Verkiesing 2024: ek slaan my oë op na die berge

  • 1

Foto: Unsplash

’n Week gelede het Mitch McConnell, ‘n Republikeinse senator, tydens sy weeklikse nuuskonferensie gevries. Hy kon skynbaar nie beweeg of praat nie. Na 23 sekondes is hy weggelei om te herstel.

Daar is later geen verduideliking gegee vir die mediese episode nie, wat joernaliste natuurlik die vryheid gegee het om te spekuleer. Hy is alreeds oor 80, en ouderdom was uiteraard een van die eerste oorsake wat geopper is. 

Ouderdom op sigself behoort nie enigeen te verhoed om ’n vol lewe te lei en ’n bydrae tot die samelewing te lewer nie. Daar is heelparty hupse bejaardes. Kyk maar net na Zuma: lewenskragtig en gesond solank daar nie tronkstraf oor sy kop hang nie. Maar behoort ouer mense nie afstand te doen van magsposisies wanneer hulle nie meer behoorlik in staat is om by te dra nie? Daar is geen skande aan om ’n mentor te wees vir iemand jonger en gesonder nie.

Dink maar watter verskil dit aan die Amerikaanse landskap sou gemaak het as Ruth Bader Ginsburg afgetree het terwyl ’n Demokratiese president aan bewind was. Haar posisie kon gevul gewees het deur ’n kandidaat met ’n bewese agtergrond in menseregte, en die konserwatiewe supermeerderheid wat nou alle vooruitgang van die laaste halfeeu vernietig, kon verhoed gewees het.

Met die volgende verkiesing lyk dit al meer asof die keuse tussen twee bejaarde kandidate gaan wees: Trump en Biden.

By ons gaan dit nie veel beter nie. Die gemiddelde ouderdom van ons kabinetsministers is skuins duskant 70. En soos wat ons ministers daagliks met hul uitsprake bewys, gaan ouderdom nie altyd gepaard met wysheid nie – soms kom dit alleen.

.....
Die gemiddelde ouderdom van ons kabinetsministers is skuins duskant 70. En soos wat ons ministers daagliks met hul uitsprake bewys, gaan ouderdom nie altyd gepaard met wysheid nie – soms kom dit alleen.
Kontrasteer dit met die propvol stadion meesal jonger mense wat die EFF se tiende verjaarsdag gevier het. Malema is in sy 40’s, bloedjonk in ons politieke milieu.
.....

Kontrasteer dit met die propvol stadion meesal jonger mense wat die EFF se tiende verjaarsdag gevier het. Malema is in sy 40’s, bloedjonk in ons politieke milieu.

Ons volgende algemene verkiesing is binnekort hier. As dit soos in die verlede min of meer in April geskied, beteken dit ons het nege maande tyd. Dis min of meer hoe lank ons tradisioneel geglo het ’n menslike swangerskap neem. (Dis eintlik nader aan tien maande, verseker dokters ons nou.)

Kom ons hoop dat ons nie dan as gevolg van stompsinnige besluite midde-in ’n oorlog sit met Rusland as bondgenoot en sanksies van die Weste as straf nie. Selfs dan is dit maar ’n skrale oes om van te kies vir ‘n regerende party.

Om die ANC aan bewind te hou, is vir al meer kiesers ’n onhoudbare keuse. Werkloosheid, armoede, stygende kospryse, beurtkrag tesame met die gevoellose “laat hulle koek eet”-mentaliteit van baie ANC-elites stel ’n sterk argument daar vir ander leierskap. 

Aan die ander kant vrees mense dat gratis mediese sorg, gratis opvoeding en veral die Sassa-betaling weggeneem sal word wanneer hulle aan opsies soos die DA dink.

Middelklas kiesers, so begin dit al meer lyk, laat hulle lei deur frustrasies rondom beurtkrag en ekonomiese geleenthede wat daarmee saam in die hek duik. Vir die meer as 17 miljoen mense wat op staatstoelaes aangewese is, tesame met die gesubsidieerde elektrisiteit en water, is daar ander meer drukkende oorwegings.

Indien die regering daarin slaag om stapelvoedselpryse laag te hou, en die staatstoelaag verhoog, selfs met iets so min soos R10 of R20, het hulle net nodig om te sorg dat kiesers by die stembus opdaag.

.....
Soos met die vorige verkiesing, voorspel ek dat kiesersapatie ’n groot rol gaan speel. En die ou bekende gesigte is dan te verkies bo jong radikale of jonger politici wat die persepsie skep dat hulle ons wil terugsleep na die tagtigerjare en wit-minderheid-heerskappy.
.....

Soos met die vorige verkiesing, voorspel ek dat kiesersapatie ’n groot rol gaan speel. En die ou bekende gesigte is dan te verkies bo jong radikale of jonger politici wat die persepsie skep dat hulle ons wil terugsleep na die tagtigerjare en wit-minderheid-heerskappy.

Ons keuse is beperk, en soos die ou bekende psalmdigter wil ek sê: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?”

  • 1

Kommentaar

  • Magda Laurens

    Bettina jy skryf verskriklik goed. Jy skryf met soveel wysheid. As jy staan vir president, stem ek vir jou. Dankie vir jou skrywe. Wysheid, wysheid, wysheid het ons in hierdie land nodig!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top