Ubuntu? Nie solank Zuma ons regstelsel as sy speelbal gebruik nie

  • 1

Thuli Madonsela het nog altyd my grootste respek afgedwing, maar haar uitlating op die sosialemediaplatform voorheen bekend as Twitter het my oopmond van verbasing gelaat.

Sy het getwiet (ge-X?): “I support the remisson of former President Zuma’s sentence as Ubuntu anchored. The point regarding no one being above the law has been made and the teaching power of the law leveraged. Nothing more could be gained through further incarceration. There is also the fact his release was the state’s mistake. #ubuntu”

Dalk het sy toegang tot inligting wat nog nie in die openbare sfeer is nie. Dalk is Zuma regtig siek en nie Schabir Shaik-siek nie. Dalk het Zuma tot ander insigte gekom en opregte berou vir sy vele wandade getoon. Dalk. Maar ek kan nie met een enkele sin in haar twiet saamstem nie.

.....
Kom ek begin maar by die laaste sin. Zuma se vrylating was nié ’n fout nie.
.....

Kom ek begin maar by die laaste sin. Zuma se vrylating was nié ’n fout nie. ’n Persoon wat tydens sy bewind aangestel is, het prosesse misbruik om hom vry te laat. Verskeie instansies het hof toe gegaan om daardie misbruik te neutraliseer, en die hof het beslis Zuma moet gaan aanmeld, en dat ’n besluit dan geneem moet word. As die hof van mening was dat die “fout” aan die staat se kant beteken hy hoef nie verder sy vonnis uit te dien nie, kon hulle dit so beveel het. Hulle het nie.

Sy is wel korrek dat ander korrupte politici geleer het uit hierdie debakel. Hulle het geleer dat mens net verbintenisse op die regte plekke moet hê, of genoeg volgelinge tot geweld kan opsweep, dan hoef jy nie te boet vir jou dade nie.

Wat gewone Suid-Afrikaners geleer het, as daar nog by hulle enige twyfel was, is dat daar geen gelykheid voor die reg is nie. Gewese staatspresidente kry voorkeurbehandeling. Was hy enige ander prisonier, met presies dieselfde omstandighede, sou hy weke of maande moes gewag het om te hoor dat hy en 9 000 ander prisoniers vrygelaat gaan word. Enige ander prisonier sou nie binne 60 minute weer vry gewees het nie.     

.....
Ander prisoniers oor wie se risiko besluit word, word gemeet aan skade wat hulle aan een of meer ander individue kan berokken. Zuma se risiko word gemeet aan of hy een of meer provinsies kan destabiliseer.
.....

Zuma is nie ’n laerisikoprisonier nie. Nee, hy sal nie self oproer saai nie; hy het ander om dit vir hom te doen. Hoekom anders sou daar aangekondig word dat die polisie op gereedheidsgrondslag geplaas is in afwagting op die aankondiging van die besluit oor sy voortgesette aanhouding? Ander prisoniers oor wie se risiko besluit word, word gemeet aan skade wat hulle aan een of meer ander individue kan berokken. Zuma se risiko word gemeet aan of hy een of meer provinsies kan destabiliseer. Die enigste vraag is of hy ’n groter risiko binne of buite die tronk is.

As die berekening was dat hy ’n groter risiko agter tralies is, dan beteken dit in effek die staat was geïntimideer deur hom. Die les wat ons daaruit leer? Moenie asem ophou dat iemand soos Malema of die volgende radikale onrusstoker binnekort tot verantwoording geroep sal word nie.

Is dit ubuntu?

Is dit nie juis ubuntu om te kyk na die skade wat aan die regstelsel berokken word deurdat dit gemanipuleer word deur mense wat keer op keer bewys het dat hulle geen respek vir die reg het nie? Is ubuntu nie juis om die burgers van die land genoeg te respekteer om te wys dat wanneer iemand hul regte vertrap, die regering wat deur hulle gekies is, sal seker maak dat daardie persoon betaal vir sy dade nie? Is ubuntu nie om seker te maak ons regstelsel is nie ’n speelbal vir invloedryke persone nie? Is ubuntu dan nie presies om absolute gelykheid voor die reg te verseker nie?

.....
Is ubuntu nie om seker te maak ons regstelsel is nie ’n speelbal vir invloedryke persone nie? Is ubuntu dan nie presies om absolute gelykheid voor die reg te verseker nie?
.....

Dit beteken dat in die vervolg alle gevangenes met gesondheidsprobleme terstond vrygelaat moet word, met ’n minimum van administratiewe rompslomp. Hulle paspoorte moet in orde wees sodat hulle in die buiteland kan gaan mediese hulp soek as hulle dit kan bekostig. Dit beteken dat wanneer hulle sesuur in die oggend by die gevangenis aanmeld, daar personeel met genoeg gesag aan diens sal wees om hul vrylating teen sewe-uur te verseker.

Enigiets anders is ’n klap in die gesig vir die regbank. Dis ’n klap in die gesig vir gewone burgers van die land en dis ’n algehele mistasting van wat geregtigheid is.

Wat dit nie is nie, is ubuntu.

Lees ook:

Verkiesing 2024: ek slaan my oë op na die berge

Is die taxistaking die begin van staakseisoen?

Is die bluelight brigades nodig?

Is ôse dokters dan ’ie goed genoeg ’ie, Uncle Cyril?

  • 1

Kommentaar

  • Daar is interessante perspektiewe op die saak uitgelig in Radio Sonder Grense se program "kommentaar" gisteraand, deur onder meer Dr. Oscar van Heerden. Die potgooi is aanlyn beskikbaar by https://www.rsg.co.za/rsg/omny/kommentaar-13-augustus-2023/ vir wie belangstel.

    Ja baie politici moes so tronk toe gegaan het oor die jare, maar hulle het nie, want hulle is politici. Onder meer PW en FW, wat in weelde afgetree het en rondgevlieg was, gevoer was en betaal was om hulle wyshede te smous aan wie ook al daarna wou luister. Dink maar daaroor, nie 'n enkele politikus is tronk toe weens apartheid, die misdaad teen die mensdom nie. Hulle is almal onthef van enige boetedoening. So hoekom sal die politici van vandag dan nou juis tjoekie toe gaan? Wat het verander? Politici is steeds politici.

    Volgende jaar gaan staan ons mos maar almal weer in toue om vir hulle te stem, want ons wonderlike grondwet, mos.

    Wat meer is, daar is argumente deur die geleerdes dat Zuma tegnies reeds sy straf uitgedien het. So wie is ek om te stry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top