Postkoloniale feminisme en die Afrikaanse letterkunde binne die huidige tydsgees

  • 0

......

“Verder het die Afrikaanse letterkunde oor die algemeen nie ’n sterk feministiese tradisie nie. Tekste oor vrouwees, en tekste deur vroue, is miskien algemeen, maar dit maak dit nie noodwendig feministies van aard nie.”

......

Cliffordene Norton gesels met Marni Bonthuys oor haar LitNet Akademies-artikel: “Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips”.

Foto: Pixabay.com

Waarom fokus jy op hierdie drie digters? Anders gestel: Aan watter vereistes (behalwe ras en taal) moes die digters voldoen vir jou navorsing? Of was ras en taal die deurslaggewende faktore?

Dankie vir die geleentheid om meer oor hierdie interessante onderwerp te gesels. In die spesifieke artikel was ras en taal deurslaggewende faktore, maar verál ook geslag en die vergestalting van ’n feministiese bewussyn in die betrokke digters se poësie.

Soos aangedui in die artikel, is daar histories baie min swart of bruin vroue wat Afrikaanse digbundels by hoofstroomuitgewers gepubliseer het. Die dubbele marginalisering van bruin of swart vroue op grond van ras én geslag het hier ’n rol gespeel.

Sedert 1994 het al meer swart en bruin mans gedebuteer, maar swart en bruin vroue was, op enkele uitsonderings na, steeds grotendeels afwesig in die Afrikaanse letterkunde. Die laaste paar jaar is daar egter enkele baanbrekervroue wat wel publiseer en sterk literêre stemme laat hoor.

Verder het die Afrikaanse letterkunde oor die algemeen nie ’n sterk feministiese tradisie nie. Tekste oor vrouwees, en tekste deur vroue, is miskien algemeen, maar dit maak dit nie noodwendig feministies van aard nie.

Ek wou dus probeer ondersoek wat meegebring het dat meer swart of bruin vroue nou digbundels skryf en daar meer tekens is van ’n eksplisiet feministiese stem in die Afrikaanse letterkunde. Ek argumenteer dat die globale verskynsel van derdegolffeminisme, en spesifiek dan postkoloniale feminisme, hier ’n rol speel.

Waarom fokus jy op hierdie drie digters se debuutbundels, veral gegee dat hul debuutwerke so ver uitmekaar gepubliseer is – Ronelda S Kamfer in 2008, Shirmoney Rhode in 2016 en Jolyn Phillips in 2017?

Soos bo aangedui, is Kamfer, Rhode en Phillips steeds van die min swart of bruin vrouedigters in Afrikaans wat by groot uitgewers selfstandige bundels gepubliseer het. Dit is ’n duidelike leemte as jy dink hoeveel digbundels jaarliks in Afrikaans verskyn.

......

“Uiteindelik is dit nie my rol as navorser om ’n opinie oor ’n etiket soos “bruin digter” te hê nie. Ek teken gewoon die gesprekke rondom hierdie identiteite op, probeer dit analiseer en verstaan wat dit oor Afrikaanse letterkunde binne die huidige tydsgees sê.”

......

Op ’n persoonlike vlak ken ek beide Shirmoney en Jolyn – hulle was eers studente en Jolyn later ’n kollega aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar ek sedert 2012 doseer. Kamfer was ’n jaar of wat voor ek daar begin klasgee het ’n honneursstudent. Soos ek in die artikel gesê het, was hierdie drie digters se verbintenis met UWK dus ook vir my interessant en ek het probeer ondersoek of daar sprake is van ’n literêre tradisie wat hier aan die ontwikkel is.

Die fokus op debute was vanuit ’n praktiese hoek – Jolyn en Shirmoney het elk nog net een Afrikaanse digbundel gepubliseer. Verder fokus my navorsing oor die algemeen sterk op digdebute – my PhD wat ek in 2016 voltooi het, gaan spesifiek oor digdebute in Afrikaans en Nederlands tussen 1990 en 2009. Ek vind talle onlangs-gepubliseerde digbundels boeiend en deel nie die opinie dat die Afrikaanse poësie sterwend is of sleg afsteek by die werk van voorgangers nie.

Jy noem in die artikel dat Ronelda rasetikette doelbewus in onderhoude vermy. Sien jy hierdie vermyding as ’n vorm van protes teen die etikette?

Kamfer is ’n interessante geval wat dit betref. In haar werk, veral ook haar nuwe bundel, Chinatown (2019), is daar ’n baie sterk bewussyn van haar ras- en geslagsidentiteit. Daar is min digters in Afrikaans wat so doelbewus dig oor hierdie aspekte van hul identiteit.

Terselfdertyd vermy sy egter rasetikette, soos jy sê. Ek dink hierdie vermyding skakel met wat ek in die artikel die samelewing se obsessie met identiteitsboksies noem, veral as dit by vroue kom, en nog meer so in die geval van swart en bruin vroue.

In Suid-Afrika veroorsaak die nalatenskap van die apartheidsisteem van rasseklassifikasie dat ons baie vinnig stereotiperende karaktertrekke aan so ’n identiteitsboksie heg en dan raak ’n boksie sommer vinnig ’n tronk. Soos aangedui, reken ek dat al drie digters sterk aanspraak maak op hul rasidentiteit, maar op hulle eie voorwaardes. Hulle definieer hulself deur hul werk en daarom moet die navorser ook waak teen ’n maklike saamgroepering van hierdie digters as “die nuwe generasie niewit Afrikaanse digteresse” of so ’n tipe ongenuanseerde etiket.

Wat dink jy van die etiket “bruin digters”?

Wel, dit skakel met wat ek hier bo sê. As navorser is ek versigtig vir etikette – veral as dit by individue kom. Die gevaar is dat dit ’n boksie word en mens daardeur nuanses mis en identiteite probeer vaspen wat juis baie meer vloeibaar is.

Tydens die apartheidsjare was dit die norm vir Afrikaanse navorsers om van die term “swart Afrikaanse skryfwerk” gebruik gemaak as ’n konsep wat alle bruin, swart en Indiese skrywers van Afrikaanse ingesluit het. Hier het “swart” dus nie soseer op ras gedui nie, maar eerder op teenhegemoniese skryfwerk in die tradisie van die swartbewussynsbeweging wat in die sestigs in Suid-Afrika ontwikkel het.

Dit was ook uit protes teen terme soos “niewit”, “nieblank” of “kleurling” wat wit as die norm stel en enige ander ras as die Ander. Postapartheid het die politieke situasie (ook wat taalpolitiek betref) en denkskole egter verander. ’n Sterker bewussyn van verskillende etniese identiteite wat sonder onderskeid beskryf word deur ’n sambreelterm soos “swart skryfwerk” het ontwikkel. Etikette soos “bruin skrywer” word vandag dus meer gebruik, hoewel sekere outeurs steeds “swart skrywer” of bloot “skrywer” verkies. Dit is ’n gekompliseerde gesprek – daarom dat ek in hierdie onderhoud “bruin skrywer”, “swart skrywer” en net “skrywer” afwisselend benut.

Uiteindelik is dit nie my rol as navorser om ’n opinie oor ’n etiket soos “bruin digter” te hê nie. Ek teken gewoon die gesprekke rondom hierdie identiteite op, probeer dit analiseer en verstaan wat dit oor Afrikaanse letterkunde binne die huidige tydsgees sê.

In jou artikel verwys jy na internasionale bewegings soos #MeToo. Watter invloed sal Suid-Afrikaanse bewegings soos #AmINext op postkoloniale feministe en hul werk hê?

Ek vermoed dit het ’n groot invloed. Letterkunde weerspieël ’n tydsgees en ’n tydsgees word beïnvloed deur kuns (soos letterkunde). Ek argumenteer in my artikel dat dit nie toevallig is dat hierdie digters publiseer in die era van feministiese hutsmerkbewegings soos die genoemdes nie. Die wêreld het baie klein geword danksy die internet, en dit is onvermydelik dat feministiese bewegings oorsee ons denke in Suid-Afrika ook gaan beïnvloed.

Wat die sosiale-media-bewegings (soos #AmINext) in spesifiek Suid-Afrika betref, is Suid-Afrikaanse vroue veral weerloos vir gendergeweld. Ons is almal deeglik bewus van ons land se misdaadstatistiek en die risiko’s waarmee Suid-Afrikaanse vroue elke dag te kampe het.

Hierdie soort bewegings resoneer dus met die meeste Suid-Afrikaanse vroue en uiteraard ook met Afrikaanse vrouedigters. Ek vermoed ons gaan toenemend meer feministiese tekste in die Afrikaanse letterkunde sien. ’n Aantal onlangs-gepubliseerde digbundels deur wit Afrikaanse vrouedigters (ek dink hier byvoorbeeld aan Bibi Slippers, Corné Coetzee en Corlia Fourie) ontgin temas wat ook met die postkoloniale feminisme skakel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top