LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Jeremy Vearey
Jeremy Vearey het grootgeword in Elsiesrivier. Hy was lid van MK en was vir jare ’n gevangene op Robbeneiland. Hy is ’n generaal-majoor in die SAPD en was hoof van die Wes-Kaapse polisie se gang-eenheid. Op sy Facebook en blog (http://thedialecticalcop.blogspot.co.za, waar in Afrikaans en Engels geskryf word) vra lesers dikwels wanneer sy boek kom.
Opsomming
Jeremy vannie Elsies
Jeremy Vearey
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084105
Van laaitie tot politieke kryger, “bandiet” tot polisiehoof, spioen tot presidensiële lyfwag. Van sy kleintyd in Elsiesrivier met die ooms wat domino speel en die lyk op die veld het Jeremy Vearey se lewe talle onvoorspelbare wendings geneem. In ’n vars, eiesoortige Afrikaans skryf hy oor geheime leeskringe, die kerkjeug en die (Afrikaanse) Kommuniste-manifes, sy tyd as onderwyser terwyl hy in die geheim ondergrondse werk vir MK uitvoer, en sy tyd op Robbeneiland. In Pollsmoor kook hy onwettige bully beef. (Die resep is ingesluit.)
Toe hulle onverwags vrygelaat word tydens die oorgang stap hy stap saam met Tokyo Sexwale van die hawe af Cowley House toe. As Mandela se lyfwag help hy ’n AWB-opstand in die Karoo ontlont, voor hy deel word van die nuwe SAPD saam met die gewese “vyand”. In naelbyt-operasies takel hulle terrorisme en Kaapse bendes.
“Ontstellend goed. Ek kon dit nie neersit nie; ’n bondel dinamiet.” – Riaan de Villiers
“’n Vars stem oor ’n lewe op die snykant.” – Tobie Wiese
“Dié boek sal jou ontroer, laat lag, laat kopskud en laat nadink, maar bowenal sal dit jou elke nou en dan laat vergeet om asem te haal. ’n Outobiografie wat in die riller-afdeling hoort.” – Nathan Trantraal
Uittreksel
Ouma Vearey se djaart in Tiervlei was heel anders uitgelê as ouma Galant se djaart in Elsiesrivier. Pa het my eendag vertel dat die verskil te doen het met hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is. Soos ek hom destyds verstaan het, trek ons mense nie eintlik uit eie wil nie, ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word. Huise word gebou soos treine wat altyd op pad êrens heen is en die djaart is maar net nog ’n stasie tussen die volgende een.
Ouma Vearey se djaart was ’n U-vormige sinkkraal van swart geverfde koppelhuisies om ’n sandbinneplaas, begrens deur soortgelyke buursinkkrale wat hekloos uitloop na die gryspad se stof van Sewendelaan. Een klein kwartstuk van die sinktrein was ontkoppel as ’n familiebalietoilet.
Oupa Vearey, of Dêrra soos ons hom genoem het, was ’n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog wie as soldaat in Tobruk deur die Germans gevang is en in 1945 verlos is uit ’n tronk vir krygsgevangenes in Italië. Dêrra was ’n oupa van min woorde en streng gevegsreëls. As daar onder die trop newe ’n bakleiery was, het hy altyd eers met sy kweperlat ons gewaarsku dat vloekery verbied word omdat dit wys dat jy jou emosies na ’n geveg toe bring. Sy tweede reël was ’n les in sy siening van regverdige manwees en sy beginsel dat enige geveg se einde finaal begrawe word met versoening.
“Die eerste een wie kaalvuis bloed trek, wen. Vat dan jou broer se hand en tel hom op. Sê hom dat alles nou oor is en dat jy jammer is dat dinge tot hierdie punt gekom het en dat dit nooit weer sal gebeur nie,” het Dêrra altyd verduidelik.
Die uitdra en begrawe van die djaart se oorvol kakbalie, veral op die laaste dag van ’n lang naweek, was gereeld die bron van vuisgevegte tussen die trop newe op die djaart. Alhoewel baliewerk ’n driemanskaptaak was, het dit altyd neergekom op die jongste newe – Ricky, Danny Boy en ek. Een bloedwarme middag op Paasmaandag in die vroeë sewentigs sukkel ek op my hurke in konsentrasie om die swart oorvol balie van onder die houttoilet se sitvlakplatform uit te skuif, toe Ricky skielik agter my begin skree dat daar ’n slang agter die balie seil. Met die skrik ruk ek die balie te vinnig los en die kak spat letterlik om en oor my.
Ricky breek los met ’n skaterlag en skree: “Dêrra! Jeremy het die balie laat omval!”
Ek gryp hom by die bors en begin hom net daar in die vuil toilet moer. Maar Dêrra storm nader met sy kweperlat en begin slaan om my van hom af te kry. Soos die ongeskrewe reëls verlang, volg ek en Ricky gedwee vir Dêrra na die djaart se binneplaas waar die geveg moet begin. Hier word daar nie gepraat nie en Dêrra trek ’n sirkel in die sand om die bokskryt te begrens terwyl ons oorkant mekaar stelling inneem. Dêrra lig die kweperlat en slaan dit neer in die stof.
Soos Dêrra se reëls verlang, pak ek en Ricky mekaar sonder ’n woord of ’n huilery. Daar kom ook nie van die toeskouers wat stil rondstaan ’n gejuig of aansporing nie want niemand waag dit om aan die erns van Dêrra se lesse afbreuk te doen nie. Ná ’n kortstondige gestoei van kinetiese vuishoue, kopskiete en skoppe breek Dêrra die stilte en skree: “Bloed!”
Ons stop onmiddellik en Dêrra begin sy inspeksie. “Julle al twee bloei. Wie eerste gebloei het, maak nie saak nie, julle het al twee gewen. Skud hande en gaan maak die toilet skoon,” beveel hy en loop na die ouer newe buite die sirkel. “Help hulle,” berispe hy, “julle het mos ledig rondgestaan terwyl julle gesien het hoe Jeremy sukkel en julle het saamgelag toe die balie omval.”
Dit het al ons newe tot net voor sononder gevat om die toilet skoon te maak en alles te begrawe onder die wakende oë van Dêrra, wie seker gemaak het dat elkeen sy bydrae gelykmatig lewer. En só het ek vir Dêrra verstaan, as ’n harde maar regverdige man wie altyd seker gemaak het dat niemand ooit verantwoordelikheid ontduik nie. Dit, en dat enige konflik altyd moet eindig met ’n gebaar van versoening, wat inderdaad samewerking vereis, om ons menswaardigheid te herwin.
Lees ook
’n Onvoltooide tapisserie: fakkeldraer Veary se Jeremy vannie Elsies
Kommentaar
Vir 'n volwaardige skrywer het Jeremy Vearey 'n "stem" soos min!