Die Departement Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland reël van 9 tot 11 Oktober 2025 die vyfde Sas-byeenkoms. LitNet het Hein Willemse, wat die hooforganiseerder van die eerste simposium 40 jaar gelede was, genader om agtergrond oor die simposium te gee.
Op Vrydag en Saterdag 26 en 27 April 1985 is ’n simposium in die Senaatsgebou van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gehou waaraan verskeie skrywers en akademici deelgeneem het. Om ’n begrip vir die tydvak te hê, moet ’n mens begryp dat die land polities en maatskaplik in ’n diep krisis was. Die weermag was reeds vir langer as ’n dekade in ’n oorlog betrokke. Die ekonomie is toenemend as ’n beleg-ekonomie beskryf en internasionaal was daar sprake van ’n gekoördineerde sanksieveldtog. Die destydse regering was besig met sy hervormingsbeleid, onder meer die driekamerparlement, in wese ’n strategie van politieke koöpsie, ’n inisiatief wat buite-parlementêre groeperings grootliks verwerp het. Na die staatsonderdrukking van die 1960’s het ’n sterk anti-apartheidsgees sedert 1973, en veral ná 1976, dwarsdeur die land gemanifesteer. In die Wes-Kaap, maar ook elders, is Afrikaans as voertuig in werkersklasgemeenskappe gebruik, ’n praktyk wat in 1983 met die stigting van die United Democratic Front (UDF) toegeneem het.
Dit is die breë prentjie en omstandighede waaronder die deelnemers en talle toehoorders in die gebou van die voormalige vermaledyde Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) byeengekom het. (Met die afskaffing van die VKR ten gunste van die driekamerparlement is die gebou in 1984 aan UWK oorgedra. “So sal ons apartheid se nalatenskap gebou vir gebou oorneem,” het ’n kollega tydens die oorhandiging gesê.)
Onder die bekende sprekers by die simposium was Elsa Joubert, Jeremy Cronin en Richard Rive. Na die publikasie van Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) was Joubert, ook as ’n bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, ’n gesiene meningsvormer in die Afrikaanse kulturele omgewing. Jeremy Cronin is in 1976 tot sewe jaar gevangenisskap op ’n klag van terrorisme gevonnis en kort na sy vrylating debuteer hy met die digbundel Inside (1984). Richard Rive is die skrywer van Emergency (1964) wat op die lys van verbode boeke beland het, en die outobiografie Writing Black (1981). 10 jaar vantevore het hy sy doktorsgraad in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Oxford verwerf.
Onder die jong en aspirantskrywers was daar Melvin Whitebooi, Patrick J Petersen, Peter Braaf, Peter Kaleb, Peter Snyders en Vincent Oliphant. Onder dié skrywers het Snyders (’n Ordinary mens, 1982 en Political joke, 1983) en Oliphant (Bloed vloei in stilte, 1981) gepubliseer. Die enigste vroueskrywer was Beverley Jansen wat soos die ander deelnemers bekend was vir hul publikasies in klein tydskrifte of hul voordragte tydens politieke vergaderings, politieke begrafnisse of toneelopvoerings in kerk- en gemeenskapsale.
Ons wou ook digters soos Julian de Wette (Die koning in die buiteland, 1977 en Verban: verbinne, 1980) en Frank Anthony (Robbeneiland, my kruis, my huis, 1983) nooi, maar hulle was om besondere redes nie beskikbaar nie. De Wette het destyds as ’n inligtingsbeampte by die Verenigde Nasies in New York gewerk en ons het nie borgskappe gehad om hom te nooi nie. Anthony is in 1978 na ses jaar op Robbeneiland vrygelaat, maar hy is daarna vir vyf jaar verban. Hoewel sy bundel na afloop van sy verbanning gepubliseer is, was hy huiwerig om by die simposium op te tree. (Ek onthou dat tydens my besoek aan sy huis in Kraaifontein hul hond besonder aggressief was, sodat ek in alleryl oor ’n lae heining moes terugspring!)
Sedert die vroeë 1980’s het ek en van my kollegas by die Universiteit van Wes-Kaapland deurlopend losstaande gedigte en selfs manuskripte van aspirantdigters ontvang. Die skryfwerk het die stempel van die stygende politieke verset en die militantheid van die tyd gedra. Ons het kennis geneem van die publikasie van soortgelyke gedigte in letterkundige tydskriffies, terwyl Melvin Whitebooi in Die Burger Ekstra en Rapport Ekstra werk van onskatbare waarde gelewer het.
Whitebooi, self die skrywer van feuilletons en die gewilde dramas soos Dit sal die blerrie dag wees! en Dié kant, daai kant, het berig oor die digbundels van alternatiewe uitgewerye en die aktiwiteite rondom gemeenskapstoneel. Met dié berigte en sy profiele van jong ongepubliseerde dramaturge, soos Braaf (Asseblief Miesies), Kaleb (Luister djy, tant Maggie, Weekend in Sesstraat en Duskant die skietbaan), Leonard Koza (Township-worries en Township kleigoed) en Chris Prince (Drama sketch), asook die digter Kenneth de Bruin het hy ’n minder bekende ontwikkeling gekarteer.
Wat van hulle voorgangers? Om een of ander rede was Adam Small nie beskikbaar nie. Small sou wel later by elk van die daaropvolgende drie simposia optree; sy laaste openbare optrede was juis tydens die vierde simposium in 2015 ’n paar maande voor sy dood. Lionel Sheldon het destyds op ’n bestuursraad in Vredendal gedien, maar het soos Eddie Domingo van die Afrikaanse literêre toneel verdwyn. PJ Philander, Sakkie Pfaff (Paul Roubaix), Vernie Februarie en Ian Wiltshire was oorsee en Arthur Fula was oorlede. In my afspraak met SV Petersen het hy sy reputasie as digter en onderwysman met soveel verwagting, voorbehoude en vernaamheid gedra dat ek hom nie kon uitnooi nie.
Tydens die eerste simposium het die akademici die mees onlangse ontwikkelinge onder woorde probeer bring. Die taalkundiges Ikey van de Rheede en Larry Pokpas het onderskeidelik oor “Kaapse Afrikaans” en “Afrikaans in gemeenskapspublikasies” verslag gedoen. Rive het ’n opspraakwekkende toespraak oor “Culture, Colouredism and Kaaps” gelewer, terwyl Cronin “African writers and the use of Afrikaans” ondersoek het. Die letterkundiges Jakes Gerwel, Julian F Smith en ek het in afsonderlike voordragte bestekopnames van die stand van swart Afrikaanse letterkundige produksie gelewer.
Oor die regstreekse aanlope vir die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium het ek elders geskryf, en dit sal oorbodige herhaling wees om híér daaroor uit te brei. In kort: In 1984 dra ek tydens die Gordonsbaaiberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde ’n praatjie voor met die titel “Poësie se nie-hegemoniese vorm”, later opgeneem in Charles Malan en Bartho Smit se Skrywer en gemeenskap (1984). Die voordrag was omstrede en het rimpelings in die Afrikaanse en Engelse pers veroorsaak. Dié toespraak lei daartoe dat ek en my kollegas maande later die simposium byeengeroep het, waar oor die plek, aard en toekoms van swart Afrikaanse skrywers besin is.
In ons besprekings het ons as organiseerders lank oor die benaming Swart Afrikaanse skrywersimposium besin. Sien hieroor ook my bespreking in die artikel, “Black Afrikaans Writers: continuities and discontinuities into the early 21st century – a commentary”. Die benaming is uiteraard ’n literêr-historiese kategorie soos Die Tagtigers in Nederland of die Die Dertigers in Afrikaans of die Harlem Renaissance in die VSA of Aborginal poetry in Australië, dus ’n benoeming om ’n ontwikkeling of ’n beweging te onderskei van ander soortgelyke literêre kategorieë. Die keuse daarvan vir die simposium was juis, kontradiktories soos dit mag klink, om swart bewustelik as ’n positiewe bowe-etniese term te gebruik, ’n kwessie wat by herhaling sedert 1985 beklemtoon is.
Tog het ’n interessante verskynsel rondom die benaming ontwikkel, naamlik die pogings tot skrapping (erasure) en die diskursiewe ondermyning van (wit) Afrikaanse literatore met verwysing na die naam Swart Afrikaanse skrywersimposium. Nadat die begrip swart in hul artikels genoem is, word dit byna sonder uitsondering deurgehaal met ’n opvolgfrase of -sin wat die begrip met ’n ondermynende formulering soos “die digters of skrywers is eintlik ‘bruin’” of “my studente sê hulle verkies ‘bruin’”. Sien ook onder meer my artikel “Die vooruitsig van oopheid: ’n woord vooraf” in die gedenkbundel van die derde simposium, “’n Vlag aan die tong”. Ek het in die verlede te veel woorde geskryf om weer die ou argumente op te haal, behalwe om uit die “Continuities and discontinuities”-artikel aan te haal:
In literary circles a substitute of choice such as “bruin skrywer” (brown writer) functions as a contemporary update of the label “kleurlingskrywer” (coloured writer) that SV Petersen, P.J. Philander and Adam Small publicly detested in the 1950s and 1970s. ... [I]n terms of signification the ready replacement of “Black Afrikaans writer” with “Coloured writer” may not be an equivalent exchange .... In the context of the underlying forces in Afrikaans literature the former signifies apartheid resistance, social struggle, transethnicity, and international affiliation whereas the latter may signify accommodation rather than oppositionality. (265)
Van meet af aan is die simposium as ’n “oop ruimte” gekonsepsualiseer, veral gesien die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. In my artikel “Poësie se nie-hegemoniese vorm” het ek ’n gewaarwording geformuleer wat dikwels in my letterkundeklasse opgeduik het, naamlik dat die Afrikaanse letterkunde in wese ’n etniese Afrikanerletterkunde is, afgestem op die konstruering van ’n eng konsepsie van die Afrikaner: “Ek skryf in Afrikaans. Ek stry in Afrikaans. Maar het ek deel aan die Afrikaanse letterkunde? Wat is my verhouding tot ’n letterkunde wat in essensie so diametraal tot my staan?” Ek was nie alleen nie. Adam Small het in sy voordrag tydens die Sestiger-beraad, “Krisis van ’n swart Sestiger”, in 1973 ’n soortgelyke siening, maar ander invalshoek gehad: Afrikaner is ’n begrensde woord, “die stem of stemme vir Wit-Afrikaans ... [sal] nie noodwendig op hierdie oomblik die stem of stemme wees vir ander-, laat ons maar sê Swart-, Afrikaans nie”.
Teen die agtergrond van die destydse strategieë tot politieke koöpsie in ’n omgewing van stryd het ek voorts gevra:
Vir mense in stryd – sosiaal, ekonomies, polities – vir ’n taal in stryd kan ons nog die gemeenskaplike skeer van die kam verduur? Saam met die kritikus Jameson wil ek aanvoer dat in die estetiese sfeer die proses van die universalisering van kultuur die verdringing van die opposisionele stem impliseer.
My kollegas het die gevoel gedeel en oor die jare het hulle gesorg dat deelnemers aan die simposium uit die breë Suid-Afrikaanse kulturele omgewing kom.
Die nagevolge van die eerste simposium was byna onmiddellik. Kort na afloop van die simposium het Patrick J Petersen self sy debuutbundel, wat kort te vore by ’n hoofstroomuitgewery afgekeur is, as amandla ngawethu (1986) uitgegee. Daarmee skep hy ’n bewustheid van selfpublikasie. Hy en Floris Brown en andere rig later Prog-uitgewers op, Willie Adams en Leonard Koza volg met Domestica-uitgewers en Clinton V du Plessis gee sy werk onder verskeie drukname uit. Selfpublikasie het ’n strategie geword om die beheer van hekwagters by gevestigde uitgewerye te omseil.
’n Bewustheid van ’n literêre tradisie is geskep, nie net ten opsigte van skrywers en hul produksie nie, maar ook ten opsigte van die literêre geskiedenis. Navorsing word deurlopend oor dié skrywers en die daaropvolgende geslagte skrywers gedoen, terwyl strominge soos swart feministiese of queerskryfwerk waarvan daar 40 jaar gelede nouliks sprake was, deesdae toenemend aandag kry.
40 jaar later is die volgstroom van die Swart Afrikaanse skrywersimposium duidelik. Sedert 1985 is ’n opvolgsimposium elke 10 jaar gehou om bestek op te neem, en telkens is die verrigtinge, behalwe dié van die vierde simposium, in boekvorm gepubliseer. Sien Julian F Smith, Alwyn van Gensen en Hein Willemse (reds) se Swart Afrikaanse skrywers (1986), Hein Willemse, Marion Hattingh, Steward van Wyk en Pieter Conradie (reds) se Die reis na Paternoster (1997) en Hein Willemse en Steward van Wyk (reds) se ’n Vlag aan die tong (2015). Na ’n periode van ongekende opbloei, staan ons nou op die vooraand van die vyfde simposium wat in 2015 tot die Sas-byeenkoms herbenoem is. Na 40 jaar het die komende byeenkoms die potensiaal om besonder omvattend te wees.
Lees en kyk ook:
1ste Oproep vir bydraes tot die 5de Sas-byeenkoms op 9–11 Oktober 2025
Video: #SAS4_2015 – Pieter Odendaal oor die groei, vernuwing en toekoms van Afrikaans
Die vertaling van diverse Coloured vrouestemme in die Afrikaanse poësie: ’n feministiese benadering
Postkoloniale feminisme en die Afrikaanse letterkunde binne die huidige tydsgees


Kommentaar
Waarom die "ras-ondertoon"? Is alle skrywers in Afrikaans nie gelyk nie? Nav die gesprek op RSG blyk dit dat die "skrywers" bloot in Afrikaans skryf omdat hulle finansiële hulp kry. Versoek erder die kulturele filantrope om die "swart" skrywers aan te spoor om in Afrika-moedertale te skryf!
Mias Smith: Van waar, Gehasi?