verbeelding rig om ’n vae spoor van die karakter agter daardie miershoop te sien.

In die laaste deel van hierdie lesing wil ek ook ’n verdere vraag vra: Alhoewel die konsepte van die Gebeurtenis en die ditheid miskien ’n verklaring bied vir die verbintenis met historiese en legendariese figure soos Buys en Billy, verklaar dit egter nie hoekom daar soveel stories bestaan oor diesulke figure wat plaasvind op plekke waar hulle volgens die geskiedenis nooit was nie. Hoe en hoekom word historiese karakters gevind op plekke waar daar nie historiese spore lê nie?

Billy the Kid het byvoorbeeld ’n hele paar geboorte- en sterfte-plekke. Die historiese Kid is heel moontlik in New York-stad gebore, maar die legendariese Kid het onder andere ook in Philadelphia, St Louis, die Indiana-platteland, Cincinnati, Buffalo Gap (Texas), en selfs in Ierland, sy eerste skree geskree. Al is die Kid deur Pat Garrett geskiet, of selfs al het Garrett en die Kid saam ’n ander lyk of twee sandsakke in die Kid se kis begrawe, soos een storie lui, word die graf van die legendariese Billy aangetref in Fort Stanton, Las Cruces, Old Mesilla, en ook natuurlik Fort Summer, waar die amptelike grafsteen rus. 85

In Buys se geval is daar naby Bela-Bela ’n steil koppie met die naam Buyskop. Die kop het ’n ryk geskiedenis. Daar lê ruïnes van ’n vroeë nedersetting; daar was ’n Britse blokhuis tydens die Anglo-Boereoorlog; en later is sandsteen daar uitgekap vir die bou van die Uniegebou; maar veral die voorval van waar die kop se naam ontleen is, is vir ons belangrik.

Pas na dit bekendgemaak is dat ek die Rabie/Wallace-skrywersbeurs ontvang het vir die beoogde roman oor De Buys, kry ek ’n e-pos waarin die volgende verhaal vertel word:

Hier volg die storie soos my vader dit van die oudstes gehoor en aan ons as kinders oorvertel het. Op die trekpad na die Noorde êrens verby Warmbad het ’n groepie perderuiters aangejaag gekom en het Buys besef dat hulle nie goedgesind was nie, dat hulle hul moontlik wou beroof of nog erger, dalk in ’n geveg wou betrek. Gelukkig was die koppie naby en hulle kon vinnig daar op vlug met die hoër grond tot hul voordeel. Gou het hy egter besef dat hulle nou vasgekeer sit, met die aanvallers wat sit en wag. Alhoewel hulle genoeg kosvoorraad gehad het vir ’n tyd, was water ’n kwessie. Intelligent soos Coenraad Buys was, het hy vinnig ’n plan beraam. Drinkwater was gerantsoeneer en almal was aangesê om nie ’n druppel urine te verspil nie. Elk en ’n ieder moes blaas leegmaak in potte, skottels, enige hol ding. Na ’n paar dae (as ek reg onthou was dit drie dae) gaan hy die oggend op ’n rots staan en met ’n groot stem roep hy na die agtervolgers. Toe hy hulle aandag het skree hy vir hulle en beduie met sy arms dat daar baie water hier bo is en dat hulle nog lank hier bo sal bly. So gooi hy een na die ander bak, pot of houer met urine met ’n boog hier voor hom uit. (Dat dit so blink in die son , soos die storie lui.) Dit het die gewenste uitwerking gehad, want wie sal nou so met water mors as dit nie volop is nie. Moedeloos […] het die aanvallers die aftog geblaas en kon die Buys-geselskap verder reis. 

Ek was dadelik geïnteresseerd en het gaan lees oor die verhaal van Buyskop. Eerstens kom ek af op die historiese weergawe van die geskiedkundige Gustav Preller. De Buys se kleinseun Doors het aan hom ’n soortgelyke staaltjie vertel. Hierdie weergawe van die verhaal is opgeneem in Preller se opstel “Buys en sy bure”,86 asook sy latere inleiding tot Louis Trichardt se dagboek. Volgens Preller87 speel die verhaal af in 1839 – byna 20 jaar na Coenraad se sterfte – en is dit Buys se kinders wat op die kop beleër word deur ’n “Amadebele-stam”. Die krygers storm nie die kop nie, uit vrees vir die Buyse se vuurwapens, en poog eerder om hulle “deur die dors tot oorgawe te dwing”. Dit is dan Gabriël, een van Coenraad se seuns, wat die plan beraam. Wanneer hulle watervoorraad tot een leerknapsak verminder is, neem Gabriël die sak “en gaan daarmee op die hoogste punt van die kop uit” vanwaar die beleërders hom goed kon sien. Hier spreek hy hulle toe:

[Hulle] kon hul sig maar die moeite bespaar van langer die kop op te pas, want hul had soveel water dat selfs die Amadebele ook by húlle kon kom drink! En as bewys daarvan lig Gabriël meteens hul laaste knapsak met water omhoog en stort die inhoud voor hul verbaasde oë op die klippe uit. Die volgende dag was die beleg opgehef.

Ook ander historici, soos JB de Vaal,88 aanvaar hierdie weergawe (waarin die knapsak-plan dié van Gabriël was en nie van sy legendariese vader nie) as die waarheid. Selfs Sarah Gertrude Millin se 1949-roman oor Coenraad de Buys, King of the Bastards, ’n teks wat sigself nie veel steur aan historiese akkuraatheid nie, bied ook hierdie historiese weergawe.89

In minder akademiese bronne oorheers die legende van Coenraad egter. In Leisure Wheels90 vind ek byvoorbeeld ’n artikel oor Bela-Bela, en in die deel oor Buyskop is Coenraad die protagonis. In hierdie weergawe vind die insident rondom 1820 plaas en is Coenraad Buys-hulle vir agt dae op die koppie vasgevang. Ook op ’n webblad oor verblyf in en om Bela-Bela91 vind ’n mens hierdie legendariese weergawe van die verhaal. Selfs in die Erfenis-omvangsbepalingsverslag92 wat die huidige eienaar van Buyskop (wat nou ’n wildplaas is) vir my gegee het, staan beide die legende en die meer histories-aanvaarde weergawe langs mekaar. Die eienaar self ken egter die storie van Buyskop as met die reusagtige Coenraad in die hoofrol.

Hoe kan Billy the Kid op soveel plekke gebore word en sterf? Hoe plaas die plaaslike gemeenskap Coenraad by Buyskop, al sê die geskiedenis en sy nasate die gebeure het na sy dood afgespeel? Ons weet die historiese Buys was nie daar nie, maar hoe gebeur dit dat die legendariese Buys wel daar is? Hierdie kwessie wil ek aanpak deur eerstens weer ’n laaste maal te kyk na die Strachan-roman: Buys en Billy is, soos Strachan se wildvanger, randfigure, swerwers wat meer legendes as persone word, meer storie as cartesiaanse subjek. As Khera bieg hoekom sy skryf oor die wildvanger, eens haar minnaar, maar nou ’n versameling gerugte, sê sy: “Ek skryf die biografie omdat ek gefassineerd is deur die manier waarop dinge soos tyd en ruimte in sy lewe figureer – ánders as by ander mense.”93

By die ditheid, sê Esposito,94 is nie sprake van die stabiele vorm van teenwoordigheid soos in die geval van die subjek nie. Die ditheid opereer binne die temporaliteit van die Gebeurtenis; dit strek tussen verlede en toekoms. Die ditheid is sonder oorsprong of einde. Dit is nie ’n punt nie. Dit is ’n lyn van verglipping en montering.

Liana Andreasen se artikel “Blood Meridian and the spatial metaphysics of the West” (2011) en Julio Diaz se Being in the Pampas (2006) bied verder ’n interessante perspektief van syn as iets ruimtelik eerder as temporeel, wat ons dalk op weg kan bring na ’n verklaring van die vreemde teenwoordigheid van Coenraad op Buyskop. Volgens Diaz95 lê die eenheid van syn juis in sy veelvoudigheid, dat syn sigself altyd te buite gaan en altyd anders is as sigself. Hierdie beskrywing sluit sterk aan by die syn as Heideggeriaanse Gebeurtenis of Deleuziaanse ditheid waarvoor ek tot dusver geargumenteer het.

Diaz stel dit dat, in die werk van Argentynse skrywers soos onder andere Borges, die Pampas sigself aanbied as ’n oop, grenslose en onbeperkte terrein. In ’n opsomming van Diaz se boek stel die bemarker dit as volg: “In this boundless territory the notion of being is spatialized and reinterpreted in terms of discontinuity, fragmentation, transformations, appearances, and disappearances that abolish the order of distances and the continuum.”96

Andreasen,97 wat fokus op regter Holden, die sentrale karakter in Cormac McCarthy se Blood Meridian, stel dit as volg:

Diaz claims that time and chronology are in fact detrimental to our perception of being, given the limiting nature of the time continuum. He derails the temporally-grounded being by creating an ontology that proposes place as the grounding for the unfolding of being. It is in juxtaposition and spatial proliferation, rumor and story, through the branching off of paths in the vast space that the continuum of being is revealed […]. [H]e claims that being exceeds itself by overflowing, escaping the limitations of the time continuum. [T]ime freezes being, while place brings it to life by denying access to an ultimate, immovable truth because of the spatial dispersion of being, which is revealed through an image, a story of itself. This story is never the same, always more than itself once it traverses the pampas.

Sy wys op die uitgestrekte ruimte waarbinne die regter en die ander McCarthy-karakters reis en hoe hul stories voortdurend verwring word deur die onverbiddelike teenwoordigheid van die dodelike woestyn, ’n teenwoordigheid wat waarheid en historisiteit tot niet maak.98 Dit is ’n syn sonder ’n inherente waarheid, een van spronge, blikke, gebare, en gerugte.99

McCarthy se woeste en verlate woestyn is net soveel van ’n grenslose en onbeperkte ruimte as die Pampas, en McCarthy se regter Holden, alhoewel op deeglik-nagevorste historiese bronne gebaseer, vertoon ’n besonder onmatige syn:

His being is so excessive that he is more story than man and more rumor than fact. The history behind Blood Meridian defies temporality, so Judge Holden is a mythical being, turned larger than life by rumor, story, and proliferation, which are spatial elements.100

Volgens Andreasen101 neem regter Holden meer ruimte in beslag as enige ander karakter, dermate dat hy die ruimte sélf word en min ruimte vir enigiets anders laat:

Unlike space, according to Diaz, time creates the foundation for idealism, which is what levels the voices, the rumors, the proliferation of being and forces them into a flat continuum of purposefulness that is in the end only an image meant to answer the question of being, without paying attention to being itself. The judge is no idealist. […] [He] asks the West as place to mold itself to his image.

Die vryheid van leë ruimtes dwing wesens om hulself horisontaal te vergroot, om sigself te verdubbel, om wreed te wees en sigself te buite te gaan:

This is a spatial way of being that the judge embodies. He emerges as his own truth, more rumor than person. As mentioned above, he kills excessively and theatrically, and the story of his violence circulates spatially, as currency, in the fashion of Roman tyrants. He makes himself part of the story, past and future, of every town he passes through.102

Volgens Andreasen103 herskryf McCarthy nie die geskiedenis nie. Sy Weste is nie ’n opeenvolging van oomblikke deur tyd nie, maar ’n omvattende beeld van die stories, gerugte en oorsake wat geskiedenis uitwis. As regter Holden ooit bestaan het, red McCarthy hom van die geskiedenis se rigiede strukture deur vir hom ’n Wilde Weste-teater van wreedheid te skep, ’n verhoog vir sy meer-as-lewensgrootte-persona. Is dit wat met Coenraad gebeur het by Buyskop? Het die plaaslike bewoners in Buyskop ’n teater gevind waarbinne die mitiese figuur De Buys sy persona kon uitspeel? As gerug en storie ruimtelike elemente is, Gebéúr sulke verhale soos dié van Buyskop tussen mense, op ’n plek? En vind so ’n storie-Gebeurtenis plaas binne die ouer, ingebore tydsbelewing? Is hier sprake van die verlange na die mitiese skuilhoeke van ons romantiese bewussyn waarvan Lemaire gepraat het, die belewing van tyd as siklies, as ewig wederkerend? Andreasen104 lees Blood Meridian as ’n versinnebeelding van die einde van die Weste – wild of andersins – as ’n subjek-gesentreerde kultuur. In hierdie mitiese ruimte wat McCarthy skep in die roman is daar geen onderskeid tussen objek en subjek nie.

Die subjektiwiteitsbegrip waarmee ek tot dusver gewerk het, dié van die Gebeurtenis en ditheid, is juis een wat die onderskeid tussen subjek en objek ophef, wat nie subjekgesentreerd is nie. Kan dit wees dat as die menslike syn sodanig verstaan word, dit dan kan sin maak hoe historiese persone soos Buys of Billy – die subjekte – in so ’n mate ononderskeibaar word van die landskap – die objek – dat hulle gesien word op plekke waar hulle binne historiese tyd nooit teenwoordig was nie? Is hulle teenwoordig op ’n wyse wat meer verstaanbaar is binne die mitiese tyds- en wêreldsbegrip en die materialistiese filosofie van Heidegger en Deleuze as binne die huidige subjek- en tydsoorheerste begrip van ons kapitalistiese, liberaal-humanistiese leefwêreld met sy klem op die individu? Die storie van Buyskop is, soos alle legendes, nie die storie van ’n individu nie, maar van ’n ditheid, ’n plek, ’n Gebeurtenis.

By Buyskop maak my vriendin my met dagbreek wakker. “Kyk,” sê sy. Buite tref die eerste sonstrale die klipkrans. Die vorige laatmiddag het ons die kop uitgeklim, gesoek vir die plek vanwaar Coenraad bulderend die urine of water sou uitgestort het. Die groot rotskrans waarop ons besluit het, die enigste rotse hoog en sigbaar genoeg, is ook die een wat op daardie April-oggend eerste die son vang. Is dit toevallig dat die plaaslike oorvertelling aandring daarop dat dit nie op die kruin was soos Preller dit wil hê nie, maar op ’n rots waar die waterwerper sou gestaan het? Is dit toevallig dat die vertelling noem dat dit in die oggend was? Hier is die verhoog waarvan Andreasen praat – letterlik ’n verhoog van rots, met die son as beligtingsoperateur. Al wat hierdie raam, hierdie agtergrond, skort, is ’n groot man met ’n dawerende stem, ’n windmakerige vertoner – dit alles is opgetekende eienskappe van die historiese, en veral die legendariese, Coenraad de Buys. Die landskap, die betekenismerkers van Buyskop, trek die buitelyn – en Coenraad vul die lyne beter as sy seun Gabriël. Die mense van Bela-Bela ken die stories van Coenraad Buys en hulle ken Buyskop. Hul waarheid is ’n ruimtelike een, eerder as ’n historiese een. Die geskiedenis plaas Coenraad nie daar nie, maar die landskap dwing hom tot lewe op daardie krans op ’n oggend as die son opkom. Dit maak nie saak dat hy nie daar was nie; almal wil hê dat hy daar moet wees. Die verhoog van die landskap dring aan dat hy, en niemand anders nie, daar moet wees. Sodra jy die eerste strale sien skyn teen die massiewe rotse, word Coenraad Buys meer as ’n temporale, historiese figuur, maar ’n legende, ’n ruimtelike wese, ’n figuur wat verskyn tussen ons en die landskap, op aandrang van die landskap en die mense wat die landskap bewoon. Op daardie oomblik kan ons alles wat ons van die legende verlang, op daardie rots projekteer, ’n held vir sommige, vir ander ’n slinkse trickster wat die son as kollig inspan. Die oumense wat naby Buyskop bly, vertel hul Buys soos Borges sy Billy skryf: die geskiedkundige feite is minder belangrik as die wolhaarstories en die uitsig. Coenraad de Buys is ten minste net so bekend in die omtes van Buyskop as in die Langkloof waar hy grootgeword het en die naburige Kouga waar hy meer as ’n dekade gebly het. Soms is die onmoontlike spore skerper omlyn in die veld as die werklikes. Hoe dit ook al sy: op die spoor van ’n historiese karakter is gerugte soms van net soveel waarde as feite en is die verbeelding maar net nog ’n sintuig.  

Bibliografie

Agamben, G. 2004. The Open. Man and Animal. Vertaal deur Kevin Attell. Stanford: Stanford University Press.

Andreasen, Liana Vrajitoru. 2011. Blood Meridian and the spatial metaphysics of the West. Southwestern American Literature, 36.3:19-30.

Anker, W.P.P. 2007. Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. DLitt-proefskrif. Universiteit Stellenbosch.

Barnard, Marjorie. 1978. A History of Australia, Angus & Robertson, Sydney, 1978, ble 668-9. In Mclean (1998).

Basson, Leilani. 2012. Bushveld, boiling water and the legend of Buyskop. Leisure Wheels. Maart 2012. Beskikbaar by http://showme.co.za/lifestyle/bushveld-boiling-water-and-the-legend-of-buyskop. Afgelaai 10 April 2012.

Bethell, K. 2003. Reading Billy: Memory, Time, and Subjectivity in The Collected Works of Billy the Kid. Studies in Canadian Literature. Beskikbaar by http://journals.hil.unb.ca/index.php/SCL/article/view/12782/13756. Afgelaai: 17 Julie 2012.

Borges, Jorge Luis. 1999. Collected Fictions. Londen: Allen Lane / Penguin.

Brooke, James. 1998. Like Butch and Sundance, Fugitives Elude Police in Desert. The New York Times, 3 Augustus 1998. Maandag laat uitgawe. Afdeling A, bl 10.

Brück, Joanna. 2005. Experiencing the past? The development of a phenomenological archaeology in British prehistory. Archaeological Dialogues, 12:45-72. Beskikbaar by http://journals.cambridge.org/ARD. Afgelaai 27 Augustus 2013.

Cowell, Stephanie. 2013. Connecting With The Past When Writing A Historical Novel. Beskikbaar by http://writinghistoricalnovels.com. Afgelaai 27 Augustus 2013.

De Vaal, J.B. 2007. Coenraad de Buys – renegaat en baanbreker van Soutpansberg. In Pienaar ea (2007).

Deleuze, Gilles en Félix Guattari. 2003. A Thousand Plateaus. Capitalism and Schizophrenia. Vertaal deur Brian Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Esposito, Roberto. 2012. Third Person: Politics of life and philosophy of the impersonal. Vertaal deur Zakiya Hanafi. Cambridge: Polity Press.

Foster, Jeremy. 2008 Washed with Sun. Landscape and the Making of White South Africa. Pittsburgh: University of Pittsburgh Press.

Grosz, Elizabeth. 2008. Chaos, Territory, Art. Deleuze and the Framing of the Earth. New York: Columbia University Press.

http://en.wikipedia.org/wiki/Stigmergy. Afgelaai 6 Julie 2013.

http://www.accommodation-warmbaths.co.za/history.htm. Afgelaai 21 April 2012.

http://www.sunypress.edu/p-5402-being-in-the-pampas.aspx. Afgelaai 2 September 2013.

Johnson, Matthew. 2012. Phenomenological Approaches in Landscape Archaeology. The Annual Review of Anthropology, 41:269–84.

Lefebvre, Henri. 2009. The Production of Space. Vertaal deur Donald Nicholson Smith. Oxford: Blackwell.

Lemaire, Ton. 1996. Filosofie van het landschap. Amsterdam: Ambo/Baarn.

Lokisa Environmental Consulting. 2007. Heritage Scoping Report: Proposed new residential development on portions 94 of the farm Buiskop 464 KR, Bela Bela, Northern Province. Version 1.0. 18 July 2007. Johannesburg: University of Witwatersrand, School of Geography, Archaeology and Environmental Studies.

McCann, Colum. 2008. Without a Map. “Adventures in the Skin Trade”. A Conversation with Michael Ondaatje and Colum McCann at the New York Public Library in Conjunction with the PEN World Voices Festival 2008. Beskikbaar by http://colummccann.com/interviews2. Afgelaai 21 Augustus 2013.

Mclean, Ian. 1998. Aboriginalism: White Aborigines and Australian Nationalism. http://www.australianhumanitiesreview.org. Afgelaai 18 April 2013.

Millin, Sarah Getrude. 1950. King of the Bastards. Melbourne: Heinemann.

Mølbak, Rune. 2012. From a Phenomenology of the Subject to a Phenomenology of the Event: Reconstructing the Ontological Basis for a Phenomenological Psychology. Journal of Phenomenological Psychology, 43:185–215.

Nancy, Jean-Luc. 2008. Corpus. Vertaal deur Richard A Rand. New York: Fordham University Press.

O’Sullivan, Simon. 2010. Fold. In Parr (red) 2010.

Ondaatje, Michael. 1989. The Collected Works of Billy the Kid. Left Handed Poems. Londen: Picador.

Parr, Adrian (red). 2010. The Deleuze Dictionary. Revised Edition. Edinburgh: Edinburg University Press.

Pienaar, U de V ea. 2007. Neem uit die verlede. Die geskiedenis van die Laeveld en ontstaan van die Krugerwildtuin. Pretoria: Protea Boekhuis.

Preller, Gustav. 1928. Sketse en opstelle. Pretoria: JL van Schaik.

—. 1938. Dagboek van Louis Trichardt (1836-1838). Kaapstad: Nasionale Pers.

Rajchman, John. 2001. The Deleuze Connections. Londen: The MIT Press.

Strachan, Alexander. 1994. Die werfbobbejaan. Kaapstad: Tafelberg.

Tatum, Stephen. 1997. Inventing Billy the Kid. Visions of the Outlaw in America, 1881-1981. Tucson: University of Arizona Press.

Van Wart, Alice. 1985. The Evolution of Form in Michael Ondaatje's The Collected Works of Billy the Kid and Coming Through Slaughter. Canadian Poetry. Vol 17. Beskikbaar by http://www.uwo.ca/english/canadianpoetry/cpjrn/vol17/Van wart.htm. Afgelaai 18 Julie 2012.

Eindnotas

1 Cowell (2013)

2 1996:163-4

3 1996:167

4 Vgl Lemaire (1996:168)

5 1996:186

6 2008:5–6

7 2008:7–8, 11

8 2008:12

9 Vgl oa American Experience: Billy the Kid (2011) en Discovery Channel Quest, Billy the Kid: Unmasked (2004)

10 1999:314

11 1999:3

12 1999:5

13 1999:31

14 1989:5

15 Vgl Van Wart (1985)

16 Vgl Bethell (2003)

17 Vgl Tatum (1997:145)

18 1997:5

19 Barnard 1978 in Mclean (1998)

20 Brooke (1998:10)

21 http://en.wikipedia.org/wiki/Stigmergy

22 Strachan (1994:7)

23 Strachan (1994:125)

24 Strachan (1994:43)

25 Johnson (2012:276)

26 Brück (2005:46-7)

27 Brück (2005:47)

28 Brück (2005:46)

9> Brück (2005:47)

30 Brück (2005:47)

31/span> Brück (2005:54)

32 Brück (2005:48)

33 Brück (2005:49)

34 Brück (2005:54, 59)

35 Brück (2005:56)

36 Brück (2005:64)

37 Brück (2005:63)

38 2009:170

39 Nancy (2008:15)

40 2008:15

41 Strachan (1994:4)

42 2004:39 ev

43 Agamben (2004:51)

44 Agamben (2004:39)

45 Agamben (2004:40)

46 Agamben (2004:40)

47 Agamben (2004:41)

48 Ixodes Ricinus

49 2004:45

50 2004:46

51 Agamben (2004:46)

52 Agamben (2004:46)

53 Agamben (2004:46)

54 Agamben (2004:46–7)

56 2007:108, in Mølbak (2012:187)

57 Mølbak (2012:207)

58 Vgl Mølbak (2012:186)

59 Vgl Mølbak (2012:186)

60 Mølbak (2012:207)

61 Latour (2005:74), in Mølbak (2012:208)

62 Vgl O’Sullivan 2010:107–8      

63 2003:261–2

64 Rajchman (2001:85) 

65 2003:262

66 Vgl Rajchman (2001:85)

67 Anker (2007:93)

68 Vgl Esposito 2012:149)

69 Vgl Esposito 2012:149)

70 2003:257

71 Vgl Agamben (2004:51)

72 2003:264

73 Strachan (1994:7)

74 Strachan (1994:147 – my kursivering

75 Strachan (1994:98)

76 2008:92

77 2008:94

78 2001:10 in Grosz (2008:95)

79 2008:96

80 McCann (2008)

81 McCann (2008)

82 Strachan (1994:72)

83 Strachan (1994:105)

84 Strachan (1994:17)

85 1997:9, 12

86 Vgl Preller (1928:111–2)

87 1938:xxxiii

88 Vgl 2007:202

89 Vgl Millin (1950:331)

90 Basson (2012)

91 http://www.accommodation-warmbaths.co.za/history.htm

92 Lokisa Environmental Consulting (2007:16-17)

93 Strachan (1994:79)

94 2012:149

97 2011:20

98 Andreasen (2011:19)

99 Vgl www.sunypress. edu/p-5402-being-in-the-pampas.aspx

100 Andreasen (2011:20)

101 2011:22

102 Andreasen (2011:25)

103 2011:25

104 2011:26

Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2014
Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs: Steward van Wyk vertel

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johann de Lange

    Willem, dankie vir 'n inspirerende lesing waarbinne jy dinge verwoord wat ek self nog net vaag of ongevormd vir myself probeer deurdink het. En die bronne wat jy gee, gaan my 'n tyd lank besig hou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top