Die heel eerste person wat my hare geknip het, was my pa. Ek was so oud soos my kind nou is, tussen elf en twaalf. Moeg vir lang vlegsels en wou my hare los dra. My pa het op ’n stoel agter my gesit met ’n kam en ’n sker in sy hande. Ek het hom volkome vertrou.
Van die dag van my geboorte af is ek geseën met ’n welige bos krulhare. Dit was die eerste en partykeer die enigste opmerking van vreemdelinge teenoor my: jy het pragtige hare. Mans het dit bewonder en vroue was jaloers. Dit was die een ding in my lewe wat ek as vanselfsprekend aanvaar het. Jare nadat ek op universiteit was, het ek op ’n Sondagmiddag koffie gedrink by Peregrine naby Grabouw. Iemand sê "Hallo, Frau Jansen" en ek draai om. Dis een van my oud-Duitsdosente. Sy het so gekyk en gedink: dié hare ken ek, sê sy. Sy het gelag: "Ek het jou aan jou hare herken."
In die gastehuis op Richmond in Oktober waar ek deelneem aan Darryl David se Boekbedonnerdfees, word ek in die middel van die nag wakker ná ’n vreemde droom. Ek voel ’n hand in my hare, teen my kopvel. Maar dis asof ek ook bo teen die plafon sweef en afkyk op die vrou wat daar lê en slaap. Ek voel ’n hand soos dié van my pa, ’n sterk hand wat my hare liggies, troostend streel. Asof: toemaar. Ek word wakker en skakel die lig aan, want ek weet daar is ’n teenwoordigheid in die kamer, dit was te werklik. Maar al die vensters is toe, die deur is nog dig. Ek weet dit was nie ’n droom nie.
Skaars terug by die huis, nooi Darryl my na sy nuwe fees wat in die nuwe jaar in Pniël gehou gaan word. Maar tussen Richmond en Pniel loop daar vir my baie water in die see.
Antonia Steyn neem wonderlike foto’s van my vir die Woordfees. In die ateljee is daar ’n vrou wat my gesig grimeer en my hare borsel. Ek kyk lank na die eindresultaat. Foto’s wat herinner aan skilderye deur die ou meesters. Ek wonder oor die heimwee wat daaruit straal. Wat wil die foto vir my sê?
Die dag toe ek die knop in my bors voel, onthou ek die droom. Die hand in my hare, asof: toemaar. Jy sal jou hare verloor, sê die onkoloog, maar dit sal weer teruggroei. Ek skud my kop, ag ek het my lewe lank lang hare gehad, dis hoog tyd vir ’n verandering. Ek lei myself om die bos.
Ons is almal bang vir die woord kanker. Ek, toe ek die knop in my bors voel. Elkeen vir wie ek vertel. Ek sien die skrik in ander se oë. Op hulle beurt bombardeer sommiges my met al die inligting wat hulle het oor ander mense se kanker- en chemo-simptome. Ek weet nie hoe hulle dink dit my gaan help nie. Ek hou dié mense ver van my af.
Na die mastektomie ry ons vir Kersfees Swakopmund toe om van die operasie te herstel voor die chemoterapie in die nuwe jaar sal begin. Ek slaap. Ek eet. Ek speel met die skoonfamilie se kinders. Saans sit ons voor die TV. Ek word bederf met tee en koffie en koekies. Ek sit in my nagklere, die afwesige bors duidelik waarneembaar. Ons kyk "Afrikaans is Groot" en verwelkom die nuwe jaar met vuurwerke in die donker nag.
Die ma’s by my kind se skool stuur boodskappe: Jy gaan ons nodig kry. Bel enige tyd. Ons sal enige tyd vir Anna by die skool gaan haal of by die huis. Sy kan enige tyd hiernatoe kom. Die skool vou my kind in hulle arms toe.
Ek was klein. My ouers het gestry en my ma het haar woede op my hare uitgehaal. My pa kom kyk toe ek kliphard huil. Toe vat hy die borsel by haar. Sit op ’n stoel agter my en borsel my lang hare tydsaam, sag en sorgsaam. Soos die hand in die droom in Richmond.
My kind aanvaar met groot genot die skêr wat ek in haar hand gee. Sy staan agter my en knip die bos hare bokant die haarbandjie af. Jare se hare val op die vloer. Sy tel dit op en bêre die afgesnyde poniestert in ’n laai. By die haarsalon kyk my haarkapper geskok op toe ek instap met my hare stomp in die nek afgesny. "Who said you can cut your hair?" raas sy met my. Sy hou my styf vas toe ek vertel van chemoterapie en hare wat gaan uitval en dat ek my die trauma van lang slierte op die vloer wil spaar. Sy knip al die lang hare af. Ek lyk soos my broers.
Met die kort kapsel stap mense wat ek ken, by my verby. Hoflik groetend. Kopknikkend soos vir ’n vreemdeling. Dit neem ’n week of so vir hulle om die kloutjie by die oor te kry. Ek hou my kop hoog en gaan saam na my kind se skoolpiekniek toe. Vir diegene wat weet word die wete nou sigbaar. "I love what you’ve done with your hair," kom van iemand wat nie weet nie. "It looks so elegant!" Baie dankie, sê ek met ’n ewe elegante knik van die kop. Maar ek mis die slierte wat in my gesig waai. Ek rou oor my hare.
Ons gaan tree vir tree deur die kanker. Ek vat klein happies van die behandeling soos dit aangebied word, dink nie te ver vooruit nie. Praat my liggaam moed in. Internaliseer elke goeie wens wat na my toe kom.
Soms is ek te moeg om sterk en dapper te wees. Ek rol in ’n bolletjie op waar niemand my sien nie. My hare raak los van my en fladder soos konfetti grond toe. Net soos die dood kom kanker ook soos ’n dief. Nie net in die nag nie, maar helder oordag as die son nog hoog in die lug sit.
Nou is my kop feitlik heeltemal kaal. Ek koop serpe en wonder oor pruike en hoede. Of sal ek die wêreld kaalkop in die oë kyk soos ek myself in die spieël sien? Soos ’n oorlewende ná ’n allesvernietigende ramp. ’n Vlugteling gedrapeer in serpe en lappe wat aankom in ’n onbekende, onherbergsame land.
In die middel van Desember verlede jaar, die dag na my verjaarsdag, word my linkerbors saam met die sigbare kanker verwyder. Die aand kom my man en kind met besoektyd by die hospitaalkamer in. Hulle glimlag van oor tot oor want die dokter het reeds vroeër die dag gebel: die operasie het goed afgeloop, dit gaan goed met haar! My dogtertjie druk ’n plak sjokolade in my hand, skop haar skoene uit en klim langs my in die bed, kruip onder my vlerk in. Ons praat en lag en gesels. Die tyd gaan verby en ons moet groet. Hulle stap by die deur uit. Oomblikke later kom my kind alleen terug. Loer met groot oë. "Mamma, jy gaan nie dood nie, né?" Ek glimlag, skud my kop. "Nee. Nie vandag nie," sê ek. Sy huppel tevrede weg.


Kommentaar
Ai. Ek het drie vriendinne hierdeur sien spartel. Net om te kan oorleef. My hart pyn. Die trane loop. Ek verstaan nie hoekom nie. Ken jou nie eens nie. Maar ek bid skaamteloos. Here wees u met haar deur haar herstelproses. Dis n lang pad wat sy moet stap Here.
Asof ek self geskryf het aan hierdie ware verhaal. Ek onthou my woorde ... kanker is niks dokter almal moet doodgaan, maar my hare? Moet ek my hare verloor? Die eerste oggend met spinnerakke oor my gesig, en die skok ,,dis my hare! Myne was lymphoma ... vandag nege maande in remissie en sê ek elke dag dankie vir my nuwe hare. Net ’n kanker-survivor kan dit verstaan.
Baie dankie, deur jou woorde en seer het jy my oë oopgemaak vir dit wat ek so vanselfsprekend aanvaar het ... Mag jy geseën word net bo jou verwagtings ...
Kan ek jou naam noem in my gebed vanaand. Mag jou herstel wonderbaarlik vinnig geskiet.
Ek ken jou nie, maar ek ween saam met jou. Sterkte.
Ek het borskanker. My eerste chemo was 8 Maart 2017 en my hare het vandag begin uitval. Ek was baie hartseer. My ander datum is 28 Maart, ds ’n lang proses - hoop net dat die knoppe kleiner sal word.