Onderhoud: Valda Jansen oor Hy kom met die skoenlappers

  • 2

Valda Jansen (foto: Brenda Veldtman)

Skrywers oor hul nuwe boeke: Valda Jansen oor Hy kom met die skoenlappers

Valda, die eerste ding wat my opval van jou roman se titel is die skoenlappers. Kom “hy” saam met die sonskyn, nes die skoenlappers? Of hoekom “met die skoenlappers”?

Skoenlappers speel uiteraard 'n rol in die boek, maar ek dink elke leser besluit self wát die rol is en hoe belangrik daardie rol is. Daar is die jaarlikse migrasie van skoenlappers deur Johannesburg. En dan vind die vrou ook troos wanneer sy eensaam voel en skoenlappers in 'n tuin sien.

Wat die "hy" daarmee te doen het, is die leser se besluit.

'n Wolk van skoenlappers. Kan mens hom sien staan, daar tussen hulle? Sien die skrywer hierdie karakter duidelik, of word hy verhul deur skoenlappers en tyd, in die geheue? Anders gestel: Hoe lyk hy?

Hoe die skrywer elke karakter "sien", behoort duidelik te word uit die lees van die boek. Of hy/sy duidelik te sien is of nie, het sekerlik 'n doel in die interpretasie van die roman. Dis vir my van meer belang hoe die léser die karakters ervaar.

Waar kom hierdie storie vandaan? Of was daar meer as een sneller?

Die storie het oor die jare in verskillende gedaantes na my toe gekom. Ek was dalk ook bang om te skryf en het alles probeer om nie daaraan gehoor te gee nie: ek het myself in my werk gestort, oor en oor nuwe uitdagings aan myself gestel en het oral waar ek was, baie hard gewerk.

Uiteindelik het daar in 2013 in my lewe verskeie dinge gebeur wat daartoe gelei het dat ek die geroep van hierdie storie al hoe harder begin hoor het.

Ons het begin 2014 teruggekom Kaap toe, ek was werkloos en het besluit om vir myself die tyd te koop om uiteindelik aan die boek te werk.

Van die karakters is 'n samesmelting van verskeie mense en die storielyne sentreer om verskillende gebeurtenisse uit my verlede, maar met 'n goeie skoot fiksie daarin geroer.

As jy die verhaal in 'n sin moet opsom, hoe sal jy dit doen?

Die boek is 'n oomblik: ' n vrou kyk vir 'n wyle, 'n oomblik, oor haar skouer terug; sy neem 'n stuk verlede in oënskou.

Dis die storie van 'n vrou wat geleef het, liefgehad het, verlaat is en verlaat het. Sy kyk terug en sy onthou weer wie sy was, hoe sy was.

Maar wanneer 'n mens terugkyk, moet jy ook weer vorentoe kyk en met jou lewe aangaan, maar dan met meer begrip en mededoë vir jouself, vir wie jy destyds was en die keuses wat jy in sekere omstandighede gemaak het.

Wat was vir jou die maklikste en moeilikste gedeeltes van die skryfproses?

Die moeilikste deel van die skryfproses is om nou daaroor te praat. Baie van die besluite tydens die skryfproses is intuïtief gedoen en nie maklik om agterna te verklaar nie. Ek is ook 'n baie private mens – ek loop nie met my hart op my mou nie en dis moeilik om so baie oor myself te praat.

Dit was nie 'n maklike besluit om 'n werk en salaris op te gee nie. Maar ek het vir myself die ruimte geskep om weer te kan hoor wat in my eie kop aangaan. Dit was nie maklik om mense rondom my doelbewus uit te sluit nie. Maar dit was nodig vir die storie om vorm aan te neem. Dit was nie maklik om deur die muur te breek wat ek oor baie jare sorgvuldig om myself gebou het nie. Maar ek was gelukkig om mense om my te hê wat nooit ophou glo het in my nie, en ek is bly ek het uiteindelik die moed gehad om hulle te glo.

Vir wie het jy die boek geskryf? Of wie is jou ideale leser?

Ek het die boek vir myself geskryf, om dit uiteindelik uit my kop te kry dat die stemme kan ophou om my te treiter. Elke mens wat die behoefte het om die boek op te tel, te gaan sit en die boek van begin tot end lees en iets daaruit vir hom- of haarself saam vat, is 'n droomleser.

Tydens die RSG-bekendstelling onlangs was ek diep ontroer deur die welwillendheid van mense wat die geleentheid bygewoon het, wat die koue trotseer het om daar te kom sit en met groot geduld en liefde na ons gesprek geluister het. Ek was verbaas toe ek opkyk en sien hoe onbekende mense voor my staan met my boek in die hand, wagtend op 'n handtekening.

Iemand het vir my 'n glas wyn aangedra, vroue het saam met hul mans in die tou kom staan en vriendelik met my gesels asof ons mekaar lankal ken. Hulle het boeke gekoop vir 'n ma wat by die huis is en te oud is om in die koue uit te kom. Ander het ook vir 'n suster in die buiteland 'n eksemplaar gekry wat ek ook moes teken. 'n Baie goeie vriend het uit 'n siekbed opgestaan om te kom luister. Dit was 'n wonderlike ondervinding. Ek sal dit altyd onthou.

Jy het in Duitsland studeer, is ek reg? Vertel asseblief van jou ondervindinge.

Ek was bevoorreg om as Duitsstudent by UWK twee maande lank 'n kursus by die Goethe-instituut in Rothenburg ob der Tauber te volg. En nadat ek 'n paar jaar in Mitchell's Plain skoolgehou het, is ek vir 'n jaar oorsee as uitruilonderwyser in Jena, Thüringen. Dit was met 'n beurs van die Pädagogische Austauschdienst, met die voorwaarde dat ek na my eie land terugkeer vir minstens twee jaar om nuutgevonde kennis terug te ploeg. Omdat Jena ook 'n universiteitstad is, kon ek na hartelus klasse daar bywoon.

Waarom het jy teruggekeer na Suid-Afrika?

Ek is altyd verbaas as mense wonder hoekom iemand wat die kans gehad het om die land te verlaat vrywillig besluit om terug te kom. Dis ook iets waarmee die hoofkarakter in die boek worstel. En sy vind haar antwoorde in die genoegdoening wat sy ervaar wanneer mense in die buiteland haar met Suid-Afrika én Afrika assosieer. Sy is verras en voel gelukkig as sy besef dat sy as 'n Suid-Afrikaner én as African gesien word.

Die vrou kyk met groot verlange ook terug na die kort tyd van haar lewe in Johannesburg: 'n ware Afrika-stad. Sy ken die grysheid van die stad met geweld wat hoogty vier. Maar die koms van die skoenlappers temper hierdie grinterigheid.

Die deursettingsvermoë van hierdie massa klein skoenlappers wat saam 'n ongelooflike skouspel maak ... Miskien sien sy haarself en haar landgenote so? Hulle weet hulle kan hulself te pletter vlieg in mensgemaakte konstrukte, maar nogtans beur hulle voort op pad na 'n groter droom – iets in hul gene wat hulle voortdryf, die onbekende in.

'n Mens los ook familie agter as jy weggaan. En as jy in die vreemde is en hoor iemand vir wie jy lief is kry baie swaar – dalk het iemand sommer net weggeraak – dan voel jy jy moet terugkom en hom gaan soek. Miskien lê my eie antwoord iewers daar.

Buitendien, as mens eers eenmaal buite die landsgrense gewoon het, weet jy die gras is nie altyd noodwendig groener daar nie.

Jy was joernalis by die SABC en by RSG. Hoe het jy skryf vir die mediawêreld beleef teenoor skryf van 'n roman?

Ek was heel eerste joernalis by Die Burger en Beeld voor ek na die SABC is. Die werk as joernalis was uiters bevredigend. Ek dink altyd terug aan die tyd by Die Burger, waar ek onder begin het (nadat ek reeds 'n paar jaar as onderwyser agter die blad gehad het). Maar ek het myself stelselmatig bewys en daar was altyd geleentheid om 'n trappie hoër te gaan in my loopbaan. Die joernalistiek leer mens 'n skryfdissipline wat onontbeerlik geword het.

Ek het vandag, soos ek hier sit en LitNet se vrae beantwoord, baie empatie met mense wat aan die ontvangkant van joernaliste se vrae is.

Wat lees jy op die oomblik, of wie is jou gunstelingskrywers?

Ek is deesdae weer 'n ywerige ondersteuner van die biblioteek en lees fluks aan boeke wat ek nie self op my eie boekrak het nie. Maar die nuutste titels in die boekwinkels bly vir eers net 'n droom, omdat ek nou 'n werklose skrywer is.

Ek is jaloers op Joan Hambidge se skryfywer en Ronelda Kamfer se skryftalent, verlief op Karel Schoeman se besonderse skryfstyl, en is telkens verstom oor JM Coetzee se opneem en inneem van sy ambag as skrywer.

  • 2

Kommentaar

  • En 'n kranige digter ook! Ek het haar raakgelees in die Groot Verseboek 2000 en sedertdien is Valda Jansen voortdurend in my gedagtes. Ek sien uit na jou roman Valda!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top