Jan Rabie-Marjorie Wallace-gedenklesing 2023: Die onsigbare vrou met die veerpen in die hand: “Ich bin die Frau von gestern”

  • 0

Foto van Valda Jansen: verskaf

Jan Rabie-Marjorie Wallace-gedenklesing
Valda Jansen
November 2023

Die onsigbare vrou met die veerpen in die hand: “Ich bin die Frau von gestern”

Inleiding 

Vreemde tale, vreemde plekke, vlugte en treinreise. Lang staptogte alleen en soms ook nie, langs onbekende strate in wêreldstede. Dit het die trajek van my lewe bepaal. In dieselfde mate as wat die kettings van my land en my taal ook ’n rol gespeel het.

Die studie van ’n vreemde taal op universiteit het my die woorde gegee om oor my eie lewe te besin in ’n tyd toe dit te moeilik, of selfs onmoontlik, was om dit in my moedertaal, Afrikaans, te kon doen.

 

Ek moes eers oor ánder mense in ’n ánder taal leer voor ek die woordeskat kon vind om te sê: Ja, dit is ek ook; ek verstaan wat dit is, ek weet wat hulle deurgemaak het; ek het dit aan my eie lyf gevoel.

My opleiding in Duits aan die Universiteit van Wes-Kaapland in die laat tagtiger- en vroeë negentigerjare het ook sterk klem gelê op versweë letterkundes soos dié van die DDR. Dus het ek ’n bewustheid ontwikkel vir die letterkunde wat in hierdie, toe nog, onbekende DDR na die Weste gesyfer het.

1

Ek wil hier veral op twee bekende vroueskrywers uit die DDR fokus: Gabriele Stötzer en Christa Wolf. Laasgenoemde is seker die bekendste van die twee, omdat haar werk reeds in DDR-tye ook in die Weste bekend was. Toe die liedjieskrywer en digter Wolf Biermann, wat in die DDR gewoon het, in 1976 in Keulen opgetree het en nie weer na die DDR kon terugkeer nie, het albei hierdie vroueskrywers  beswaar aangeteken. Stötzer is swaar gestraf en moes ’n jaar lank in ’n vrouegevangenis deurbring.

 

In die jaar 1979, tien jaar voor die val van die Muur, werk Christa Wolf by haar huis in Oos-Berlyn aan haar roman Was bleibt.

 

’n Jong vrou staan voor haar deur. ’n Bewonderaar, want Christa Wolf, hoewel ’n Oos-Duitse skrywer, was ook in Wes-Duitsland bekend; anders as die meeste ander skrywers in DDR kon Christa Wolf ook reis, en haar boeke het in die Weste goed verkoop.

In Was bleibt skryf sy oor die onverwagte besoek van hierdie jong vrou. Sy noem haar “das Mädchen”, die meisie.

Die meisie het die ouer vrou opgesoek omdat sy wou weet of haar eie skryfwerk goed genoeg sou wees om gepubliseer te word.

Hierdie jong vrou was Gabriele Stötzer, wat, ná sy uit die gevangenis gekom het, alles wat met haar gebeur het, neergeskryf het. Dit was hierdie tekste wat sy in Christa Wolf se hande gesit het. Wolf het haar egter gemaan om die tekste baie ver weg te bêre, omdat dit haar weer in groot moeilikheid kon laat beland.

Die boek waaraan Wolf geskryf het, Was bleibt, is eers in 1990 gepubliseer, dit wil sê eers ná die Wende, waarvoor Wolf gekritiseer is, omdat daar gevoel is die boek sou meer impak gemaak het indien dit in DDR-tyd verskyn het.

Intussen het die twee vroue vriende geword, en Stötzer het vanaf 1989 gereeld boeke gepubliseer, waaronder Ich bin die Frau von gestern in 2005 (Ek is die vrou van gister; of: Ek is die vrou van vroeër).

Tydens ’n jaar lange verblyf in Duitsland in 1996 het ek en Gabi Stötzer mekaar leer ken. Ek het ’n onderhoud met haar opgeneem en verwerk. Dit is later deur UWK se  Departement Afrikaans in hul tydskrif Karring gepubliseer.

Gabi het onder andere aan my gesê die besluit om te skryf het gekom toe sy in die tronk beland het. Want hulle het alles van haar af weggevat; sy het gevoel nou het sy heel onder in die samelewing aangeland en al wat sy oorgehad het, was die begeerte om te skryf, om haarself te verwoord.

Dit is ook ’n tema wat tot vandag toe in haar werk herhaal word.

Ek het die mense oor wie sy in haar boeke skryf, leer ken. Ek het saam met hulle om etenstafels gesit, saam met hulle kerkdienste bygewoon. Saam in stilte en gesprekke, gehul in respek, in hul sitkamers gesit en koffie drink.

So kort na die val van die Muur was daar ’n uitdrukking op hul gesigte wat my vandag nog by bly. ’n Weerloosheid. ’n Behoedsaamheid in die oë. ’n Waaksaamheid in die liggaamshouding.

En ek het gedink: Ja, dit is ek ook; ek ken hierdie weerloosheid. Wanneer jy van iewers ver weg in ’n nuwe land aangekom het. En jy bevind jou tussen vreemde mense. Al praat julle dieselfde taal. En jy is waaksaam, want jy weet nog nie of, en in hoeverre, jy hul kan vertrou nie.

2

Tydens Angela Merkel se afskeidseremonie as bondskanselier in 2021 was een van die liedere wat sy gekies het, die welbekende sangeres Nina Hagen se “Du hast den Farbfilm vergessen” uit 1974. (Toevallig het Nina Hagen ook ’n konneksie met Wolf Biermann; hy was haar stiefpa.)

Hagen se lied was ’n soort ode aan die mense van die DDR, ook Merkel se heimat. Dit was ’n nie-amptelike “volkslied” – almal het dit geken, almal het dit gesing.

Die woorde van die liedjie klink asof dit oppervlakkig is. Maar dis in werklikheid allesbehalwe – dis satire; ’n aanklag teen die kleurloosheid en strakheid wat die DDR was.

“Du hast den Farbfilm vergessen”: op die oog af ’n onskuldige liedjie oor ’n vrou wat vir haar man kwaad is omdat hy nie kleurfilm saamgeneem het op hul vakansie nie. Sy is vies daaroor en dreig dat as dit weer sou gebeur, sy sal weggaan.

Soos baie ander dinge in die DDR was kleurfilm nie geredelik beskikbaar nie en mense kon nie vrylik die land verlaat soos hulle wou nie.

Die hele liedjie is dus ’n kommentaar op die repressiewe stelsel, en die humor is eerder ’n lag met ’n traan – iets wat die mense van die DDR goed verstaan het. Dit was ’n strategie, ’n oorlewingsmeganisme, wat hulle in hul alledaagse lewe toegepas het.

Merkel se besluit om hierdie lied by haar militêre afskeid aan te vra, het die aandag opnuut weer op die nalatenskap van die DDR gevestig. En as ’n mens op die internet weer na die video van hierdie geleentheid kyk, is dit opvallend dat dit, hierdie herinnering aan ’n tyd in ’n ander land, iets was wat tog nog ’n sweem van emosie by Frau Merkel kon ontlok.

Die liedjie gaan oor Farbe, oor kleur en skoonheid en die moontlikheid van mooi herinneringe. Dit word gestel teenoor die uitsigloosheid van die lewe in die DDR, ’n plek waar jy jouself moet wegsteek, waar jy as’t ware nie jou ware kleure moet wys nie.

Die liedjie dryf dus die spot met ’n stelsel wat sy eie mense vasgevang hou.

Dit is hierdie uitsiglose, grys bestaan waarvan Stötzer weer eens skryf in haar roman Das Leben der Mützenlosen. Die boek is vertaal en het in 2012 in Nederlands as De grijze stroom verskyn.

“Ich bin die Frau von gestern.” Dit kan ook wees wat Merkel simbolies gesê het met haar keuse van Nina Hagen se liedjie. Ek is steeds die vrou van vroeër; ek het nie vergeet waar ek vandaan kom nie.

3

My doel met hierdie storie waarvoor ek die skrywersbeurs ontvang het, is om ’n verlore geskiedenis op te teken. Die lewens van mense wat uiteindelik gelei het tot die geboorte van iemand na aan my.

 

In al haar boeke en kunswerke beklemtoon Gabi Stötzer veral die volgende:

Skryf gebeur wanneer dit al is wat jy het, wanneer jy alle ander dinge en alle ander persone verloor het; wanneer dit al is wat jy oor het; wanneer al wat jy het om te gebruik, dit is wat jy ís.

 

Die storie speel onder andere af in ’n ander era as die een waarin ons nou is. Die tyd van Shaka Zulu, van Napoleon, die Grimm-broers en hul optekening van mondelinge volksverhale.

Sentraal in hierdie roman is die samekoms van twee mense uit verskillende wêrelddele. En hoe die politieke ontwikkelinge in daardie wêrelde die lewens van hul afstammelinge, hul nasate, beïnvloed het.

Dink jou terug in ’n tyd in die verlede, tussen die oorloë van Shaka Zulu aan die ander kant van die land. En dié van Napoleon aan die ander kant van die wêreld. 

In die tyd toe Jane Austen in Sense and sensibility geskryf het: “And sometimes I have kept my feelings to myself, because I could find no language to describe them in.”

’n Sentiment wat Gabi Stötzer in ’n latere werk verwoord as “das Brennen der Worte im Mund” (losweg vertaal: woorde wat in jou mond brand).

In die plekke waar Gabi gewoon en gewerk het (en steeds vandag as welbekende 70-jarige kunstenaar en skrywer woon en kunsuitstallings hou – plekke soos Erfurt, Weimar en Jena), is reeds in hul leeftyd standbeelde opgerig vir Goethe en Schiller – twee tydgenote van die sendeling oor wie se vrou hierdie manuskrip gaan.

Friedrich Schiller se gedig “Ode an die Freude”, wyd bekend as “Ode to joy”, is deur Beethoven getoonset – Beethoven, ook ’n tydgenoot, in 1770 gebore, wat 250 jaar later, in 2020, wêreldwyd luisterryk gevier sou word. Dit was die plan, voor die poorte een na die ander in ons almal se gesigte toegeslaan het. 

Die storie speel af in die 19de en ook in die 21ste eeu en word as twee parallelle verhale vertel.

Dit is waar die storie begin. By die afstammelinge in die jaar 2014. Presies 200 jaar ná die huwelik tussen die hoofkarakter en die sendeling.

Die “onsigbare vrou” in die titel van hierdie lesing verwys ook na die hoofkarakter in die manuskrip. Daar is nie veel oor haar bekend nie. Wat wel bekend of opgeteken is, is haar naam wat haar man aan haar gegee het. Onsekerheid heers oor waar sy gebore is, ook op presies watter dag sy gebore is, asook haar presiese sterfdatum. Die leser gaan saam met die nasate op ’n soektog na haar graf.

4

Die skrywer dink ook na oor historiese fiksie, oor geskiedenis en die invloed van die eie, persoonlike verlede.

Oor stemme wat deur die geskiedenis verswyg is. En hoe ’n skrywer by daardie punt uitkom waar jy jou in die verlede terugdink en ’n verbeelde stem begin hoor.

Die paaie wat ek in my lewe geloop het, het my tot by hierdie storie gebring. Die persoonlike verhoudings met van die nasate van ’n verbintenis wat 200 jaar terug strek, het die moontlikhede van ’n storie voor my voete kom lê.

As skrywer besluit ek wie om in te laat en wie om weg te laat en wie om dood te maak. Dit is my in die werklike lewe nie (altyd) beskore nie.

Maar moet hierdie versweë stem werklik gehoor word? Hoekom moet hierdie stem vandag gehoor word; wat wil hierdie stem vir ons sê?

Ons, wat leef in die tyd van Kunsmatige Intelligensie?

Wat ons van haar, die hoofkarakter, weet, is nie hoe sy was nie. Wat ons vandag weet wat daar alles oor haar geskryf en gesê is, is nie hoe sy was nie. Is nie hoe sy geleef het nie.

Ons weet wel sy het geleef en kosbaarhede nagelaat.

Maar wat alles oor haar verswyg is, daaroor het sy geen beheer gehad nie.

As ons haar wil onthou met die waardigheid wat haar toekom, moet ons al hierdie oorblyfsels van kolonialisme en apartheid en ander vorme van diskriminasie trotseer.

Ons moet haar sien soos sy sou kon gewees het.

Dan gaan ons op soek na die dinge. Hoe en waarmee het sy geskryf? Hoe lyk en voel haar nalatenskap, die Nama-vertaling?

Die plekke waar sy gewoon het. Die huis in Betanie, in die suide van Namibië. In Komaggas, die dorpie in die noordweste van Suid-Afrika.

Kyk diep in die oë van die afstammelinge. Sien hulle durf en nuuskierigheid en hul soeke na waardigheid vir hierdie vrou wat deur so baie mense verswyg is. Kyk hoe breek sy deur die vooroordele.

Kyk hoe klim die afstammelinge oor die mure en grense; kyk hoe loop hulle ’n pad na mekaar toe. 

Maar wees tog versigtig vir die portret wat deur ander geskryf of geteken is. Hulle sien haar soos hulle haar wíl sien. 

Jy kyk met ander oë.

5

Oor toe-eiening al dan nie, oftewel: hoe om die wit blik te systap ...

Hulle wat uit die noorde kom, hulle is al weer hier. Hulle kyk ons uit, hulle hou ons dop. Hulle sien ons; hulle luister na ons; hulle weerspieël ons; hulle word ons; hulle wil ons word.

Kaaps is weer Hollands.

Maar daar is natuurlik Afrikaans én Afrikaans.

Afrikaans het talle dialekte, maar Kaaps is tops. 

Maar ek val tussen tale deur. Afrikaans is my dialek; nie Kaaps of enige ander vorm daarvan waaraan jy dink wanneer jy na my kyk en my voorkoms ontleed volgens jou maatstawwe nie. My wortels lê in Noord- en Oos-Kaap. Ek was nog klein toe die wind my hierheen waai. Maar ek val tussen tale deur en bietjies-bietjies daarvan smeer aan my af.

Ek word soms ook behandel asof ek ’n variant is; asof ek ’n variant van ’n taal praat; asof ek ’n variant van ’n mens is. Maar hulle misgis hulle.

Tale verander soos samelewings verander.

In my honneursskripsie in Duits – jare gelede – het ek ’n vergelykende studie gedoen van twee tale met Duitse wortels en konneksies: Sorbisj en Jiddisj.

Dit het bygedra tot ’n bewuswording van hoe taal by eksterne omstandighede aanpas; hoe die taal vervorm; asof taal self ’n organisme is. Asof die taal homself oopstel vir evolusie; asof hy weet as hy nie aanpas nie, sal hy nie oorleef nie.

...........
Woorde is soos die natuur – dit neem alles op wat voorkom: mense; emosies. Stukkies hiervan bly in die taal agter. Nuwe generasies kom telkens opnuut daarop af en is verras.
.............

Woorde is soos die natuur – dit neem alles op wat voorkom: mense; emosies. Stukkies hiervan bly in die taal agter. Nuwe generasies kom telkens opnuut daarop af en is verras.

Soms is daar ’n woord wat jy nie ken nie, maar jy verstaan dit instinktief; dit is soos déjà-vu – ’n plek wat jy instinktief ken al was jy in jou lewe nog nooit daar nie. Asof die taal self hierdie woord onthou.

Taal dra ook swaar aan bagasie. Woorde word belas met die verlede.

Dit is die oordrag van intergenerasietrauma aan woorde. Net soos dit ook aan ons oorgedra word.

Hulle plunder, want hulle weet hoe – hulle het eeue se ondervinding. Hulle steel jou idees, hulle streel jou ego en steel jou idees; hulle luister fyn en glimlag liefies.

Maar jy moet hulle nie glo nie. 

Hulle gentrify. Hulle occupy. Hulle appropriate. Hulle vat oor. 

Maar hoé skryf ’n mens dan? 

Jy trek jou in ’n borrel terug. Jy maak asof alles en almal wat jy ken, reeds dood is. Hulle is nie daar nie. Hulle weet nie meer van jou nie. Jy hoef jou nou nie meer aan enigiemand te verduidelik of jou te verontskuldig nie. Of enigiemand se toestemming te vra voor jy jou hand aan die papier slaan nie.

Jy is vry. Nou kan jy skryf.

Tog bly die vraag: Hoe skryf ek oor hierdie vrou wat 200 jaar gelede geleef het? Hoekom sukkel ek so daarmee? Waarvoor is ek bang?

Ek is bang dat ek aan haar sal doen wat jare, dekades en eeue lank aan mý gedoen is.

Dalk is ek bang ek skryf oor haar soos wit skrywers oor onsigbare landgenote skryf en/of geskryf het.

Die werk van ’n skrywer is tog om altyd nuut te skep.

Ek worstel deurentyd daarmee. Nie dát ek mý storie moet skryf nie, maar eerder hóé ek my storie skryf. Dít, dink ek, is hoe jou skryfwerk universeel raak.

My doel met skryf is nie noodwendig om die storie te vertel nie, of noodwendig my eie storie, dit wat met my gebeur het, te vertel nie. Dit is in die eerste plek veral om ’n gevóél in woorde weer te gee. ’n Atmosfeer. Stimmung, soos die Duitsers sê.

’n Newetema hiervan: hoe om die “white gaze” te vermy.

Het ek die wit manier van kyk geïnternaliseer? En indien wel, hoe moet ek maak om dit af te leer?

Hoe dink jy verby dit wat jou ouers en die samelewing in jou geïndoktrineer het? Hoe kyk jy verby dit? Hoe skep jy ’n eie taal om dit te sê wat ook gesê moet word. 

Die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 

Die skip. Daar staan Johann Hinrich. Ons sien hom daar staan. Hy staar die see in, die wye oseaan rondom hom. In die middel van die oseaan is daar net water, groot en groter deinings. Die water doen wat hy moet. Dit traak die water nie of jy daar is in jou skippie nie. Die water gaan waar hy moet.

Maar ons dwaal af.

Wat van Johann Hinrich daar by die reling, sy oë op die horison? Wat sal ons van hom sê? Waaraan dink hy? Watter diep filosofiese en religieuse gedagtes dwaal deur sy kop?

Of dink hy net aan sy Bybel? En sy familie wat hy nooit weer sal sien nie?

Ons los hom net daar. Johann Hinrich het al genoeg gesê. Ons weet van hom. Veel van wat hy geskryf het en wat oor hom geskryf is, is daar. Dis beskikbaar. Dis op enigeen se rekenaar – jy tik sy naam in en ’n horde bronne spring uit; dis amper magies hoe maklik dit kan wees. Om so naby ’n voorouer te kom, jy lees sy eie woorde in sy eie skrif.

Maar dis nie die doel van hierdie skrywe nie. 

Dus los ons vir Johann Hinrich met sy vername naam daar op die skip. Hy is fine, hy sal niks oorkom nie. Ons weet hy het nie op die skip vergaan nie; die oseaan het hom in 1811 veilig in die Kaap afgelaai. Ons weet dit, want ons is hier. Ons hoef ons nie te bekommer nie.

Ons kyk eerder verder weg, die binneland in. Die onbekende. Die onopgetekende. Al wat ons het, is die wind. Al die woorde wat gespreek en deur die wind weggewaai is. Ons kyk of ons dit kan agterhaal.

Hierdie boek wil nie rekonstrueer nie. Ons moet dekonstrueer.

Dus speel ons eers net met die woorde.

Reconstruct, Deconstruct. Self-destruct.

Vergewe my my eie arrogansie om woorde in jou mond te wil lê. Hoe kan ek meer van jou weet as enige iemand anders, as enige ander vrou, as enige ander skrywer?

Jy lag so baie. Hoekom lag jy al weer. Lag jy my uit? 

Ek lag, want ek skuld niemand iets nie. Ek is lankal dood. Wat jy oor my skryf, gaan my nie aan nie, raak my nie in die minste nie. 

Die storie van Zara se stille revolusie eindig net voor die einde van die beleid van slawerny aan die Kaap. Ons raak nie aan die slawe nie. Ons los dié storie net daar. Vir eers.

6

Ek word gereeld gekonfronteer met vrae oor hoekom ek Duits geleer het, wat dit vir my beteken, hoekom ek nie daar gebly het nie, maar telkens die besluit geneem het om terug te kom Suid-Afrika toe.

Daar is dalk ’n obsessie met vreemde plekke wat ook in my eie werk neerslag vind; ek werk dit graag in. En ek het begin wonder hoekom. Dit het miskien daarmee te make hoe belangrik dit is om myself te sien in die konteks van ’n breër wêreld as dit wat tradisioneel aan my opgedis is.

Ek plaas myself in die wêreld; ek sien die verteller of karakters in die wêreld. Ek haal myself uit die boksies uit wat aan my opgedring en opgedwing is. En dit is my skryfwerk wat dit vir my moontlik maak.

Hierdie wye en droewe land het my teruggeroep. Elke keer wanneer ek weg was, was daar iets of iemand wat my laat terugkom het. Soms ook onder valse voorwendsels. Baie keer ook met leë en bedrieglike beloftes.

As ek dink aan die plekke waar die boek moet afspeel, sien ek dit asof dit voor my oë gebeur.

Kaapstad. Die berg. Die lyf van die leeu tot waar die stert sou wees. My oog gly terug oor die lyf tot waar die kop langs Tafelberg rus. 

Die geboue wat eeu na eeu, dekade na dekade, regering na regering soos paddastoele verrys het. 

Dan sluit ek my oë. Hou die huidige prentjie in my kop. En elimineer. Eers die hoogste geboue. Dan al die ander, die een na die ander. Tot net die enkeles oorbly.

Ek verbeel my die prentjie in Johann Hinrich se gesigsveld op die dag in September 1811 toe hy hier aanland.

As ek my wil verbeel hoe die wêreld tóé daar uitgesien het, moet ek noodwendig elimineer. Wegvat. Uitvee. Weggooi. As ek die volle prentjie wil sien. 

Ek en die kind kom met die N2 terug. Voor ons lê Kaapstad. 

Hoe sou dit 200 jaar gelede gelyk het? 

Ek kyk en verbeel my.

In my gedagtes vind die veranderinge plaas. 

Ek vee die rykmanshuise teen die bult uit. 

Skiet die hoë geboue die vergetelheid in. 

Haal die oorvloedigheid een vir een uit die hede, verplaas dit na ’n ander dimensie: Wag solank daar – ons sal kyk of ons julle nodig kry. 

Vryf die witgepleisterde parlement met my vinger met die grond gelyk. 

Toor die afgekapte woude en wilde diere terug. Maak jou my hande oop. Laat hulle vry uitstap. 

Die kasteel was tóé reeds daar. Die tuine. ’n Hawe vir die nuwe aankomelinge en diegene wat kos en water en sonlig soek. 

7

Tema: hoekom skryf?

Wat ek wil weergee, is ’n gevoel; ’n emosie. Meer as net ’n storie.

Dis iets wat organies gegroei het; dit bestaan reeds dekades, hierdie gewaarwording sedert ek op die ouderdom van ongeveer 10 jaar my eerste gedigte begin skryf het.

Ek kry ’n gewaarwording, en dit moet gestalte kry. Dit het my bang gemaak, want ek het dit nie verstaan nie. En dit het die grootmense rondom my nóg banger gemaak en hulle het my nie geglo nie. En hulle óngeloof in my oor al die baie jare het gegroei en oorgeneem.

Wanneer ek skryf, is dit omdat ek voel ek moet; omdat ek nie anders kan nie. Dit gaan nie altyd om ’n storie wat vertel moet word nie. 

Wanneer ek skryf, moet dit uiteindelik kuns wees. Of kuns word.

En hoekom juis hierdie stem? 

As hierdie storie waaraan ek skryf, nie noodwendig mý storie is nie, is dit geoorloof dat ek my hand daaraan waag?

Is dit appropriation?

En as dit is, het ek dan steeds die reg om ánder daarvan te beskuldig as ek dan sélf daaraan skuldig is?

Die skrywer onttrek haar van die samelewing; sy voer haar bestaan in ’n borrel.

Ek sluit my van mense af, skryf sy, nadat hulle hul eerste van my afgesluit het. Ek kom by die punt waar ek hulle nie meer opsoek nie. Ek retireer.

Ek soek beskerming, ’n laer, ’n heenkome; ek soek asiel, nie in ’n ander land nie, nie in ’n taal nie. 

Ek kry dit in woorde; ek kry dit as ek my met woorde omring.

As ’n skrywer skryf ek oor myself; ek plaas my eie self in my stories. Want die stories gaan nie oor my nie. Dit gaan oor die woorde. 

Dit gaan oor die kuns van woorde. 

’n Skrywer werk met woorde. Dit is die begin en die einde. Hoe jy die woorde inspan en uitmekaar haal.

Ek het niks anders as myself nie. Ek het net my eie waarheid. Ek kan net my eie woorde glo. Alle ander se woorde verwar my; ek verstaan hul heeltyd verkeerd. 

Soos sport, so is skryf.

Soos ’n ysskaatser sy eie liggaam gebruik, soos ’n hip-hop- of balletdanser tegnieke leer en bestudeer en interpreteer.

Soos ’n ysskaatser met sy eie lyf op die ys ’n storie vertel, so vertel ek met my eie liggaam in my eie woorde ’n storie wat die wêreld moet hoor.

Soos ’n ysskaatser se eie liggaam sy toerusting is, so is die skrywer se eie liggaam in die woorde verdoesel.

Die titel van die gedenklesing gaan oor identiteit, veral die soeke na ’n eie identiteit. 

Ek ken onsigbaarheid. Ek het dit aan my eie lyf gevoel. Ek het daarmee grootgeword en stoei nog steeds daarmee. Om nie raakgesien te word nie.

Hoe skryf ek?

Ek werk aan my manuskripte soos mens aan ’n digbundel sou werk. Klein eenhede op ’n slag; rond en bont; en agterna, wanneer die gevoel daar is dat dit klaar is, dat niks meer bygevoeg of weggeneem kan word nie, plaas mens daardie los stukke in ’n groot eenheid. Dan is dit ’n manuskrip. Dan word dit ’n boek. 

Wat ek moes oorweeg: die klink en die klank van ’n ossewa. Hoe klink ’n ossewa? Om 200 jaar terug te dink, moet mens lank en fyn luister. 

Na die ritme van ’n ossewa, die ritme van ’n gesprek tussen twee mense in ’n oop ruimte met tyd op hande. 

Na die ritme van woorde in ’n taal nog lank voor dit ’n naam gekry het. 

Na die ritme van ’n lewe op die drumpel van groot veranderinge en omwentelinge. Die vuisgevegte van koloniale moondhede, afskaffing van slawerny. 

Dis soos om te luister na die klank van die geskiedenis toe dit nog werklikheid was. 

En dan moet jy dit gryp, dit plunder, hierdie strooihalms. Vinnig, skryf dit neer, voor dit weer verdwyn. 

Die skrywer is die moeder van die kind, maar die moeder is nie die een met ’n direkte lyn na die voorouer nie. Sy kom by haar uit via hierdie skrywe. 

Die kind is, soos al die ander om hierdie tafel, ’n relik; ’n bewys dat Zara bestaan het. Die kind is ’n artefak.

Die Namas was nomade. Ons het ons huise opgebreek en opgepak en agter water aan getrek.

Die afstammelinge, veral dié uit die noorde van die aarde, is verlief op die idee van Zara. Veral noudat hulle gewoond raak om te sê: Ons het ’n swart voorouer. 

Maar is dit al wat sy uiteindelik is?

.........
Die afstammelinge, veral dié uit die noorde van die aarde, is verlief op die idee van Zara. Veral noudat hulle gewoond raak om te sê: Ons het ’n swart voorouer. 
Maar is dit al wat sy uiteindelik is?
............

Dalk is dit net die skrywer wat haar teenwoordigheid aanvoel? Omdat sy al so lank hierdie pad op papier met haar stap?

Al die afstammelinge bring met hulle saam hul verledes wat agter hulle lê. Uit Duitsland, uit Finland, uit Namibië, Australië. Ons stotter deur mekaar se tale. 

Die vervolging, die vlug, die wegkruip, die wegsteek, die oorwinning. Die hele proses telkens weer van voor af. 

Hulle bring dit alles saam in hul bagasie, in hul verwagtinge, in hul 5 liter-waterkanne wat hul saamsleep om nie van dors te vergaan in hierdie onherbergsame land nie.

Die voorbereiding was lank en intens. Maar hier is hulle nou.

En lê alles op die altaar. 

Soos nomades dryf ons deur hierdie land. 

Agterhaal ’n eeue oue verbintenis. 

Agter Zara aan. 

Ons hou stil op al die plekke waarvan ons weet dat sy oral was. En luister fyn. Asof antwoorde in die wind wag, asof ons ore daarop ingestel is. 

Die wiele suis op teerpaaie. Ons laat kilometers en kilometers onder ons deurvlieg. 

Vinnig. Vaartbelyn. Ons moet alles wat ons wil weet, binne hierdie paar dae voltooi. Want daar is sperdatums. En vliegtuigkaartjies huis toe. En werk wat wag, vir hulle wat oor die waters moet terug, vir ons wat hier agterbly. Ons snel voort deur die land. 

Al agter die voorgeskrewe roete aan. Volg die geblikte stem getrou.

Afsluiting

En voor ek heeltemal afsluit, hier is al my dankbetuigings:

Ek eer die nagedagtenis van Jan Rabie en Marjorie Wallace – hulle wat die onsigbares in die samelewing raakgesien het.

Baie dankie aan dr Donovan Lawrence en die res van die beurskomitee vir hulle vertroue en geduld.

Dankie ook, en veral, aan UWK se Departement Afrikaans en Neerlandistiek. Julle sal my vergewe as ek veral twee name uitsonder: Prof Steward van Wyk en dr Anastasia de Vries, julle het geen idee hoe julle my die afgelope tyd regop gehou het nie. Dankie vir hierdie geleentheid.

Dankie dat ek ná so baie jare waarin die lewe my op ander paaie gelei het, weer deur die gange van die Departement Afrikaans kon stap. Dankie vir elke klop aan die kantoordeur.

Dankie aan die studente, hulle wat my aanbod om my op my voornaam te noem een en elk verwerp en eerder daarmee volgehou het om my “juffrou Valda” te noem. Hulle in wie ek ook ’n stukkie van my jonger self kon sien.

Die studente van UWK is lieflik. Hulle is hoflik, hulle is respekvol, hulle is talentvol. En hulle is honger. In al die betekenisse van die woord. Hulle kry swaar en ’n mens sien dit raak. Hulle werk hard en gryp al die kanse aan wat na hulle toe kom.

Ek sal die tyd op daardie pragtige kampus altyd in my hart koester.

In baie opsigte is hierdie einde van die jaar vir my die einde van ’n era. Die einde van ’n kort, maar intense tussenspel en daarmee is my verbintenis met UWK ook verseël.

Dis ook die einde van ’n onskuld, die einde van ’n era sonder kunsmatige intelligensie en die potensiaal én gevaar daaraan verbonde; ons kyk hierdie kat behoedsaam uit die boom.

UWK sal altyd ’n baie spesiale plek in my hart behou, hierdie instelling met ’n trotse geskiedenis van bloed en sweet wat sedert sy ontstaan ’n toevlug vir die onsigbares in die samelewing was.

Oral om ons heers oorlog. Ons soek asiel. Ons soek beskerming. Ons is uitgelewer aan die elemente. Ons het ’n dringende behoefte aan liefde en vrede en kalmte.

Soos my pa weer lewendig geword het wanneer ek van sy ou Elvis Presley-plate speel, so wek ek hierdie onbekende, lank reeds vergane vrou uit die dode op wanneer ek in my kind se oë kyk.

Wanneer ek skryf, is dit soms belangrik om my pa te onthou – lank reeds oorlede; lank reeds vergewe.

My ma se herinneringe is nie altyd betroubaar nie.

My eie herinneringe dalk tog ’n bietjie meer.

Want wanneer ek my pa onthou, en al die oorloë en vredesonderhandelinge in my ouerhuis toe ek grootgeword het, kry ek soms ’n glimp van wie ék toe was; en onthou ek die droom van wie ek eintlik altyd graag sou wou word.

Soos nou, wanneer ek in die spieël kyk en verby die witgeworde hare en die stilsluipende plooie; ’n verval bespoedig deur al die lewensnoodsaaklike indringende behandelings. Maar nou begin my oë my weer herken. Dan dink ek: Ja, daar is jy; jy is weer aan my bekend.

Uiteindelik bestaan die lewe ook uit mites en legendes. Stories wat ons onsself vertel om onsself en ander rondom ons te verstaan.

Daar bestaan nie iets soos geluk nie. Daar is net klein borreltjies gelukkige gebeurtenisse. Borreltjies. Soos glas. Deurskynend, jy kan dwarsdeur dit sien. Dun soos duur glas. Want dit breek sommer as jy dit te styf vasdruk. 

Maar net soos die mens nie altyd uit die geskiedenis leer nie, leer ons ook nie altyd uit die eie verlede nie. Ons bestendig die legendes van ons voorouers in die waan dat ons alles anders doen. Beter. En mensliker. Ons lei onsself om die bos.

Hier volg nou die legende van Zara. Die mite van die skrywer. En die leuens wat mense mekaar vertel. En aan hulself. 

En net soms, as ons gelukkig is, is daar ook ’n sprokie. Al is dit meestal ook van korte duur. 

Die skrywer se duisend en een nagte. 

Sy skryf die storie om kop bo water te hou nadat almal haar verlaat het. 

Hoe gaan die storie eindig? Uiteindelik sal dit nie eindig met al die toutjies wat bymekaar getrek word nie. Netjies nie. Uiteindelik sal die uiteinde van die storie van Zara, die onsigbare, wees dat al die toutjies uiteindelik uitrafel. Die skrywer/verteller se lank reeds uitgerafelde verhoudings met familie en eens nabye vriende. Haar kind se nuwe identiteit wat uitmond in die kind se selfgekose nuwe naam.

Die dag toe Johann Hinrich voet aan wal gesit het, was dit waarskynlik ’n doodgewone dag in die plek waar hy sy toekomstige vrou sou ontmoet. 

Dit was die maand September.

Die mense en hul dagtake. ’n Normale dag.

En Zara, voor sy Zara geword het, waar sy maar altyd graag was. Haar gedagtes in haar eie kop. Die oë wat alles aandagtig waarneem. Haar ore gespits vir die klanke van die veld. 

Vroom het hy en hulle van die skip afgeklim. Met die Bybel, spreekwoordelik onder die arm. Met die mites van die groot boek en die legende van ’n God. En die sprokie van vergewensgesindheid.

Waar was jy hierdie hele tyd, Zara? Waar was jy? Waarheen gaan mens ná die dood? Wat gebeur?

Skalkse glimlag. Kyk dié kant toe. Lag. Dit kan ek jou nie sê nie, dit weet jy mos. Jy gaan self uitvind. Almal wat so hier sit, gaan ook mos dié pad stap. 

Dan sit sy stil. ’n Paar oomblikke, sekondes, jare, gaan verby. 

Sy kyk die skrywer weer stip in die oë. Maar een ding kan ek jou sê. En dis die God se waarheid: Stories is goed wat vertel moet word. Elke mens het ’n storie. Dis die plig van die wêreld om na hierdie stories te luister. 

Op dun ys. Die aarde. En ons. En ek.

Afrikaans op dun ys.

Diversiteit in die werkplek op dun ys.

Hierdie land. Op dun ys.

Ons hoor die krake.

As ons presteer, is ons op dun ys; ons word fyn dopgehou. Dit laat ons nie koud nie. Ons besef ons kan hulle nie geredelik vertrou nie.

Hulle glimlag, hulle glim soos dun ys.

As mens op dun ys is, moet jy liefs alleen loop. As jy op dun ys is, is dit omdat jy alleen moet loop. Daar is nie ’n hand wat jou vashou nie

Op dun ys. Ons verhoudinge. 

Ons lees mekaar verkeerd. Ons is behoedsaam. Wie wil ons vertrou? / Vir wie wil ons vertrou? Wie kan ons vertrou?

As ek jou my hand gee, wat sal jy daarmee maak?

As julle dink dat ek my hart op my mou dra, is julle verkeerd. 

Ek dra my hart op ys. 

Ek bewaar my hart in sagte sneeu. 

Ek moet kil wees. Ek moet jou. liefs. nie. vertrou. nie. 

Ich bin die Frau von gestern. Ek is die vrou van vroeër. Hier is ek weer. 

’n Voetnota

Hierdie gedenklesing is saamgestel uit anekdotes en brokke uit my lewe, uit die werke van skrywers wat ek ken en bewonder, uit diverse feite, asook uittreksels uit ’n manuskrip.

Die lesing bestaan dus uit sowel versinsel as waarhede.

Die onus rus by die leser en/of toehoorder om self te besluit waar die verdigsels is en wat die waarheid, indien enige, sou kon wees.

Ter afsluiting

Soos ’n albatros so seil die woorde oor die tye. 
Die onse vaders
Die psalms en evangelies
Soos verse wat vrese besweer
Soos ’n albatros, so vlieg die herinneringe bokant die branders, so sweef die onthou bo die golwe
Soos ’n albatros sy vis, so gryp die hande almal mekaar vas om nooit weer te laat los nie 

Is dit tyd wat ons liggame aftakel? Die verbygang van tyd? Die liggaam wat verouder, selle wat een vir een doodgaan en al minder hul werk kan verrig?

En saam met die aflegging van baie jare is daar ook die aflegging van mense. Een vir een gaan hulle weg, gaan hulle dood. En jy bly alleen agter. Hul afwesigheid soos ’n oop wond. 

Mense val van my af. Hulle laat my lyf uitgelewer aan die wind en die weer. Hulle verlaat my lyf en laat my weerloos. Weerloos is ek sonder mense om aan vas te hou. 

Die skrywer waad deur die oormag van inligting oor die mans rondom haar, die onsigbare vrou. Ons skuif hul woorde eenkant toe; ons lees tussen die reëls van ou, vergeelde dokumente. Ons skreef ons oë en tuur tussen die bladsye deur verby al die jare, dwarsdeur geskiedkundige gebeurtenisse, tot ons op ’n veilige plek aankom, ’n windstilte. Om ’n lank vergane stem weer te kan hoor en op skrif vas te lê.

Ons soek die onsigbare vrou. Want ons weet sy was daar. Ons weet dat sy geleef het. Ons kyk in ons eie kind se oë, en wéét dat sy daar was en dat dit óns plig is om uit te lig wat dit was wat sy gedoen het.

Ich bin die Frau von gestern, sê die onsigbare vrou nou. Sy definieer haarself. Sy sê: Ek is.

Nie in terme van haar verhoudings of haar ouers en of sy kinders het al dan nie. Maar in terme van wie sý is.

En dit verg die grootste moed.

Haar woorde dring stil en seker tot my deur, vasbeslote en vasberade tussen al die lawaai en oorvloedigheid. Sy dwing haarself tot die voorgrond. Sy lê haar woorde in my vingers.

Die laaste woord behoort dus aan Zara, die hoofkarakter. In hierdie wordende roman is die onsigbare vrou die een met die veerpen in die hand. Sy wat deur die geskiedenis en die patriargie vergeet en verswyg is:

Soos water, so is ink. 
Diep en donker en kosbaar. Nie om mee te mors nie. 
Beter om elke druppel sorgvuldig op te pas.

Ek dank u.

Lees ook:

Valda Jansen (1965–)

Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024: ’n onderhoud met Steward van Wyk

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie

’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

Jan Rabie / Marjorie Wallace Lecture: Ground Zero – the South African literary landscape after apartheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top