Commendatio: Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2025

  • 0

Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2025
Wenner: Charmaine Africa vir Amma (Tafelberg)
Commendatio: Lindie Koorts

Haar stem. Dit is haar stem wat klokhelder na jou roep. Onwillekeurig begin jy haar woorde hardop in jou kop te lees; begin jou brein die klanke van Kaaps na te boots, en hoor jy die kind wat met jou praat. Haar oë word jou oë, hulle ontbloot die hardheid van ’n wêreld waarin ooms, tantes, susters, sleepsels, slumlords, politici en magshebbers nie skroom om brood uit ’n kind se mond te steel nie. In jou geestesoog sien jy hoe onskuld, verraad en ontnugtering in ’n kringetjie dans en hoor jy hoe hulle sing: “Ring a ring o’ roses ...” 

Charmaine Africa flous jou met die aanvanklike onskuld van haar kinderlike vertellerstem. Sy oorrompel jou en sy ontwapen jou. Die ritme en die tempo van haar sinne suig jou na binne en draai jou vas in die maalkolk van Bishop Lavis en die Kaapse vlakte; apartheid se menslike stortingsterrein.

Haar oë is gerig op haar ma, Amma, en op Derra wat homself aand ná aand pap suip. Dit is ’n wêreld waar wreedheid en geborgenheid, liefde en verstoting só saamgekoek is dat dit gans onmoontlik word om hulle van mekaar te onderskei.

Dit is ’n wêreld waarin mense se uiterstes saamgevleg word tot ’n vasgelegde patroon. Een ná die ander probeer Amma se kinders van die maalkolk ontsnap, probeer hulle vlug na ’n wêreld waar hul brood hul eie kan wees, maar hul vryheid is so kortstondig en vlietend soos die lewe van ’n eendagsvlieg. Die maalkolk suig hulle terug.

Africa skryf: Om skool te los wanne jy finally vestaan wat ’n werkwoord is, is baie ironic. Skoollos, manvat, wêksoek, een wood, en dai is hoekom ôs al drie goed gelyk doen. Die 70s en 80s se trappe van vergelyking vi elke arm mens innie wêreld. Op skool was ôs gelee met patrone om cursive te skryf. En gelee tel sône om ôs vinges te gebryk. En kyk nou vi ôs, ôs met ôs nommes en somme wat meer velooret as wat ôs ooit kan tel, ôs met ôs mooi handskrifte en nieman om voo te skryfie.

Daardie ritme, die tempo, die herhaling van patrone, gevorm deur historiese kragte wat die individu verswelg ... Dit is die verhaal van ’n gesin, ’n gemeenskap en ’n plek, geskryf in die taal van die streek. Geen ander skrywer sou dieselfde kon doen nie, geen ander taal as Kaaps sou hierdie verhaal kon vertel nie. Kaaps lag, huil, skel en sing soos net hy kan.

Die kinderstem word ouer, sy leer om te vloek, om te baklei vir behoud; sy word ’n eendagsvlieg en sy word ’n ma. Deurgaans bly haar klokhelder stem met jou praat.

Amma is nie maar net ’n memoir nie, en Amma is nie ’n klein verhaaltjie nie. Amma is een van daardie seldsame tekste wat ’n wêreld vir jou oopskryf. Geanker in Kaaps en in Bishop Lavis, maar sprekend van die universele.

Amma is die Angela’s Ashes van Afrikaans. Sy vertel ’n outentieke verhaal wat nie doekies omdraai oor die werklike belewenis van uiterste armoede nie; van ’n ma wat uitgelewer is aan ’n pa se drankduiwel; ’n pa met sy eie spoke en ’n ma met haar eie duiwels.

Amma preek nie en sy romantiseer nie. Sy laat haar gestroopte narratief die praatwerk doen. Sy wys jou hoe die patrone van armoede, ongelykheid en diskriminasie ’n kind, ’n gesin, ’n gemeenskap en ’n land skend en vervorm; sy maak van abstrakte historiese konsepte ’n harde werklikheid. Só lyk die geskiedenis.

Dit maak van Amma ’n waardige wenner van die Netwerk24-kykNET-Rapportprys vir niefiksie.

Lees ook:

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top