Wat sê Bettina?: ’n Gesprek tussen Bettina Wyngaard en Trisa Hugo

  • 0

Boekomslag: Protea; foto van Trisa Hugo: verskaf

Titel: Wat sê Bettina?
Outeur: Bettina Wyngaard
Uitgewer: Protea Boekhuis

Bettina, vir lank reeds lees ek jou rubrieke op LitNet, en is telkens verstom hoe jy dit elke keer regkry om jou vinger presies op die pols te plaas van kwessies waaroor mense eindeloos redeneer en selde na mekaar luister. Jy is een van die beste waarnemers van sake van die dag. Boonop het jy hierdie vermoë om dit in foutlose taal weer te gee – of jy dit nou in Afrikaans of Engels doen. Van tyd tot tyd ook ’n skrywe in Kaaps. Was jou taal altyd so suiwer?

My taal is glad nie meer so suiwer soos wat dit was nie, hoor.  In my jonger dae het ek ’n mixed grill nog ’n allegaartjie genoem, kan jy glo!

Was jy daardie kind wie se opstelle voorgelees is?

Ek het nooit besef my Afrikaans-onnie lees my opstelle voor in die personeelkamer nie, tot op ’n dag toe ek ’n humoristiese ding geskryf het. Sommer iets verspot. Die rekeningkunde-onnie en die aardrykskunde-onnie kom na pouse lag-lag verby my geloop en roep toe die punchline uit! Ek wou natuurlik op die plek doodgaan! Eers later, heelwat later, het ek besef hulle was besig om my die grootste kompliment te gee wat ’n skrywer kan kry. Nie dat ek toe aan myself as ’n skrywer gedink het nie!

Waar kom jou besondere taalgebruik vandaan? Jy het immers ook al ’n paar boeke op jou naam.

Wyd lees en oor teen die grond luister hoe mense praat, dink ek. Ons steel mos maar met ons ore en oë as skrywers.

Jy het ook al in verskillende genres geskryf. ’n Paar krimi’s, niefiksie en onlangs ook ’n boek met ’n Christelike inslag. En nou is daar Wat sê Bettina?, wat ’n keur is uit jou rubrieke wat op LitNet verskyn het. In watter genre skryf jy die lekkerste?

In elke genre is daar iets wat ek geniet! Met niefiksie is dit die navorsing en die wete dat ek niks hoef uit te dink nie. Ek moet net die draadjies mooi bymekaar kry en afrond. Met fiksie is die wete dat ek my verbeelding absolute vrye teuels kan gee, lekker. Met rubrieke is die lekkerste die onmiddellike interaksie en terugvoer wat ek van lesers kry, selfs wanneer hulle my eintlik wil nek omdraai.

...........
Met rubrieke is die lekkerste die onmiddellike interaksie en terugvoer wat ek van lesers kry, selfs wanneer hulle my eintlik wil nek omdraai.
.............

Die titel is uitstekend gekies, want ek het al menige keer as daar iets op Facebook is waaroor mense mekaar in flarde skeur, gedink: Ek wonder wat sê Bettina? Ek is oortuig ek is nie die uitsondering nie! Kry jy soms dat mense jou wil voorskryf waaroor jy moet skryf, natuurlik met die hoop dat dit hulle narratief sal pas?

O ja, ek word gereeld gevra hoekom skryf ek nie oor dit of dat nie. Interessant is dit soms juis die mense wat nooit met my saamstem nie wat wil hê ek moet oor spesifieke goed skryf. Ek doen dit feitlik nooit. As dit nie iets is wat in elk geval my gedagtes aan die loop sit nie, dan skryf ek nie daaroor nie. Ek hoop wel dat dit wat ek skryf, mense aan die dink sal sit en mense aan die gesels sal sit.

Jy besef natuurlik dat jy nou as ’n celeb gereken word? “Hulle” sê mos as net jou voornaam genoeg is om jou te identifiseer, you’ve arrived. Ek het niemand nog hoor vra “Wat sê Bettina Wyngaard nie?”. Jy is “Bettina” en klaar. Maar vir elke vriend het ’n celeb ook ’n vyand. Hoe hanteer jy daardie ouens wat dapper agter hulle sleutelborde sit en jou slegsê?

Jislaaik, jy laat my nou lag! Ek is nie naastenby glamorous genoeg om ’n celeb te wees nie! Kyk, daar is Oprah en Charlize en sulke mense. Nie heeltemal my playground nie, en dis ook goed so.

............
Daar is altyd mense wat persoonlike aanvalle loods. It comes with the territory as jy ’n vrou met ’n mening is, dink ek. Aan die begin het dit my vreeslik ontstel. Met verloop van tyd het ek begin besef dat mense lees deur die lens van hulle eie ervaringe. Hulle haat nie wat ek sê nie, hulle word getrigger op grond van hulle eie ervaringe.
................

Daar is altyd mense wat persoonlike aanvalle loods. It comes with the territory as jy ’n vrou met ’n mening is, dink ek. Aan die begin het dit my vreeslik ontstel. Met verloop van tyd het ek begin besef dat mense lees deur die lens van hulle eie ervaringe. Hulle haat nie wat ek sê nie, hulle word getrigger op grond van hulle eie ervaringe. Dit maak dat ek meer empatie het met sommige van die lelike goed wat gesê word. En ander kere is dit weer so lagwekkend dat ek nie anders kan as om die humor te sien nie, selfs wanneer mense my wil uittrap. Maar ek het al geleer dit gaan eintlik baie selde oor my. Ek is maar net die weerligafleier.

Ek het nogal gedink ek het op LitNet al jou rubrieke gelees, maar daar was vir my ’n paar nuwes in die boek, wat lekker was om te lees. Hoe op aarde het jy gekies wat moet in en wat nie?

Die heel eerste een was maklik. Ek het geweet my eerste LitNet-bydrae moet eenvoudig in die bundel wees. Dis waar alles begin het. Met die res het ek en Naomi Bruwer afsonderlik gekyk na wat relevant is en wat reaksie ontlok het. Ek wou ook ’n paar van my gunstelinge invoeg. Maar raai wat, alles was my gunstelinge! Ek moes daai idee dus laat vaar, anders het ons met 400 plus rubrieke in die bundel gesit! Interessant genoeg het my en Naomi se lysies seker 99% ooreengestem.

Die eerste rubriek om die boek mee in te lei was so goed gekies, omdat dit vir my die toon regdeur aandui. Dit is al in 2014 geskryf, maar is steeds relevant, dalk nog meer. Ek wil hier ook verwys na Riku Lätti se artikel oor “wokeness”, wat daarby aanhaak. Tien jaar gelede het jy geskryf: “Ek haat labels.” Hoe sien jy die wêreld nou na tien jaar wat dit betref, en hoe vind dit neerslag in jou lewensbeskouing?

............
Mense is nog steeds geneig om labels aan ander te haak, dalk selfs meer as destyds. Ek dink ek haat labels selfs meer, maar kies my gevegte nou meer strategies.
.............

Mense is nog steeds geneig om labels aan ander te haak, dalk selfs meer as destyds. Ek dink ek haat labels selfs meer, maar kies my gevegte nou meer strategies. Jy verwys na Riku se artikel. Daai man kan skryf! Sjoe!

Marita van der Vyver sê tereg op die voorblad: “Dankie tog vir Bettina. ’n Broodnodige stem in Afrikaans.” Ek sou kon byvoeg “vreesloos, objektief, eerlik, respekvol, deernisvol, oopkop en reguit – soms met n skoot humor daarby”.

Dankie! Jy maak my nou skoon verklempt.

Sosiale media word op ’n hele paar plekke genoem, half in die verbygaan, omdat dit deesdae so ’n integrale deel van ons lewens  vorm (as ons dit reg gebruik, bygesê). Wat is jou verhouding met en siening oor sosiale media in ons werk en ons lewens?

“Comparison is the thief of joy”, mos. En al wat sosiale media meestal doen, is om vir ons te wys waar ons tekort kom. Dié een gaan oorsee, daai een koop ’n blink nuwe kar, die volgende een breakfast/lunch/dine in die volgende fancy restaurant, en hoe moet jy wat dit sien en dit nie het nie, nou voel? Reg gebruik is sosiale media ’n fantastiese stukkie gereedskap, ja, maar min van ons gebruik dit reg. Ek vind al meer dat ek dit gebruik om inligting oor te dra en nie meer om verhoudinge te probeer bou nie. 1 000 Facebook-vriende beteken nie 1 000 mense by my begrafnis nie. My fokus nou is by die mense wat vlees en bloed in my lewe is.

In een van jou rubrieke kyk jy terug na 1994. Dis so relevant, na ons pas afgelope verkiesing. Daar het nou vyf jaar verloop sedert die rubriek oorspronklik in 2019 gepubliseer is. Is daar iets wat jy nou sou wou byvoeg?

Soveel het verander selfs in die vyf jaar sedert daai rubriek, en tog het soveel dieselfde gebly. Daar was baie meer vasberadenheid om te stem as met vorige verkiesings; daar was die geloof dat ons kruisie ’n verskil kan maak. Dis iets waaroor ek meer sou skryf.

Jy skroom nie om vreesloos oor daardie dinge te praat wat ons almal raak, maar wat mense te bang is om ’n mening oor te lug nie: dood en siekte, rassisme, wokeness, die doodstraf, kulturele appropriasie, grondonteiening, politiek, vooroordele. Jy verromantiseer ook nie die bruin kultuur nie, en eet koeksisters in Orania. Watter een van jou rubrieke het die meeste reaksie uitgelok? Want hierdie is juis die temas wat nooit goed verloop in gesprekke op sosiale media nie.

Ek dink nie daar is ’n enkele een wat uitstaan dat dit soveel meer reaksie ontlok het nie. Maar ek was al ’n paar keer genooi om op radio en televisie te gesels na aanleiding van rubrieke oor taal en politiek. Daar was al by ’n paar feeste panele wat goed waaroor ek skryf, uitpluis. Dis nie omdat ek so wonderlik is nie, hoor. Ek dink dis eerder omdat ek daarin slaag om my oor op die grond te hou en skryf oor die goed wat mense raak.

En laaste: Sosiale media is nie ontwerp om enigiets met nuanse en deernis te verstaan nie. Dis hoekom gesprekke daar verkeerdloop. Nuanse kan nie in 140 karakters vasgevang word nie.

Daar was twee rubrieke wat aan my gewete gekrap het. Ek vermoed baie mense gaan iets anders hê wat spesifiek vir hulle van betekenis gaan wees in hierdie boek. Dankie daarvoor – ek sou graag eendag met jou daaroor wou gesels oor ’n paar koppies koffie.

Net twee?! Ek spot sommer. Jy weet waar om my te kry, en ek drink graag daai koffie saam met jou.

Laastens – en hierdie is ’n ernstige vraag: Het jy al ooit ’n loopbaan in die politiek oorweeg? Ek kan nie dink aan iemand beter as jy om ons land te help lei nie.

O gits nee! Tot op hierdie punt het ek gedink jy like my en nou wil jy my in daai nes van adders gaan ingooi! “Babies and politicians need to be changed often, and for the same reason.” Dit glo ek vas.

So nee, “Bettina for President” gaan nie binnekort op ’n plakkaat teen ’n paal pryk nie.

Lees ook:

Orania, koeksisters en ek

Hoe lyk R62 miljoen in cash, Uncle Cyril?

Ubuntu? Nie solank Zuma ons regstelsel as sy speelbal gebruik nie

Waa’ brand it, Uncle Cyril?

Menseregtedag, maar waar is ons waardigheid?

Is die literêre toekennings te wit?

Wes-Kaapse storms: Swak beplanning of ware rampe?

Bettina Wyngaard se Troos vir die gebrokenes ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse prosa

Boekresensie: Slaafs deur Bettina Wyngaard

Lokval: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard (1971–)

Babelaas na die verkiesing

Oor ma’s en kinders

Gestremde vroue – regtig ’n double negative?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top