Is die bluelight brigades nodig?

  • 1

Foto: Unsplash

Die eerste gemor en gekla oor die arrogansie van die blouligbrigades het ek vroeg in Zuma se bewind gehoor.

Dalk was daar tydens die Mandela- en Mbeki-regerings ook sulke vergrype, maar ek onthou dit nie. Wat ek wel onthou, is my eerste gedagte toe ek hoor van motoriste wat van die pad af forseer is: Vis vrot van sy kop af. Die boodskap toe, en die boodskap nou, is baie duidelik: Daar is verskillende klasse burgers, en verskillende klasse padgebruikers. Vir sommiges geld die reëls, en ander is verhewe bo enige en alle reëls. Daar is die politieke klas, met hulle entourages, en daar is die mense deur wie hulle verkies is en wat maar behandel word asof hulle stout, dom kinders is.

Dis ’n verhaal so oud soos die berge – een van redders wat onderdrukkers word; een van rebelle wat ontdek mag is verslawend en dan presies word soos die mense wie se juk hulle afgewerp het. Hoekom bly Animal Farm so gewild? Mense herken hul eie omstandighede, of die omstandighede van samelewings rondom hulle, in daai allegorie.

Die blouligbrigades is vir ons ’n simptoom van die siek heersersklas waarmee ons opgesaal sit.

Wat doen hulle? Of eerder, wat is hulle veronderstel om te doen? Die polisie se beskermingseenheid sorg vir die veiligheid van persone wat bedreig word. Staatshoofde is logiese keuses. Maar het elke minister en sy of haar handlangers ook beskerming nodig, teen ’n koste van R8 miljoen per persoon per jaar, of altesaam R1,7 miljard per jaar? Hoekom word daai geld nie eerder bestee aan fluitjieblasers wat veel meer verdienstelik is nie? Hoekom was dit nie op iemand soos Charl Kinnear bestee nie?

..............
Toe Angela Merkel Duitsland gelei het, is daar foto’s geneem waar sy self inkopies doen vir haar huis, tussen ander burgers. Geen lyfwagte was teenwoordig nie. Dit was steelfoto’s, nie ’n vooraf gereëlde beeldpoetsoefening nie. Duitsland het die vierde grootste ekonomie in die wêreld. Die Nederlandse eerste minister ry fiets werk toe. Nederland lê op nommer 18 van die grootste ekonomieë ter wêreld.
..............

Toe Angela Merkel Duitsland gelei het, is daar foto’s geneem waar sy self inkopies doen vir haar huis, tussen ander burgers. Geen lyfwagte was teenwoordig nie. Dit was steelfoto’s, nie ’n vooraf gereëlde beeldpoetsoefening nie. Duitsland het die vierde grootste ekonomie in die wêreld. Die Nederlandse eerste minister ry fiets werk toe. Nederland lê op nommer 18 van die grootste ekonomieë ter wêreld.

Suid-Afrika, op nommer 39, spandeer miljarde om lakeie van lyfwagte te voorsien.

Mark Heywood het in gesprek met Jeremy Maggs op 5 Julie hieroor gesê: “It’s R8 million per person protected per year for a group of people, many of whom frankly do not require VIP protection as far as I’m concerned. So it’s more of a vanity project for many people than an actual project or necessary project to protect people who are at risk ... I think it’s because their principals, ie the people they guard and protect, think they are above the law and countenance this behaviour ... I think we have to condemn the SAPS officials, but I don’t think our condemnation and questioning should stop at that point. I think we should see this is part of a deeper problem.”

Selfs op plaaslike vlak gebeur dit dat politici hulle eie belangrikheid oorskat. In die klein, amper bankrot dorpie waar ek bly, het die bestuurspan op ’n stadium almal lyfwagte gehad. Die onderburgemeester se ma bly in dieselfde straat as ek. Elke keer as hy kom kuier, het twee voertuie wild aangejaag gekom. Dan spring twee lyfwagte uit, hand op die pistool, en bespied die omgewing voordat hy mag uitklim. Behalwe die twee lyfwagte is daar ook twee bestuurders vir die voertuie.

Hulle optrede sou lagwekkend wees as dit nie so ’n vermorsting van skaars en beperkte hulpbronne was in ’n munisipaliteit met groot maatskaplike probleme nie.

Heywood is natuurlik korrek in sy siening. Die blouligbrigade tree op soos wat hulle optree omdat die politici dit goedkeur, en dalk selfs aktief aanmoedig.

..............
Die saak wat nou voor die howe dien, nadat agt beskermingseenheidlede drie lede van die publiek aangerand het, is nie net ’n gewone kriminele saak nie. Dis ook ’n toets van hoe ver ons howe, en die breër publiek, bereid is om verdere vergrype toe te laat.
..............

Die saak wat nou voor die howe dien, nadat agt beskemingseenheidlede drie lede van die publiek aangerand het, is nie net ’n gewone kriminele saak nie. Dis ook ’n toets van hoe ver ons howe, en die breër publiek, bereid is om verdere vergrype toe te laat. Daai polisiebeamptes het nie verwag dat hulle ooit voor ’n hof gedaag sal word en antwoorde moet gee vir hul optrede nie. Hoekom nie? Hulle het politieke beskerming verwag, beskerming wat hulle nie gekry het nie.

Uit hofverrigtinge hierdie week blyk dit dat Paul Mashatile, tweede burger van ons land, wel in een van die voertuie was tydens die aanranding. Dit nadat hy vroeër te kenne gegee het hy was nie daar nie. Sy nuwe weergawe is nou dat die deure toe was en die lugreëling en die enjin aan. Hy kon dus nie die gille hoor nie. Hy was glo onder die indruk sy lyfwagte neem ’n gemakspouse.

Vir ons gewone mense beteken dit mens gaan toilet toe, wat seker nie onmoontlik is nie. Maar in die middel van ’n snelweg, in spitsverkeer? En boonop nie ver van hulle bestemming af nie. Die oumense sou nou sê hy moenie ons probeer wysmaak bokdrolle is rosyntjies nie. Sy weergawe is hoogs onwaarskynlik die waarheid, en indien hy gedagvaar word om te getuig, en hy wel opdaag, sou ’n hof dit nie redelik moontlik waar bevind nie.

Natuurlik is dit reg dat die polisiebeamptes voor die hof gedaag word. Hulle behoort ook intern aan arbeidsverrigtinge onderwerp te word, maar dis onwaarskynlik dat dit sal gebeur.

Maar veel meer behoort te gebeur. Hoekom is Paul Mashatile nog nie tot verantwoording geroep omdat hy na bewering blatant leuens vertel het nie? In enige funksionele moderne demokrasie sou ons lankal verneem het dat hy bedank het.

Indien hierdie regering ernstig is daaroor om korrupsie en magsvergrype op alle vlakke uit te wis, moet dit begin deur alle politieke rolspelers daaraan te herinner dat die reëls ook vir hulle geld.

Ek weet van geen pligsgetroue staatamptenaar wat regverdig en onpartydig sy of haar werk doen wat bedreig word nie. Niemand sal beswaar hê as iemand wat sy werk doen, beskerming nodig het nie. Ons politici en staatsamptenare sal waarskynlik vind dat hulle veel veiliger is as hulle hulle skelmstreke los en net hulle werk doen.

Is dit te veel gevra?

Lees ook:

Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie

 

  • 1

Kommentaar

  • Wikus Pienaar

    Nee, want hulle stel padgebruikers se lewens in gevaar en hulle dink dat hulle verhewe is bo die wette van ons land. Laastens: ons belastingbetalers kgn nie meer vir hulle betaal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top