
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Thys Human se huldigingswoord hier onder.
Hoewel die eienaamtitel van sy tweede roman ’n rykdom verwagtings en assosiasies (veral binne die sosiopolitieke konteks van Suid-Afrika) aktiveer, slaag Kirby van der Merwe in Eugene daarin om lewe aan ’n besonder unieke titelkarakter te gee, waardeur hy vooropgestelde idees uitdaag en maklike veralgemenings slim weerlê.
Eugene is ’n suksesvolle joernalis in sy middeljare; welbelese en gesofistikeerd – ’n “gentleman-skollie” gevorm en gebrei deur die uitdagende omstandighede in die Bolandse “kampong” waarin hy as kind grootword, die geweld en verraad waaraan hy as politieke versetstryder in Hillbrow uitgelewer is, asook die uitdagings wat hy tydens sy terugvlug na die Kaap moes oorkom. In die hede van die roman dra hy, metafories gesproke, ’n bobbejaan op sy rug. Ofskoon dié bobbejaan Eugene uiteindelik help ontsnap en hom selfs tydens sy omswerwinge geselskap hou, is en bly hy ’n versigbaring van die blywende letsels wat geweld, marteling en ontbering op Eugene se psige gelaat het.
Wanneer Eugene in die hede van die roman verraad vermoed, lei dit daartoe dat hy sy vroegste grootwordherinneringe én die “moerse ineengestrengelde back story” van sy verhouding met Alan en Jenny tydens die struggle op bykans inkantatiewe wyse begin oprakel. Een van die tergendste aspekte van die roman is dat die leser nooit heeltemal seker is tot watter mate Eugene as verteller vertrou kan word nie. Is Eugene byvoorbeeld doelbewus besig om sekere dinge te verswyg? Of is hy eerder besig om dinge op só ’n wyse in die romanhede te onthou dat dit vir hom meer aanvaarbaar is? Of is sy geheue permanent verwring deur die trauma wat hy ervaar het? Hoewel ’n mens deurgaans wonder oor Eugene se betroubaarheid as verteller, twyfel jy nooit aan die dodelike erns van sy verwonding en verwording nie.
Eugene is ’n waagmoedige roman (nie net wat taalgebruik en tematiek betref nie, maar ook vanweë die volgehoue, nie-ironiese gebruik van die bobbejaanmetafoor). Enersyds maak dit die leser getuie van Eugene se eiesoortige metamorfose van Bolandse seun tot “full-on urban cowboy” en “laid-back Linden lover”. Andersyds vang dit met verrassende gevoeligheid die kompleksiteit van ’n hele geslag mense se lewens onder die radar vas. Dit is ’n roman wat net so veelkantig en kompleks as sy enigmatiese titelkarakter is, en ’n besonder waardige wenner van die Eugène Maraisprys vir Prosa.
Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om die Eugène Maraisprys vir Prosa aan Kirby van der Merwe te oorhandig vir Eugene.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook:

