’n Paar dae gelede lees ek ’n Facebook-plasing wat sedertdien by my spook.
In die plasing beskryf ’n bekende skrywer twee interaksies waarin hy by ’n winkelsentrum betrokke is. In die een interaksie probeer hy wegkom van ’n burgerregte-organisasie wat hom probeer oortuig dat hulle vir gemeenskappe werk. In die ander merk hy ’n bejaarde vrou op wat in die sentrum staan met die hoop dat iemand haar gaan raaksien en haar ’n werk sal aanbied sodat sy vir haar en haar gestremde kind kan kos koop. Hy skat haar ouderdom op tussen 75 en 80. Die werwers vir die burgerregte-organisasie, en inderdaad die meeste mense wat verby die vrou beweeg, ignoreer haar.
Dalk is dit nie korrek om te sê hulle ignoreer haar nie, want om iemand te ignoreer moet jy daai persoon eers raaksien. Arm mense word egter nie sommer raakgesien nie. Dis geriefliker en makliker op die gewete om bo-oor hulle te kyk, om hulle deel van die onsigbare meerderheid te maak. As ons iets nie raaksien nie, is daar immers nie ’n verpligting op ons om iets daaromtrent te probeer doen nie. Ons kan voortgaan met ons dag.
Die skrywer het die vrou raakgesien en met haar begin praat. Hy sê dit nie in die plasing nie, maar ek vertrou hy sou op een of ander manier probeer het om haar te help. Hy het wel die werwers van die burgerregte-organisasie gekonfronteer omdat hulle nie die vrou gehelp het nie.
Die kommentaar op sy plasing het gewissel tussen mense wat die burgerregte-organisasie kritiseer en ander wat die hoop uitspreek dat die vrou darem ’n werk gekry het.
Ook hier word die vrou onsigbaar gemaak. Kan dit wees dat niemand gewonder het oor hierdie vrou se omstandighede nie?
Daarom wil ek stilstaan by haar.
Sy is oud, verby die ouderdom waar die meeste mense kan staatmaak op ’n rustige aftrede. Ons weet nie hoe oud haar gestremde kind is nie, maar waarskynlik moet hy of sy ook al middeljarig wees as die ma na 80 se kant aanstap. Sy staan in ’n winkelsentrum met die hoop dat iemand haar ’n werk gaan aanbied. Wat beteken dit? Sy moet saam met wildvreemde mense in ’n kar klim en vertrou dat hulle haar geen skade sal berokken nie, haar werk sal gee, haar sal betaal en haar dan seker sal terugbesorg by haar huis of die sentrum. Daai bejaarde vrou waag haar lewe elke keer as sy by vreemde mense in hul voertuig klim.
Het sy ’n keuse as sy ongemaklik voel? Ek twyfel. Om in ’n winkelsentrum te staan en hoop op werk is ’n desperate daad.
Dan is daar die gestremde kind by die huis. Waarskynlik is die “kind” nie in staat om te werk nie. Wat word van daai persoon as die ou vrou iets oorkom? Wie gaan hom of haar dan versorg?
Ek het dit op Facebook gesê, en ek sê dit hier. Dis ’n skreiende skande dat so ’n ou vrou nog moet soek vir werk. Sy moes teen nou al haar oudag by die huis afgeslyt het. Sy moes kon staatgemaak het op die veiligheidsnet van die maatskaplike stelsel van ons land. In haar jonger dae het sy vir seker bygedra tot die ekonomie met haar arbeid. Maar die sisteem wat haar moes beskerm, laat haar in die steek.
Die sisteem het haar in die steek gelaat toe sy jonk en sterk was, deurdat sy nie dieselfde geleenthede kon benut wat ander in die land gehad het nie, weens apartheid. Sy kon nie staatmaak op ’n opvoedkundige stelsel wat haar voorberei vir enigiets anders as ’n arbeidersbestaan nie. Sy kom waarskynlik uit ’n familie van arbeiders. As sy nou naby 80 is, is sy iewers in die 1940’s gebore. Nie baie geleenthede toe vir mense om hulleself te kon voorberei op ’n professionele bestaan nie.
............
Die sisteem het nie voorsiening gemaak vir pensioen vir arbeiders nie. Hoekom sou dit? Die sisteem wou mense soos sy in armoede gedompel hou deur karige bestaanslone te betaal. Sy het nooit ’n kans gestaan om deur hard te werk en spaarsamig te lewe welvaart op te bou nie. Hoe kón sy, as sy waarskynlik altyd van die hand in die tand moes lewe, en nie omdat sy onverantwoordelik met geld omgegaan het nie.
................
Die sisteem het nie voorsiening gemaak vir pensioen vir arbeiders nie. Hoekom sou dit? Die sisteem wou mense soos sy in armoede gedompel hou deur karige bestaanslone te betaal. Sy het nooit ’n kans gestaan om deur hard te werk en spaarsamig te lewe welvaart op te bou nie. Hoe kón sy, as sy waarskynlik altyd van die hand in die tand moes lewe, en nie omdat sy onverantwoordelik met geld omgegaan het nie.
Dis so maklik om, wanneer mens ou mense sien wat sukkel en swaarkry, te besluit dat hulle deur drank of swak besluite is waar hulle is. Die teendeel is meestal waar. Vir baie mense, al het hulle hoe hard gewerk, was daar net eenvoudig geen manier om uit die spiraal van armoede en swaarkry te ontkom nie. Die sisteem was ontwerp om hulle in armoede te hou, en die sisteem het gewerk. Dit werk nog steeds, selfs al het die gesigte van die persone in beheer verander.
Wat word van daai vrou, en hoeveel ander net soos sy? Sy was dalk ’n paar rand in die hand gestop, of gehelp met kruideniersware, maar dis net ’n tydelike oplossing.
.............
Ons land het genoeg hulpbronne dat niemand in armoede hoef te leef nie, maar hulpbronne word misbruik.
.............
Ons land het genoeg hulpbronne dat niemand in armoede hoef te leef nie, maar hulpbronne word misbruik. Hoeveel van ons kla dat ons swaarkry, maar dan word brood muf in ons broodblikke en groente word sleg in die yskas. Ons maak te veel kos en gooi die oorskiet weg. Restaurante en winkels gooi elke dag hope kos weg wat eintlik nog gebruik kan word. Politici mors belastingbetalers se geld asof dit water is. Projekte word wanbestuur, korrupsie vier hoogty. Daar is oorgenoeg geld in hierdie land om almal te onderhou, mits dit reg bestuur word en die regte projekte geprioritiseer word. Maar die keuse van hierdie regering en elke vorige regering is om die minderheid te verryk ten koste van die meerderheid.
Die gevolg? Bejaardes moet in winkelsentrums staan en wag vir iemand om hulle raak te sien.
Armoede maak soveel mense onsigbaar. Armoede stroop mense van alle waardigheid, dit stroop hulle van geleenthede, dit stroop hulle van die basies reg om as gelyke behandel te word.
Dat daai vrou daar moes staan, is ’n skreiende skande, ’n klad op ons almal. Ons kan beter. Ons móét beter.
Kommentaar
Preach it, Sistah!
Slaan die spyker op die kop.
Wat meer kan ek byvoeg, my suster? Armoede ken nie kleur nie. Dis 'n bose kringloop wat mense verneder en hulle van hul menswaardigheid stroop. Dit spreek boekdele tot die disfunksionele toestand van die land se sosiale instellings om as vangnet op te tree vir diesulkes soos die vrou en haar kind by die winkelsentrum.
Nie net apartheid se skuld nie, gaan vandag nog erger as ooit.
Versoening is op baie sê lippe, maar in baie min sê harte.
Te veel kyk ons om soos Saulus, maar doen min om omstandighede te verbeter van die wat ons regtig nodig het.
Wanneer ons dink ons het die waarheid beet, dan glimlag hulle wat weet dat ons raai-raai speel.
My oorlede skoonpa het met my 'n woord gedeel: "Belang." Ek los dit daar.