Kristalvlakte
Amy Jephta
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080008
In sy voorwoord tot Amy Jephta se debuutdrama, Kristalvlakte, verwys die Hertzogpryswenner Tertius Kapp na ’n gesprek tussen wyle Jakes Gerwel en Koos Bekker, mededirekteur van Naspers, wat gelei het tot die idee om Bertolt Brecht se drama Mutter Courage und ihre Kinder na die Kaapse Vlakte te verplaas. Hierdie verplasing het as Kristalvlakte sy bestaan gekry in die Suidoosterfees-teksontwikkelingsprogram wat ter ere van Gerwel geskep is.
Enige teks wat so prominent met ’n interteks omgaan, kom voor die uitdaging te staan dat lesers wat met die oorspronklike teks vertroud is, dit as ’n maatstaf sal gebruik vir die sukses van die nuwe een. In hierdie geval sal sommige lesers Kristalvlakte dus met Mutter Courage wil vergelyk. Mens sou egter kon argumenteer dat die sukses van ’n verplasing soos Kristalvlakte juis daarin bestaan dat die teks ónvergelykbaar is met sy voorganger. Uiteindelik is die bepalende vraag dus of die nuwe teks op sy eie bene staan, en die antwoord op hierdie vraag hou weer nou verband met die graad van behendigheid waarmee die dramaturg die bronteks verwerk het. Hiervoor moet die skrywer die nodige afstand van die oorspronklike teks bewerkstellig. Tog wil die skrywer ook verbintenisse met die oorspronklike behou. Jephta gebruik die milieuverplasing na die Vlakte en die taalverplasing na Kaaps as primêre meganismes om afstand van Mutter Courage te verkry. Wat verbintenis aanbetref, laat Jephta die karakters as argetipes met die oorspronklikes ooreenstem. Deur hierdie aanwending van afstand en verbintenis kry sy dit reg om die “anxiety of influence” van Mutter Courage – wat as een van die grootste dramas van die 20ste eeu beskou word – te temper.
Kapp verwys in sy voorwoord ook na die feit dat Brecht self sy toneelstuk “verplaas” het: dit is in dolle vaart geskryf op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog omdat hy dit wou gebruik om te waarsku teen die fascisme en geweld wat op daardie stadium reeds aan die orde van die dag was in Europa. Ten einde hierdie doel te bereik, plaas Brecht sy toneelstuk 300 jaar vroeër, tydens die Dertigjarige Oorlog van 1618 tot 1648. Dit was een van die bloedigste tydperke in die Europese geskiedenis en daar word geraam dat tot twee derdes van Europa se bevolking in hierdie oorlog uitgewis is.
Die oorlogkonteks waarin Mutter Courage afspeel, dien dan ook as die sentrale verwysingspunt vir die verplasing daarvan na die Kaapse Vlakte, waar die voortslepende bende-oorlog dag na dag, jaar na jaar, meedoënloos sy slagoffers eis. Mens sou kon sê dat die sentrale verskil tussen die oorlog waarteen Mutter Courage afspeel en die oorlog waarteen Kristalvlakte afspeel, daarin bestaan dat oorlog in laasgenoemde geval die sosiale norm eerder as die uitsondering geword het.
Tydens ’n oorlog staan die stryd om oorlewing voorop, en Kristalvlakte belig hierdie aspek binne die konteks van die impak van die bende-oorlog op die lewens van gewone mense. Die hoofkarakter, Priscilla, staan in die teken van die allesoorheersende worsteling tydens oorlog om bloot aan die lewe te bly. Soos Priscilla dit in die eerste toneel stel: “Ôs doen net wat ôs kan om te is en bly is.” In Brecht se drama smous die hoofkarakter uit ’n waentjie met wie ook al sy kan om haarself en haar kinders aan die lewe te hou. Jephta gebruik hierdie gegewe uit die oorspronklike op vindingryke wyse deur van Priscilla ’n afstammeling van die karretjiemense van die Karoo te maak. In Kapp se beskrywing is die Priscilla-karakter ’n “hiëna van die slagveld” en haar klante is die slagoffers van die bende-oorlog – in Priscilla se woorde, “die button-koppe. Die zombies”. Daar is iets aan Priscilla wat my sterk aan die hekse in Macbeth herinner het: sy voorspel byvoorbeeld op ’n stadium die toekoms van die ander karakters – en hier het ons dus ’n verdere voorbeeld van Jephta se vaardigheid met interteks.
Priscilla het drie kinders wat almal in hul twintigs is: Ephraim, die oudste, Kaaskop, wat ’n bietjie aan middelkindsindroom ly, en Trien, die jongste, wat stom is. Dit is veral Ephraim wat kwesbaar is vir die gangsters se geslepenheid en hy word dan ook aan die einde van die eerste toneel ontvoer. Die verhaal speel af oor ’n periode van etlike jare en mens kry die gevoel dat Jephta die nege tonele as flitsbeelde uit ’n groter geheel aanbied. Hierdie tegniek werk goed binne die konteks van epiese teater, waarin, soos Kapp dit in sy voorwoord stel, die idee is om ’n spesifieke sosiale of politieke verskynsel so uit te beeld dat die leser of toeskouer op ’n nuwe manier daaroor kan dink. In laasgenoemde opsig slaag Jephta sonder twyfel: sy gebruik die Brecht-gegewe om mens opnuut te laat dink oor die verwoestende impak van die bende-oorlog, die dwelmsmokkelary en die geweld wat noodwendig daarmee gepaard gaan. En Jephta se boodskap is duidelik: oorlog het ’n vernietigende impak op almal wat daarby betrokke is; daar is geen oorwinnaars in hierdie oorlog nie, alleenlik maar verloorders. Die slottonele laat mens met ’n gevoel van magteloosheid, frustrasie en woede oor die ongeregtighede van hierdie oorlog.
Amy Jephta verdien sonder twyfel haar Eugène Marais-prys vir Kristalvlakte. Die werk getuig van die sukses van die Suidoosterfees se teksontwikkelingsprogram én van Jephta se onbetwisbare talent as dramaturg. Sy is ’n vlymskerp waarnemer en ’n behendige skrywer. Die karakters, interaksie en dialoog kom eg en ongedwonge voor.
Kapp noem ook in sy voorwoord dat Brecht met Mutter Courage gemik het na ’n “vervreemdingseffek” waarvan die doel is om ons daarvan bewus te maak dat ons ’n toneelstuk kyk en dat dit, soos die werklikheid wat dit belig, geskep is en daarom ook verander kan word. Die vervreemdingseffek in Kristalvlakte is gemik op ’n intieme vervreemding. Dit gaan hier om ’n oorlog wat op ons voorstoep plaasvind en wat genormaliseer word. Kristalvlakte as ’n epiese teaterstuk is ’n oproep tot optrede, dit is nie teater as blote bewusmaking nie. Dit is egter ook onteenseglik ’n aanklag teen diegene – en dan veral magshebbers – wat van agter die veiligheid van die voordeur toekyk hoe die booshede van hierdie intieme oorlog gedy en niks daaraan doen nie.
- Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 20 September 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.