’n Lewe van menswaardigheid – 'n gesprek oor die bruin identiteitseminaar

  • 0

’n Interdissiplinêre konferensie oor bruin identiteit word aangebied deur die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.

“Die terme bruin en (veral) kleurling het nog altyd opspraak gemaak, juis omdat hulle soveel geskiedenis dra. Vandag aanvaar sommige mense dié terme, net soos ander dit bevorder of verwerp. Nog ander staan onverskillig daarteenoor,” het Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria gesê met die aankondiging van hierdie akademiese konferensie oor bruin identiteit en geskiedenis wat einde November 2012 aan die Universiteit Stellenbosch gehou word.

Naomi Meyer het prominente rolspelers en seminaarbydraers by die seminaar hieroor uitgevra.

NM: Ons neem met belangstelling kennis van die bruin-identiteit-seminaar wat by die Beyers Naudé Sentrum aangebied word. Waarom hierdie seminaar?

Nico Koopman

Nico Koopman: Suid-Afrika se nasionale leuse lui mos: “Eenheid in verskeidenheid”. Ons vertrekpunt vir die konferensie is “eenheid”. Ons dink dit is belangrik dat ons die eenheid van ons land se mense bevestig, en dat ons binne die eenheid praat oor die verskeidenheid van spesifieke groeperinge wat daardie een Suid-Afrikanerskap konstitueer. Deur die fokus op verskillende partikulariteite en spesifiekhede bou ons die Suid-Afrikanerskap van eenheid wat gekenmerk word deur ’n lewe van menswaardigheid, gelykwaardigheid, ingeslotenheid en nierassigheid. Die konferensie wil hierdie waardes reflekteer en wil hierdie strewe dien. Vanuit die eenheid praat ons oor die spesifiekhede of partikulariteite. Nie net mense wat min of meer onder ’n spesifieke groepering ressorteer praat oor daardie groepering nie. Wit en swart en Indiër praat byvoorbeeld oor “bruin” of hoe jy ook al die groeperinge wil tipeer. Die konferensie wil dus graag ’n nierassige samestelling reflekteer.

Nico Botha: Dit is ’n ernstige wanbenaming om van die konferensie as ’n "bruin-identiteit-seminaar" te praat. Dat daar mense gaan deelneem wat sterk sal praat in die rigting van ’n "bruin" of “kleurling”-identiteit val nie te ontkenne nie, maar daar gaan ook mense wees wat heeltemal nie in daardie rigting opgaan nie. Dit is belangrik om die aard van die forum wat hier geskep word, goed te definieer.

Hein Willemse: Nico is reg. Ons het baie lank gepraat oor die aanslag van die konferensie. Hierdie is die eerste in ’n reeks gesprekke oor “intellektuele tradisies in Suid-Afrika”, en dan veral intellektuele tradisies en standpunte wat op die agtergrond geskuif is of wat groter aandag verg. Ek hoop nie ons gaan vashaak by ou nasionalistiese interpretasies van “bruin identiteit” nie. Ons moet juis verder en dieper kom praat. Die ervaring van liminaliteit, daardie ervaring van tussen-in wees, is byvoorbeeld nie net ’n “bruin” ding nie, maar ervarings wat ons almal in hierdie land en mense in ander soortgelyke omstandighede tref.

Michael Cloete: I am – I think we all are – well aware of the controversial nature of the sub-theme of this first conference, especially with regard to the position of those intellectuals who argue that the “coloured question” is but a racist construct of apartheid ideology – and that any discussion along these lines will only succeed in perpetuating a racist legacy that is best left in the past. As Nico has said, we are equally appreciative of the those intellectuals, community leaders and politicians who lay claim to a coloured or a “brown” consciousness. Their voices must also be heard.

Nico Botha: Die konferensie is nie ’n geleentheid waar ’n klubbie eendersdenkendes bymekaar kom om bekende opvattings te hersirkuleer nie, maar ’n ernstige intellektuele forum, ’n akademiese gesprek waar ruimte geskep word vir uiteenlopende intellektuele narratiewe. Wat wel op ’n onbeskaamde en onapologetiese manier gestel moet word, is dat die konferensie inderdaad ’n soort selfeksaminering is, bloot omdat sosiale konstruksies soos kleurling of bruin nie ontken kan word nie. Maar die selfeksaminering vind nie in isolasie plaas nie, maar in die teenwoordigheid van Suid-Afrikaners wat nooit as "kleurling" of "bruin" geïndentifiseer is nie.

Hein Willemse: My gevoel is dat die sosiale kategorisering van mense nooit stabiel is nie, dat daar konstante aanpassings en veranderings is na gelang van omstandighede. Die een aspek wat in ons gesprekke moet uitstaan, is ook onbevange ondersoek.

Michael Cloete: Exactly, I like this onbevangenheid. It is our hope that the conference will establish a platform for revealing and documenting the “hidden narratives” that have gone unheeded in the official or the “hegemonic” version of the struggle for personal and political freedom of black South Africans. This a necessary precondition in the struggle for national unity and identity.

NM: Waarom word die interdissiplinêre seminaar by die Fakulteit Teologie aangebied?

Nico Koopman:Die konferensie word gereël deur kollegas van Unisa (Nico Botha en Michael Cloete), UP (Hein Willemse) en ons by US se Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie. In ons reëlingskomitee is daar ’n filosoof, ’n literator en ’n paar teoloë, en ons hoop die konferensie reflekteer ook ’n soortgelyke verskeidenheid. Dit is dus ’n interdissiplinêre inisiatief. Die BNS is betrokke, want die soort strewes van menswaardigheid, gelykwaardigheid, ingeslotenheid en nierassigheid wat ek netnou genoem het, was die hartklop van wyle dr Beyers Naudé. Ons is ook betrokke want publieke teologie dink na oor die betekenis van geloof vir die uitdagings in die openbare lewe. Geloofsgemeenskappe kan juis beslissende bydraes lewer tot die vestiging van eenheid in verskeidenheid en die waardes wat ek vroeër genoem het: menswaardigheid, gelykwaardigheid, ingeslotenheid en nierassigheid.

NM: Hoe het u u u sprekers gekies?

Hein Willemse

Hein Willemse:Ons het ’n paar gassprekers uitgenooi, maar die meerderheid deelnemers is kollegas wat hulself aangemeld en voorleggings gemaak het. Ons is eintlik verras deur die verskeidenheid van sprekers. Ons grootste beperking was nie die aantal sprekers of geskikte sprekers nie, maar eerder ons beskikbare tyd. Ons het slegs Vrydag 30 November en die oggend van Saterdag 1 Desember 2012 opsy gesit. Met die aansoeke wat ons gekry het, kon ons nog ’n paar sessies gevul het, maar ons het mense wat nie opgeneem kon word nie, uitgenooi om bydraes tot die beplande publikasie te lewer.

NM: Wat wil u graag met hierdie seminaar bereik?

Michael Cloete: One of the objectives of the conference is to address the legacy – personal and political – of having once been labelled, and still being labelled, “coloured”, not in order to endorse either the apartheid categories of “race” on the one hand, nor the ANC’s reinvention of race, on the other, but rather to face up realistically to this problematic legacy – fully conscious of the ambiguity, the uncertainty, the rejectionism, the personal and cultural schizophrenia surrounding it.

Nico Botha

Nico Botha: Benewens dat hierdie konferensie een van ’n reeks is, staan vir my in hierdie spesifieke geval, soos nou net gesê is, die gedagte van selfeksaminering voorop: in gesprek met myself en in gesprek met ander. ’n Mens se grootste hoop bly dat die Suid-Afrikaanse obsessie met ras en etnisiteit, meestal vir doeleindes van fragmentering en verdeling, ’n bietjie ontsenu sal word en dat daar liewer ’n viering van die diversiteit aan intellektuele en ideologiese standpunte gestalte sal kry. Die demokrasie word ten beste gedien nie deur konstant die rasse- of etniese kaart te speel nie, maar deur idees op ’n onbevange manier te ventileer.

Michael Cloete:I also want to add that the conference wants to be more than just a formal academic exercise. Apart from the usual “academic” papers, we also envisage panel discussions aimed at highlighting the experiences (personal and political) of professionals, community leaders and “ordinary” people in the areas of politics, education, religion, business, art, health, etc. We agree that we want to create a platform where we can exchange experiences (good and bad) from as many perspectives as possible.

NM: In ’n land wat nog baie sterk verdeeld is en sy eie identiteit soek, hoe versoen mens die soeke na ’n kulturele behoort-aan of tuiskoms met die idee van nasiebou en Tutu se reënboognasie? (Ek haal aan uit die PhD-tesis van Elzette Steenkamp: "The impossibility of a 'South African' identity: With eleven official languages, innumerable ethnic groups and severely entrenched racial divides, the idea of a ’South African self’ is by no means a stable, monolithic concept. This cultural melting pot was dubbed ’the Rainbow Nation’ by Archbishop Desmond Tutu immediately after the first democratic elections in 1994 in a desperate effort to provide an intensely traumatised people a sense of nationhood. However, as Shaun Irlam points out in Unraveling the Rainbow, Tutu’s insistence that ‘[South Africans] are sisters and brothers in one family – God’s family, the human family’ and his simultaneous emphasis on the need to ‘celebrate our diversity’ (Tutu, cited in Irlam 695) is a ‘dual and difficult invitation’ (Irlam 696). Irlam points to the fact that South Africa’s post-apartheid image as culturally diverse but united nation has yet to be realized.")

Hein Willemse:My gevoel is dat nie een van ons ’n soort kulturele of etniese “tuiskoms” soek of propageer nie. Ek twyfel of ons enigsins ’n soort middelpuntsoekende narratief nastreef. Ek dink nie daar is by ons, as organiseerders, ’n soort etniese nasionalisme aanwesig nie. Waarvoor ons almal wel staan, is vryheid van spraak, vryheid van denke en die onbevangenheid van intellektuele ondersoek. Ons moenie bang wees om al die dinge – die moeilike en kontroversiële dinge – te ondersoek nie, selfs nie die kwellende en durende etniese kwessies nie. Ek is baie gemaklik met kontradiksies en teenstrydige narratiewe. Ons almal is. Trouens, ons wil graag daardie teenstellende narratiewe aanmoedige en “ventileer”, om Nico Botha se woord van vroeër te gebruik. Jy sou agtergekom het dat elkeen van ons konstant praat vanuit die perspektief van die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat. My gevoel is dat ons gemaklik is met die Suid-Afrikaanse staat as staatkundige instelling. Die soort eng etniese nasionalistiese ongemak met die huidige staat wat onderliggend aan jou vraag is, deel nie een van ons nie. Dit kan ek sonder vrees vir teenspraak sê. Tweedens, ek is nooit seker wat ons verstaan onder die konsep van nasie soos jy dit gebruik nie. Ons moet die maklike gebruik van nasie verder ondersoek. My vermoede is dat dié soort kommentaar probeer om ’n neëntiende-eeuse, vroeg-industriële Europese nasiebegrip oor te plant op laat-twintigste-eeuse, laat-kapitalistiese state. Ons vorme van assosiasie is uiteenlopend, ons konsepsies van hoe ons aan mekaar verbonde is, word gevorm deur nuwe vorme van kommunikasie en belangegroepe. Aan die een kant deel laat-twintigste-, vroeg-een-en-twintigste-eeuse state nie die sosiale, kulturele of talige homogeniteit van daardie vroeë state nie; dit word trouens juis gekenmerk deur disjunksie, onafhede en diversiteit. Ons is almal in ’n sekere sin postmoderne mense wat ‘n verskeidenheid van verbintenisse, assosiasies en identiteite op een moment beleef, en ons is gemaklik daarmee. Aan die ander kant word “eenheid” juis in stryd en teenstand gebou. Ek dink ons leef en neem deel aan die breë openbare diskoerse juis as Suid-Afrikaners. Dit is as Suid-Afrikaners dat ons uiteenlopende standpunte het. Ons vorm Suid-Afrika as “nasie”, as jy wil, deur stryd en argumentasie (en alte dikwels ook deur geweld). Vanuit hierdie hoek beskou, is daar soveel kenmerke, ervarings, opvattings en waardes wat ons deel dat dit juis vir my die basis van Suid-Afrika as ’n ontwikkelende (nie noodwendig altyd samehorige nie) nasie is.

Lees abstrakte van bydraes wat by die seminaar aangehoor sal word.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top