Wat sê Bettina? deur Bettina Wyngaard: ’n resensie

  • 1

Boekomslag: Protea Boekhuis

Wat sê Bettina?
Bettina Wyngaard

Protea Boekhuis, 2024

Die Overbergse skrywer Bettina Wyngaard is as fiksieskrywer welbekend vir spanningsromans en romanse met ’n Christelike inslag. Veral haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes (Umuzi, 2009), getuig van fyn waarneming van die sosiale kwessies wat die breër Suid-Afrikaanse samelewing teister, ’n tematiek wat selfs in haar voorlaaste roman, Grietjie se loutering (Lapa, 2023), inslag vind. Wyngaard se nuutste boek is egter niefiksie en word bestempel as ’n keur van uit haar oeuvre van meer as 420 artikels wat oor meer as ’n dekade heen op LitNet verskyn het. Wat sê Bettina? word deur Protea Boekhuis uitgegee en met die lees van die voorwoord kan jy alreeds vergewe word as jy die woorde “O, fok …” onderlangs prewel.

...........
Wyngaard se woorde brand op plekke soos brandrissies en sy maak dit van die aanvangsparagraaf af duidelik dat jy jou nie nou in ’n eggokamer bevind nie. Dis háár speelveld en jy word genooi om met jou vooropgestelde idees, opinies en (wan)opvattinge by haar ter tafel te kom aansit vir ’n stewige dosis Bettina.
..................

Wyngaard se woorde brand op plekke soos brandrissies en sy maak dit van die aanvangsparagraaf af duidelik dat jy jou nie nou in ’n eggokamer bevind nie. Dis háár speelveld en jy word genooi om met jou vooropgestelde idees, opinies en (wan)opvattinge by haar ter tafel te kom aansit vir ’n stewige dosis Bettina. Of jy dit nou laaik of nie, she is going to speak her bleddie maaind. En wie weet, iewers tussen die 200 bladsye val jy dalk net van jou stoel af of gaan jou mond oophang, hetsy van skok, ’n gevoel van verontregting of (hemele behoed die einste leser) openbaring. Wat sê Bettina? pak kwessies van kulturele, politieke en sosiale identiteit kaalvuis aan. In my notas oor die teks het die woord “wit” 41 keer verskyn, “bruin” 17 keer en “swart” 22 keer. Veel meer verwysings na velkleur as wat die gemiddelde leser waag om te erken hulle in hul alledaagse gang van hul lewens oor dink of moan. Jy gaan in hierdie boek oor dinge lees wat ons liefs vermy om in die openbaar oor te wil praat, maar mildelik in die veiligheid van ons privaatheid sal waag.

Die taalgebruik in Wat sê Bettina? is vloeiend. Gewewe die swaar temas wat aangeroer word, is dit verfrissend dat die leser nie met akademiese terme gepeper word nie. Met tye het dit vir my gevoel asof ek rondom ’n braaivleisvuur sit en luister na die uitgesproke, slim vriendin in die vriendekring wat tussen peuselhappies en blou rook deur die ander kuiergatte verlig oor die kwessies wat eintlik saak maak en vorentoe ’n beduidende invloed op die trajek van ons almal se gedeelde lewens sal hê. Die teks lees soos wat iemand sou praat en daarvoor is ek Wyngaard dankbaar. Met haar agtergrond in die regte en aktivisme word dit gou duidelik dat sy ’n gerekende daarsteller is van ’n argument. Sy probeer nie die lesers van haar standpunte oortuig nie – sy sit gewoon die onderdele van die argument en teenargument netjies vir die leser uiteen en jy kan vir jouself besluit of jy saam met of teen haar stem.

Om Wat sê Bettina? as ’n tydsdokument te bestempel doen die teks ’n mate van ’n onreg aan. Die aanbieding van die artikels in chronologiese volgorde dien sy doel om die leser te oriënteer oor die tydvak en gees waarin die onderskeie artikels geskryf is, tog is dit nie noodsaaklik vir die verstaan van die teks nie en kan lesers na willekeur bokspring van een hoofstuk na die ander en terug. Die inherente tematiek in Wat sê Bettina? manifesteer deurgaans en in verskillende tydvakke. Herhalende kwessies oor gender, kulturele identiteit, politieke vraagstukke en sosiale euwels borrel onverpoosd na die oppervlak om die leser se gewete te verontrus. Ons is ’n samelewing wat steeds siek is, laat Wyngaard ons deurgaans weet. Hier is die medisyne. Hier is die kuur. Gaan jy dit drink of gaan jy die dokter steeds wantrou?

...........
Herhalende kwessies oor gender, kulturele identiteit, politieke vraagstukke en sosiale euwels borrel onverpoosd na die oppervlak om die leser se gewete te verontrus. Ons is ’n samelewing wat steeds siek is, laat Wyngaard ons deurgaans weet. Hier is die medisyne. Hier is die kuur. Gaan jy dit drink of gaan jy die dokter steeds wantrou?
...................

Wyngaard is nie ’n joernalis nie en tog het die artikels ’n diep joernalistieke inslag in die sin dat daar geskryf word aan die hand van wat huidig in die koerante of op die televisie uitspeel sover dit die publieke en sosio-ekonomiese verhoog betref. Wyngaard se artikels is reaksionêr teenoor wat gebeur, maar haar slotparagrawe bepleit amper altyd proaktiewe optrede of ten minste veranderde denkrigtings van haar lesers. Generasieverandering moet plaasvind. Sy wil, soos ons, nie meer lees van en toekyk hoe politici die land verarm en plunder nie. Sy wil nie in ’n samelewing woon wat deur geslag, velkleur, ekonomiese stand of geloofoortuiginge gefragmenteer word nie. Sy wil nie sien hoe boere op plase vermoor word nie. Hoe dwelms en gangs op die Flats gedy nie. Hoe daar steeds landwyd op vroue en kinders se regte getrap word nie. Sy wil nie verder sien hoe ons mekaar misken, vermy en verby mekaar lewe nie. Haar pen het haar wapen geword in hierdie stryd, en haar artikels haas ’n maatstaf vir die ekonomiese, politieke en sosiale temperatuur van Suid-Afrika op ’n internasionale skaal.

Wyngaard word voorafgegaan deur joernalis-skrywers soos Paul Krugman, Thomas L Friedman en Maureen Dowd wat op die wêreldverhoog al hul staal gewys het om die juiste woorde te vind en die mees dringende kwessies te identifiseer sodat sobere, logiese argumente in hul artikels gestel word wat poog om nie net die status quo voor ’n spieël te bring nie, maar ook om die uiters belangrike vrae te stel: Móét dit dan so wees? Neem hierdie feite in ag. Vergelyk daai. Dink hiéroor. Kan ons nie ’n ander ekonomiese, politieke en sosiale realiteit oorweeg nie? Is dit nie ons plig om daaroor te redeneer nie? Durf ons oor ’n beter wêreld droom?

Dit is duidelik dat Wyngaard geen politieke oortuiging of party se lakei is nie. Allermins die huidige bestel s’n. Haar deurgaanse skerp politieke kommentaar (teen)oor Uncle Cyril (soos sy na die President verwys) sluit aan by Maureen Dowd, Pulitzer-pryswenner en joernalis vir The New York Times, se kartering van die Bush-dinastie in Bushworld: Enter at your own risk (Putnam, 2004). In die artikel “Vroue soek equal status, nie net paper rights” nie (bl 138) plaas sy byvoorbeeld Ramaphosa se benadering tot geweld teen vroue, kinders en gestremdes onder die vergrootglas. Sy kritiseer hoe vroue dikwels saam met kinders en gestremdes gegroepeer word, wat hul status verminder en hulle van agentskap ontneem. In “Vergeet maar van gun reform, Uncle Cyril” (178) word onse prez oor die kole gehaal omdat hy en sy kabinet oor wapenbeheer hanahana terwyl die publiek hulself moes bewapen gedurende die KwaZulu-Natal-opstande van 2021. Bettina bevestig ook in “Mister God” (124) dat daar 'n gevoel van onbevoegdheid heers by die regering, met spesifieke verwysings na Ramaphosa se reaksies op krisisse en sy ooglopende wanpersepsie van leierskap.

Wyngaard skram ook nie daarvan weg om dinge neer te pen wat ons almal tog weet en dink, maar te bang is om self te sê nie. In “Gays en die kerk” (35) fokus sy op die uitdagings wat gay individue binne die konteks van die kerklike gemeenskap ervaar, insluitende die debat oor hulle aanvaarding, regte, en die impak van kerklike reëls en norme op hulle lewens. Enige kerkhoof sal in hul nagmaalwyn verstik oor dié sin: “Daar is hoeveel predikante wat hoereer, en steel, en kinders molesteer en gemeentes uitmekaar skeur. Hulle word deur die kerkvaders beskerm.”

Oor rassisme, subtiel en andersins, word bewyse gebring en nie aannames of vae verwysings voorgehou nie. In “Hoekom sukkel liberal whiteys so om rassisme te veroordeel?” (202) kap Wyngaard die stilswye van baie liberale wit mense wanneer hulle gekonfronteer word met rassisme in hul eie sosiale kringe. Met verwysing na haarself wat “gekomplimenteer” word deur ’n dame wat tussen vriende vir haar sê: “Sjoe, maar jy praat mooi Afrikaans”, illustreer die skrywer vir ons dat sy nie hierdie dinge uit haar duim suig nie. Sy deurleef dit.

Wat my dalk die meeste van Wat sê Bettina? sal bybly, is hoe empaties sy met onderwerpe omgaan wat die hartsnare roer. “Die onsigbaarheid van armoede” (198) vergestalt die skreiende probleem van armoede deur die ervaring van 'n bejaarde vrou wat in 'n winkelsentrum staan en hoop op 'n werk wat haar en haar gestremde kind kan ondersteun. Wyngaard herinner ons daaraan dat ons dikwels nie die werklike omstandighede van arm mense sien nie, en daarom voel ons nie die drang om iets daaraan te doen nie. In “Om ’n ma te verloor” (165) beskryf sy die onverwagte en oorweldigende aard van droefheid daaraan om van ’n ouer te moet afskeid neem, en hoe daaglikse roetines, soos die oopmaak van gordyne in haar ma se kamer, haar herinner aan haar verlies. Ek het die sewe lesse wat Wyngaard “geleer” het by die heengang van haar moeder en wat sy aan die einde van die hoofstuk deel, gaan neerskryf en op ’n veilige plek bewaar. My ma gaan ook eendag sterf. Ek is amper seker as dit nie vir Bettina en haar sewe lesse was nie, ek beslis nie sou weet wat om te doen of wat om te verwag nie.

Wat sê Bettina? is nie ’n politieke teks nie. Dit is nie ’n preek nie. Dit is nie ’n morele hamer nie. Dit is ’n bêreboek wat oor menslikheid, vergifnis, verdraagsaamheid, veerkragtigheid en – veral – ’n onwrikbare geloof in ’n beter Suid-Afrika vir almal gaan. Deur te weier om die knie te buig voor omstredenheid en deur haar eie waarheid so skaamteloos vir die wêreld te gee, daag Wyngaard haar lesers uit om hulself onder loep te neem. Die kraghefbome vir daai mooi, nuwe Suid-Afrika is in ons eie hande. Bettina wys net uit wie op hulle s’n bly sit.

Lees ook:

Wat sê Bettina?: ’n Gesprek tussen Bettina Wyngaard en Trisa Hugo

  • 1

Kommentaar

  • Boerkint (dolerend)

    Dankie. Lyk na 'n boek wat ek van sal hou. Hoewel ek seker heelwat van die rubrieke reeds gelees het. Dit is wel 'n boek oor politiek die. Hang seker maar af watter definisie van politiek ter sprake is. Partypolitiek is dit nie. Maar politiek het verskeie definisies. Neem, as voorbeeld, hierdie definisie wat gevind kan word op Wikipeda:

    "Politics (from Ancient Greek πολιτικά (politiká) 'affairs of the cities') is the set of activities that are associated with making decisions in groups, or other forms of power relations among individuals, such as the distribution of resources or status."

    Politiek gaan oor alle keuses wat mense maak en die gevolge van daardie keuses. Enige bespreking van LGBTQI-ervaringe in die kerk, is outomaties kerkpolitiek, byvoorbeeld. Die impak van mense op natuurlike hulpbronne, is omgewingspolitiek, ens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top