Wes-Kaapse storms: Swak beplanning of ware rampe?

  • 0

Klokslag elke jaar wanneer die winter nader kom, kry ons waarskuwings van vloede in die Wes-Kaap.

Wanneer swaar reën voorspel word, weet ons nou al Clarence-rylaan gaan beslis rotsstortings hê en die roete sal gesluit word. Die enigste vraag deesdae is vir hoe lank. Sir Lowryspas mag dalk ook rotse stort, maar selde so erg dat die hele pas gesluit moet word. KFC in Somerset-Wes gaan oorstroom word. Die duikweg onder die brug by Victoriastraat in Somerset-Wes gaan onbegaanbaar wees, omdat die water in die holte bly sit en nie wegspoel nie. Die elektriese substasie op die hoek van die N2 en Victoria is elke jaar onder water, en dit veroorsaak dat groot gedeeltes van Somerset-Wes, Strand, Gordonsbaai en soms selfs Grabouw sonder elektrisiteit gelaat word. In Grabouw gaan die area by Shoprite en rondom Danny se viswinkel dalk oorstroom word.

Elke jaar. En steeds word daar nie voldoende voorsorg getref om te verhoed dat dit weer gebeur nie.

In feitlik elke dorp is die areas waar plakkerskampe (nee, ek weier om dit informele nedersettings te noem) geleë is, die meeste blootgestel aan die elemente. Vir elke huis wat oorstroom raak, is daar honderde plakkershutte wat in gevaar is. Dit maak sin, want plakkers vra nie munisipale toestemming om die area te kies waar hulle plak nie; hulle kies oop stukke grond. Daai grond is dalk juis nie bebou nie omdat daar een of ander fout is wat die plek ongewens maak vir menslike bewoning.

In Grabouw word dieselfde plekke elke jaar oorspoel, en nege uit die tien keer is dit omdat pype en dreine nie gereeld skoongemaak en skoon gehou word nie. Slote word nie skoongemaak nie. Deels is dit omdat onverantwoordelike mense rommel strooi, maar deels is dit ook omdat die munisipaliteit nie ’n program het om die slote skoon te hou nie. ’n Werkskeppingsprogram tesame met ’n bewusmakingsprogram sou waarskynlik ’n reuse verskil maak, maar gebrek aan fondse word gereeld as verskoning voorgehou.

........
Kos dit nie méér om ná ’n ramp te herstel en op te bou as om vóór die ramp minimale instandhouding te doen nie?
.......

Kos dit nie méér om ná ’n ramp te herstel en op te bou as om vóór die ramp minimale instandhouding te doen nie? Ek dink so, maar daar is nie geleenthede om foto’s te neem met die oog op komende verkiesings wanneer ’n ramp voorkom is nie. Die foto’s van amptenare wat komberse en kospakkies oorhandig na ’n ramp, tesame met ’n gepaste mediaverklaring, is tog veel meer effektief om aandag op ’n party of kandidaat te vestig, en veral in ’n verkiesingsjaar.

Dan is daar die skade aan geboue. As ’n balkon afgeruk word van ’n huis, of ’n dak geskep word asof dit ’n sneesdoekie is, wonder ek baie keer hoeveel daarvan die krag van die natuur is en hoeveel daarvan voor die deur van swak vakmanskap en goedkoop materiaal gelê kan word. En moet alle geboue nie geïnspekteer word voordat dit afgeteken word nie?

Heelparty HOP-huise in Grabouw, en sekerlik ook in ander dorpe, lek wanneer dit reën. Ek was verlede jaar met die vloede in ’n huis waar die water enkelhoogte binne die huis was. Al daai mense se meubels het waterskade gehad. Hulle het gelukkig los matte gehad, wat vir dae op die draadomheining moes hang om droog te word.

Maandag hierdie week het Grabouw 80 mm reën ontvang, met die verwagting dat ’n verdere 60–80 mm gedurende Dinsdag kan val. Skole is gesluit. Ek wonder hoe vaar daai gesin nou. En ek wonder oor al die ander ontvangers van HOP-huise wat met soortgelyke swak geboude huise sit, en met geen geld om iets reg te maak of te vervang as dit verspoel of wegwaai nie.

........
As ’n balkon afgeruk word van ’n huis, of ’n dak geskep word asof dit ’n sneesdoekie is, wonder ek baie keer hoeveel daarvan die krag van die natuur is en hoeveel daarvan voor die deur van swak vakmanskap en goedkoop materiaal gelê kan word.
........

Bome wat afbreek, kan mens nog verstaan as ’n ware ramp. Baie van die ander skade aan geboue wonder ek oor. Is dit ’n “act of God” of is dit iets wat mensgemaak is?

Wanneer die storm verby is, moet ons almal die koste van die skade bereken. Met hierdie ronde het Grabouw lig daarvan afgekom. Ander plekke het nie. Ons elektrisiteitstoevoer was gister binne 14 uur herstel. Sommige gebiede is na ’n dag steeds sonder elektrisiteit, en dis nie seker wanneer hulle weer elektrisiteit sal hê nie. Baie bome moet afgesaag word, en tuine wat verwoes is, moet weer opgebou word. Skade aan geboue gaan veel langer neem om te herstel. In sommige gevalle sal daar skole wees wat vir ten minste hierdie week nog nie skoliere kan ontvang nie.

My pa se familie was in die boubedryf, en ek onthou hoe my oom soms wanneer ons in die dorp is, sou loop en wys na geboue waaraan hy gewerk het, en hoe trots hy op sy handewerk was. Deesdae is die bouers meer soos tref-en-trap-werkers. Hulle weet hulle bouwerk is nie op standaard nie, daarom wil hulle nie erken wanneer hulle aan ’n gebou gewerk het nie.

Die Wes-Kaapse regering verdien ’n pluimpie vir die effektiewe wyse waarop hulle kommunikasie en algemene rampbestuur hanteer het. Onbeholpe regering sou traumaties wees. Maar meer as enigiets wens ek ons kon teruggaan na vakmanskap waar mense goed nog gebou het om ’n leeftyd te hou, ongeag of dit nou ’n huis, pyp, pad of brug was. Soveel van die vernietiging wat ons nou sien, sou dalk verhoed kon wees.

Lees en kyk ook:

Menseregtedag, maar waar is ons waardigheid?

Die onsigbaarheid van armoede

Laat die gemeenskap saamstaan

Tyd vir die burgerlike samelewing om weer hande te vat?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top