Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw. Tafelberg. 460 bladsye. ISBN: 9780624090533
............
Ons is in die moeilikheid.
Dit weet enige denkende Suid-Afrikaner, en daar is nie eintlik goeie nuus in Jacques Pauw se opvolg op sy magistrale boek The President’s keepers nie. Daar is wel ’n bykans forensiese opeenstapeling van wat van die staatskapers geword het, en ongelukkig ook nuwe voorbeelde van staatskaping onder die huidige futlose bewind van Cyril Ramaphosa.
.............

The President’s keepers was ’n uitgewersfenomeen, wat in 2017 en 2018 nuwe rekords vir verkope opgestel het. Dit het die korrupsiesluiers van die Zuma-bewind selfvergetend en doodsveragtend weggeruk, en die rol wat dit gespeel het in die verslaning van die Zuma-faksie binne die ANC moet nie gering geskat word nie.
Die blote aankoop van die boek was destyds ’n daad van opstand teen die Zuma-regime, en die wyse waarop dit korrupsie ontmasker het, het vele ander geïnspireer om dieselfde te doen, en mens het gewonder hoe ’n opvolg moontlik sou kon voldoen aan die hoë verwagting om in The President’s keepers se groot voetspore te volg.
Jacques Pauw voldoen wel aan sodanige verwagtinge, en teen die einde van Our poisoned land kom hy met skokkende besonderhede uit nuwe bronne vorendag rakende ons land se derde grootste politieke party, die EFF. Maar eers gaan haal hy die verhaal by die verstommende en vir hom persoonlik gevaarlike nagevolge van The President’s keepers se publikasie.
Daarna neem hy ons as lesers op ’n taamlik grillerige reis deur die dikwels gewelddadige en selfverrykende korrupsie wat ons land op so ’n hoë vlak teister. Hiervan is die brutale gemors by die Staatsekerheidsagentskap (SSA) – die land se binnelandse en buitelandse spioene – sekerlik die omvattendste.
Die ou grappie lui mos dat daardie ouens so geheimsinnig is dat hulle nie eens uit ’n spieël terugkaats nie. Die slegte aspek daarvan is dat hulle, soos iets uit Kafka, self besluit wat in die geheim moet gebeur en wat nie. Die vereiste vir ’n goed funksionerende geheime diens is dat mens eerbare persone in beheer van die stelsel moet hê, asook sterk wigte en teenwigte teen magsmisbruik.
Dit het Suid-Afrika lankal nie meer nie, en Pauw wys duidelik waarom hoofregter Raymond Zondo in sy verslag oor staatskaping bevind het dat sy hele kommissie onnodig sou gewees het as die SSA maar net hul werk gedoen het. Die man wie se naam sinoniem met die SSA in hierdie tyd van gruwelike verval geword het, Arthur Fraser, word verder deur Pauw ontmasker, tesame met die destydse (on)verantwoordelike minister, David Mahlobo.
Fraser se naam word tans, welverdiend, met Ramaphosa s’n geassosieer. Dit is Ramaphosa wat te slap was om Fraser af te dank na laasgenoemde se gedrag as spioenbaas. Eerder het Ramaphosa hom verskuif om kommissaris van korrektiewe dienste te word, waar Fraser op bedenklike wyse vir Zuma op mediese parool vrygelaat het. Toe Ramaphosa uiteindelik vir Fraser in die pad steek, slaan Fraser terug met ’n redupliserende probleem vir Ramaphosa, te wete Phala Phala.
So neem Pauw ons op ’n reis deur die lang lokomotiewe van Prasa. Die duistere motiewe van mense soos Berning Ntlemeza, Lawrence Mrwebi, Nongcobo Jiba, Tom Moyane, Adriano Mazzotti, Auswell Mashaba en ’n veelheid ander. Daar is ook helde, soos Johann van Loggerenberg, Adrian Lackay, Johan Booysen, Popo Molefe en Martha Ngoye.
Teen die einde van die boek kom die EFF, en by name dié party se twee top leiers, Julius Malema en Floyd Shivambu, ter sprake. Pauw bring ’n klomp getuienis byeen en gaan haal ook nuwe inligting in plekke so uiteenlopend as Soweto en Malawi. Teen die einde van sy vertelling is die skrif aan die muur vir die voorste twee EFF-leiers.
...........
Soveel as wat dit waar is dat Malema en Shivambu veel te verantwoord het, is die grootste mislukking in hierdie verhaal myns insiens Cyril Ramaphosa. Daar is altyd ’n debat oor of dit nou Edmund Burke of John Stuart Mill is wat eerste sou gesê het dat al wat nodig is vir die oorwinning van die bose is vir goeie mense om niks te doen nie.
.............
Soveel as wat dit waar is dat Malema en Shivambu veel te verantwoord het, is die grootste mislukking in hierdie verhaal myns insiens Cyril Ramaphosa. Daar is altyd ’n debat oor of dit nou Edmund Burke of John Stuart Mill is wat eerste sou gesê het dat al wat nodig is vir die oorwinning van die bose is vir goeie mense om niks te doen nie. Wel, dit bly waar, en as daar nou ’n goeie voorbeeld is van boosheid wat floreer omdat ’n (klaarblyklik redelik) goeie mens niks doen nie, is dit Suid-Afrika sedert 2018, omdat Ramaphosa niks nie – of heeltemal te min – doen.
Male sonder tal kom Pauw – soos hoofregter Zondo in sy verslag – tot die gevolgtrekking dat Ramaphosa eintlik maar ’n ou slapjan is. Pauw is sagter in sy oordeel as Zondo, wat in sy verslag oor staatskaping so naby as demmit aan vloek kom daaraan om Ramaphosa "’n leuenagtige getuie" te noem.
Die lees van Our poisoned land was vir my ’n moeilike ervaring. Dit het my genoegsaam ontstel dat ek net ’n paar bladsye op ’n slag kon lees. Dit wil voorkom asof min of meer elke deel van die staat tot aan die stingel verrot is van die korrupsie, en asof nie net die wil nie (dis al sleg), maar algaande ook die vermoë (dis erger) om hierdie kanker te klop, by die Suid-Afrikaanse staat ontbreek.

................
In die finale hoofstuk van die hoofteks vra Pauw hom die vraag af of Suid-Afrika ’n mislukte staat is. Sy gevolgtrekking val my as straks te positief op, is ek bevrees.
Dis dalk die grootste verskil tussen The President’s keepers en Our poisoned land – eersgenoemde was so ’n kruisvaart van hoop omdat daar implisiet ’n oplossing aan die hand gedoen is: Alles sal beter gaan as elkeen sy plig doen, naamlik om van Zuma en sy bemagtigende kornuite ontslae te raak. Maar die hartseer kern van Our poisoned land is dat dit toe nie eintlik gewerk het nie, veral weens Ramaphosa se papperige bewind, want hy stel die ANC bo die land.

..............
Jacques Pauw is ’n meesterlike skrywer – dit weet ons lankal. Met hierdie briljante en ontstellende boek dra hy nogmaals ten diepste by tot die uitbou van ons land. Alle eer aan hom – hy is voorwaar een van die heel grootstes in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse ondersoekende joernalistiek.
- Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer wat tans besig is met ’n doktorsgraad in die politieke wetenskap aan die Universiteit van Chester.
Lees ook:
Press release: Impact of The President’s Keepers continues to spread
Press release: Criminal charges and death threats against South African author Jacques Pauw