Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

  • 7

Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105
Prys: R270

Lank nadat hierdie leser Jeremy vannie Elsies deur generaal-majoor Jeremy Vearey van die Suid-Afrikaanse Polisiediens neergesit het, is dít wat haar bybly: die skrywer-verteller-hoofkarakter (of is hy die hoofkarakter, dié verteller?) se onverskrokke, vasberade, selfs onwrikbare, dog deernisvolle en empatiese manier van wees (“being”), ingegee en gevorm deur die mense, ruimtes en tye met wie en waarmee sy “lewensloop” verbind is.

In Jeremy vannie Elsies gee Vearey allereers rekenskap van sy politieke ontwaking, eers as sesjarige wie se gees van verset teen onreg ingeboesem is deur sy ma en deur die “groot gidse van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het”. Hy vertel hoe sy politieke bewussyn later onder meer geslyp is in geheime politieke leeskringe en kerkjeugkampe, oor die (Afrikaanse) Kommunistiese Manifes, Afrikaans as struggle- en bevrydingstaal, ondergrondse werk vir MK en sy tyd op Robbeneiland.

Maar sy politieke “grootloop”, om ’n uitdrukking uit Jeremy vannie Elsies te leen, kan nie losgedink word van sy plek in hierdie land en haar geskiedenis en die mense en ruimtes wat hom op sy grootloop tot menswees begelei (het) nie. So kom loop in sy spore deur landskappe wat tot nou kwalik, indien ooit, in die Afrikaanse literatuur tot lewe gebring is: Elsiesrivier (Elsies) en “ons djaart in Balvenielaan [...] noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp verby meneer Matunsi se huis”, verder “oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg”, verby “die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het”, verder aan tot by die “skipbouers van Eureka-landgoed” voordat jy langs “die weë van ons gemeenskaplikheid” in Tiervlei beland.

Vergis jou nie, dié Tiervlei is nie die Tiervlei in byvoorbeeld Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie. Nee, dié Tiervlei is die een duskant Fransie van Zijl-rylaan, agter jou as jy hier gesigkant Tygerberg-hospitaal toe staan, die Tiervlei wat later tot Ravensmead herdoop is. Die ander Tiervlei het Parowvallei loop word.          

Anastasia de Vries (dosent by die departement Afrikaans en Nederlands, UWK)

Anastasia de Vries was die gesprekvoerder by die bekendstelling van Jeremy Veary se boek op 31 Mei 2018 by The Book Lounge in Kaapstad.

Maar soos in Goosen se boek, is Vearey se Tiervlei, en omstreke, ook nie bloot agtergrond vir die gebeure nie, maar is dit ’n lewende werklikheid. Op sy “kuierstaptogte” tot in alle uithoeke van Elsies, Uitsig en Tiervlei/Ravensmead hoor jy uit die “loopstories” van verskillende vertellers oor die uitwerking van apartheid en veral die Groepsgebiedwet, die versplintering en ontworteling van families en gemeenskappe wat op dié sandvlaktes hul “djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is”.

Uit hierdie sober, byna kliniese vertellings ‒ gestroop van sentimentaliteit, nostalgie, melancholie  of  “ag, sjym” ‒ leer jy iets verstaan van ontworteling, van mense wat nie “eintlik uit eie wil” trek nie; “ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word”. Jy leer meneer Matunsi ken wat op dieselfde gestroopte wyse vertel dat hy en sy vrou van hul Elsies-tuisgrond na Gugulethu moet verskuif. Dit gryp jou aan die keel, dié onderspeelde pyn van behoort-mense uit verskillende kulture wat in dié tyd van mekaar vervreem is.  

Jy hoor van die mensontering van die sogenaamde potloodtoets wat families uitmekaar geskeur en “vervalste” wit mense (familielede wat die toets geslaag het) geskep het. Daar is die verhaal van ene Broer van As wat vertel hoe hy kort na hul uitsetting sy bloedbroer,’n “vervalste wit man”, in hul geboortehuis in Goodwood gaan besoek het en toe gevra is om by die agterdeur in te kom. Sy koffie is later in ’n konfytblikbeker in die agterplaas bedien.    

Dis inderdaad ’n grootloop dié, in die eerste plek ’n grootloop na die belewenis van ons verlede in leefwêrelde wat menige Suid-Afrikaner dalk ooit slegs in en deur die literatuur sal leer ken. Maar dis ook die grootloop van “almal se antie Annette” se “klong”, van laaitie tot versetstryder, politieke gevangene tot spioen, lyfwag vir wyle pres. Nelson Mandela en later polisiehoof, steeds getrou aan die grondbeginsels van sy “dieper reg”, om dit “in belang van ander te leef en nie net stilletjies in jou bewussyn te koester nie”.

Want bowenal is hy “Jeremy vannie Elsies” ‒ vannie nie uit Elsies nie ‒ en in dié besitsvorm lê sy verweefdheid met hierdie plek en sy mense opgesluit,  ’n verweefdheid wat daarvoor sorg dat sy lewensgeskiedenis vertel word as die storie van ’n mens wat tot nou nooit sy waarheid oor sy plek in hierdie ruimte, en ’n groter Suid-Afrikaanse ruimte, vergeet het nie. Daarom skroom hy nie om in sy boek die geweld en bendebedrywighede, die onkruid wat “my kweekgrond onvrugbaar maak, die Elsiesrivier, Uitsig en die Kaapse Vlakte van my komvandaan”, nes die gruwels en vergrype van apartheid aan ’n skandpaal te spyker nie.

Die vraag is: Hoe onthou hy en hoe (en deur wie) word daar in Jeremy vannie Elsies oor die verlede vertel (geskryf)? Die fokus van hierdie bespreking is vervolgens op die manier waarop die boek met die verlede omgaan, die verskillende vertelstrategieë wat gebruik word om die belewenis van historiese gebeure uit te beeld en die taal waarin hierdie geskiedenis opgeberg word.

’n Mens se geheue kan jou parte speel, en ’n waarheid wat uit onthou gekonstrueer word, kan maklik afgemaak word as “aangedik”, weet die skrywer klaarblyklik baie goed. In sy bedankings noem hy dan byvoorbeeld sy “antie Rosie wie se waardevolle en soms onbewustelike redaksionele insette gesorg het dat ek so getrou as moontlik aan die gemoedstemming van die verlede en hede, gevoelswaardig oor ons komvandaan skryf”.

Sy boek sit vol van die name van lewende getuies (google hulle gerus) van sy lewensgeskiedenis, terwyl belangrike intertekste soos foto’s, briewe en ander dokumente sy storie konkreet uitdra. (Hoewel dit nie die fokus van hierdie bespreking is nie, kan die intertekstuele samespel in die boek, waaronder die werk van N.P. van Wyk Louw en selfs ’n resep, interessante interpretasies oplewer.)        

Vearey se narratief is grotendeels outobiografies, in die eerstepersoon, maar begin heel interessant in die tweedepersoon waarna “groot Jeremy” van die tweede sin tot ongeveer die helfte van bladsy 2 oor “klein Jeremy” in die derdepersoon vertel. Reken hierby ’n veelheid van stemme wat tussen sy vertellings en oorvertellings meestal in die direkte rede en stukke dialoog saam met hom sy storie vertel, saam met hom skryf aan sy lewensreis wat strek van sy kleintyd tot die mens wat hy nou is.

In terme van laasgenoemde is Jeremy vannie Elsies ’n Bildungsroman, maar Vearey verskriftelik ook ’n orale tradisie wat leef in gemeenskappe soos Elsies, Uitsig en Ravensmead, naamlik die sny van ’n stuk. Hiermee word bedoel ’n soort gemeenskaplike storievertellery (verkieslik op ’n jaart om ’n ghellie of ’n damstafel – sien Vearey se boek), geweef uit ’n stukkie onthou van dié een en ’n brokkie van daai een en nog een en nog een. Kompleet ’n tapisserie, ’n beeld wat prominent in sy boek figureer.

Belangrik by die sny van ’n stuk is dat alle vertellers gelyk is, dat elke stem tel en elke invulling van of aanvulling tot die stuk waarde het. Sommige smeer (vertel lekker vetterig met byvoorbeeld klankeffekte of stemnabootsings) of sny dalk interessanter as ’n ander en die een onthou meer en helderder as ’n ander, maar niemand het alleenaanspraak op die waarheid nie. Vearey se boek, waarin die stem van die verteller afgewissel word met dié van ander, is ’n knap illustrasie van hierdie orale verteltradisie.

Met sy boek se wisselende perspektiewe op die verlede vermy die skrywer-verteller juis alleengesag oor (die) waarheid, is die ander vertellers so gesaghebbend soos hy en is hulle die hoofkarakters in hul eie weergawe van gebeure, gelykes, mense met inherente waarde. Hulle is die stemme wat kleur en krag aan sy woorde gee. Hy ís, want hulle was (is).

Kyk gerus hoe hulle die draad van sy vertelling en oorvertelling optel en in hul eie stem verder vertel, soos onder andere sy ma Annette, sy wat in woord en daad “allemagtig” is, amper nes sy ouma se “God Jehova”, wat “die hele wêreld” laat stilstaan “as sy sê stop”. Soos die dag by Parowstasie in die donker bek van die Whites Only-duikweg toe sy en haar “krygsvroue” ’n spul mannehekwagters van apartheid bestorm het of toe sy met ’n “Missus Vearey to you” menswaardigheid van ’n “baas” geëis het ... Patriargie, enigiemand?

Laat ek nou maar kleur beken: dié boek het my, wat uit ’n sterk matriargiale gemeenskap kom, meer as een maal laat uitroep: Womandla! ’n Mens mag mos saam praat, saam onthou,  laat blyk die openingsin van Vearey se narratief in die tweedepersoon immers. Met hierdie tegniek skep hy ’n aangesprokene wat ingesuig word by die onthou van wie ons was, wie ons is. Dit is veelbetekend dat sy narratief ook in die tweedepersoon eindig, asof hy sy leser vir oulaas ook tot nadenke wil stem oor hoe ons geword het wat ons is: “Maar by the way, soe in die verby, kaantie, wies djy?” Dis in die verby se onthou, so leer sy boek, dat mens tot jou dieper reg kom en “daardeur welwillend in gemeenskaplike belang van die groter ons”.

Ten slotte: so lustig soos wat die rumtes in Jeremy vannie Elsies saampraat, so ook die taal. Sy taalbewussyn, veral van die rykheid van Afrikaans se verskillende skakerings, word soos sy menswees deur verskillende mense gevorm, onder wie sy oudste neef, Louis, wat praat van “Ôs Afrikaans is original. Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool”. Sy ma het “ons manier van Afrikaans en Engels praat as ’n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou”.  

Maar dis wyle Jakes Gerwel wat hom aangespoor het om “hierdie boek in die Kaaps/Afrikaans van my lewenswêreld te verbeeld”. Toe loop haal hy dit eers daar diep, by sy mense in sy komvandaan, daai Afrikaans “soes ôssit maa altyd gepraat het”, sê hy by die bekendstelling van sy boek op 31 Mei. “Memory lies in language” mos, het die Keniaanse skrywer, Ngũgĩ wa Thiong'o, in 2003 tydens ’n Steve Biko-lesing gesê. En bygevoeg dat ’n man wat sy geskiedenis (“memories”) en denke in ’n ander man se taalvorm giet, is soos iemand wat sy graan in ’n ander man se skuur opgaar.

Aikôna. In Jeremy vannie Elsies is Vearey se denke en onthoue opgeberg in sy eie skuur, in ’n Afrikaans wat van oral kom, daar waar daar misdaad is, van die manne en vroue in blou wat saam met hom veg vir ’n land waar die kinders kan lag en speel, die Afrikaans van die veles met wie hy daagliks te doen kry. Wat hy vervolgens in sy boek met al die Afrikaanse doen, is presies dit wat al in menige akademiese geskrif geskryf is oor die saambestaan van Afrikaans se verskillende manifestasies: hy maak Kaaps en die verskillende variasies van die algemene omgangstaal staan langs en tussen gestandaardiseerde Afrikaans deur.

Die resultaat is ’n Afrikaans waarin Kaapse verbuigingsvorme, wat trekke van Nederlands vertoon, soos “ouere man”, saam met die gebruik van selfstandige naamwoorde soos “slaaf” en “bandiet” as werkwoorde teruggevind word. Waarskuwing: ’n Konstruksie wat al hoe meer in die omgangstaal gehoor word, naamlik  “die man, vrou of kind wie”, pleks van wat kan dié van ons wat in taalreëls dink, in ons spore laat vassteek. Dalk is dit die idee: ’n Afrikaans met ’n stadiger ritme, asof ook die taal moet meewerk om die leser “soe in die verby” te laat besin oor “kaantie, wies djy”?

  • Foto's verskaf deur René Arendse (Afrikaans.com)

Lees ook

’n Onvoltooide tapisserie: fakkeldraer Veary se Jeremy vannie Elsies

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey

  • 7

Kommentaar

  • Jeremy Vearey
    Jeremy Vearey

    Dankie Anastasia, geresenseer met deurtastende insig en erkenning aan ons komvandaan se stuksnyers se eiesoortige “gebruik van Afrikaans juis om die taal se beeld van monoglottiese eenheid te ondermyn”.

    [Gedeeltelik aangehaal uit ‘Die Ander Kant : Swart Afrikaanse Skrywers in die Afrikaanse Letterkunde’. Hein Willemse. 2007]

  • Ek het net vandag Jeremy se boek klaar gelees, op die vliegtuig van Kaapstad na Johannesburg, en ek gaan nog lank aan sy storie kou en herkou. 'n Uitstekende resensie, Anastasia, jy het die kern vasgevat!
    Hierdie boek verdien weerlees en oorlees en 'n plek op elkeen wat Afrikaans praat en Suid-Afrika lief het en droom van 'n land waar kinders net kan speel en lag, se boekrak.
    Dankie, Jeremy vannie Elsies. Dankie vir jou langloop-vertel.
    Ek, Trixie van Petoorsdorp, glo ook aan jou Dieper Reg.

  • Anne-Marie Mischke

    So moet 'n bespreking van 'n boek mos klink. In hierdie dae van dikwels armoedige en oppervlakkige resensies in verbeeldinglose taal is Anastasia de Vries se bespreking van Jeremy vannie Elsies 'n baken om vir almal, resensente en lesers, hoog te hou.

  • Estelle Neethling

    Wat 'n uitstekende resensie met soveel "lae". Nes die boek duidelik het. Ek kan nie wag om Jeremy vannie Elsies te lees nie.

  • Adinda Vermaak

    Ek vertel net vanoggend vir my susters van Jeremy Veary se boek en ook hoe ek van plan is om vir die Afrikaansonderwysers op my e-pos-lys aan te beveel dat hulle die boek moet koop, dit moet lees en vir hulle leerders moet gee om ook te lees. Wat ek bygevoeg het, is dat hulle hul leerders moet waarsku dat hulle nie, soos die skrywer, soms "wie" in plaas van "wat" moet gebruik nie (want hulle gaan dit in 'n opstel verkeerd merk) maar lees moet hulle dit lees! Dankie vir 'n puik resensie. En veral dankie, Jeremy Veary!

  • Erika Oosthuysen

    Die wies en die wats het ons in die redigeerproses laat kopkrap, maar ons het so min moontlik ingemeng met Jeremy se trefseker gebruik van verskillende taalregisters. Wie word algemeen erken as standaard-Kaaps.
    Bly jy het die boek geniet. Die uitgee daarvan was 'n hoogtepunt in my uitgee-lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top