Valda Jansen (1965–)

  • 0

Gebore en getoë

Valda Jansen is in Desember 1965 in Aliwal-Noord in die Noordoos-Kaap gebore. Sy ontvang haar laerskoolopleiding aan die Dr GJ Joubert primêre skool in die Strand.

Daarna gaan sy na die CR Rhoda sekondêre skool ook in die Strand en matrikuleer in Somerset-Wes aan die Gordon sekondêre skool.

Verdere studie en werk

Ná skool gaan Valda na die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy haar bekwaam as ’n onderwyser met ’n BA-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma.

Na haar studies met Duits as hoofvak gaan sy vir twee maande na Duitsland waar sy ’n taalkursus neem aan die Goethe-Instituut op die Middeleeuse dorpie Rothenburg ob der Tauber.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika was sy ’n Duitse onderwyseres aan die Portland sekondêre skool te Mitchells Plein waar sy ook Afrikaans en Engels gegee het.

Ná haar onderwysjare op Mitchells Plein is Valda met ’n beurs van die Pädagogische Austauschdienst as uitruilonderwyser na Jena in Thüringen. Een van die voorwaardes was dat sy na Suid-Afrika moes terugkeer om dít wat sy daar geleer het, te kom terugploeg. Jena is ’n universiteitstad en Valda kon dus na hartelus klasse daar bywoon.

Valda begewe haar hierna op die gebied van die joernalistiek en vanaf 2004 is sy ’n joernalis by Die Burger in Kaapstad waar sy onder andere in beheer was van die rubriek "Van alle kante". In April 2007 word sy ’n joernalis in die uitsaaiwese toe sy by RSG (Radiosondergrense) in die nuusaktualiteitsprogram aangestel word. Die kwaliteit van haar joernalistieke bydraes word erken toe sy in 2009 ’n finalis was vir die ATKV-Mediapryse vir beste insetsel in ’n nuus- of dieptenuusprogram met haar storie oor Adam Small. In 2010 is sy weer ’n finalis vir beste nuus- of dieptenuusprogram vir die oggendprogram Monitor op RSG. Sy was ook later joernalis by Beeld.

Oor haar tyd as joernalis vertel Valda aan Naomi Meyer op LitNet: "Die werk as joernalis was uiters bevredigend. Ek dink altyd terug aan die tyd by Die Burger, waar ek onder begin het (nadat ek reeds ’n paar jaar as onderwyser agter die blad gehad het). Maar ek het myself stelselmatig bewys en daar was altyd geleentheid om ’n trappie hoër te gaan in my loopbaan."

Vanaf Januarie 2014 is sy ’n vryskutskrywer in Kaapstad.

Valda hou van mooi woorde, onbekende strate, Kaapstad en Kreta, en van mense wat sy kan vertrou. Bo alles glo sy onwrikbaar in boeke. Nadat haar dogtertjie gebore is, was Valda in die wolke – sy hoef toe nie meer skuldig te voel om arms vol kinderboeke te koop nie of om saam met haar dogter in ’n restaurant te sit en inkleur nie. "En deur my dop te hou, het die kind ook geleer om saans met ’n boek in die hand aan die slaap te raak." (Op RSG se webwerf.)

Voordat Valda se roman, Hy kom met die skoenlappers, in Junie 2016 verskyn, het sy gedigte geskryf. Sy debuteer in 1989 toe van haar gedigte opgeneem word in I Qabane Labantu, die versamelbundel van versetpoësie onder redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse en daarna ook in die versamelbundel Optog (1990). Haar gedig “Toe skoene” word opgeneem in Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte en van haar gedigte verskyn ook in Groot verseboek. Haar kortverhaal “Mooi Melissa” verskyn in Boeke-Insig van Lente 2007.

En toe verskyn Hy kom met die skoenlappers en onmiddellik maak Valda indruk. In 2017 is haar storie aan die ontvangkant van die Jan Rabie-Rapportprys vir debuutfiksie.

In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet vertel Valda dat die storie al vir etlike jare by haar gespook het: "Ek was dalk ook bang om te skryf en het alles probeer om nie daaraan gehoor te gee nie: ek het myself in my werk gestort, oor en oor nuwe uitdagings aan myself gestel en het oral waar ek was, baie hard gewerk.

"Uiteindelik het daar in 2013 in my lewe verskeie dinge gebeur wat daartoe gelei het dat ek die geroep van hierdie storie al hoe harder begin hoor het. Ons het begin 2014 teruggekom Kaap toe, ek was werkloos en het besluit om vir myself die tyd te koop om uiteindelik aan die boek te begin werk.

"Van die karakters is ’n samesmelting van verskeie mense en die storielyne sentreer om verskillende gebeurtenisse uit my verlede, maar met ’n goeie skoot fiksie daarin geroer."

Valda som die boek op as ’n oomblik: "’n vrou kyk ’n wyle, ’n oomblik, oor haar skouer terug; sy neem ’n stuk verlede in oënskou. Dis die storie van ’n vrou wat geleef het, liefgehad het, verlaat is en verlaat het. Sy kyk terug en sy onthou weer wie sy was, hoe sy was.

"Maar wanneer ’n mens terugkyk, moet jy ook weer vorentoe kyk en met jou lewe aangaan, maar dan met meer begrip en mededoë vir jouself, vir wie jy destyds was en die keuses wat jy in sekere omstandighede gemaak het."

Valda het die besluit om haar werk en ’n salaris op te gee nie maklik gevind nie, vertel sy aan Meyer. "Maar ek het vir myself doelbewus die ruimte geskep om weer te kan hoor wat in my kop aangaan. Dit was nie maklik om die mense rondom my doelbewus uit te sluit nie. Maar dit was nodig vir die storie om vorm aan te neem. Dit was nie maklik om deur die muur te breek wat ek oor baie jare sorgvuldig om myself gebou het nie. Maar ek was gelukkig om mense om my te hê wat nooit ophou glo het in my nie, en ek is bly ek het uiteindelik die moed gehad om hulle te glo."

Sy vertel aan Meyer dat sy Hy kom met die skoenlappers vir haarself geskryf het om dit uit haar kop te kry sodat die stemme in haar kop moet ophou om haar te treiter. "Elke mens wat die behoefte het om die boek op te tel, te gaan sit en die boek van begin tot end te lees en iets daaruit vir hom- of haarself saam te vat, is ’n droomleser.

"Tydens die RSG-bekendstelling onlangs was ek diep ontroer deur die welwillendheid van mense wat die geleentheid bygewoon het, wat die koue trotseer het om daar te kom sit en met groot geduld en liefde na ons gesprek geluister het. Ek was verbaas toe ek opkyk en sien hoe onbekende mense voor my staan met my boek in die hand, wagtend op ’n handtekening.

"Iemand het vir my ’n glas wyn aangedra, vroue het saam met hul mans in die tou kom staan en vriendelik met my gesels asof ons mekaar lankal ken. Hulle het boeke gekoop vir ’n ma wat by die huis is en te oud is om in die koue uit te kom. Ander het ook vir ’n suster in die buiteland ’n eksemplaar gekry wat ek moes teken. ’n Baie goeie vriend het uit ’n siekbed opgestaan om te kom luister. Dit was ’n wonderlike ervaring. Ek sal dit altyd onthou."

Die titel van Hy kom met die skoenlappers het Valda gaan haal by ’n iets wat elke jaar, wanneer Johannesburg in Desember amper sonder mense is, gebeur.  Die skoenlappers vlieg die stad in hul duisende binne. Valda vertel aan Elna van der Merwe in Huisgenoot (22 Desember 2016) dat dit ’n gesig is wat ’n mens nie kan glo nie: "massas skoenlappers wat dag ná dag te sien is in tuine en parke, ook wanneer jy in jou motor op pad werk of huis toe is. Die swerms wit skoenlappers migreer jaarliks van die Weskus oor Namibië, na die binneland oor Gauteng - glo op pad na Mosambiek en Madagaskar."

Elna van der Merwe som die verhaal op: "'Dis hier waar ek die eerste keer bewus geword het van die omvang van hierdie man se liefde. Hy het my vasgedruk. Hy het my opgetel en gedra asof ek ’n veer kon wees. En ek het gewonder waar sy krag vandaan kom. Niemand voor of ná hom het my ooit so opgetel of vasgehou nie soos hy nie.”

"Dit is Anders, die man wat die vroulike hoofkarakter, Valda Jansen, ontmoet toe sy in 1996 vir ’n jaar Jena toe gaan om die Duitse skoolstelsel waar te neem. Sy sien hoe hy verlief raak op haar. Die gevoel is wederkerig. Hul verhouding verdiep. Dan moet Valda na Suid-Afrika terugkeer. Sy loop weg van sy woorde, sy lyf, die 'agterhoed' wat hy vir haar vorm. En sy gaan nie terug nie.

"Nou is dit jare later, sy het haar man in Johannesburg agtergelaat, met haar kind Kaap toe getrek en skryf nou ’n elegie oor hul verlore liefde.

"'My skouers val vooroor, my hande beur tussen my knieë in. Skoenlappers versamel om my. Hulle troos voor my neus verby." (Huisgenoot, 22 Desember 2016)

In sy commendatio by die toekenning van die Jan Rabie-Rapport-prys aan Hy kom met die skoenlappers sê Danie Marais, een van die beoordelaars, as volg: "Valda Jansen se debuutroman word op die omslag as ’n elegie aan verlore liefde bestempel. En dit is hierdie merkwaardige boek wel, maar dis ook in verskeie opsigte veel meer. Jansen se subtiele liefdesverhaal gryp terug na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, maar gee ’n vars inkleding danksy die tematiese bewussyn van die politieke geskiedenis wat alles onderlê, en die vorms van die liefde wat die verloopte Suid-Afrikaner vandag dwing om die verskeie aangesigte van daardie liefde te aanvaar, asook die berou wat daarmee saamgaan.

”Wanneer die ek-verteller probeer sin maak van die redes waarom sy haar Oos-Duitse beminde, Anders, se liefde nooit heeltemal beantwoord het nie, dwaal sy terug deur haar dae as uitruilstudent in Jena, ’n ongelukkige huwelik in Johannesburg en ambivalente ervarings van moederskap tot in haar kinderjare in die Strand. Só word Hy kom met die skoenlappers ’n pynlik intieme en deurtastende verkenning van al die maniere waarop ’n hele lewe soos een byna noodwendig verspeelde kans kan voorkom.

"Jansen kleur nie dit wat persoonlik is ooit met groot politieke stellings nie, maar wys hoe onontwarbaar die persoonlike en die politieke in Suid-Afrika verstrengel is. Haar debuut gee ’n aangrypende en ontstemmende blik op ’n bevreemdende, bruin middelklas-ervaring van apartheid; ’n genuanseerde perspektief op ’n benarde posisie wat nog bitter min in Afrikaanse fiksie belig is. 'Ek was nie ’n heldin nie ek was nie in die struggle nie ek is nie gemartel nie ek is nie verban nie ek het nie gely vir my land nie ek het nie baklei nie ek is nie in die tronk gegooi nie,' verklaar Jansen, maar deur die loop van haar vertelling word dit duidelik hoe die ek-verteller nogtans deur onwrikbare politieke werklikhede van haar eie land en taal vervreem is.

"Hy kom met die skoenlappers is ’n roman wat lees soos ’n memoir oor die gisters wat nooit heeltemal verby kan wees nie. Dit wentel om die maniere waarop die verlede die lewe van die moderne Suid-Afrikaner steeds vorm, wring en temper. Wyle Jan Rabie sou sekerlik baie bly gewees het om te hoor ’n prys wat sy naam dra, is aan hierdie uitsonderlike debuut van Valda Jansen toegeken."

Die besprekings van Hy kom met die skoenlappers is deur die bank positief. Op LitNet begin Karin Schimke haar resensie as volg: "Die leser kan aanneem dat mens hier – soos dit met die ondertitel aangegee word – te make het met '’n elegie aan verlore liefde'. So ’n aanname onderskat egter die omvang van Hy kom met die skoenlappers. Wat verdoesel word op die stofomslag, is ’n konteks waaroor daar nie genoeg gepraat en geskryf word in Suid-Afrika nie: hoe die individu voortgebring word nie net deur ouers, familie en sleutelgebeurtenisse in sy of haar lewe nie, maar ook deur die geskiedenis, die omgewing en die sosio-politieke toontaal van die kinderjare."

Nadat die hoofkarakter gehoor het van haar Duitse vriend Anders se dood begin sy bestek opneem van haar lewe en, skryf Schimke, word daar skerwe bymekaar gepas. "Die eindresultaat is ’n teks wat suggestief eerder as eksplisiet te werk gaan. Die liriese word bo die vertellende benadruk en die storie ontwikkel stadig, wasig soos die figuur in die sneeu in die prent op die boekomslag. Dit verg aandag – die leser moet saamwerk. Maar omdat die teks so poëties te werk gaan, verlangsaam dit die pas – die liriese toon en ylheid wat deur die teks se elisie bewerkstellig word, bou ’n verbasend lang en diep storie. Hierdie verhaal is nie, kom ’n mens agter, ’n elegie aan ’n verlore minnaar nie, maar ’n elegie aan ’n self wat soek geraak het agter skanse wat begin as blote mure maar mettertyd begin inkelder. (...)

"Dit is die storie van ’n doodgewone mens wat besef dat sy haar nie kon weer teen die vernieling van ouers en vaderland nie. "Dit is hierdie stories wat vertel moet word – maar hulle moet gehoor word óók, want dit is hier waar die waarheid borrel soos waterstofperoksied op ’n wond: in die marginale, die onmerkwaardige, die eentonige alledaagse afskaal, inkort en opsluit wat vir miljoene mense noodsaaklik was. Daar is geen groot onthulling aan die einde van Skoenlappers nie: net ’n stil aanvaarding van spyt; net genoeg om aan te hou met die aanhou.

"En hoe? 'Ek neem julle woorde met my saam ek neem julle woorde weg ek neem die woorde uit julle monde ongesiens ek neem julle van julle woorde weg ek is ’n dissident ek is ’n skandaal …'

"Nie net met sy titel nie, maar ook met sy intieme stem en verlange herroep Hy kom met die Skoenlappers Hettie Smit se Sy kom met die Sekelmaan. En net soos Smit destyds baanbrekerswerk gedoen het, doen Jansen dit ook deur die elegie aan verlore liefde meer te laat wees: ’n elegie aan ’n verlore self, ’n verlore land. Dit stel ’n nuwe, ’n vurige standaard."

Ook Elmari Rautenbach is beïndruk met Valda se debuutroman. In Die Burger van 18 Julie 2016 skryf sy dat Hy kom met die skoenlappers ’n boek is "oor spyt, selfs skaamte, maar boweal oor verlies. Nie net die verlies van ’n geliefde nie, maar van onskuld. En dis dikwels met wat nié vertel word nie, wat die meeste gesê word. Min het stilte só hard gedawer as na die slot van die roman. (...)

"Die verhaal is in drie dele verdeel. Elkeen begin met ’n toneel in Anders se slaapkamer, waar twee enkelbeddens teen mekaar geskuif is agter ’n fyn, wit gordyn. Die tonele verklap hoe die verhouding verinnig tot by die punt waar die meisie haar deur die ekstase van orale liefkosing (iets wat haar aanvanklik ongemaklik maak) laat oorrompel.

"Maar die inleidings voor elke afdeling skets ’n ander teenoorgestelde tydlyn: dié van ’n bevolkingsgroep wat deur jare se miskenning hul eiewaarde verloor het. Ná elkeen van die openingsketse neem verskillende storielyne hul loop wat op verskillende maniere vertel word – soms as verhaal, soms in ’n sin, soms ’n liriese gedagtestroom.

"En dikwels word ’n geheim verklap, een wat verband hou met óf kwesbaarheid, óf aggressie. Dis ’n gedempte, ingehoue vorm van aggressie: ’n pa wat sy dogtertjie aan die agterkant van haar nek optel; ’n ongeluk op die snelweg met verkeer wat toeterend verbyjaag; ’n geheuestokkie wat soek is ná ’n huisbraak.

"Soos die wit skoenlappers in die titel – Johannesburg se 'grootste geheim' – word die geheime stuksgewys gedeel. Een-een en 'soos bloeisels' verskyn die skoenlappers, net om hulle later 'te pletter' te vlieg teen hoë heinings en betonmure.

"Hortend en al skrywende vind die vrou haar woorde. Só ontvou saam met die storie van ’n verhouding, ook dié van ’n gesin. Die kinders leer om gelate te kyk asof van agter ’n motor se toe ruite. Hul pa kom met 'dooie oë' van die grens af terug, maar word eers deur ’n jong, wit soldaat gesalueer wanneer dié sy rang sien. Hy marsjeer deur die huis. Sy vrou en dogter ontgeld dit agter geslote deure.

"Die slot bestaan uit twee tonele wat net as ’n dubbele vuishou beskryf kan word. Maar dit is dié sin wat verdrietig bly tril: 'As ek ons storie neerskryf van hoe dit sou kon eindig, is dit asof dit werklik gebeur.'"

Ook in Rapport (31 Julie 2016) is Thys Human gaande oor Valda se roman: "Verlore liefde. Vervreemding. Verdriet. Die temas in Valda Jansen se debuutroman is in ’n sekere sin so oud soos die letterkunde self. Die sensitiewe wyse waarop sy dit egter stuk-stuk tot storie weef, is verrassend nuut en eiesoortig. Indien ’n mens dus sou opmerk dat die titel van die roman Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan in gedagte roep of, wat digterlik-elegiese inslag betref, onder meer aan Dominque Botha se Valsrivier en Lettie Viljoen se Klaaglied vir Koos herinner, moet jy onmiddellik byvoeg dat daar geen enkele teken van skatpligtigheid is nie. Inteendeel, Jansen se teks het ’n bekoring van haar eie. (...)

"Hy kom met die skoenlappers is ’n roman oor afstand en verbintenis. Soos wat die migrerende skoenlapperswerms in die verteller se tuin haar onwillekeurig aan die sneeuvlokkies van ’n verre kontinent laat dink, bring haar postume herinneringe aan Anders hom nader aan haar as wat hy ooit gedurende die laaste jare van sy lewe was. Met bykans onuitspreeklike spyt besef sy dat die skanse wat sy in belang van selfbehoud om haar opgerig het (sy wat altyd so kleinserig oor grense was), haar kans op geluk en gemeensaamheid ernstig belemmer het.

"Maar gelukkig oorstyg haar verhaal uiteindelik dié gevoelens van selfverwyt en boetedoening en word dit sowel burg as brug. Burg, in dié opsig dat daar in haar laaste woorde wel vir haar ’n verbeelde tuiskoms moontlik is. Brug, omdat dit juis deur middel van haar storie is wat sy die leser aanspoor om hierdie herinneringsreis, tree vir hartwringende tree, saam met haar te onderneem.

"In ’n tyd wat soveel gedrukte woorde maar ’n kort geheueleeftyd het, beskik Valda Jansen se suiwer sinne oor die krag om enige leser lánk by te bly."

Op LitNet wou Naomi Meyer by Valda weet hoekom sy na Suid-Afrika teruggekeer het toe haar tyd in Jena agter die rug was. Hierop antwoord Valda dat sy altyd met verbasing reageer wanneer mense wonder hoekom iemand wat die geleentheid gehad het om vrywillig oorsee te bly, dit nie doen nie en terugkom na Suid-Afrika: "Dis ook iets waarmee die hoofkarakter in die boek worstel. En sy vind haar antwoorde in die genoegdoening wat sy ervaar wanneer mense in die buiteland haar met Suid-Afrika én Afrika assosieer. Sy is verras en voel gelukkig as sy besef dat sy as ’n Suid-Afrikaner én as African gesien word.

"Die vrou kyk met groot verlange ook terug na die kort tyd van haar lewe in Johannesburg: ’n ware Afrika-stad. Sy ken die grysheid van die stad met geweld wat hoogty vier. Maar die koms van die skoenlappers temper hierdie grinterigheid. (...)

"’n Mens los ook familie agter as jy weggaan. En as jy in die vreemde is en hoor iemand vir wie jy lief is, kry baie swaar – dalk het iemand sommer net weggeraak – dan voel jy jy moet terugkom en hom gaan soek. Miskien lê my eie antwoord iewers daar. Buitendien, as mens eers eenmaal buite die landsgrense gewoon het, weet jy die gras is nie altyd noodwendig groener nie."

Oor haar Suid-Afrikaanse gunstelingskrywers vertel sy aan Meyer dat sy jaloers is op Joan Hambidge se ywerige werk as skrywer en op die talent wat Ronelda Kamfer openbaar: "Ek is verlief op Karel Schoeman se besonderse skryfstyl en is telkens verstom oor JM Coetzee se opneem en inneem van sy ambag as skrywer."

Sy glo daarin om e-pos en Facebook-boodskappe in goeie Afrikaans te skryf. Sy en haar dogtertjie, Anna, speel saam klavier en deesdae stap hulle ook in kunsgalerye rond.

Valda is baie lief om gedigte te lees en oor hierdie liefde skryf sy in die rubriek "Onder my literêre laken" in Rapport (5 Junie 2011): "Die tyd tussen die lees van gedigte volg deesdae vinnig opmekaar. Nie omdat ek vreeslik baie tyd het vir lees nie, maar omdat ek vreeslik baie stres verduur. Maar, het ek uitgevind, om gedigte te lees is soms verkwikliker as ’n koppie sterk koffie. En strelender as ’n lang middagslapie wanneer die sukkelstrale van die winterson presies op my lêplekkie val.

"Sonder dat ek dit bewustelik soek, verg gedigte, en gesprekke oor gedigte, die laaste tyd my aandag. En alles wat ek daarna doen, of soek om deur te blaai, het op ’n manier met poësie te doen. En ek laat dit my welgeval. (...)

"Maar die gedigte moet ek mooi kies, want nie enige gedig pas by enige bui nie. Party gedigte is ook nie altyd lus om gelees te word nie, dan gaan dit moeisaam en mens los dan liewer als. Dus, as ek moeg is en my verstand wil laat rus, of my siel deur mooi woorde wol laat streel, kies ek die gerusstellende klank van gedigte. Woorde wat al ’n pad met my gestap het."

Publikasies

Publikasie

Hy kom met die skoenlappers. ’n Elegie aan verlore liefde

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798172523 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Jan Rabie Rapport-prys vir debuutfiksie 2017

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Valda Jansen beskikbaar op die internet:

Artikels deur Valda Jansen beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top