Teaterresensie: Kristalvlakte

  • 0

Lees ook 'n onderhoud met Amy Jephta

Lees ook 'n onderhoud met Tertius Kapp

Kristalvlakte. Is dit iewers in die nuwe Jerusalem, daar waar die strate van suiwer goud is?

Lyk nie so nie.

'n Opsomming

In die openingstoneel gesels twee mans oor die Kaapse Vlakte: oor dwelms, bendes en geweld. 'n Smous en haar gesin verskyn. Hulle wil transaksies doen en hulle tweedehandse items smous.

Wat kry die mense van die Vlakte daaruit? wil die twee manne wat eerste op die verhoog was, weet.

Ons was mekaar se hande, sê die smousvrou. As ek iets aan jou verkoop, kry ek later my geld terug. En vice versa. Deur middel van hierdie vorm van handeldryf word die smousvrou en haar drie kinders deel van die Vlakte se gemeenskap.

"Ons is net eenvoudige karretjiemense," sê Priscilla, die smousvrou, by herhaling. Hoe meer sy hierdie onskuldige stelling maak, hoe minder glo mens haar. Hierdie vrou ken die lewe beter as wat sy te kenne gee. Sy is ook al deur 'n paar manne; haar drie kinders – twee seuns en een (stom) meisie – is lewende bewysstukke. Die seuns, vertel Priscilla 'n paar keer, is dom. Asof dit 'n soort beskermingsmeganisme is: hulle is dig, doodgoed en goed dood. Maar moenie glo nie. Hierdie ouens is dalk nie die skerpste messe in die laai nie, maar van messe weet hulle baie. Hulle is straatwys.

Tydspronge veroorsaak dat heelwat ongeseg bly. Ons sien nie die karretjievrou en haar kinders se daaglikse lewens nie – ons kry net soms 'n kitsblik op hul lewens. Ons sien wel genoeg om afleidings te kan maak. En soos wat die jare verbygaan en die volgende toneel open, kan mens sien hoe die smousvrou en haar kinders meer en meer deel geword het van die Kristalvlakte. Ons sien ook argetipes: die polisieman, die dominee, die bendeleier, die prostituut. Ons sien hoe al hierdie mense langs mekaar in die Kaapse Vlakte woon en mekaar toelaat om mekaar se hande te was. So is almal saam aandadig daaraan om die Kristalvlakte te skep wat die gehoor sien. En uiteindelik, ten slotte, het die Kristalvlakte die smousvrou en haar kinders volledig verorber.

Agtergrond van die drama

Kristalvlakte is gebaseer op Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder. Afrikaanse gehore sal dalk die vertaling Moeder Moed en haar kinders ken. Kristalvlakte is 'n verwerking van Mutter Courage en nie 'n direkte vertaling nie.

Oorlog

Soos in Mutter Courage is oorlog 'n belangrike tema in Kristalvlakte.

"Oorlog is soos liefde: dit sal ʼn manier vind," sê die dominee in Kristalvlakte – en dis nie altemit nie.

Mutter Courage is geskryf net voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Kristalvlakte se oorlog lyk baie anders. Die oorlog teen dwelms, geweld en sosiale kwessies woed reeds.

En hoe het hierdie oorlog uitgebreek? Die twee manne aan die begin bied 'n sleutel: toe die verwydering uit Distrik Ses plaasgevind het, is die Kristalvlakte gebore.

'n Oorlog behels nie net 'n konstante geveg nie. Daar is ook baie gewag tussen die aanvalle. Dis waarom aanvalle so onverwags kan voel, net soos in Kristalvlakte.

Op die Kristalvlakte gaan die daaglikse lewe voort – die polisieman en die dominee is simboliese figure wat ineenvervleg is met die omgewing se misdaad en wat nie belangstel om enigiets van die sisteem te verander nie. En dan, as die gewag verby is, is daar 'n bloedige aanval en een waarin nog iemand (of meer as een iemand) hul lewens verloor.

'n Oorlog hoef ook nie altyd te bestaan uit vinnige aksie en baie bloed nie. Hiervan is daar wel genoeg in Kristalvlakte teenwoordig. Maar daar is ook 'n stadiger vorm van geweld, die soort geweld wat onderliggend is aan baie mense se lewens en wat nie net beperk is tot die Kaapse Vlakte nie.

Maar tog, sou 'n bewoner van die Kristalvlakte dalk wil sê, soos Jeanne Goosen se boektitel: "Ons is nie almal so nie!" En daarmee word nie bedoel dat die karakters eendimensioneel uitgebeeld word nie. Die akteurs vertolk hul rolle uitstekend. Hul karakters is ware mense wat in 'n sisteem vasgevang is. Dalk het ek maar net baie hard gehoop dat een karakter uit dié sisteem kon wegbreek. En 'n mens wil vra of daar nie iewers, te midde van hierdie oorlog op die Kristalvlakte en elders, iemand is wat aan die oorlog ontsnap nie. In die werklike lewe in hierdie land is daar tog mense wat op kristalvlaktes grootword en nie deel word van die sisteem nie.

Dalk sluit hierdie afwesigheid van hoop aan by die idee van Mutter Courage: dat die gehoor sodanig kwaad moet word vir die sisteem dat hulle self iets wil gaan verander nadat hulle die toneelstuk gesien het?

Mutter Courage

Moeder Moed – sy heet Priscilla in Kristalvlakte – is 'n baie belangrike karakter. Haar kinders se teenwoordigheid of se afwesigheid is nog belangriker. Die naam Moeder Moed is werklik skreiend ten slotte.

Die stemme

Behalwe dat hul goed toneelspeel, verdien die akteurs en aktrises se pragtige sang in Kristalvlakte vermelding. Hulle stemme is suiwer, kristalhelder en werklik professioneel.

Die stemlose

Praat hierdie karakter dalk die hardste van almal? Haar karakter verpersoonlik stemloses op kristalvlaktes. 

Eers naby aan die einde van die toneelstuk verstaan mens die krag van die feit dat hierdie dogter nooit gepraat het nie. Iets gebeur, en sy veroorsaak hoop. Net 'n oomblik lank. En wat dan hierop volg, is verskriklik.

Die kristal van die Kristalvlakte

Die kristal van die Vlakte is natuurlik tik: crystal meth.

Daar is ook ander kristal op die Kristalvlakte: die vuil breekware wat die smousvrou verkoop. In 'n belangrike toneel wys sy hierdie breekware vir 'n man wat deel geword het van haar lewe en vertel vir hom hoe belangrik is die koppies, borde en bekers wat sy verkoop. "Mens kan amper sê dis kristal," vertel sy hom. Hy lag vir haar. Maar sy verduidelik: as die skote daar buite klap, kan die mense van die Vlakte ten minste aan hierdie kristal vashou. Dis iéts om aan vas te hou.

En 'n mens sou van die toneelstuk af kon wegstap en dink: dalk is dit 'n universele raakpunt vir ons almal. As die geweld van die lewe buite ons vensters woed, of in ons eie lewens, hou ons ook maar vas aan breekbare strukture. Of dit baie geld werd is, ware kristal is, of dan hierdie verflenterde koppies wat Priscilla in die lug hou.

Niemand van ons kan uiteindelik ons huisgoed inpak nie; die Egiptenaars kon dit ook nie, piramides en al, regkry nie.

Uiteindelik kyk ons, eners en almal aandadig, binne-in die helder kristal van die Kristalvlakte en dis vir ons 'n spieël, een waarin ons ons eie gesigte sien terugkaats.

  • Kristalvlakte het deel gevorm van die Suidoosterfees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top