Is die taxistaking die begin van staakseisoen?

  • 1

Foto: Sipho Ndebele op Unsplash

..............
Brandende bande,  onverwagse klipgooierye wat motorruite  vernietig, duisende passasiers wat gestrand was nadat taxi’s sonder waarskuwing in die middel van die werksdag begin staak het – dit was laat Donderdag die chaos waarin Kaapstad beland het. Een hospitaal moes teen Vrydag sluit omdat hul personeellede deur betogers aangerand en geïntimideer was.
..............

Brandende bande,  onverwagse klipgooierye wat motorruite  vernietig, duisende passasiers wat gestrand was nadat taxi’s sonder waarskuwing in die middel van die werksdag begin staak het – dit was laat Donderdag die chaos waarin Kaapstad beland het. Een hospitaal moes teen Vrydag sluit omdat hul personeellede deur betogers aangerand en geïntimideer was.

Die oënskynlike rede: protes teen beslagleggings op minibustaxi’s vir ’n verskeidenheid oortredings.

Die probleem lê egter veel dieper, want teen Vrydag was alle openbare vervoer in die klein dorpie waar ek woon, 80 km buite Kaapstad en in ’n ander munisipale distrik, ook lamgelê. Die plaaslike taxivereniging staak saam, en die busmaatskappye het uit versigtigheid ook nie oopgemaak nie (met vorige stakings is hul bestuurders aangerand, pasassiers gedreig en busse beskadig). Teen Saterdag was net busse wat begrafnisgangers vervoer, op die paaie.

In die stad self het e-vervoerdienste in solidariteit besluit om ook hul dienste te staak. 

Teen Sondag was daar protes beplan buite die huis van DA-leier en stadsraadlid verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith. Die taxivereniging het niks met die protes te make nie – hierdie is motorentoesiaste wat sogenaamde drag races hou wat nou ook kwytgeskeld wil wees van alle regulasies, en wat hulle aangepaste voertuie waarop beslag gelê is, terugeis.

Teen Saterdagmiddag was groepe EFF-lede, wat nooit  ’n geleentheid misloop om op die rug van ander betogings te ry nie, ook langs die N2 te sien. Dalk is hulle jaloers omdat die taxivereniging ’n meer effektiewe shutdown reël as wat hulle kon?

..........
Wat die onderskeie groepe se beweegredes vir hul proteste ook al mag wees, een feit staan vas: As dit nie was vir die voortgesette effek van apartheidsera-stadsbeplanning nie, sou hulle nie die hele stad kon lamlê nie.
................

Wat die onderskeie groepe se beweegredes vir hul proteste ook al mag wees, een feit staan vas: As dit nie was vir die voortgesette effek van apartheidsera-stadsbeplanning nie, sou hulle nie die hele stad kon lamlê nie. ’n Kwarteeu nadat ’n demokratiese regering aan bewind gekom het, bly werkers nog steeds nie binne gerieflike reisafstand van hul werke nie. Hulle bly steeds in townships ver verwyderd van die stadskom. Skoliere bly nie binne stapafstand van hul skole nie, en dus moes in die omgewing van 300 000 skoliere en 10 000 leerkragte tuisbly, omdat hulle geen vervoer gehad het nie.

Na verwagting gaan die protes vir ’n week aanhou. Nadat alle onderhandelinge tussen die munisipaliteit en taxivereniging Sondagaand gestaak is, kan die aksie dalk selfs langer aanhou.

Wie word die ergste getref deur die protesaksies? Die arm mense wat nie oor hul eie vervoer beskik nie. Die mense wat al klaar aan die onderpunt van die samelewing is, word nou vergruis in die borsstampery tussen die taxibase en die munisipaliteit. Kinders wat ’n opvoeding nodig het om ’n beter lewe te kan lei, kom nie by skole uit nie.

Nadat die polisie aanvanklik nie baie sigbaar was nie, het hulle Maandagoggend vroeg reeds 'n aantal taxibestuurders wat die N2-ingang na die lughawe blokkeer het, gearresteer. Dalk het hulle gewag om te sien wat van die onderhandelinge word. Dalk het die skietdood van 'n wetstoepasser die naweek ‘n invloed op die besluit om meer daadwerklik op te tree. Hoe dit ook al sy, skielik is daar aansienlik meer sigbare polisiëring op ons paaie. Dieselfde amptenare wat so vinnig optree om op smouse se ware beslag te lê as hulle permitte nie in orde is nie, dieselfde manne en vroue in blou wat so breëbors rondstap en boemelaars terroriseer, dieselfde mense wat gedurende Covid magsdronk die kitaar geslaan het, is nêrens te sien noudat hulle regtig hulle werk moet doen en die burgery moet beskerm nie.

Die vraag wat ek my afvra: Sou protesaksies op dieselfde manier gebeur het as die munisipaliteit nie deur die DA gelei was nie?

Ja, ek dink dit sou. Politici dwarsoor die politieke spektrum is toenemend uit voeling met die frustrasies en vrese van gewone burgers. Hulle neem besluite in silo’s, geïsoleer van die impak wat dit op gewone mense het. Hulle is toondoof vir die behoeftes van die mense wat hulle in beheer geplaas het.

Vandag die DA, en môre? Dalk die ANC in Upington, waar die takvoorsitter aangekla is van die brutale moord op ’n veertienjarige?

In die volgende aantal maande kan ons ons maar regmaak vir toenemend meer gewelddadige betogings.

.............
Mense is keelvol. Hulle is moeg van swaarkry en hulle is moeg daarvan om nie gehoor te word nie.
.............

Mense is keelvol. Hulle is moeg van swaarkry en hulle is moeg daarvan om nie gehoor te word nie.

Twee aanhalings kom by my op: “A child who is not embraced by the village will burn it down to feel its heat” en “A riot is the language of the unheard.”

Dit het tyd geword dat ons politici ophou praat en begin luister.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top