#SAS4_2015: Quo vadis?

  • 1

Van ’n besinning oor Afrikaanse identiteitskonstrukte en kulturele praktyke tot die rubriek as uiting van die self, nuwe genres in Afrikaanse musiek en veel meer was as besprekingsonderwerpe aangebied by die pas afgelope Swart Afrikaanse Skrywersimposium 4 by UWK. Die tema van die simposium was “’n Nuwe Afrikaanse paradigma?”

Hierdie geleentheid het terselfdertyd ’n terugblik gebied op die 20 jaar sedert die historiese byeenkoms by Paternoster, waar die voorste bruin en swart woordkunstenaars en intellektuele van daardie tyd koppe bymekaargesit het om te besin oor taal en kultuur, breedweg gesproke.

Op een vlak het ek SAS4 ervaar as ’n viering van die opkoms van ’n aantal talentvolle nuwe kunstenaars wat met liefde en entoesiasme met Afrikaans omgaan, en ’n erkenning van die groei wat die afgelope aantal jare plaasgevind het onder gevestigde kunstenaars. Van die voorste name in Afrikaans, oa Adam Small, Diana Ferrus, Antjie Krog, Hein Willemse, Elias P Nel en veel meer was aan die woord.

Aan die ander kant – en ek erken ruiterlik dat dit dalk net ek was wat so voel – het ek gewonder of ons nie net besig is met “spinning our wheels”, om die Engelse uitdrukking te gebruik, nie.

Omdat ’n aantal nuwe, jong stemme ’n platform gebied was, kon ’n nuwe energie in die bespreking ervaar word. Hulle kennelike liefde vir die taal, en hulle geloof dat dinge beter sal raak, en dalk reeds is, tesame met ’n erkenning dat daar nog veel werk voorlê, het soos ’n vars briesie gevoel.

Ek het egter nie enigiets nuuts gehoor in terme van die algehele content van die simposium nie. Ek het baie, baie lank gedink voordat ek daai sin geskryf het, want is ek nie besig om ’n verraaier aan die cause te wees wanneer ek dit sê nie? Die indruk wat ek gekry het, ook rondom die teetafel, is dat daar ’n mate van disillusionment is, veral onder die strydrosse wat van die begin daar was. Niks het wesenlik verander in die laaste 20 jaar nie. Dieselfde kwessies wat by Paternoster geopper was in 1995, is kwessies wat in ander woorde, deur ander lense en in ander stemme in 2015 geopper word. In Die reis na Paternoster (1995) word daar byvoorbeeld verwys na die spanning rondom die gebruik van die term “Swart Afrikaanse skrywers”. In 2015 bestaan daardie selfde spanning steeds, en die vraag of die skrywers nou eintlik as bruin of swart identifiseer moet word, bly steeds onbeantwoord. Die vraag ontstaan natuurlik of dit hoegenaamd nog nodig is om daai onderskeid te tref. Ek vermoed dat die meeste simposiumgangers daardie vraag bevestigend sal beantwoord, en die redes daarvoor kan waarskynlik ’n paneelbespreking op sy eie regverdig.

Hein Willemse sê in 1995: “Afrikaans word nie in die nuwe Suid-Afrika bedreig nie. Wat wel bedreig word, is die bevoorregting wat Afrikaans, Afrikaners en Afrikaanssprekendes gehad het ... In samehang hiermee is die Afrikaanse letterkunde se uitgebreide infrastruktuur gerig op die produksiewyses en afsetgebiede van blanke lesers en verbruikers ... Die eerste simposium het gelei tot ’n groter bewustheid van swart skrywers se posisie in en verhouding tot die Afrikaanse letterkunde.” Twintig jaar later, en hy sou sonder vrees vir teenspraak woord vir woord dieselfde toespraak kon lewer. (Hy het nie, maar dit sou steeds waar wees.)

Meer swart mense praat Afrikaans, maar swart stemme word steeds nie voldoende gehoor in die media nie. Daar was onder meer verwys na die feit dat toe die destydse streekskoerante, wat gefokus was op bruin en swart stories, geïntegreer is in die hoofkoerant, die aantal stories oor ( en deur) swart en bruin mense dramaties afgeneem het. Waldimar Pelser het in sy bespreking aangevoer dat ’n koerant soos Rapport om finansiële redes gedwing word om die voorkeure van hulle betalende, en daarmee word eksplisiet verstaan wit, lesers in ag te neem om hulle lesersbasis te behou. Kuier en Die Son, die vinnigs groeiende publikasies gefokus op bruin en swart lesers, gee tog nie hulle content verniet weg nie? Bruin en swart mense is bereid om te betaal as hulle belange in ag geneem word. Ek het eintlik gehoop dat verteenwoordigers van Die Son en Kuier sou deelneem aan ’n paneelbespreking, maar vir watter rede ook al was hulle afwesig.

Swart skrywers word steeds nie gepubliseer in dieselfde getalle, proporsioneel gesproke, as wit skrywers nie. As hulle wel gepubliseer word, kry hulle werk nie dieselfde blootstelling in die media as wat ’n wit skrywer kry nie. Swart stories word steeds as minder belangrik geag wanneer daar besluite gemaak moet word oor watter stories die voorblad van ’n koerant moet haal. Die kwessies het nie verander nie. Ek het, miskien naïewelik, gehoop dat daar voorstelle sou kom om die probleem direk aan te sny. Ek het ook gehoop dat iemand die olifant in die vertrek, die feit dat wit bevoorregting steeds swart skrywers benadeel, op die naam sou noem. Niemand het nie, nie regtig nie.

Ek het gehoop dat daar gekyk sou word na goed soos die taalbeleid aan universiteite, die voorgestelde kopieregwetgewing wat skrywers in die gesig staar, vryheid-van-spraak-kwessies wat dwarsoor die wêreld ’n groot bedreiging is en wat ook in Suid-Afrika kop uitsteek. Toegegee, dit was ’n akademiese diskoers aan ’n tersiêre inrigting, maar dit beteken tog nie dat relevante kwessies van die dag nie bespreek kan word nie. Dis juis die tipe platform waar vryelik met sulke kwessies omgegaan moet word. Dalk was dit ’n doelbewuste keuse om nie daardie kwessies te opper nie – indien dit die geval is, is dit ’n jammerte. Simon Seekoei het dit in sy toespraak pragtig gestel: “Te veel skrywers lê nog onder die kombers.”

Ongelukkig is dit ’n kwaal waaraan alle Afrikaanse akademici, intellektuele en kunstenaars tot ’n mindere of meerdere mate ly – of dalk hang my aktivistiese onderrok verder uit as wat ek besef. Hoe dit ook al sy, ek het SAS4 ervaar as ’n verspeelde geleentheid om die mylpale wat reeds bereik is, te vier en terselfdertyd krities om te gaan met die ver pad wat ons steeds moet loop, nie net binne die klein Suid-Afrikaanse konteks nie, maar in die wêreldarena.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Is dit maar reg om in 'n oorwegend Afrikaanse teks oor 'n Afrikaanse beraad van bv "content", "cause" en "disillusionment" te skryf? Taalsuiwerheid behoort hoog op die agenda van so 'n byeenkoms te wees, want dit het direk met taallojaliteit te make. Aan die UWK behoort die eens oorwegende Afrikaansheid van die inrigting, wat deur die bruin ikoon Jakes Gerwel in eentalige Engelsheid gedompel is, sekerlik aangespreek te word, maar dit word soos die pes vermy. Voorheen is 'n aparte beraad vir bruines en swartes apartheid genoem. Deesdae heet dit seker solidariteit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top